Jehovah hoor ons hulpgeroep
“Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep.”—PS. 34:15.
1, 2. (a) Hoe voel baie vandag? (b) Waarom verbaas dit ons nie?
ERVAAR jy benoudheid? Indien wel, is jy nie alleen nie. Miljoene sukkel om die daaglikse druk die hoof te bied wat met die lewe in hierdie goddelose stelsel van dinge gepaardgaan. Vir party raak dit amper te veel. Hulle voel baie soos die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Ek is lamgeslaan en erg verbryseld; ek het gebrul weens die gekreun van my hart. My hart het gebons, my krag het my verlaat, en die lig van my oë is ook nie by my nie.”—Ps. 38:8, 10.
2 As Christene is ons nie verbaas oor die probleme van die lewe nie. Ons verstaan dat “weë van benoudheid” deel is van die voorspelde teken van Jesus se teenwoordigheid (Mark. 13:8; Matt. 24:3). Die woord wat in die oorspronklike taal met “weë van benoudheid” vertaal is, verwys na die intense pyn wat tydens bevalling ondervind word. Hoe akkuraat beskryf dit tog die intensiteit van mense se lyding in hierdie “kritieke”, of “wrede”, tye wat so “moeilik is om deur te kom”!—2 Tim. 3:1; Kingdom Interlinear.
Jehovah verstaan ons benoudhede
3. Waarvan is God se knegte deeglik bewus?
3 Jehovah se knegte is deeglik bewus daarvan dat hulle nie immuun is teen die gevolge van hierdie benoudhede nie, en ongunstige toestande sal heel waarskynlik net vererger. Behalwe wat die mensdom oor die algemeen ondervind, het ons as God se knegte ook ’n “teenstander, die Duiwel”, wat vasbeslote is om ons geloof te ondermyn (1 Pet. 5:8). Hoe maklik sou dit tog wees om soos Dawid te voel: “Smaad het my hart gebreek, en die wond is ongeneeslik. En ek het bly hoop op iemand wat simpatie sou toon, maar daar was niemand; en op vertroosters, maar ek het nie een gevind nie”!—Ps. 69:20.
4. Wat vertroos ons wanneer ons benoudhede ervaar?
4 Het Dawid bedoel dat hy glad nie hoop gehad het nie? Nee. Let op sy verdere woorde in daardie psalm: “Jehovah luister na die armes, en hy sal sy gevangenes [of, “sy mense wat gevangenes is”, vtn. in NW] inderdaad nie verag nie” (Ps. 69:33). In ’n algemene sin voel ons dalk soms asof ons gevange gehou word deur ons benoudhede of beproewinge. Dit lyk dalk of ander nie werklik ons situasie verstaan nie—en dalk is dit so. Maar soos Dawid, kan ons vertroosting put uit die wete dat Jehovah ons benoudhede ten volle verstaan.—Ps. 34:15.
5. Waarin het koning Salomo vertroue gehad?
5 Dawid se seun Salomo het hierdie feit by die toewyding van die tempel in Jerusalem beklemtoon. (Lees 2 Kronieke 6:29-31.) Hy het Jehovah gesmeek om die gebed van elke opregte van hart te hoor wat Hom in verband met “sy eie plaag en sy eie pyn” genader het. Hoe sou God reageer op die gebede van hierdie persone wat in benoudheid verkeer het? Salomo het die vertroue uitgespreek dat God nie net hulle gebede sou hoor nie, maar ook ten behoewe van hulle sou optree. Waarom? Omdat hy werklik weet wat in “die hart van die mensekinders” is.
6. Hoe kan ons sorge die hoof bied, en waarom?
6 Ons kan Jehovah ook in gebed nader in verband met ‘ons eie plaag en ons eie pyn’, ons individuele benoudhede. Die wete dat hy ons benoudhede verstaan en dat hy vir ons omgee, behoort ons te vertroos. Die apostel Petrus het dit bevestig toe hy gesê het: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle’ (1 Pet. 5:7). Jehovah is besorg oor wat met ons gebeur. Jesus het Jehovah se liefdevolle sorg beklemtoon en gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matt. 10:29-31.
Maak staat op Jehovah se hulp
7. Van watter ondersteuning kan ons verseker wees?
7 Ons kan heeltemal daarvan seker wees dat Jehovah bereid en in staat is om ons te help wanneer ons deur benoudhede geteister word. “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word” (Ps. 34:15-18; 46:1). Hoe voorsien God daardie hulp? Dink aan wat 1 Korintiërs 10:13 sê: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.” Jehovah kan sake so reël dat die teëspoed wat ons ervaar, uit die weg geruim word, of hy kan ons die krag gee wat ons nodig het om dit te verduur. Hoe dit ook al sy, ons word gehelp.
8. Hoe kan ons God se hulp verkry?
8 Hoe kan ons daardie hulp verkry? Let op wat ons vermaan word om te doen: ‘Werp al julle sorge op hom.’ Dit beteken dat ons die verantwoordelikheid vir al ons sorge en kwellinge as ’t ware vir Jehovah gee. Ons probeer om op te hou om ons te bekommer en vertrou geduldig op hom om in ons behoeftes te voorsien (Matt. 6:25-32). Sulke vertroue vereis nederigheid, dat ons nie op ons eie krag en wysheid staatmaak nie. Deur ons “onder die magtige hand van God” te verneder, erken ons ons nederige posisie. (Lees 1 Petrus 5:6.) Dit help ons weer om opgewasse te wees teen enigiets wat God toelaat. Ons smag dalk na onmiddellike verligting, maar ons vertrou dat Jehovah presies weet wanneer en hoe om ten behoewe van ons op te tree.—Ps. 54:7; Jes. 41:10.
9. Watter soort las moes Dawid op Jehovah werp?
9 Dink aan Dawid se woorde in Psalm 55:22: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.” Toe Dawid hierdie woorde geskryf het, het hy groot benoudheid ervaar (Ps. 55:4). Hy het blykbaar hierdie psalm geskryf toe sy seun Absalom planne beraam het om hom van die koningskap te beroof. Dawid se mees vertroude raadgewer, Agitofel, het by die sameswering aangesluit. Dawid moes vir sy lewe uit Jerusalem vlug (2 Sam. 15:12-14). Selfs onder daardie benoude omstandighede het Dawid voortgegaan om op God te vertrou, en hy is nie teleurgestel nie.
10. Wat moet ons doen wanneer ons benoudhede ondervind?
10 Dit is noodsaaklik dat ons, soos Dawid, Jehovah in gebed nader oor enige benoudheid wat ons dalk ervaar. Kom ons kyk na wat die apostel Paulus ons aangespoor het om in hierdie verband te doen. (Lees Filippense 4:6, 7.) Wat sal sulke vurige gebed tot gevolg hê? “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.”
11. Hoe beskerm “die vrede van God” ons harte en ons verstandelike vermoëns?
11 Sal gebed tot ’n verandering in jou situasie lei? Miskien. Maar ons moet besef dat Jehovah ons gebede nie altyd verhoor op die manier waarop ons dit dalk wil hê nie. Nietemin help gebed ons om ons verstandelike balans te behou, sodat ons benoudhede ons nie oorweldig nie. “Die vrede van God” kan ons bestendigheid gee wanneer ons met ontstellende emosies belas word. Soos ’n garnisoen soldate wat ’n stad teen vyandelike invalle moet beskerm, sal “die vrede van God” ons harte en ons verstandelike vermoëns beskerm. Dit sal ons ook in staat stel om ons twyfelgedagtes, vrese en negatiewe gedagtes te oorkom en keer dat ons onbesonne en onverstandig optree.—Ps. 145:18.
12. Lig toe hoe iemand gemoedsrus kan hê.
12 Hoe kan ons gemoedsrus hê wanneer ons benoudhede verduur? Kyk na ’n illustrasie wat in sekere opsigte ooreenstem met ons situasie. Iemand werk dalk onder ’n onderdrukkende bestuurder. Maar die werker het die geleentheid om sy gevoelens uit te spreek teenoor die eienaar van die maatskappy, ’n goedhartige, redelike man. Die eienaar verseker die werker dat hy die situasie verstaan en sê dat die bestuurder binnekort ontslaan gaan word. Hoe laat dit die werker voel? Omdat hy vertroue het in hierdie versekering en weet wat binnekort gaan gebeur, maak dit hom meer vasbeslote om voort te gaan, al moet hy intussen nog ’n paar probleme verduur. So ook weet ons dat Jehovah ons situasie verstaan, en hy verseker ons dat ‘die heerser van hierdie wêreld binnekort uitgewerp sal word’ (Joh. 12:31). Hoe vertroostend is dit tog!
13. Wat moet ons doen bo en behalwe om te bid?
13 Is dit dan voldoende om net tot Jehovah te bid oor ons probleme? Nee. Meer is nodig. Ons moet in ooreenstemming met ons gebede optree. Toe koning Saul manne na Dawid se huis gestuur het om hom dood te maak, het Dawid gebid: “Verlos my van my vyande, o my God; mag u my beskerm teen dié wat teen my opstaan. Verlos my van dié wat skadelike dinge beoefen, en red my van bloedskuldige manne” (Ps. 59:1, 2). Dawid het nie net gebid nie; hy het ook na sy vrou geluister en die nodige stappe gedoen om te ontsnap (1 Sam. 19:11, 12). Ons kan op ’n soortgelyke wyse bid vir praktiese wysheid om ons te help om ontstellende omstandighede die hoof te bied en dalk die situasie te verbeter.—Jak. 1:5.
Hoe ons die krag kan hê om te volhard
14. Wat kan ons help om te volhard wanneer ons probleme ondervind?
14 Ons probleme sal moontlik nie onmiddellik uit die weg geruim word nie. Dit sal dalk selfs ’n ruk lank voortduur. Wat sal ons in daardie geval help om te volhard? Eerstens moet ons onthou dat ons ons liefde vir hom bewys wanneer ons aanhou om Jehovah getrou te dien ondanks probleme (Hand. 14:22). Hou Satan se aantyging teen Job in gedagte: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie” (Job 1:9-11, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Deur sy onkreukbaarheid het Job bewys dat daardie aantyging ’n blatante leuen is. As ons ondanks ontstellende omstandighede volhard, het ons ook die geleentheid om te bewys dat Satan ’n leuenaar is. En ons volharding versterk weer ons hoop en vertroue.—Jak. 1:4.
15. Watter voorbeelde kan ons versterk?
15 Tweedens moet ons in gedagte hou dat “dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld veroorsaak word” (1 Pet. 5:9). Ja, “geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense” (1 Kor. 10:13). Jy kan dus versterk en bemoedig word deur na te dink oor die voorbeelde van ander, eerder as om te fokus op jou eie probleme (1 Tess. 1:5-7; Heb. 12:1). Neem die tyd om na te dink oor die voorbeeld van diegene wat jy ken wat getrou volhard het ondanks pynlike omstandighede. Het jy al gepubliseerde lewensverhale gesoek om verslae te vind van diegene wat situasies deurgemaak het wat soortgelyk is aan wat jy verduur? Jy sal dit dalk baie bemoedigend vind.
16. Hoe versterk God ons wanneer ons voor allerhande beproewinge te staan kom?
16 Derdens moet ons onthou dat Jehovah “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting [is], wat ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enige soort verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word” (2 Kor. 1:3, 4). Dit is asof God langs ons staan om ons te bemoedig en te versterk, nie net in ons huidige verdrukking nie, maar “in al ons verdrukking”. Dit stel ons dan in staat om ander “in enige soort verdrukking” te kan vertroos. Paulus het self gesien hoe waar hierdie woorde is.—2 Kor. 4:8, 9; 11:23-27.
17. Hoe kan die Bybel ons help om die probleme van die lewe die hoof te bied?
17 Vierdens het ons God se Woord, die Bybel, wat “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16, 17). Behalwe dat God se Woord ons “bevoeg” maak en ‘toerus vir elke goeie werk’, stel dit ons ook in staat om die probleme van die lewe die hoof te bied. Dit maak ons “volkome bevoeg” en ‘rus ons ten volle toe’. In die oorspronklike taal beteken die woord wat met “ten volle toegerus” vertaal word, letterlik “uitgerus”. Hierdie woord kon in antieke tye gebruik word met verwysing na ’n boot wat uitgerus was met alles wat nodig was vir ’n seereis, of na ’n masjien wat in staat was om te doen wat ook al daarvan verwag is. So ook voorsien Jehovah deur sy Woord alles wat ons nodig het om enige situasie te hanteer wat kan ontstaan. Gevolglik kan ons sê: “As God dit toelaat, kan ek dit met sy hulp verduur.”
Verlossing uit al ons benoudhede
18. Wat moet ons in gedagte hou om ons te help om getrou te volhard?
18 Vyfdens moet ons nooit die wonderlike feit uit die oog verloor dat Jehovah binnekort die mensdom uit al sy benoudhede sal verlos nie (Ps. 34:19; 37:9-11; 2 Pet. 2:9). Uiteindelik beteken ons verlossing deur God nie net verlossing uit huidige benoudhede nie, maar ook die geleentheid om vir ewig te lewe, hetsy in die hemel saam met Jesus of op ’n paradysaarde.
19. Hoe is getroue volharding moontlik?
19 Tot dan gaan ons voort om die ontstellende toestande van hierdie goddelose wêreld te verduur. Hoe sien ons tog uit na die tyd wanneer dit nie meer sal bestaan nie! (Ps. 55:6-8). Laat ons onthou dat ons getroue volharding bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Mag ons krag put uit ons gebede en ons Christenbroederskap terwyl ons in gedagte hou dat ons broers soortgelyke beproewinge as ons verduur. Bly volkome bevoeg en ten volle toegerus deur goed gebruik te maak van God se Woord. Moet nooit toelaat dat jou vertroue in die liefdevolle sorg wat deur “die God van alle vertroosting” voorsien word, verswak nie. Onthou dat “die oë van Jehovah . . . op die regverdiges [is], en sy ore is tot hulle hulpgeroep”.—Ps. 34:15.
Kan jy antwoord?
• Hoe het Dawid gevoel oor die benoudhede waarmee hy te kampe gehad het?
• Watter vertroue het koning Salomo uitgespreek?
• Wat kan ons help om situasies wat Jehovah toelaat, die hoof te bied?
[Prent op bladsy 13]
Salomo het vertroue gehad dat Jehovah sou optree ten behoewe van Sy volk, wat in benoudheid verkeer het
[Prent op bladsy 15]
Dawid het in gebed sy las op Jehovah gewerp en toe in ooreenstemming met sy gebede opgetree