Moet jy jou belasting betaal?
“Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.”—Romeine 13:7, Die Bybel, 1953.
DIE bogenoemde raad is miskien moeilik om te sluk, aangesien belasting voortdurend opgaan. Maar dit is die apostel Paulus se woorde, en dit staan in die Bybel opgeteken. Jy respekteer ongetwyfeld die Bybel. Maar jy wonder dalk: ‘Moet Christene werklik alle belasting betaal—selfs dié wat party mense as onredelik of onregverdig beskou?’
Dink aan die vermaning wat Jesus aan sy dissipels gegee het. Hy het geweet dat sy Joodse landgenote erg gegrief gevoel het oor die belasting wat deur Rome gehef is. Nietemin het Jesus hulle aangespoor: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Interessant genoeg, Jesus het gesê dat mense belasting moet betaal aan die einste regering wat hom binnekort sou teregstel.
’n Paar jaar later het Paulus die raad gegee wat aan die begin van die artikel aangehaal is. Hy het mense aangespoor om belasting te betaal ten spyte van die feit dat groot bedrae belastinggeld gebruik is om Rome se krygsmag en die onsedelike en uitspattige lewenswyse van Rome se keisers te finansier. Waarom het Paulus so ’n ongewilde standpunt ingeneem?
Hoër owerhede
Kyk na die konteks van Paulus se woorde. Hy het in Romeine 13:1 geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.” Toe die nasie Israel godvresende heersers gehad het, was dit maklik om geldelike steun aan die nasie as ’n burgerlike en godsdienstige plig te beskou. Maar het Christene dieselfde verantwoordelikheid gehad toe die heersers ongelowige afgodedienaars was? Ja, hulle het! Paulus se woorde het getoon dat God heersers die “gesag” gegee het om te heers.
Regerings doen baie om die orde te handhaaf. Dit stel Christene in staat om al hulle geestelike bedrywighede voort te sit (Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25). Paulus het dus aangaande die heersende regeringsowerheid gesê: “Hy is God se dienaar vir jou, tot jou beswil” (Romeine 13:4). Paulus self het gebruik gemaak van die beskerming wat die Romeinse regering gebied het. Toe hy byvoorbeeld die slagoffer van ’n skare oproeriges was, is hy deur Romeinse soldate gered. Later het hy ’n beroep op die Romeinse regstelsel gedoen sodat hy kon voortgaan om as ’n sendeling te dien.—Handelinge 22:22-29; 25:11, 12.
Paulus het dus drie redes gegee waarom ’n mens belasting moet betaal. Eerstens het hy gepraat van die “gramskap” van die regerings wanneer hulle wetsoortreders straf. Tweedens het hy verduidelik dat dit ’n godvresende persoon se gewete sou skend as hy met sy belasting sou kul. Laastens het hy getoon dat belasting bloot vergoeding is vir die dienste wat regerings as “openbare dienaars” verrig.—Romeine 13:1-6.
Het Paulus se mede-Christene sy woorde ter harte geneem? Blykbaar, want die tweede-eeuse verklaarde Christen Justinus die Martelaar (omstreeks 110 tot 165 G.J.) het gesê dat Christene hulle belasting “meer geredelik as alle ander mense” betaal het. Wanneer regerings vandag betaling eis, hetsy dit tyd of geld is, voldoen Christene deurentyd gewillig aan hulle vereistes.—Matteus 5:41.a
Dit staan Christene natuurlik vry om voordeel te trek uit enige wettige belastingaftrekkings. In sommige gevalle kan hulle moontlik baat vind by belastingvoordele wat toegestaan word aan diegene wat bydraes aan godsdiensorganisasies gee. Maar ware Christene is nie belastingontduikers nie, want hulle is gehoorsaam aan God se Woord. Hulle betaal hulle belasting en laat die owerhede die volle verantwoordelikheid dra vir die manier waarop hulle die geld gebruik.
Buitensporige belasting is net een manier waarop ‘die mens oor die mens heers tot sy nadeel’ (Prediker 8:9). Jehovah se Getuies put vertroosting uit die Bybel se belofte dat regverdigheid binnekort sal seëvier onder God se regering—’n regering wat mense nooit onder onregverdige belasting gebuk sal laat gaan nie.—Psalm 72:12, 13; Jesaja 9:7.
[Voetnoot]
a Jesus se raad om ‘aan die keiser te betaal wat aan die keiser behoort’, was nie noodwendig tot die betaling van belasting beperk nie (Matteus 22:21). Die Critical and Exegetical Hand-Book to the Gospel of Matthew deur Heinrich Meyer verduidelik: “Onder die uitdrukking [wat aan die keiser behoort] . . . moet ons nie bloot staatsbelasting verstaan nie, maar alles waarop die keiser geregtig was op grond van sy regmatige heerskappy.”
[Lokteks op bladsy 11]
Eertydse Christene het hulle belasting “meer geredelik as alle ander mense” betaal.—JUSTINUS DIE MARTELAAR
[Prent op bladsy 10]
Ware Christene gehoorsaam die belastingwette
[Prent op bladsy 11]
Jesus het gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort”
[Foto-erkenning op bladsy 10]
© European Monetary Institute