Christene weerkaats die heerlikheid van Jehovah
“Gelukkig is julle oë omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor.”—MATTEUS 13:16.
1. Watter vraag ontstaan in verband met die Israeliete se reaksie teenoor Moses by die berg Sinai?
DIE Israeliete wat by die berg Sinai vergader was, het alle rede gehad om nader aan Jehovah te kom. Hy het hulle immers met ’n magtige hand uit Egipte verlos. Hy het na hulle behoeftes omgesien deur voedsel en water in die wildernis te voorsien. Daarna het hy hulle die oorwinning oor ’n aanvallende Amalekitiese leër gegee (Eksodus 14:26-31; 16:2–17:13). Terwyl hulle kamp in die wildernis voor die berg Sinai was, het die volk so bang geword weens donderslae en weerligstrale dat hulle gebewe het. Later het hulle Moses van die berg Sinai sien afkom, en sy gesig het die heerlikheid van Jehovah weerkaats. Maar in plaas van met verwondering en waardering daarop te reageer, het hulle teruggedeins. “Hulle het bang geword om naby [Moses] te kom” (Eksodus 19:10-19; 34:30). Waarom was hulle bang om ’n weerkaatsing te sien van die heerlikheid van Jehovah, die een wat soveel vir hulle gedoen het?
2. Waarom was die Israeliete moontlik bang toe hulle die heerlikheid van God sien wat Moses weerkaats het?
2 Die Israeliete se vrees by hierdie geleentheid het waarskynlik in groot mate verband gehou met wat vroeër gebeur het. Toe hulle opsetlik aan Jehovah ongehoorsaam was deur ’n goue kalf te maak, het hy hulle gedissiplineer (Eksodus 32:4, 35). Het hulle uit Jehovah se dissipline geleer en dit waardeer? Nee, die meeste het nie. Teen die einde van sy lewe het Moses verwys na die voorval van die goue kalf sowel as na ander gevalle toe die Israeliete ongehoorsaam was. Hy het vir die volk gesê: “Julle [het] julle opstandig gedra teen die bevel van Jehovah julle God, en julle het nie geloof in hom beoefen en nie na sy stem geluister nie. Julle was opstandig in julle gedrag teenoor Jehovah van die dag af dat ek julle ken.”—Deuteronomium 9:15-24.
3. Wat het Moses gedoen in verband met ’n sluier oor sy gesig?
3 Kyk ’n bietjie hoe Moses gereageer het op die vrees wat die Israeliete getoon het. Die verslag sê: “Wanneer Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ’n sluier oor sy gesig gesit. Maar wanneer Moses voor Jehovah [in die tabernakel] ingegaan het om met hom te praat, het hy die sluier weggeneem totdat hy uitgaan. En hy het uitgegaan en aan die kinders van Israel meegedeel wat hy beveel is. En die kinders van Israel het Moses se gesig gesien, dat die vel van Moses se gesig glinster; en Moses het die sluier weer oor sy gesig gesit totdat hy ingaan om met [Jehovah] te praat” (Eksodus 34:33-35). Waarom het Moses soms ’n sluier oor sy gesig gesit? Wat kan ons hieruit leer? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons help om ons eie verhouding met Jehovah te ondersoek.
Verlore geleenthede
4. Watter verduideliking het die apostel Paulus voorsien vir Moses se gebruik van die sluier?
4 Die apostel Paulus het verduidelik dat Moses se gebruik van die sluier te doen gehad het met die verstande en die hartstoestand van die Israeliete. Paulus het geskryf: “Die kinders van Israel [kon] nie stip na die gesig van Moses . . . kyk nie weens die heerlikheid van sy gesig . . . Hulle verstandelike vermoëns is afgestomp” (2 Korintiërs 3:7, 14). Wat ’n jammerlike situasie! Die Israeliete was Jehovah se uitverkore volk, en hy wou gehad het dat hulle nader aan hom moes kom (Eksodus 19:4-6). Tog was hulle teësinnig om stip na die weerkaatsing van God se heerlikheid te kyk. In plaas van hulle harte en verstande in liefdevolle toegewydheid tot Jehovah te neig, het hulle hulle in sekere sin van hom weggedraai.
5, 6. (a) Watter eerste-eeuse parallel was daar van die Israeliete van Moses se dag? (b) Watter kontras was daar tussen dié wat na Jesus geluister het en dié wat nie geluister het nie?
5 Ons vind ’n parallel hiervan in die eerste eeu G.J. Teen die tyd dat Paulus hom tot die Christelike godsdiens bekeer het, het die nuwe verbond, waarvan Jesus Christus, die Grotere Moses, die middelaar is, al die Wetsverbond vervang. Jesus het die heerlikheid van Jehovah in woord sowel as daad volmaak weerkaats. Paulus het aangaande die verrese Jesus geskryf: “Hy is die weerspieëling van [God se] heerlikheid en die presiese afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:3). Wat ’n wonderlike geleentheid het die Jode tog gehad! Hulle kon luister na die woorde van die ewige lewe wat deur die Seun van God self gespreek word! Ongelukkig het die meeste van die mense vir wie Jesus gepreek het, nie geluister nie. Aangaande hulle het Jesus Jehovah se profesie deur Jesaja aangehaal: “Die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë gesluit; sodat hulle nooit met hulle oë sou sien en met hulle ore sou hoor en met hulle hart die sin daarvan sou begryp en terugdraai en ek hulle genees nie.”—Matteus 13:15; Jesaja 6:9, 10.
6 Daar was ’n skerp kontras tussen die Jode en Jesus se dissipels, van wie Jesus gesê het: “Gelukkig is julle oë omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor” (Matteus 13:16). Ware Christene smag daarna om Jehovah te leer ken en te dien. Hulle skep behae daarin om sy wil uit te voer, soos dit in die bladsye van die Bybel geopenbaar word. Gesalfde Christene weerkaats dus Jehovah se heerlikheid in hulle bediening van die nuwe verbond, en die lede van die ander skape doen dit ook.—2 Korintiërs 3:6, 18.
Waarom die goeie nuus versluier is
7. Waarom is dit nie verbasend dat die meeste mense die goeie nuus verwerp nie?
7 Soos ons gesien het, het die meeste Israeliete in Jesus se dag sowel as in Moses se dag die unieke geleentheid verwerp wat hulle gehad het. Dit is ook die geval in ons tyd. Die meeste mense verwerp die goeie nuus wat ons verkondig. Dit verbaas ons nie. Paulus het geskryf: “As die goeie nuus wat ons bekend maak, dan nou in werklikheid versluier is, is dit versluier onder dié wat vergaan, onder wie die god van hierdie stelsel van dinge die verstande van die ongelowiges verblind het” (2 Korintiërs 4:3, 4). Benewens Satan se pogings om die goeie nuus te verberg, versluier baie mense hulle eie gesig omdat hulle nie wil sien nie.
8. Hoe word baie deur onkunde verblind, en hoe kan ons verhoed dat ons op dieselfde wyse beïnvloed word?
8 Die figuurlike oë van baie word deur onkunde verblind. Die Bybel sê dat die nasies “verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort, weens die onkunde wat in hulle is” (Efesiërs 4:18). Voordat hy ’n Christen geword het, was Paulus, ’n man wat met die Wet vertroud was, so deur onkunde verblind dat hy die gemeente van God vervolg het (1 Korintiërs 15:9). Tog het Jehovah die waarheid aan hom geopenbaar. Paulus verduidelik: “Die rede waarom barmhartigheid aan my bewys is, [was] dat Christus Jesus deur middel van my, as die vernaamste geval, al sy lankmoedigheid kon toon as ’n voorbeeld vir dié wat hulle geloof op hom sal grond tot die ewige lewe” (1 Timoteus 1:16). Soos Paulus, dien baie wat God se waarheid voorheen teëgestaan het, Hom nou. Dit is ’n goeie rede om aan te hou getuig selfs vir diegene wat ons teëstaan. As ons intussen God se Woord gereeld bestudeer en die sin daarvan begryp, verhoed dit dat ons in onkunde optree op ’n wyse wat Jehovah se misnoeë meebring.
9, 10. (a) Hoe het eerste-eeuse Jode getoon dat hulle nie wou leer nie en onbuigsaam was in hulle beskouings? (b) Is daar vandag ’n parallel in die Christendom? Verduidelik.
9 Baie mense se geestelike sig is belemmer omdat hulle nie wil leer nie en onbuigsaam is in hulle beskouings. Baie Jode het Jesus en sy leringe verwerp omdat hulle hardnekkig aan die Mosaïese Wet vasgeklou het. Daar was natuurlik uitsonderings. Byvoorbeeld, nadat Jesus opgewek is, het “’n groot menigte priesters . . . aan die geloof gehoorsaam geword” (Handelinge 6:7). Maar aangaande die meerderheid van die Jode het Paulus geskryf: “Tot vandag toe lê daar ’n sluier oor hulle hart elke keer wanneer Moses gelees word” (2 Korintiërs 3:15). Paulus het waarskynlik geweet wat Jesus vroeër vir die Joodse godsdiensleiers gesê het: “Julle ondersoek die Skrif, want julle dink dat julle die ewige lewe deur middel daarvan sal hê; en juis dié getuig aangaande my” (Johannes 5:39). Die Skrif wat hulle so noukeurig ondersoek het, moes hulle eintlik gehelp het om te onderskei dat Jesus die Messias was. Maar die Jode het hulle eie idees gehad, en selfs die Seun van God met al sy wonderwerke kon hulle nie tot ander insigte bring nie.
10 Dieselfde is vandag waar van baie in die Christendom. Soos die eerste-eeuse Jode, het “hulle ’n ywer vir God . . . ; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Hoewel party die Bybel bestudeer, wil hulle nie glo wat dit sê nie. Hulle weier om te aanvaar dat Jehovah sy volk deur middel van sy “getroue en verstandige slaaf”-klas van gesalfde Christene onderrig (Matteus 24:45). Maar ons verstaan dat Jehovah sy volk onderrig en dat die begrip van goddelike waarheid nog altyd progressief was (Spreuke 4:18). Deur toe te laat dat ons deur Jehovah onderrig word, word ons geseën met die kennis van sy wil en voorneme.
11. Watter rol het wensdenkery daarin gespeel om die waarheid te verberg?
11 Ander word deur wensdenkery verblind. Daar is voorspel dat party God se volk en die boodskap wat hulle oor Jesus se teenwoordigheid verkondig, sou bespot. Die apostel Petrus het geskryf: “Ooreenkomstig hulle wens ontgaan hierdie feit hulle aandag”, naamlik dat God ’n vloed oor die wêreld van Noag se tyd gebring het (2 Petrus 3:3-6). So ook erken baie verklaarde Christene geredelik dat Jehovah barmhartig, goedhartig en vergewensgesind is; maar hulle ignoreer of verwerp die feit dat hy nie vrystelling van straf gee nie (Eksodus 34:6, 7). Ware Christene maak seker dat hulle verstaan wat die Bybel werklik leer.
12. Hoe is mense deur tradisie verblind?
12 Baie kerkgangers word deur tradisie verblind. Jesus het vir godsdiensleiers in sy dag gesê: “Julle [het] die woord van God kragteloos gemaak weens julle oorlewering” (Matteus 15:6). Die Jode het ware aanbidding ywerig herstel nadat hulle uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, maar die priesters het trots en eiegeregtig geword. Godsdiensfeeste het formalisties geword, ontbloot van opregte eerbied vir God (Maleagi 1:6-8). Teen Jesus se tyd het die skrifgeleerdes en die Fariseërs tallose tradisies by die Mosaïese Wet gevoeg. Jesus het daardie manne as huigelaars aan die kaak gestel omdat hulle die regverdige beginsels waarop die Wet gebaseer was, uit die oog verloor het (Matteus 23:23, 24). Ware Christene moet oppas dat hulle nie toelaat dat mensgemaakte godsdienstradisies hulle van ware aanbidding laat afwyk nie.
“Asof hy die Onsigbare sien”
13. Op watter twee maniere het Moses ’n mate van God se heerlikheid gesien?
13 Moses het gevra om God se heerlikheid op die berg te sien, en hy het wel die nagloed van Jehovah se heerlikheid gesien. Wanneer hy in die tabernakel ingegaan het, het hy nie ’n sluier gedra nie. Moses was ’n man met groot geloof wat God se wil wou doen. Hoewel hy geseën is met die voorreg om ’n mate van Jehovah se heerlikheid in ’n visioen te sien, het hy God in sekere sin reeds met die oë van geloof gesien. Die Bybel sê dat Moses “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27; Eksodus 34:5-7). En hy het God se heerlikheid nie net weerkaats deurdat sy gesig ’n ruk lank geglinster het nie, maar ook deur sy pogings om die Israeliete te help om Jehovah te leer ken en te dien.
14. Hoe het Jesus God se heerlikheid gesien, en waarin het hy behae geskep?
14 In die hemel het Jesus die heerlikheid van God tallose eeue lank, selfs nog voordat die heelal geskep is, direk gesien (Spreuke 8:22, 30). Gedurende al hierdie tyd het ’n baie liefdevolle en hartlike verhouding ontwikkel. Jehovah God het die teerste liefde en geneentheid vir hierdie eersgeborene van die hele skepping getoon. Jesus het hierop gereageer deur sy innige liefde en geneentheid vir sy goddelike Lewegewer te toon (Johannes 14:31; 17:24). Dit was ’n volmaakte liefde tussen Vader en Seun. Soos Moses, het Jesus daarin behae geskep om Jehovah se heerlikheid te weerkaats deur die dinge wat hy ander geleer het.
15. Hoe aanskou Christene God se heerlikheid?
15 Soos Moses en Jesus, is God se hedendaagse Getuies op die aarde gretig om Jehovah se heerlikheid te aanskou. Hulle het hulle nie van die glorieryke goeie nuus weggedraai nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Wanneer mense hulle tot Jehovah wend [om sy wil te doen], word die sluier weggeneem” (2 Korintiërs 3:16). Ons bestudeer die Skrif, want ons wil God se wil doen. Ons bewonder die heerlikheid wat in die aangesig van Jehovah se Seun en gesalfde Koning, Jesus Christus, weerkaats word, en ons volg sy voorbeeld na. Soos Moses en Jesus, is ons geseën met ’n bediening en leer ons ander van die glorieryke God wat ons aanbid.
16. Waarom is ons geseënd om die waarheid te ken?
16 Jesus het gebid: “Ek loof u in die openbaar, Vader, . . . omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Jehovah laat diegene wat opreg en nederig van hart is, sy voornemens en persoonlikheid verstaan (1 Korintiërs 1:26-28). Ons het onder sy beskermende sorg gekom, en hy leer ons om onsself te bevoordeel—om die lewe ten beste te benut. Mag ons van elke geleentheid gebruik maak om nader aan Jehovah te kom, terwyl ons waardering toon vir al sy voorsienings om hom intiemer te leer ken.
17. Hoe leer ons Jehovah se eienskappe beter ken?
17 Paulus het aan gesalfde Christene geskryf: “Met ongesluierde gesigte [weerkaats ons] die heerlikheid van Jehovah soos spieëls [en] word ons almal van heerlikheid tot heerlikheid in dieselfde beeld verander” (2 Korintiërs 3:18). Hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, hoe beter ons Jehovah leer ken—sy eienskappe en persoonlikheid soos dit in die Bybel geopenbaar word—hoe meer word ons soos hy. As ons met waardering oor die lewe, die bediening en die leringe van Jesus Christus peins, sal ons Jehovah se eienskappe in voller mate weerspieël. Wat ’n vreugde is dit tog om te weet dat ons lof aan ons God bring, wie se heerlikheid ons wil weerkaats!
Onthou jy?
• Waarom was die Israeliete bang om die heerlikheid van God te sien wat Moses weerkaats het?
• Op watter maniere was die goeie nuus “versluier” in die eerste eeu? in ons dag?
• Hoe weerkaats ons God se heerlikheid?
[Prent op bladsy 19]
Die Israeliete kon nie na Moses se gesig kyk nie
[Prente op bladsy 21]
Soos Paulus, dien baie wat God se waarheid voorheen teëgestaan het, Hom nou
[Prente op bladsy 23]
Jehovah se knegte skep behae daarin om God se heerlikheid te weerkaats