“Tydelike inwoners” in ’n goddelose wêreld
“In geloof het hulle almal . . . in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is.”—HEB. 11:13.
1. Wat het Jesus oor sy volgelinge se posisie ten opsigte van die wêreld gesê?
“HULLE is in die wêreld”, het Jesus van sy dissipels gesê. Maar hy het verduidelik: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Joh. 17:11, 14). Jesus het dus duidelik getoon wat sy ware volgelinge se posisie sou wees ten opsigte van “hierdie stelsel van dinge”, waarvan Satan die god is (2 Kor. 4:4). Hoewel hulle in hierdie goddelose stelsel lewe, sou hulle geen deel daarvan wees nie. Hulle posisie in hierdie stelsel sou dié van “vreemdelinge en tydelike inwoners” wees.—1 Pet. 2:11.
Hulle het as “tydelike inwoners” gelewe
2, 3. Waarom kan daar gesê word dat Henog, Noag asook Abraham en Sara as “vreemdelinge en tydelike inwoners” gelewe het?
2 Van die vroegste tye af was getroue knegte van Jehovah opvallend anders as dié in die goddelose wêreld waarin hulle gelewe het. Voor die Vloed het Henog en Noag “met die ware God gewandel” (Gen. 5:22-24; 6:9). Hulle albei was moedige verkondigers van Jehovah se oordele teen Satan se goddelose wêreld. (Lees 2 Petrus 2:5; Judas 14, 15.) Omdat hulle in ’n goddelose wêreld met God gewandel het, was Henog “vir God welbehaaglik” en was Noag “onberispelik onder sy tydgenote”.—Heb. 11:5; Gen. 6:9.
3 Op God se uitnodiging het Abraham en Sara die geriewe van die stadslewe in Ur van die Galdeërs prysgegee en die uitdaging aanvaar om as swerwers in ’n vreemde land te woon (Gen. 11:27, 28; 12:1). Die apostel Paulus het geskryf: “Deur geloof was Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam deur weg te trek na ’n plek wat hy bestem was om as erfenis te ontvang; en hy het weggetrek, hoewel hy nie geweet het waarheen hy gaan nie. Deur geloof het hy as ’n vreemdeling in die land van die belofte gewoon soos in ’n vreemde land en in tente gewoon saam met Isak en Jakob, wat saam met hom die erfgename van presies dieselfde belofte was” (Heb. 11:8, 9). Aangaande hierdie getroue knegte van Jehovah het Paulus gesê: “In geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is.”—Heb. 11:13.
’n Waarskuwing aan die Israeliete
4. Watter waarskuwing is die Israeliete gegee voordat hulle hulle in hulle land gevestig het?
4 Abraham se nakomelinge, die Israeliete, het talryk geword en is uiteindelik tot ’n nasie met ’n stelsel van wette en ’n land georganiseer (Gen. 48:4; Deut. 6:1). Die volk Israel moes nooit vergeet dat Jehovah die werklike Eienaar van hulle land is nie (Lev. 25:23). Hulle was soos huurders wat verplig was om die Eienaar se wense te eerbiedig. Verder moes hulle onthou dat “die mens nie van brood alleen lewe nie”; hulle moes nie toelaat dat materiële voorspoed veroorsaak dat hulle Jehovah vergeet nie (Deut. 8:1-3). Voordat die Israeliete hulle in hulle land gevestig het, is hulle hierdie waarskuwing gegee: “Wanneer Jehovah jou God jou in die land bring wat hy aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om aan jou te gee, met groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol allerhande goeie dinge en wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie, en jy geëet en versadig geword het, dan moet jy op jouself let dat jy Jehovah nie vergeet . . . nie.”—Deut. 6:10-12.
5. Waarom het Jehovah Israel verwerp, en aan watter nuwe nasie het hy sy guns oorgedra?
5 Dit was nie ’n ongegronde waarskuwing nie. In Nehemia se dag het ’n groep Leviete met skaamte teruggedink aan wat gebeur het nadat die Israeliete die Beloofde Land in besit geneem het. Nadat die volk Israel in gerieflike huise begin woon het en ’n oorvloed van voedsel en wyn gehad het, het hulle “begin eet en versadig en vet geword”. Hulle het teen God in opstand gekom en selfs die profete doodgemaak wat hy gestuur het om hulle te waarsku. Jehovah het hulle dus aan hulle vyande oorgelewer. (Lees Nehemia 9:25-27; Hos. 13:6-9.) Later, onder Romeinse oorheersing, het die ontroue Jode selfs die beloofde Messias doodgemaak! Jehovah het hulle verwerp en sy guns aan ’n nuwe nasie, geestelike Israel, oorgedra.—Matt. 21:43; Hand. 7:51, 52; Gal. 6:16.
‘Geen deel van die wêreld nie’
6, 7. (a) Hoe sal jy verduidelik wat Jesus oor sy volgelinge se posisie ten opsigte van die wêreld gesê het? (b) Waarom moes ware Christene nie ’n deel van Satan se stelsel word nie?
6 Soos vroeër in hierdie artikel getoon is, het die Hoof van die Christengemeente, Jesus Christus, dit duidelik gestel dat sy volgelinge afgeskeie van die wêreld, Satan se goddelose stelsel van dinge, sou wees. Kort voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.”—Joh. 15:19.
7 Moes Christene, toe die Christelike godsdiens begin versprei het, die wêreld aanvaar deur hulle by die gebruike daarvan aan te pas en deel van die wêreld te word? Nee. Waar hulle ook al gewoon het, hulle moes hulle van Satan se stelsel onderskei. Sowat 30 jaar ná Christus se dood het die apostel Petrus aan Christene geskryf wat in verskillende dele van die Romeinse wêreld gewoon het: “Geliefdes, ek vermaan julle as vreemdelinge en tydelike inwoners om julle deurentyd van vleeslike begeertes te onthou, wat juis dié is wat ’n stryd teen die siel voer. Handhaaf goeie gedrag onder die nasies.”—1 Pet. 1:1; 2:11, 12.
8. Hoe het ’n geskiedskrywer vroeë Christene se verhouding tot die wêreld beskryf?
8 Ter bevestiging van die feit dat die vroeë Christene hulle as “vreemdelinge en tydelike inwoners” in die Romeinse wêreld gedra het, het die geskiedskrywer Kenneth Scott Latourette geskryf: “Dit is ’n welbekende aspek van die geskiedenis dat die Christelike godsdiens in sy eerste drie eeue aanhoudende en dikwels hewige vervolging ervaar het . . . Die aantygings was uiteenlopend. Omdat hulle geweier het om aan heidense seremonies deel te neem, is die Christene as ateïste bestempel. Omdat hulle nie deelgeneem het aan baie van die gemeenskapsbedrywighede nie—die heidense feeste, die openbare vermaaklikhede wat volgens die Christene deurtrek was van heidense opvattings, gebruike en onsedelikhede—is hulle smalend haters van die mensdom genoem.”
Moenie die wêreld ten volle gebruik nie
9. Hoe lewer ons as ware Christene bewys dat ons nie “haters van die mensdom” is nie?
9 Wat is vandag die situasie? Ons handhaaf dieselfde standpunt ten opsigte van “die teenswoordige goddelose stelsel van dinge” as die vroeë Christene (Gal. 1:4). As gevolg hiervan word ons deur talle misverstaan en selfs deur party gehaat. Maar ons is beslis nie “haters van die mensdom” nie. Uit liefde vir ons medemens gaan ons van huis tot huis en doen ons alles in ons vermoë om elke inwoner met die “goeie nuus van [God se] koninkryk” te bereik (Matt. 22:39; 24:14). Ons doen dit omdat ons oortuig is dat Jehovah se Koninkryksregering onder Christus binnekort ’n einde sal maak aan onvolmaakte menseheerskappy en dit met ’n regverdige nuwe stelsel van dinge sal vervang.—Dan. 2:44; 2 Pet. 3:13.
10, 11. (a) Hoe maak ons beperkte gebruik van die wêreld? (b) Wat is party van die maniere waarop waaksame Christene die wêreld nie ten volle gebruik nie?
10 Weens die naderende einde van die teenswoordige stelsel van dinge besef ons as Jehovah se knegte dat dit glad nie nou die tyd is om ons in hierdie sterwende wêreld tuis te maak nie. Ons slaan ag op die apostel Paulus se woorde: “Ek [sê] dít, broers: die oorblywende tyd is kort. Laat dié wat [koop], van nou af wees . . . soos dié wat nie besit nie, en dié wat van die wêreld gebruik maak, soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie; want die toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Kor. 7:29-31). Maar hoe maak hedendaagse Christene gebruik van die wêreld? Hulle doen dit deur moderne tegnologie en kommunikasiemiddele te gebruik om Bybelkennis wêreldwyd in honderde tale te versprei. Hulle maak beperkte gebruik van die wêreld om ’n bestaan te maak. Hulle koop noodsaaklike goedere en dienste wat in die wêreld beskikbaar is. Maar hulle gebruik die wêreld nie ten volle nie in die sin dat hulle wêreldse besittings en bedrywighede op die regte plek hou.—Lees 1 Timoteus 6:9, 10.
11 Waaksame Christene gebruik die wêreld nie ten volle nie met betrekking tot hoër onderwys. Baie mense in hierdie wêreld beskou hoër onderwys as ’n noodsaaklike trapklip tot aansien en ’n welvarende lewenswyse. Maar as Christene lewe ons as tydelike inwoners en streef ons ander doelwitte na. Ons ‘bedink nie hoë dinge nie’ (Rom. 12:16; Jer. 45:5). Aangesien ons Jesus se volgelinge is, slaan ons ag op sy waarskuwing: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Luk. 12:15). Gevolglik word jong Christene aangespoor om geestelike doelwitte na te streef en net genoeg geleerdheid te verkry om in hulle basiese behoeftes te voorsien, terwyl hulle hulle daarop toelê om hulle voor te berei om Jehovah ‘met hulle hele hart, siel, krag en verstand’ te dien (Luk. 10:27). Sodoende kan hulle ‘ryk word teenoor God’.—Luk. 12:21; lees Matteus 6:19-21.
Moenie oorweldig word deur die sorge van die lewe nie
12, 13. Hoe onderskei die feit dat ons ag slaan op Jesus se woorde in Matteus 6:31-33, ons van mense in die wêreld?
12 Jehovah se knegte verskil van mense in die wêreld wat hulle gesindheid teenoor materiële dinge betref. In hierdie verband het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:31-33). Deur persoonlike ondervinding het baie van ons medegelowiges gevind dat ons hemelse Vader voorsien wat hulle nodig het.
13 “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins” (1 Tim. 6:6, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Dit is presies die teenoorgestelde beskouing as wat mense in vandag se wêreld het. Wanneer jongmense byvoorbeeld trou, verwag baie van hulle om dadelik ‘alles te hê’—’n ten volle gemeubileerde en goed toegeruste huis of woonstel, ’n mooi motor en die nuutste elektroniese toestelle. Maar Christene wat as tydelike inwoners lewe, laat nie toe dat hulle begeertes verder gaan as wat vir hulle redelik en moontlik is nie. Dit is inderdaad prysenswaardig dat baie hulle sekere materiële geriewe ontsê sodat hulle as ywerige Koninkryksverkondigers meer tyd en energie aan Jehovah se diens kan wy. Ander dien as pioniers, by Bethel, in die reisende werk of as sendelinge. Hoe waardeer ons almal tog die heelhartige diens van ons medeaanbidders van Jehovah!
14. Watter les kan ons uit Jesus se gelykenis van die saaier leer?
14 In sy gelykenis van die saaier het Jesus gesê dat “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” die woord van God in ons hart kan verstik en ons onvrugbaar kan laat word (Matt. 13:22). As ons vergenoeg is om as tydelike inwoners in hierdie stelsel van dinge te lewe, help dit ons om nie in hierdie strik te trap nie. Dit stel ons eerder in staat om ons oog “eenvoudig”, of “in fokus”, te hou—om “in een rigting”, na God se Koninkryk, te kyk en om die belange daarvan eerste in ons lewe te hou.—Matt. 6:22, vtn. in NW.
“Die wêreld gaan verby”
15. Watter woorde van die apostel Johannes bepaal ware Christene se beskouing en gedrag ten opsigte van die teenswoordige wêreld?
15 ’n Vername rede waarom ons as ware Christene ons as “vreemdelinge en tydelike inwoners” in hierdie wêreld beskou, is ons oortuiging dat sy dae getel is (1 Pet. 2:11; 2 Pet. 3:7). Hierdie beskouing bepaal ons keuses in die lewe, ons begeertes en ons strewes. Die apostel Johannes het medegelowiges gemaan om nie die wêreld of die dinge in die wêreld lief te hê nie, want “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Joh. 2:15-17.
16. Hoe kan ons toon dat ons as ’n unieke volk afgesonder is?
16 Daar is vir die Israeliete gesê dat hulle Jehovah se “spesiale eiendom uit al die ander volke” sou word as hulle hom gehoorsaam (Eks. 19:5). Toe Israel getrou was, het hulle van al die ander nasies verskil wat hulle aanbidding en lewenswyse betref. Jehovah het vandag eweneens vir hom ’n volk afgesonder wat opvallend anders is as Satan se wêreld. Ons word aangesê “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe, terwyl ons wag op die gelukkige hoop en glorieryke openbaarwording van die groot God en van ons Redder, Christus Jesus, wat homself vir ons gegee het om ons van elke soort wetteloosheid te verlos en vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke” (Tit. 2:11-14). Hierdie “volk” bestaan uit gesalfde Christene en miljoene van Jesus se “ander skape”, wat hulle help en ondersteun.—Joh. 10:16.
17. Waarom sal die gesalfdes en hulle metgeselle nooit spyt wees dat hulle as tydelike inwoners in hierdie goddelose wêreld gelewe het nie?
17 “Die gelukkige hoop” van die gesalfdes is om saam met Christus in die hemel te heers (Op. 5:10). Wanneer die hoop op die ewige lewe op aarde vir die ander skape verwesenlik word, sal hulle nie meer tydelike inwoners in ’n goddelose wêreld wees nie. Hulle sal pragtige huise hê, asook ’n oorvloed om te eet en te drink (Ps. 37:10, 11; Jes. 25:6; 65:21, 22). In teenstelling met die Israeliete sal hulle nooit vergeet nie dat dit alles afkomstig is van Jehovah, “die God van die hele aarde” (Jes. 54:5). Nie die gesalfdes of die ander skape sal spyt wees dat hulle as tydelike inwoners in hierdie goddelose wêreld gelewe het nie.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het getroue manne van ouds as tydelike inwoners gelewe?
• Hoe het die vroeë Christene hulle ten opsigte van die wêreld gedra?
• Hoe beperk ware Christene hulle gebruik van die wêreld?
• Waarom sal ons nooit spyt wees dat ons as tydelike inwoners in hierdie goddelose wêreld gelewe het nie?
[Prent op bladsy 18]
Die vroeë Christene het nie aan gewelddadige en onsedelike vermaak deelgeneem nie