Die opstandingshoop het krag
“Ek [het] die verlies van alles aanvaar . . . om [Jesus Christus] te ken en die krag van sy opstanding.”—FILIPPENSE 3:8-10.
1, 2. (a) Hoe het ’n geestelike jare gelede die opstanding beskryf? (b) Hoe sal die opstanding plaasvind?
IN DIE vroeë 1890’s het die openbare pers verslag gedoen oor ’n unieke preek wat deur ’n geestelike in Brooklyn, New York, VSA, gelewer is. Volgens hom sou die opstanding behels dat al die beendere en vlees waaruit ’n menseliggaam bestaan het, sou moes herenig en weer lewend word, hetsy dit deur ’n vuur of ongeluk vernietig is, deur ’n dier geëet is of deur ontbinding vergaan het. Die prediker het beweer dat die lug op ’n sekere dag van 24 uur donker sal word met die hande, arms, voete, vingers, bene, senings en vel van die miljarde afgestorwe mense. Hierdie liggaamsdele sou na ander dele van dieselfde liggaam soek. Siele sou dan van die hemel en die hel af kom om in hierdie verrese liggame te woon.
2 ’n Opstanding wat behels dat die oorspronklike atome herorganiseer word, is onlogies, en mense het nie ’n onsterflike siel nie (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Jehovah, die God van die opstanding, hoef nie weer die atome bymekaar te maak waaruit die oorspronklike menseliggaam bestaan het nie. Hy kan nuwe liggame skep vir diegene wat opgewek word. Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, die mag gegee om die dooies op te wek, met die vooruitsig op ewige lewe (Johannes 5:26). Jesus het dus gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:25, 26). Wat ’n hartverblydende belofte! Dit versterk ons om beproewinge te verduur en om as getroue Getuies van Jehovah selfs die dood in die gesig te staar.
3. Waarom moes Paulus die opstanding verdedig?
3 Die opstanding stem nie ooreen met die opvatting dat mense ’n onsterflike siel het nie—’n beskouing wat die Griekse filosoof Plato gehuldig het. Wat het dus gebeur toe die apostel Paulus vir vooraanstaande Grieke by die Areopagus in Atene getuig het, indirek na Jesus verwys het en gesê het dat God hom opgewek het? Die verslag sê: “Wel, toe hulle van ’n opstanding van die dooies hoor, het party die spot begin dryf” (Handelinge 17:29-34). Baie wat die verrese Jesus Christus gesien het, het toe nog gelewe en het, ten spyte van bespotting, getuig dat hy uit die dood opgewek is. Maar valse onderrigters wat met die gemeente in Korinte omgegaan het, het ontken dat daar ’n opstanding is. Daarom het Paulus hierdie Christelike lering kragtig verdedig in 1 Korintiërs hoofstuk 15. ’n Noukeurige studie van sy redenasies bewys op oortuigende wyse die sekerheid en die krag van die opstandingshoop.
Gegronde bewyse van Jesus se opstanding
4. Watter ooggetuieverslag het Paulus omtrent Jesus se opstanding gegee?
4 Let op hoe Paulus sy verdediging begin (1 Korintiërs 15:1-11). Die Korintiërs sou verniet gelowiges geword het as hulle nie aan die goeie nuus van redding vashou nie. Christus het vir ons sondes gesterf, is begrawe en opgewek. Trouens, die verrese Jesus het aan Sefas (Petrus) en “toe aan die twaalf” verskyn (Johannes 20:19-23). Ongeveer 500 mense het hom gesien, moontlik toe hy die opdrag gegee het: ‘Gaan, maak dissipels’ (Matteus 28:19, 20). Jakobus het hom gesien, en so ook al die getroue apostels (Handelinge 1:6-11). Naby Damaskus het Jesus aan Saulus verskyn “asof aan een wat te vroeg gebore is”—asof hy alreeds tot geeslewe opgewek was (Handelinge 9:1-9). Die Korintiërs het gelowiges geword omdat Paulus vir hulle getuig het, en hulle het die goeie nuus aangeneem.
5. Watter redenasie het Paulus gebruik, soos in 1 Korintiërs 15:12-19 opgeteken staan?
5 Kyk na Paulus se redenasie (1 Korintiërs 15:12-19). Aangesien ooggetuies verkondig dat Christus opgewek is, hoe kan daar gesê word dat daar geen opstanding is nie? As Jesus nie uit die dood opgewek is nie, is ons prediking en ons geloof tevergeefs, en ons is leuenaars wat teen God getuig deur te sê dat hy Christus opgewek het. As die dooies nie opgewek gaan word nie, ‘is ons nog in ons sondes’, en diegene wat dood is in eenheid met Christus het vergaan. Wat meer is, “as ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”.
6. (a) Wat het Paulus ter bevestiging van Jesus se opstanding gesê? (b) Wat is die “laaste vyand”, en hoe sal dit tot niet gemaak word?
6 Paulus bevestig Jesus se opstanding (1 Korintiërs 15:20-28). Aangesien Christus “die eersteling” is van dié wat ontslaap het, sal ander ook opgewek word. Soos die dood deur die ongehoorsaamheid van die mens Adam veroorsaak is, is die opstanding deur ’n mens—Jesus. Dié wat aan hom behoort, sou gedurende sy teenwoordigheid opgewek word. Christus maak “alle regering en alle gesag en mag tot niet” wat in verset teen God se soewereiniteit is, en hy regeer as Koning totdat Jehovah alle vyande onder sy voete stel. Selfs die “laaste vyand”—die dood wat ons van Adam oorgeërf het—sal deur die waarde van Jesus se offerande tot niet gemaak word. Dan sal Christus die Koninkryk aan sy God en Vader oorhandig en hom onderwerp aan “die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees”.
Gedoop met die doel om dooies te word?
7. Wie word ‘gedoop met die doel om dooies te word’, en wat beteken dit vir hulle?
7 Hierdie vraag word aan teenstanders van die opstanding gerig: “Wat sal dié doen wat gedoop word met die doel om dooies te word?” (1 Korintiërs 15:29). Paulus het nie bedoel dat die lewendes ten behoewe van die dooies gedoop moet word nie, want elke dissipel van Jesus moet persoonlik leer, glo en gedoop word (Matteus 28:19, 20; Handelinge 2:41). Gesalfde Christene word ‘gedoop met die doel om dooies te word’ deur gedompel te word in ’n lewensweg wat tot die dood en opstanding lei. Hierdie soort doop begin wanneer God se gees die hoop op hemelse lewe in hulle wek en eindig wanneer hulle uit die dood opgewek word tot onsterflike geeslewe in die hemel.—Romeine 6:3-5; 8:16, 17; 1 Korintiërs 6:14.
8. Waarvan kan Christene seker wees, al sou Satan en sy knegte hulle doodmaak?
8 Soos Paulus se woorde toon, help die opstandingshoop Christene om elke uur gevare te trotseer, en dit help hulle wanneer hulle daagliks voor die dood te staan kom omdat hulle die Koninkrykspredikingswerk doen (1 Korintiërs 15:30, 31). Hulle weet dat Jehovah hulle kan opwek as hy toelaat dat Satan en sy knegte hulle doodmaak. Net God kan ’n einde maak aan hulle siel, of lewe, in Gehenna, die simbool van ewige vernietiging.—Lukas 12:5.
Waaksaamheid nodig
9. Wat moet ons vermy sodat die opstandingshoop ons in ons lewe kan onderskraag?
9 Die opstandingshoop het Paulus onderskraag. Terwyl hy in Efese was, het sy vyande hom moontlik in die arena gegooi waar hy met wilde diere moes veg (1 Korintiërs 15:32). As dit wel gebeur het, is hy verlos, net soos Daniël van die leeus verlos is (Daniël 6:17-23; Hebreërs 11:32, 33). Aangesien Paulus op die opstanding gehoop het, het hy nie die gesindheid gehad van Juda se afvalliges wat in Jesaja se dag gelewe het nie. Hulle het gesê: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (Jesaja 22:13). As ons wil hê dat die opstandingshoop ons in ons lewe moet onderskraag soos dit Paulus onderskraag het, moet ons diegene vermy wat so ’n ongesonde gesindheid het. “Moenie mislei word nie”, het Paulus gewaarsku. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Hierdie beginsel is natuurlik op verskillende aspekte van die lewe van toepassing.
10. Hoe kan ons opstandingshoop lewendig gehou word?
10 Paulus het vir diegene wat aan die opstanding getwyfel het, gesê: “Ontwaak tot nugterheid op ’n regverdige wyse en moenie sonde beoefen nie, want party is sonder kennis van God. Ek spreek om julle tot skaamte te beweeg” (1 Korintiërs 15:34). In hierdie “tyd van die einde” moet ons in ooreenstemming met juiste kennis van God en Christus optree (Daniël 12:4; Johannes 17:3). Dit sal ons opstandingshoop lewendig hou.
Met watter liggaam opgewek?
11. Hoe het Paulus die opstanding van gesalfde Christene toegelig?
11 Paulus het vervolgens sekere vrae bespreek (1 Korintiërs 15:35-41). Iemand wat dalk twyfel oor die opstanding wil wek, sal moontlik vra: “Hoe gaan die dooies opgewek word? Ja, met watter soort liggaam kom hulle?” Soos Paulus getoon het, sterf ’n saad wat in die grond geplant word as ’t ware wanneer dit ontkiem en ’n plantjie word. ’n Geesverwekte mens moet eweneens sterf. Net soos ’n plant met ’n nuwe liggaam uit ’n saad voortkom, so verskil die verrese liggaam van die gesalfde Christen van die vlees van mense. Hoewel hy dieselfde lewenspatroon as voor sy dood het, word hy as ’n nuwe skepsel opgewek met ’n geesliggaam wat in die hemel kan lewe. Diegene wat op die aarde opgewek sal word, sal natuurlik met menseliggame opstaan.
12. Wat word bedoel met die uitdrukkings “hemelse liggame” en “aardse liggame”?
12 Soos Paulus gesê het, is daar ’n verskil tussen die vlees van mense en dié van diere. Selfs die vlees van diere verskil van soort tot soort (Genesis 1:20-25). Die “hemelse liggame” van geesskepsele verskil in heerlikheid van “aardse liggame” van vlees. Daar is ook verskille in die heerlikheid van die son, maan en sterre. Maar verrese gesalfdes het veel groter heerlikheid.
13. Wat word volgens 1 Korintiërs 15:42-44 gesaai, en wat word opgewek?
13 Nadat Paulus van die verskille gepraat het, sê hy verder: “So ook is die opstanding van die dooies” (1 Korintiërs 15:42-44). Hy het gesê: “Dit word in oneer gesaai, dit word in heerlikheid opgewek.” Hier verwys Paulus moontlik na die gesalfdes as ’n groep. Die liggaam word by die dood in verderflikheid gesaai en in onverderflikheid opgewek, sonder sonde. Hoewel dit deur die wêreld oneer aangedoen is, word dit tot hemelse lewe opgewek en met Christus in heerlikheid openbaar gemaak (Handelinge 5:41; Kolossense 3:4). By die dood word dit as “’n fisiese liggaam” gesaai en as “’n geestelike liggaam” opgewek. Aangesien dit in die geval van geesverwekte Christene moontlik is, kan ons daarvan seker wees dat ander tot lewe op die aarde opgewek kan word.
14. Hoe het Paulus Christus met Adam gekontrasteer?
14 Paulus het daarna Christus met Adam gekontrasteer (1 Korintiërs 15:45-49). Adam, die eerste mens, “het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). “Die laaste Adam”—Jesus—“het ’n lewegewende gees geword.” Hy het sy lewe as ’n losprysofferande gegee, eerstens ten behoewe van sy gesalfde volgelinge (Markus 10:45). As mense ‘dra hulle die beeld van die een wat van stof gemaak is’, maar wanneer hulle opgewek word, word hulle soos die laaste Adam. Jesus se offerande sal natuurlik alle gehoorsame mense tot voordeel strek, waaronder diegene wat op die aarde opgewek word.—1 Johannes 2:1, 2.
15. Waarom word gesalfde Christene nie in die vlees opgewek nie, en hoe word hulle gedurende Jesus se teenwoordigheid opgewek?
15 Wanneer gesalfde Christene sterf, word hulle nie in die vlees opgewek nie (1 Korintiërs 15:50-53). ’n Verderflike liggaam van vlees en bloed kan nie onverderflikheid en die hemelse Koninkryk beërf nie. Party gesalfdes hoef nie eers lank in die graf te bly nie. Wanneer hulle hulle aardse loopbaan in getrouheid gedurende Jesus se teenwoordigheid voltooi, sal hulle “verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink”. Hulle sal oombliklik tot geeslewe in onverderflikheid en heerlikheid opgewek word. Christus se hemelse “bruid” sal uiteindelik uit 144 000 bestaan.—Openbaring 14:1; 19:7-9; 21:9; 1 Tessalonisense 4:15-17.
Oorwinning oor die dood!
16. Wat sal volgens Paulus en vroeër profete met die dood gebeur wat van die sondige man Adam oorgeërf is?
16 Paulus het seëvierend verklaar dat die dood vir ewig verswelg sal word (1 Korintiërs 15:54-57). Wanneer die verderflike en sterflike hom met onverderflikheid en onsterflikheid beklee, sal hierdie woorde vervul word: “Die dood is vir ewig verswelg.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (Jesaja 25:8; Hosea 13:14, NW). Die angel wat die dood veroorsaak, is sonde, en sonde se krag het in die Wet gelê, aangesien dit sondaars tot die dood veroordeel het. Maar weens Jesus se offerande en opstanding sal die dood wat van die sondige man Adam oorgeërf is, nie meer seëvier nie.—Romeine 5:12; 6:23.
17. Hoe is die woorde van 1 Korintiërs 15:58 vandag van toepassing?
17 “Daarom, my geliefde broers”, het Paulus gesê, “word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie” (1 Korintiërs 15:58). Hierdie woorde is van toepassing op die hedendaagse gesalfde oorblyfsel en op Jesus se “ander skape”, selfs al sterf hulle in hierdie laaste dae (Johannes 10:16). Hulle arbeid as Koninkryksverkondigers is nie tevergeefs nie, want ’n opstanding wag op hulle. Laat ons dan, as Jehovah se knegte, besig bly in die Here se werk terwyl ons wag op die dag wanneer ons met blydskap kan uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning?”
Die opstandingshoop word verwesenlik!
18. Hoe sterk was Paulus se hoop op die opstanding?
18 Paulus se woorde in 1 Korintiërs hoofstuk 15 toon duidelik dat die opstandingshoop krag in sy lewe gehad het. Hy was heeltemal oortuig daarvan dat Jesus uit die dood opgewek is en dat ander ook uit die mensdom se gemeenskaplike graf bevry sou word. Is jy so vas oortuig? Paulus het selfsugtige belange soos “’n klomp vullis” beskou, en hy het “die verlies van alles aanvaar” sodat hy ‘Christus en die krag van sy opstanding kon ken’. Die apostel was bereid om hom aan ’n dood soos dié van Christus te onderwerp, in die hoop om “die vroeër opstanding” te ontvang. Dit word ook “die eerste opstanding” genoem, en Jesus se 144 000 gesalfde volgelinge het daaraan deel. Ja, hulle word tot geeslewe in die hemel opgewek, terwyl “die res van die dooies” op die aarde opgewek sal word.—Filippense 3:8-11; Openbaring 7:4; 20:5, 6.
19, 20. (a) Watter persone in die Bybelverslae sal tot lewe op die aarde opgewek word? (b) Wie sal jy graag in die opstanding wil sien?
19 Die opstandingshoop het ’n glorieryke werklikheid geword vir gesalfdes wat tot hulle dood getrou was (Romeine 8:18; 1 Tessalonisense 4:15-18; Openbaring 2:10). Oorlewendes van “die groot verdrukking” sal sien hoe die opstandingshoop op die aarde verwesenlik word wanneer ‘die see die dooies daarin gee, en die dood en Hades die dooies in hulle gee’ (Openbaring 7:9, 13, 14; 20:13). Onder dié wat tot lewe op die aarde opgewek gaan word, sal Job wees, wat sewe seuns en drie dogters deur die dood verloor het. Stel jou sy vreugde voor wanneer hy hulle terugverwelkom—en hoe verheug hulle sal wees om uit te vind dat hulle nog sewe broers en drie pragtige susters het!—Job 1:1, 2, 18, 19; 42:12-15.
20 Wat ’n seën sal dit tog wees wanneer Abraham en Sara, Isak en Rebekka—ja en soveel ander, insluitende “al die profete”—tot lewe op die aarde opgewek word! (Lukas 13:28). Een van daardie profete was Daniël, wat ’n opstanding onder die Messiaanse heerskappy beloof is. Daniël rus al omtrent 2 500 jaar in die graf, maar deur die krag van die opstanding sal hy binnekort ‘opstaan tot sy bestemming’ as een van die “vorste in die hele land” (Daniël 12:13; Psalm 45:17). Hoe hartverblydend sal dit tog wees om nie net getroues van die ou tyd terug te verwelkom nie, maar ook jou eie vader, moeder, seun, dogter of ander dierbares wat deur die vyand, die dood, van jou af weggeneem is!
21. Waarom moet ons nie talm om aan ander goed te doen nie?
21 Party van ons vriende en geliefdes dien God dalk al dekades en is nie meer so jonk nie. Die ouderdom kan dit vir hulle moeilik maak om die uitdagings van die lewe die hoof te bied. Hoe liefdevol is dit tog om hulle nóú die hulp te gee wat hulle nodig het! En as hulle sou sterf, sal ons dan nie spyt wees omdat ons hulle op die een of ander manier in die steek gelaat het nie (Prediker 9:11; 12:1-7; 1 Timoteus 5:3, 8). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah nie die goeie dade sal vergeet wat ons aan ander doen nie, ongeag wat hulle ouderdom of omstandighede is. “Laat ons dan”, het Paulus geskryf, “solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”—Galasiërs 6:10; Hebreërs 6:10.
22. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen totdat die opstandingshoop verwesenlik word?
22 Jehovah is “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3, 4). Sy Woord vertroos ons en help ons om ander met die kragtige opstandingshoop te vertroos. Totdat ons die verwesenliking van daardie hoop sien wanneer die dooies tot lewe op die aarde opgewek word, moet ons soos Paulus wees wat geloof in die opstanding gestel het. Mag ons veral Jesus navolg, wie se hoop verwesenlik is dat hy in God se krag opgewek sou word. Diegene in die gedenkgrafte sal binnekort Christus se stem hoor en uitkom. Mag dit ons vertroos en met blydskap vervul. Maar mag ons bowenal dankbaar wees teenoor Jehovah, wat oorwinning oor die dood moontlik gemaak het deur ons Here Jesus Christus!
Hoe sal jy antwoord?
• Watter ooggetuieverslag van Jesus se opstanding het Paulus gegee?
• Wat is die “laaste vyand”, en hoe word dit tot niet gemaak?
• Wat word in die geval van gesalfde Christene gesaai, en wat word opgewek?
• Watter persone in die Bybelverslae sal jy graag wil ontmoet wanneer hulle tot lewe op die aarde opgewek word?
[Prent op bladsy 16]
Die apostel Paulus het die opstanding kragtig verdedig
[Prent op bladsy 20]
Die opstanding van Job, sy gesin en soveel ander sal ’n rede tot oneindige vreugde wees!