Vervolging lei tot groei in Antiogië
TOE vervolging ná Stefanus se marteldood uitgebreek het, het baie van Jesus se dissipels uit Jerusalem gevlug. Een van die plekke waar hulle toevlug gevind het, was Antiogië, Sirië, ongeveer 550 kilometer na die noorde (Handelinge 11:19). Gebeure wat daarop gevolg het, het die hele verloop van die Christelike geskiedenis geraak. As ons ’n bietjie omtrent Antiogië weet, sal dit ons help om te verstaan wat gebeur het.
Wat die stede van die Romeinse Ryk betref, is Antiogië in grootte, welvaart en belangrikheid net deur Rome en Aleksandrië oortref. Hierdie hoofstad van Sirië het lande in die noordoostelike hoek van die Middellandse See oorheers. Antiogië (hedendaagse Antakya, Turkye) het aan die bevaarbare Orontesrivier gelê, wat hom verbind het met sy hawe, Seleukië Pieria, 32 kilometer daarvandaan. Die stad het beheer oor een van die belangrikste handelsroetes tussen Rome en die Tigris-Eufraat-vallei gehad. As ’n handelsentrum het hy met die hele ryk sake gedoen en gesien hoe allerhande mense kom en gaan en nuus bring van godsdiensbewegings oral in die Romeinse wêreld.
Helleense godsdiens en filosofie het in Antiogië gefloreer. Maar “in die tyd van Christus”, sê die geskiedskrywer Glanville Downey, “het die ou godsdienskultusse en die filosofieë al hoe meer ’n saak van individuele oortuiging geword, terwyl mense elkeen hulle eie godsdiensbevrediging probeer verkry het wat hulle probleme en strewes betref” (A History of Antioch in Syria). Baie het bevrediging geput uit die monoteïsme, seremonies en etiek van Judaïsme.
’n Groot Joodse gemeenskap het sedert Antiogië se stigting in 300 v.G.J. in die stad gewoon. Hierdie gemeenskap het na raming uit 20 000 tot 60 000 mense bestaan, wat meer as 10 persent van die bevolking uitgemaak het. Die geskiedskrywer Josefus sê dat die Seleukiede dinastie van konings Jode aangemoedig het om hulle in die stad te vestig en hulle volle burgerregte gegee het. Teen daardie tyd was die Hebreeuse Geskrifte in Grieks beskikbaar. Dit het die belangstelling geprikkel van diegene wat die Jode se Messiaanse verwagtinge goedgesind was. Derhalwe is baie proseliete onder die Grieke gemaak. Al hierdie faktore het Antiogië ’n vrugbare veld vir Christelike dissipelmaakwerk gemaak.
Hulle getuig vir nie-Jode
Die meeste van Jesus se vervolgde volgelinge wat uit Jerusalem verstrooi is, het hulle geloof net aan Jode verkondig. Maar in Antiogië het party dissipels van Siprus en Sirene met “Griekssprekendes” gepraat (Handelinge 11:20). Hoewel die predikingswerk al sedert Pinkster 33 G.J. onder Griekssprekende Jode en proseliete gedoen is, lyk dit of die predikingswerk in Antiogië anders was. Dit is nie net onder Jode gedoen nie. Dit is waar dat die nie-Jood Kornelius en sy gesin reeds dissipels geword het. Maar ’n visioen van Jehovah af was nodig om die apostel Petrus te oortuig dat dit reg is om vir nie-Jode, of mense van die nasies, te getuig.—Handelinge 10:1-48.
In ’n stad met ’n groot en baie ou Joodse gemeenskap en met min vyandigheid tussen Jode en heidene, het nie-Jode ’n getuienis ontvang en het hulle gunstig op die goeie nuus gereageer. Antiogië het klaarblyklik die regte atmosfeer vir so ’n verwikkeling gehad, en ‘’n groot aantal het gelowiges geword’ (Handelinge 11:21). En wanneer proseliete, wat voorheen heidense gode aanbid het, Christene geword het, was hulle op ’n unieke manier toegerus om vir ander nie-Jode te getuig wat nog steeds daardie gode aanbid het.
Toe die gemeente in Jerusalem van die verwikkelinge in Antiogië gehoor het, het hulle Barnabas daarheen gestuur om ondersoek in te stel. Dit was ’n wyse en liefdevolle keuse. Hy was ’n Siprioot, soos party van dié wat vir nie-Jode begin getuig het. Barnabas sou tuis gevoel het onder die nie-Jode van Antiogië. En op hulle beurt sou hulle hom gesien het as ’n lid van ’n gemeenskap wat vir hulle bekend was.a Hy sou hom kon indink hoe dit moes wees om die werk daar te doen. “Toe hy daar aankom en die onverdiende goedhartigheid van God sien, het hy hom verheug en hulle almal begin aanmoedig om met hartlike voorneme voort te gaan in die Here”, en “’n aansienlike skare is tot die Here bygevoeg”.—Handelinge 11:22-24.
“Praktiese redes vir die sukses van die vroeë sending in Antiogië”, sê die geskiedskrywer Downey, “was dalk dat dit nie in hierdie stad vir die sendelinge nodig was om Joodse fanatici, soos dié wat hulle in Jerusalem teëgekom het, te vrees nie; ook dat die stad, as die hoofstad van Sirië, deur ’n gesant regeer is en derhalwe ’n groter mate van openbare orde geniet het, met minder geleenthede vir gepeupelgeweld soos wat in Jerusalem voorgekom het, waar die prokurators van Judea blykbaar (ten minste in hierdie tydperk) nie die Joodse fanatici kon beheer nie.”
In hierdie gunstige omstandighede en met baie om te doen, het Barnabas heel waarskynlik besef dat hy hulp nodig het, en hy het aan sy vriend Saulus gedink. Waarom Saulus, oftewel Paulus? Klaarblyklik omdat Paulus, hoewel hy nie een van die 12 apostels was nie, ’n apostel vir die nasies was (Handelinge 9:15, 27; Romeine 1:5; Openbaring 21:14). Paulus was gevolglik besonder geskik as ’n metgesel om die goeie nuus in die nie-Joodse stad Antiogië te verkondig (Galasiërs 1:16). Barnabas het dus na Tarsus gegaan, Saulus gevind en hom na Antiogië gebring.—Handelinge 11:25, 26; sien venster op bladsye 26-7.
Deur goddelike voorsienigheid Christene genoem
Barnabas en Saulus het ’n hele jaar lank “’n aansienlike skare geleer . . . , en dit was in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem is”. Dit is onwaarskynlik dat die Jode die eerstes was wat Jesus se volgelinge Christene (Grieks) of Messianiste (Hebreeus) genoem het, want hulle het Jesus as die Messias, of Christus, verwerp en sou hom derhalwe nie stilswyend as sodanig erken deur sy volgelinge Christene te noem nie. Party meen dat die heidense bevolking hulle dalk spottenderwys of smadend die bynaam Christene gegee het. Maar die Bybel toon dat God hulle die naam Christene gegee het.—Handelinge 11:26.
In die Christelike Griekse Geskrifte word die werkwoord wat in verband met die nuwe naam gebruik word en wat oor die algemeen met “genoem is” vertaal word, altyd met iets bonatuurliks, orakelagtig of goddelik in verband gebring. Geleerdes vertaal dit dus met “om ’n orakel uit te spreek”, “wat deur God bekend gemaak is” of “om ’n Goddelike gebod of vermaning te gee, om uit die hemel te leer”. Aangesien Jesus se volgelinge “deur goddelike voorsienigheid” Christene genoem is, is dit moontlik dat Jehovah Saulus en Barnabas die opdrag gegee het om hulle die naam te gee.
Die nuwe naam het behoue gebly. Jesus se dissipels kon nie meer aangesien word vir ’n sekte van Judaïsme nie, waarvan hulle heeltemal verskil het. Teen ongeveer 58 G.J. het Romeinse amptenare baie goed geweet wie die Christene was (Handelinge 26:28). Volgens die geskiedskrywer Tacitus was die naam teen 64 G.J. ook algemeen bekend onder die volksmassa in Rome.
Jehovah gebruik sy getroues
Die goeie nuus het baie goed gevorder in Antiogië. Met Jehovah se seën en die vasbeslotenheid van Jesus se volgelinge om met die predikingswerk vol te hou, het Antiogië ’n sentrum van die eerste-eeuse Christelike godsdiens geword. God het die gemeente daar gebruik as ’n afspringplek vir die verspreiding van die goeie nuus na verafgeleë lande. Antiogië was byvoorbeeld die vertrekpunt vir elkeen van die apostel Paulus se baanbrekende sendingreise.
In hedendaagse tye het ywer en vasbeslotenheid ten spyte van teenstand eweneens die verspreiding van die ware Christelike godsdiens bevorder en baie die geleentheid gegee om die goeie nuus te hoor en hulle waardering daarvoor te bewys.b As jy dus teenstand ondervind omdat jy rein aanbidding ondersteun, moet jy in gedagte hou dat Jehovah redes het waarom hy dit toelaat. Soos in die eerste eeu moet mense vandag die geleentheid gegee word om van God se Koninkryk te hoor en hulle aan die kant daarvan te skaar. Jou vasbeslotenheid om Jehovah getrou te bly dien, is dalk net wat nodig is om iemand te help om juiste kennis van die waarheid op te doen.
[Voetnote]
a Op ’n helder dag is die eiland Siprus sigbaar vanaf die berg Casius, wat suidwes van Antiogië geleë is.
b Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1999, bladsy 9; die Ontwaak! van 22 April 1999, bladsye 21-2; 1999 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 250-2.
[Venster/Prente op bladsy 26, 27]
Saulus se “stil jare”
DIE laaste keer dat Saulus in die boek Handelinge gemeld word voordat hy omstreeks 45 G.J. na Antiogië gegaan het, is toe ’n komplot om hom in Jerusalem dood te maak, misluk het en sy medegelowiges hom na Tarsus toe gestuur het (Handelinge 9:28-30; 11:25). Maar dit was nege jaar vroeër, omstreeks 36 G.J. Wat het hy intussen gedoen—gedurende ’n tydperk wat al Saulus se stil jare genoem is?
Saulus het van Jerusalem af na die streke van Sirië en Silisië gegaan, en die gemeentes van Judea het gehoor: “Die man wat ons vroeër vervolg het, maak nou die goeie nuus bekend oor die geloof wat hy vroeër verwoes het” (Galasiërs 1:21-23). Daardie verslag kon verwys het na sy bedrywighede in Antiogië saam met Barnabas, maar selfs voor dit het Saulus ongetwyfeld nie ledig gesit nie. Teen 49 G.J. het ’n hele paar gemeentes in Sirië en Silisië bestaan. Een was in Antiogië, maar party meen dat ander die gevolg kon gewees het van Saulus se bedrywighede gedurende sy sogenaamde stil jare.—Handelinge 11:26; 15:23, 41.
Party geleerdes meen dat dramatiese gebeure in Saulus se lewe gedurende daardie tydperk plaasgevind het. Dit is andersins moeilik om te bepaal wanneer in sy sendingloopbaan hy baie van sy beproewinge as ’n ‘bedienaar van Christus’ verduur het (2 Korintiërs 11:23-27). Wanneer het Saulus vyf keer 39 houe van die Jode ontvang? Waar is hy drie keer met stokke geslaan? Waar was hy ‘oorvloedig’ in gevangenisse? Hy is eers later in Rome aangehou. Ons het ’n verslag van een keer toe hy geslaan en in die tronk gesit is—in Filippi. Maar wat van die ander kere? (Handelinge 16:22, 23). Een skrywer beweer dat Saulus gedurende hierdie tydperk “in die sinagoges van die Diaspora aangaande Christus getuig het en dat hy hom as gevolg daarvan vervolging deur die godsdiens- sowel as die burgerlike owerhede op die hals gehaal het”.
Saulus het vier keer skipbreuk gely, maar die Skrif gee die besonderhede van net een keer, wat plaasgevind het nadat hy sy beproewinge genoem het toe hy aan die Korintiërs geskryf het (Handelinge 27:27-44). Die ander drie keer het waarskynlik plaasgevind gedurende seereise waarvan ons niks weet nie. Enige van die gebeure of hulle almal kon gedurende die “stil jare” plaasgevind het.
Nog ’n gebeurtenis wat blykbaar gedurende hierdie tydperk plaasgevind het, word in 2 Korintiërs 12:2-5 beskryf. Saulus het gesê: ‘Ek ken ’n mens in eenheid met Christus wat veertien jaar gelede na die derde hemel, tot in die paradys weggeruk is en onuitspreeklike woorde gehoor het wat dit ’n mens nie geoorloof is om te spreek nie.’ Saulus het klaarblyklik van homself gepraat. Aangesien hy dit in ongeveer 55 G.J. geskryf het, sou 14 jaar tevore ons terugbring na 41 G.J., in die middel van die “stil jare”.
Daardie visioen het Saulus ongetwyfeld unieke insig gegee. Was dit bedoel om hom toe te rus as “’n apostel vir die nasies”? (Romeine 11:13). Het dit ’n invloed gehad op die manier waarop hy later gedink, geskryf en gepraat het? Het Saulus gedurende die jare tussen sy bekering en die uitnodiging na Antiogië opleiding ontvang en ervare geword sodat hy sy toekomstige verantwoordelikhede kon behartig? Ongeag wat die antwoorde op hierdie vrae is, ons kan seker wees dat die ywerige man Saulus heeltemal bekwaam was om die toewysing na te kom toe Barnabas hom genooi het om die voortou te help neem met die predikingswerk in Antiogië.—Handelinge 11:19-26.
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SIRIË
Orontes
Antiogië
Seleukië
SIPRUS
MIDDELLANDSE SEE
Jerusalem
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 24]
Bo: Hedendaagse Antiogië
Middel: Suidelike aansig van Seleukië
Onder: Hawemuur van Seleukië