HOOFSTUK VIER
Hoe kan jy ’n huis bestuur?
1. Waarom kan dit vandag so moeilik wees om ’n huis te bestuur?
“DIE toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Korintiërs 7:31). Daardie woorde is meer as 1 900 jaar gelede geskryf, en hoe waar is dit tog vandag! Dinge is aan die verander, veral wat die gesinslewe betref. Wat 40 of 50 jaar gelede as normaal of gebruiklik beskou is, is vandag dikwels onaanvaarbaar. As gevolg hiervan kan dit groot uitdagings bied om ’n huis met welslae te bestuur. Maar as ’n mens skriftuurlike raad volg, kan jy wel daardie uitdagings die hoof bied.
LEEF BINNE JOU INKOMSTE
2. Watter ekonomiese omstandighede veroorsaak druk in ’n gesin?
2 Vandag is baie mense nie meer tevrede met ’n eenvoudige, gesinsgeoriënteerde lewe nie. Namate die handelswêreld al hoe meer produkte vervaardig en hulle die publiek deur hulle advertensievaardighede probeer lok, bestee miljoene vaders en moeders lang ure by die werk sodat hulle hierdie produkte kan koop. Miljoene ander sukkel van dag tot dag om net ’n bietjie kos op die tafel te sit. Hulle moet baie meer tyd by die werk bestee as vantevore, miskien twee betrekkings beklee om bloot vir noodsaaklikhede te betaal. Ander weer sal te bly wees om ’n werk te kry, aangesien werkloosheid ’n algemene probleem is. Ja, die lewe is nie altyd maklik vir die hedendaagse gesin nie, maar Bybelbeginsels kan gesinne help om hulle omstandighede ten beste te benut.
3. Watter beginsel het die apostel Paulus verduidelik, en hoe kan die toepassing daarvan ’n mens help om ’n huis met welslae te bestuur?
3 Die apostel Paulus het ekonomiese druk ondervind. Hy het dit te bowe gekom en het ’n waardevolle les geleer, wat hy in sy brief aan sy vriend Timoteus verduidelik. Paulus skryf: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dus voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:7, 8). ’n Gesin het weliswaar meer as net voedsel en klere nodig. Hulle het ook ’n plek nodig waar hulle kan woon. Die kinders het opvoeding nodig. En daar is doktersrekeninge en ander onkoste. Die beginsel van Paulus se woorde geld nietemin nog. As ons daarmee tevrede is om na ons benodigdhede om te sien en nie dinge najaag wat ons wil hê nie, sal die lewe makliker wees.
4, 5. Hoe kan dit ’n mens help om ’n huis te bestuur as jy vooruitdink en beplan?
4 Nog ’n nuttige beginsel word in een van Jesus se illustrasies gevind. Hy het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Jesus sê hier dat ons vooruit moet dink, vooruit moet beplan. Ons het in ’n vorige hoofstuk gesien hoe hierdie beginsel help wanneer ’n jong paartjie aan trou dink. En ná die troue help dit ons ook om ’n huis te bestuur. Om op hierdie gebied vooruit te dink, sluit in dat jy ’n begroting moet hê, dit wil sê om vooruit te beplan hoe jy die beskikbare geld ten beste kan benut. Op hierdie manier kan ’n gesin hulle uitgawes beheer deur geld opsy te sit wat elke dag of elke week aan benodigdhede bestee kan word, en sal hulle nie bo hulle inkomste lewe nie.
5 In party lande sal so ’n begroting dalk beteken dat ’n mens die begeerte moet weerstaan om teen ’n hoë rentekoers te leen om onnodighede te koop. In ander lande beteken dit dalk dat ’n mens kredietkaarte streng moet beheer (Spreuke 22:7). Dit beteken dalk ook dat ’n mens oomblikskope moet weerstaan—om iets op die ingewing van die oomblik te koop sonder om die behoeftes en gevolge in ag te neem. ’n Begroting sal boonop duidelik toon dat geld wat selfsugtig op dobbelary, rokery en oormatige drinkery gemors word die gesin se ekonomiese situasie benadeel, en dit is ook in stryd met Bybelbeginsels.—Spreuke 23:20, 21, 29-35; Romeine 6:19; Efesiërs 5:3-5.
6. Watter skriftuurlike waarhede help diegene wat in armoede moet lewe?
6 Maar wat van diegene wat genoodsaak is om in armoede te lewe? Vir eers kan hulle troos put uit die wete dat hierdie wêreldwye probleem net tydelik is. In die vinnig naderende nuwe wêreld sal Jehovah armoede uit die weg ruim, asook ander euwels wat vir die mensdom ellende veroorsaak (Psalm 72:1, 12-16). Intussen is ware Christene, selfs al is hulle baie arm, nie geheel en al wanhopig nie, want hulle stel geloof in Jehovah se belofte: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.” ’n Gelowige kan derhalwe met vertroue sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie” (Hebreërs 13:5, 6). In hierdie moeilike tye het Jehovah sy aanbidders al op baie maniere ondersteun wanneer hulle volgens sy beginsels lewe en sy Koninkryk eerste in hulle lewe stel (Matteus 6:33). Baie van hulle kan hiervan getuig en kan soos die apostel Paulus sê: “In alles en in alle omstandighede het ek die geheim geleer van wat dit is om versadig te wees sowel as wat dit is om honger te wees, wat dit is om oorvloed te hê sowel as wat dit is om gebrek te ly. Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:12, 13.
HELP MET DIE VRAG
7. Watter woorde van Jesus sal, indien dit toegepas word, ’n mens help om die huis met welslae te bestuur?
7 Teen die einde van sy aardse bediening het Jesus gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). As hierdie raad in die gesin toegepas word, help dit ’n mens in baie groot mate om die huis te bestuur. Is diegene wat in dieselfde huis as jy woon—mans, vrouens, ouers en kinders—nie per slot van rekening jou dierbaarste naaste nie? Hoe kan gesinslede liefde aan mekaar betoon?
8. Hoe kan liefde in die gesin betoon word?
8 Een manier is dat elke gesinslid sy deel van die takies in die huis moet doen. Kinders moet dus geleer word om dinge weg te pak nadat hulle dit gebruik het, hetsy dit klere of speelgoed is. Dit verg dalk tyd en inspanning om die bed elke oggend op te maak, maar dit help in groot mate om die huis te bestuur. Dit is natuurlik onvermydelik dat die huis soms tydelik ’n bietjie deurmekaar sal wees, maar almal kan saam werk om die huis redelik netjies te hou asook om ná maaltye skoon te maak. Luiheid, gemaksug en ’n teësinnige, onwillige gesindheid het ’n negatiewe uitwerking op almal (Spreuke 26:14-16). Daarenteen dra ’n blymoedige, gewillige gesindheid tot ’n gelukkige gesinslewe by. “God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:7.
9, 10. (a) Watter las rus dikwels op die vrou van die huis, en hoe kan dit ligter gemaak word? (b) Watter gebalanseerde beskouing van huiswerk word hier voorgestel?
9 Bedagsaamheid en liefde sal voorkom dat ’n situasie ontstaan wat ’n ernstige probleem in party huise is. Moeders was nog altyd die steunpilaar in die huis. Hulle het na die kinders omgesien, die huis skoongemaak, die gesin se wasgoed gewas en die voedsel gekoop en voorberei. In party lande het vroue ook gewoonlik op die lande gewerk, hulle produkte op die mark verkoop of op ander maniere tot die gesin se inkomste bygedra. Selfs waar dit vantevore nie gebruiklik was nie, word miljoene getroude vrouens nou deur die nood gedwing om werk buite die huis te vind. ’n Vrou en moeder wat op hierdie verskillende gebiede hard werk, verdien lof. Net soos die “deugsame vrou” wat in die Bybel beskryf word, benut sy haar dae goed. “Die brood van luiheid eet sy nie” (Spreuke 31:10, 27). Dit beteken egter nie dat ’n vrou die enigste een is wat in die huis moet werk nie. Is dit, nadat ’n man en ’n vrou albei die hele dag lank sekulêre werk gedoen het, slegs die vrou se verantwoordelikheid om die werk in die huis te doen terwyl die man en die res van die gesin ontspan? Beslis nie. (Vergelyk 2 Korintiërs 8:13, 14.) As die moeder byvoorbeeld ’n maaltyd gaan voorberei, sal sy dit dalk waardeer as ander gesinslede help met die voorbereiding deur die tafel te dek, van die inkopies te doen of om ’n bietjie skoonmaakwerk in die huis te doen. Ja, almal kan die verantwoordelikheid help dra.—Vergelyk Galasiërs 6:2.
10 Party sê miskien: “Waar ek woon, is dit nie ’n man se werk om sulke dinge te doen nie.” Dit is dalk waar, maar sal dit nie goed wees om hierdie saak ’n bietjie in oorweging te neem nie? Toe Jehovah God die gesinsreëling ingestel het, het hy nie beveel dat sekere werk net deur vrouens gedoen moet word nie. By een geleentheid, toe spesiale boodskappers van Jehovah die getroue man Abraham besoek het, het hy persoonlik gehelp om ’n maaltyd vir die besoekers voor te berei en te bedien (Genesis 18:1-8). Die Bybel gee dié vermaning: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame” (Efesiërs 5:28). As die man aan die einde van die dag moeg is en graag wil rus, is dit nie waarskynlik dat die vrou ook so voel nie, miskien selfs meer? (1 Petrus 3:7). Sal dit dan nie gepas en liefdevol van die man wees om in die huis te help nie?—Filippense 2:3, 4.
11. Op watter manier het Jesus vir elke gesinslid ’n goeie voorbeeld gestel?
11 Jesus is die beste voorbeeld van iemand wat God behaag het en sy metgeselle gelukkig gemaak het. Hoewel Jesus nooit getrou het nie, is hy ’n goeie voorbeeld vir mans, asook vir vrouens en kinders. Hy het van homself gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien”, dit wil sê om ander te dien (Matteus 20:28). Hoe aangenaam is dit tog in daardie gesinne waar alle lede so ’n gesindheid aankweek!
REINHEID—WAAROM SO BELANGRIK?
12. Wat vereis Jehovah van diegene wat hom dien?
12 Nog ’n Bybelbeginsel wat kan help om ’n huis te bestuur, word in 2 Korintiërs 7:1 gevind. Daar lees ons: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig.” Diegene wat hierdie geïnspireerde woorde gehoorsaam, is aanvaarbaar vir Jehovah, wat ‘rein en onbesmette aanbidding’ vereis (Jakobus 1:27). En hulle huisgesin geniet die voordele wat daarmee gepaardgaan.
13. Waarom is reinheid belangrik in die bestuur van ’n huis?
13 Die Bybel gee ons byvoorbeeld die versekering dat die dag sal aanbreek wanneer daar nie meer kwale en siektes sal wees nie. Dan sal ‘geen inwoner sê: Ek is siek nie’ (Jesaja 33:24; Openbaring 21:4, 5). Maar tot dan sal elke gesin van tyd tot tyd siekte ondervind. Selfs Paulus en Timoteus het siek geword (Galasiërs 4:13; 1 Timoteus 5:23). Mediese deskundiges sê egter dat baie siektes voorkom kan word. Gesinne wat wys optree, spring party voorkombare siektes vry as hulle liggaamlike en geestelike onreinheid vermy. Kom ons kyk hoe.—Vergelyk Spreuke 22:3.
14. Op watter manier kan sedelike reinheid ’n gesin teen siektes beskerm?
14 Geestelike reinheid sluit sedelike reinheid in. Dit is welbekend dat die Bybel hoë sedelike standaarde voorstaan en enige soort seksuele intiemheid buite die huwelik veroordeel. “Geen hoereerders . . . of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê . . . sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Die nakoming van hierdie streng standaarde is baie belangrik vir Christene wat in vandag se verdorwe wêreld lewe. As hulle dit doen, behaag dit God en help dit ook om die gesin te beskerm teen seksueel oordraagbare siektes, soos vigs, sifilis, gonorree en chlamydia.—Spreuke 7:10-23.
15. Gee ’n voorbeeld van hoe fisiese onreinheid onnodige siektes kan veroorsaak.
15 Dit help om die gesin teen ander siektes te beskerm as ons ‘ons van elke verontreiniging van die vlees reinig’. Baie siektes word deur fisiese onreinheid veroorsaak. ’n Treffende voorbeeld is die rookgewoonte. Rook besoedel nie net die longe, die klere en die lug nie, maar dit maak mense ook siek. Miljoene mense sterf elke jaar omdat hulle tabak gerook het. Dink net daaraan: as miljoene mense elke jaar daardie “verontreiniging van die vlees” vermy het, sou hulle nie siek geword het en ontydig gesterf het nie!
16, 17. (a) Watter wet van Jehovah het die Israeliete teen sekere siektes beskerm? (b) Hoe kan die beginsel agter Deuteronomium 23:12, 13 in alle huise toegepas word?
16 Beskou nog ’n voorbeeld. Ongeveer 3 500 jaar gelede het God vir die nasie Israel sy Wet gegee om hulle aanbidding en in sekere mate ook hulle alledaagse lewe te reël. Daardie Wet het die nasie teen siekte help beskerm deur ’n paar basiese reëls in verband met higiëne te gee. Een van hierdie wette het verband gehou met die verwydering van menslike uitwerpsel, wat behoorlik begrawe moes word buite die kamp sodat die gebied waar mense gewoon het nie besoedel sou word nie (Deuteronomium 23:12, 13). Daardie eertydse wet bevat steeds goeie raad. Selfs vandag word mense siek en sterf hulle omdat hulle dit nie volg nie.a
17 In harmonie met die beginsel agter daardie Israelitiese wet moet die gesin se badkamer en toiletgebied—hetsy binne of buite die woonplek—skoongehou en ontsmet word. As die toiletgebied nie skoon en bedek gehou word nie, sal dit vlieë lok wat kieme na ander dele van die huis versprei—asook na die kos wat ons eet! Daarbenewens moet kinders en volwassenes hulle hande was ná hulle die toilet gebruik het. Anders bring hulle kieme op hulle vel saam met hulle terug. Om jou hande te was, is volgens ’n Franse dokter “nog steeds een van die beste waarborge om sekere spysverterings-, asemhalings- of velinfeksies te voorkom”.
18, 19. Watter wenke kan help om ’n huis selfs in ’n arm buurt skoon te hou?
18 Reinheid is weliswaar in ’n arm buurt ’n uitdaging. Iemand wat met sulke gebiede bekend is, het verduidelik: “Die drukkende warm klimaat maak skoonmaakwerk dubbel so moeilik. Stofstorms vul elke krakie in die huis met fyn bruin poeier. . . . Die toename van die aantal mense in stede, asook in party plattelandse gebiede, skep ook gesondheidsgevare. Oop rioolstelsels, hope vullis wat nie weggeneem word nie, vuil gemeenskaplike toilette, siektedraende rotte, kakkerlakke en vlieë het ’n algemene gesig geword.”
19 Dit is moeilik om reinheid onder hierdie omstandighede te handhaaf. Maar dit is die moeite werd. Seep en water en ’n bietjie ekstra werk is goedkoper as medisyne en hospitaalrekeninge. As jy in so ’n omgewing woon, moet jy sover moontlik jou eie huis en erf skoon hou en diereuitwerpsel verwyder. Kan jy, indien die paadjie na jou huis gedurende die reënseisoen modderig raak, dit met gruis of klippe vul wat sal help om die modder uit die huis te hou? Kan mense, as hulle skoene of sandale dra, dit uittrek voor hulle in die huis ingaan? Jy moet ook keer dat jou watervoorraad besoedel word. Daar word geraam dat ten minste tweemiljoen mense jaarliks sterf as gevolg van siektes wat met vuil water en swak sanitasie verband hou.
20. Wie het almal die verantwoordelikheid om die huis skoon te hou?
20 ’n Skoon huis hang van almal af—moeder, vader, kinders en besoekers. Een moeder van agt kinders in Kenia het gesê: “Almal het geleer om hulle deel by te dra.” ’n Skoon, netjiese huis skep ’n goeie indruk van die hele gesin. ’n Spaanse spreuk sê: “Daar is geen konflik tussen armoede en reinheid nie.” Hetsy jy in ’n luukse huis, ’n woonstel, ’n beskeie huis of ’n pondok woon, reinheid is die sleutel tot ’n gesonder gesin.
ONS FLOREER OP AANMOEDIGING
21. Wat sal, in ooreenstemming met Spreuke 31:28, help om ’n huisgesin gelukkig te maak?
21 Die boek Spreuke sê in ’n bespreking van die deugsame vrou: “Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar” (Spreuke 31:28). Wanneer laas het jy ’n lid van jou gesin geprys? Ons is in werklikheid soos plante in die lente wat gereed is om te blom wanneer hulle ’n bietjie hitte en water kry. In ons geval het ons hartlike aanmoediging nodig. Dit help ’n vrou om te weet dat haar man haar harde werk en liefdevolle sorg waardeer en dat hy haar werk nie as vanselfsprekend aanvaar nie (Spreuke 15:23; 25:11). En dit is aangenaam wanneer ’n vrou haar man prys vir die werk wat hy buite en binne die huis doen. Kinders floreer ook as hulle ouers hulle vir hulle pogings in die huis, by die skool of in die Christengemeente prys. En hoeveel bereik ’n bietjie dankbaarheid tog nie! Wat kos dit om te sê: “Dankie”? Baie min, maar dit dra baie tot die gesin se moraal by.
22. Wat is nodig om ’n huisgesin ‘stewig te bevestig’, en hoe kan dit bereik word?
22 Daar is baie redes waarom dit nie maklik is om ’n huis te bestuur nie. Maar dit kan met welslae gedoen word. ’n Bybelspreuk sê: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig bevestig wees” (Spreuke 24:3, NW). Wysheid en onderskeidingsvermoë kan verkry word as almal in die gesin daarna streef om God se wil te leer ken en dit in hulle lewe toe te pas. ’n Gelukkige gesin is beslis ons inspanning werd!
a In ’n handleiding oor die voorkoming van diaree—’n algemene siekte wat tot die dood van talle jong kindertjies lei—sê die Wêreldgesondheidsorganisasie: “As daar nie ’n toilet is nie: moet jy jou weg van die huis af, en van gebiede waar kinders speel, en ten minste 10 meter van die watervoorraad af gaan ontlas; bedek die uitwerpsel met grond.”