“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
1. Hoe identifiseer die Bybel sy Outeur, en watter soort kennis verskaf die Skrif?
“DIE hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig.” Hierdie woorde in 2 Timotheüs 3:16 (NW) identifiseer God, wie se naam Jehovah is, as die Outeur en Inspireerder van die Heilige Skrif. Hoe bevredigend en verruklik is die geïnspireerde Skrif tog nie! Wat ’n verstommende skat van ware kennis bied dit nie! Dit is inderdaad “die kennis van God” waarna liefhebbers van geregtigheid deur al die eeue heen so naarstig gesoek het en wat hulle so opreg waardeer het.—Spr. 2:5.
2. Wat het Moses, Dawid en Salomo van goddelike wysheid gedink?
2 Een van hierdie soekers na kennis was Moses, die sigbare leier en organiseerder van God se nasie Israel, wat gesê het dat goddelike onderrig verkwikkend is “soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante”. Dan was daar Dawid, ’n dapper stryder en kampvegter vir Jehovah se naam, wat gebid het: “Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel.” En die vredeliewende Salomo, bouer van een van die luisterrykste bouwerke wat nog op hierdie aarde gestaan het, die huis van Jehovah in Jerusalem, het godvrugtige wysheid so geëvalueer: “Die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.”—Deut. 32:2; Ps. 86:11; Spr. 3:14, 15.
3. Watter waarde het Jesus en God self aan die goddelike woord geheg?
3 Jesus, die Seun van God, het die grootste waarde aan God se woord geheg. Hy het verklaar: “U woord is die waarheid.” Aan sy volgelinge het hy gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 17:17; 8:31, 32). Hierdie woord wat Jesus van sy Vader ontvang het, is inderdaad kragtig. Dit is God se woord. Nadat Jesus gesterf, opgestaan en na Jehovah se eie regterhand in die hemel opgevaar het, het hy verdere onthullings van sy Vader se woord gedoen, onder andere ’n verruklike beskrywing van God se seëninge vir die mensdom op die Paradysaarde. Na daardie beskrywing het God die apostel Johannes beveel: “Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” Al die woorde van die geïnspireerde Skrif is “waaragtig en betroubaar” en is van onskatbare nut vir dié wat daarop ag slaan.—Openb. 21:5.
4. Waarvoor is die geïnspireerde Skrif nuttig?
4 Hoe word hierdie voordele verkry? Die volledige uitspraak van die apostel Paulus in 2 Timotheüs 3:16, 17 (NW) verskaf die antwoord: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid, sodat die mens van God volkome bekwaam kan wees, volledig toegerus vir elke goeie werk.” Die geïnspireerde Skrif is derhalwe nuttig om ons die regte leerstellings en die regte gedrag te leer, om dinge in ons denke en lewe reg te stel en om ons tereg te wys en te dissiplineer sodat ons nederig in waarheid en regverdigheid kan wandel. Deur ons aan die lering van God se Woord te onderwerp, kan ons “medewerkers van God” word (1 Kor. 3:9). Daar bestaan vandag vir ’n mens geen groter voorreg op aarde as om besig te wees in God se werk as die ‘volkome bekwame en volledig toegeruste mens van God’ nie.
’N VASTE FONDAMENT VIR GELOOF
5. Wat is geloof, en hoe alleen kan dit verkry word?
5 Iemand wat ’n medewerker van God wil wees, moet geloof hê. Geloof moenie verwar word met die verwaterde liggelowigheid wat vandag so algemeen voorkom nie. Baie mense dink dat enige soort oortuiging—sektaries, evolusionisties of filosofies—voldoende is. Maar die mens van God moet bly vashou aan die “voorbeeld van gesonde woorde . . . in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is” (2 Tim. 1:13). Sy geloof moet eg en lewend wees, want “die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Dit moet gegrond wees op ’n vaste geloof in God en sy beloninge vir dié wat hom behaag (Hebr. 11:1, 6). Sulke geloof kan alleen deur ywerige studie van God se Woord, die Bybel, verkry word. Dit berus op innige liefde vir die Bybel en vir die God van die Bybel, Jehovah, en vir sy Seun, Jesus Christus. Daar is net een so ’n lewende geloof, soos daar net een Here, Jesus Christus, en een God en Vader van almal, Jehovah, is.—Ef. 4:5, 6.
6. Wat is die aard van ware geloof?
6 Ons moet weet wat God se Woord is en waar dit vandaan kom, sowel as watter gesag dit besit, wat die doel daarvan is en watter krag dit het om geregtigheid te bevorder. Wanneer ons waardering verkry vir die glorieryke boodskap daarin sal ons geloof hê. Bowendien sal ons die Bybel en sy Outeur so vurig liefkry dat niks ooit daardie geloof en liefde sal kan verstik nie. Dit is die Skrif, wat die uitsprake van Jesus Christus insluit, wat ’n vaste fondament vir geloof bou. Ware geloof is die soort wat standhou ondanks teëspoed en bittere beproewing, vervolginge en die toenemende materialisme en die filosofieë van ’n goddelose samelewing. Dit sal op glorieryke wyse seëvier tot in God se regverdige nuwe wêreld. “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.”—1 Joh. 5:4.
7. Watter beloninge ontvang ’n mens wanneer jy Bybelse wysheid vind?
7 Om geloof te verkry en te behou, moet ons ons daarop toelê om liefde en waardering vir God se Woord, die geïnspireerde Skrif, aan te kweek. Die Skrif is God se onvergelyklike gawe aan die mensdom, ’n skatkamer vol geestelike skatte van ondeurgrondelike wysheid en met groter krag om te verlig en tot regverdigheid aan te spoor as alle ander boeke wat nog ooit geskryf is. Wanneer ons diep grawe om kennis van God se Woord te verkry, sal ons beweeg word om saam met die apostel Paulus uit te roep: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” Iemand wat die geïnspireerde Skrif en sy Outeur ken, het die weg van ewige vreugde en lieflikheid betree.—Rom. 11:33; Ps. 16:11.
JEHOVAH—’N GOD VAN KOMMUNIKASIE
8. (a) Waarom moet ons dankbaar wees dat Jehovah ’n God van kommunikasie is? (b) In watter opsig verskil hy geheel en al van die demongode?
8 Oor die glorie van Jehovah se naam het Dawid uitgeroep: “U is groot en doen wonders, U alleen is God” (Ps. 86:10). Jehovah het baie “wonders” vir die mensdom op aarde gedoen, en een daarvan is dat hy sy Woord aan hulle gegee het. Ja, Jehovah is ’n God van kommunikasie, ’n God wat hom liefdevol uitspreek tot nut van sy skepsele. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons Skepper nie ’n afsydige maghebber is nie. Hy is nie in geheimsinnigheid gehul en ongevoelig vir die behoeftes van liefhebbers van geregtigheid op aarde nie! Soos Jehovah ook in die komende nuwe wêreld sal doen, woon hy nou reeds by dié wat in hom glo en hom liefhet, in die verhouding van ’n liefdevolle Vader wat sy weetgierige kinders goeie dinge meedeel (Openb. 21:3). Ons hemelse Vader is nie soos die demongode wat deur vreesaanjaende, stom afgode afgebeeld moet word nie. Gode van metaal en klip het geen vaderlike verhouding met hulle onverligte aanbidders nie. Hulle kan hul niks nuttigs meedeel nie. Waarlik, “die wat hulle maak, sal net soos hulle word”.—Ps. 135:15-19; 1 Kor. 8:4-6.
9. Watter soort kommunikasie het van God in die ryke daar bo gekom?
9 Jehovah is die “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Ex. 34:6). Uit die oorvloed van sy goedertierenheid het hy die mensdom ’n oorvloed van waarheid meegedeel. Dit alles vorm gesonde raad waardeur die mensdom gelei kan word, en dit sluit profesieë in wat die weg na toekomstige seëninge verlig. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Rom. 15:4). Uit die ryke daar bo, uit die hemel self, het daar betroubare kommunikasie gekom tot lering van die mensdom, wat in die ryke hier onder is.—Joh. 8:23, NW.
10. In watter tale het Jehovah gekommunikeer, en waarom?
10 Jehovah se mededelings was nooit in ’n onbekende taal nie maar altyd in die taal van die mensdom, die lewende taal van sy getroue getuies (Hand. 2:5-11). Met Adam, Noag, Abraham, Moses en die Hebreeuse profete het Jehovah in die mensdom se eerste taal, nou as Hebreeus bekend, gespreek. Hebreeus is gebruik so lank as dit verstaan kon word, selfs tot in die tyd van Saulus van Tarsus, met wie die verrese Jesus in daardie taal gespreek het (Hand. 26:14). Toe die Aramese taal van die Chaldeërs onder die Israeliete in ballingskap in gebruik gekom het, het daar sekere mededelings van God in Aramees gekom, want die volk het daardie taal verstaan (Esra 4:8–6:18; 7:12-26; Dan. 2:4b–7:28). Later, toe Grieks die internasionale taal en die vernaamste taal van sy getuies was, is Jehovah se mededelings in daardie taal gedoen en bewaar. Die woorde wat in die Bybel bewaar is, is Jehovah se kommunikasie of mededelings, altyd in ’n lewende taal gespreek tot nut van nederige, waarheidliewende mense op aarde.
11. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah die Formeerder van alle tale is?
11 Jehovah is die Skepper van die verstand en van die spraakorgane, waaronder die tong, mond en keel, wat al die ingewikkelde spraakklanke vir elk van die baie taalsisteme voortbring. Daar kan derhalwe gesê word dat Jehovah die Formeerder van alle tale is. Sy mag oor die taal van die mensdom is gedemonstreer deur die wonderwerk wat hy by die Toring van Babel verrig het (Ex. 4:11; Gen. 11:6-9; 10:5; 1 Kor. 13:1). Geen taal is vir Jehovah vreemd nie. Nie alleen het hy vir die mens die oorspronklike Hebreeuse taal gegee nie, maar deur sy skepping van die verstand en die spraakorgane het hy boonop die grondslag voorsien vir Aramees en Grieks en vir al die nagenoeg 3 000 tale wat nou deur die mensdom gepraat word.
DIE TAAL VAN DIE WAARHEID
12, 13. (a) Hoe het Jehovah sy mededelings maklik verstaanbaar gemaak? (b) Gee voorbeelde.
12 Jehovah het hom altyd, ongeag watter sisteem van menslike taal hy gebruik het, in die taal van die waarheid uitgedruk en nie in die taal van godsdiensmistisisme nie. Dit is ’n eenvoudige en maklik verstaanbare taal (Sef. 3:9, NW). Die aardse mens kan maklik driedimensionale sake verstaan, dit wil sê, voorwerpe wat hoogte, breedte en lengte het en wat in die tydstroom voorkom. Daarom het Jehovah onsigbare dinge afgebeeld deur sinnebeeldige voorstellings wat vir die menslike verstand begryplik is. Daar was byvoorbeeld die tabernakel wat deur God ontwerp en deur Moses in die woestyn opgerig is. Onder inspirasie het Paulus die driedimensionale simbole van hierdie tabernakel gebruik om glorieryke werklikhede van die hemel self te verduidelik.—Hebr. 8:5; 9:9.
13 Nog ’n voorbeeld: Jehovah, wat gees is, sit nie op ’n letterlike troon in die hemel nie. Maar ter wille van ons, blote mense wat deur sigbare werklikhede gebonde is, gebruik God so ’n sigbare simbool om begrip te vergemaklik. Wanneer hy met ’n hemelse hofsitting begin, is dit net soos wanneer ’n koning op aarde sy hofsitting open deur op ’n troon plaas te neem.—Dan. 7:9-14.
MAKLIK VERTAALBAAR
14, 15. Waarom kan die Bybel, anders as die filosofiese geskrifte van mense, maklik in ander tale oorgesit word? Lig dit toe.
14 Omdat die Bybel op hierdie eenvoudige, maklik verstaanbare manier geskryf is, kan die simbole en handelinge daarin duidelik en akkuraat in die meeste hedendaagse tale vertaal word. Die oorspronklike krag van die waarheid bly in alle vertalings behoue. Eenvoudige, alledaagse woorde, soos “perd”, “oorlog”, “kroon”, “troon”, “man”, “vrou” en “kinders”, dra in elke taal ondubbelsinnig die korrekte gedagte oor. Dit staan in teenstelling met die filosofiese geskrifte van mense, wat hulle dikwels nie tot akkurate vertaling leen nie. Die ingewikkelde uitdrukkings en hoogdrawende terminologie van sulke geskrifte kan dikwels nie noukeurig in ’n ander taal oorgesit word nie.
15 Die Bybelse uitdrukkingskrag is waarlik uitmuntend. Selfs toe God oordeelsboodskappe aan ongelowiges meegedeel het, het hy nie filosofiese taal gebruik nie maar eerder alledaagse simbole. Dit blyk uit Daniël 4:10-12. Hier word die koninkryk van die selfverheerlikende heidense koning taamlik breedvoerig beskryf onder die simbool van ’n boom, en dan word toekomsgebeure akkuraat voorspel aan die hand van wat met hierdie boom gedoen word. Dit alles word duidelik in vertalings weergegee. Jehovah het liefdevol op hierdie manier mededelings gedoen sodat “die [ware] kennis sal vermeerder”. Watter wonderlike hulp is dit tog by die begrip van profesieë in hierdie “tyd van die einde”!—Dan. 12:4, vgl. NW.
DIE KOMMUNIKASIELYN
16. Hoe kan Jehovah se kommunikasielyn beskryf word?
16 Iemand vra miskien: Wat was die kommunikasiemiddel? Dit kan goed toegelig word deur ’n hedendaagse voorbeeld. By verbindingslyne is daar (1) die uitspreker, of voortbringer, van die boodskap; (2) die oordraer, of sender; (3) die medium waardeur die boodskap beweeg; (4) die ontvanger; en (5) die hoorder. By telefoonverbindings het ons (1) die telefoongebruiker, by wie die kommunikasie sy oorsprong het; (2) die mikrofoon, wat die boodskap in elektriese impulse omsit; (3) die telefoondrade, wat die elektriese impulse na die bestemming voer; (4) die hoorbuis, wat die boodskap weer van impulse in geluide omsit; en (5) die hoorder. Net so is (1) Jehovah God in die hemel die voortbringer van sy uitsprake; (2) dan dra sy amptelike Woord, of Woordvoerder—nou as Jesus Christus bekend—dikwels die boodskap oor; (3) God se heilige gees, die werkende krag wat as die kommunikasiemedium gebruik word, voer dit na die aarde; (4) God se profeet op aarde ontvang die boodskap; en (5) hy maak dit dan tot nut van God se volk bekend. Net soos daar vandag soms ’n koerier gestuur sal word om ’n belangrike boodskap oor te dra, so het Jehovah soms geesteboodskappers, of engele, gebruik om sekere mededelings uit die hemel na sy knegte op die aarde te bring.—Gal. 3:19; Hebr. 2:2.
DIE PROSES VAN INSPIRASIE
17. Watter Griekse woord word vertaal met “deur God geïnspireer”, en hoe help die betekenis van hierdie woord ons om die proses van inspirasie te begryp?
17 Die uitdrukking “deur God geïnspireer” word vertaal uit die Grieks the·oʹpneu·stos, wat “deur God geadem” beteken. (Sien 2 Timotheüs 3:16, eerste voetnoot in NW-naslaanuitgawe.) Dit is God se eie gees, sy werkende krag, wat hy op getroue manne ‘geadem’ het en waardeur hy hulle beweeg het om die Heilige Skrif saam te stel en te skryf. Hierdie proses staan as inspirasie bekend. Die verstande van die profete en ander getroue knegte van Jehovah wat onder inspirasie gekom het, is deur hierdie werkende krag meegevoer. Dit beteken dat hulle boodskappe, waaronder beskrywings van voorneme, van God ontvang het en dat hierdie boodskappe stewig vasgelê is in die bane van hulle verstand. “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”—2 Pet. 1:21; Joh. 20:21, 22.
18. Hoe diep is die geïnspireerde boodskappe by die menslike ontvangers daarvan ingeprent?
18 Terwyl hierdie manne van God wakker en by hulle volle bewussyn was, of terwyl hulle geslaap en gedroom het, het sy gees die boodskap wat van die goddelike bron van die kommunikasielyn uitgegaan het stewig ingeplant. By ontvangs van die boodskap het die profeet die verantwoordelikheid gehad om dit in woordelike vorm aan ander oor te dra. Wanneer Moses en ander getroue profete in die opstanding terugkeer, sal hulle ongetwyfeld die juistheid van die bewaarde kopieë van hulle geskrifte kan bevestig, want hulle waarderende, herskepte verstande sal stellig nog die oorspronklike mededelings duidelik kan herroep. Die visioen van die gedaantewisseling het eweneens so ’n diep indruk op die apostel Petrus gemaak dat hy meer as 30 jaar later ’n beeldende beskrywing kon gee van die luisterrykheid daarvan.—Matt. 17:1-9; 2 Pet. 1:16-21.
DIE OUTEUR EN SY VINGER
19. Wat is die “vinger” van God, en watter tekste staaf dit?
19 Menslike outeurs het nog altyd hulle vingers gebruik om te skryf, in vervloë tye met behulp van ’n pen of stif en in moderne tye met behulp van ’n pen, tikmasjien of rekenaar. Wat deur middel van daardie vingers voortgebring word, word beskou as ’n produk van die verstand van hulle eienaar. Het jy geweet dat God ’n vinger het? Dit is so, want Jesus het van God se gees as Sy “vinger” gepraat. Toe Jesus ’n duiwelbesetene genees het sodat hy weer kon praat en sien, het godsdiensvyande die middel gelaster waardeur Jesus die man genees het. Volgens Mattheüs het Jesus vir hulle gesê: “As Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom” (Matt. 12:22, 28). Lukas verbeter ons begrip deur Jesus se woorde by ’n soortgelyke geleentheid aan te haal: “As Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom” (Luk. 11:20). By ’n vroeëre geleentheid was die towerpriesters van Egipte verplig om te erken dat die plae oor Egipte ’n vertoning van Jehovah se oormag is. Hulle het toegegee: “Dit is die vinger van God!”—Ex. 8:18, 19.
20. Hoe was die “vinger” van God werksaam, en met watter resultaat?
20 In ooreenstemming met hierdie gebruike van die woord “vinger” kan ons besef dat “die vinger van God” groot mag besit en dat hierdie benaming tereg van toepassing is op sy gees wat hy gebruik het om die Bybel te laat skryf. So deel die Skrif ons mee dat die Tien Gebooie deur middel van “die vinger van God” op twee tafels van klip geskryf is (Ex. 31:18; Deut. 9:10). Toe God mense gebruik het om die verskillende boeke van die Bybel te skryf, was sy simboliese vinger, of gees, eweneens die leidende krag agter die pen van daardie manne. God se heilige gees is onsigbaar, maar dit was op ’n wonderbaarlike wyse aan die werk, met die sigbare, tasbare resultaat dat die mensdom ’n gewaardeerde gawe ontvang het—God se Woord van waarheid, Sy Bybel. Dit ly geen twyfel dat Jehovah God, die hemelse Mededeler, die Outeur van die Bybel is nie.
DIE GEÏNSPIREERDE VERSAMELING BEGIN
21. (a) Wanneer het die opskrifstelling van die Skrif begin? (b) Hoe het Jehovah daarvoor gesorg dat die Skrif bewaar is?
21 Soos ons gesien het, het Jehovah aan Moses “die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God” (Ex. 31:18). Hierdie geskrif het die Tien Gebooie uitgemaak, en dit is van belang dat die goddelike naam, Jehovah, amptelik agt keer in hierdie dokument voorkom. In dieselfde jaar, 1513 v.G.J., het Jehovah Moses beveel om permanente verslae te begin opstel. So het die opskrifstelling van die Heilige Skrif begin (Ex. 17:14; 34:27). God het Moses ook beveel om “die ark van die Getuienis”, of “die verbondsark”, te maak, ’n pragtig afgewerkte kis waarin die Israeliete hierdie uiters waardevolle mededeling moes bewaar (Ex. 25:10-22; 1 Kon. 8:6, 9). Die ontwerp van die Ark, en van die tabernakel waarin dit gestaan het, is deur Jehovah verskaf; en die hoofvakman en -bouer, Besaleël, was “met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk”, sodat hy sy werk volgens die godgegewe voorskrif kon voltooi.—Ex. 35:30-35.
22. (a) Wie is die Outeur van die geïnspireerde Skrif, en hoe lank het die skrywe daarvan geduur? (b) Wie was die medeskrywers van die Bybel, en wat is oor hulle bekend?
22 Toe God sy voornemens bekend gemaak het, het hy oor ’n lang tydperk “baiekeer en op baie maniere” gespreek (Hebr. 1:1). Die skrywers wat sy Woord opgeteken het, het dit gedoen van 1513 v.G.J. af tot ongeveer 98 G.J., of oor ’n tydperk van sowat 1 610 jaar. Die een Outeur, Jehovah God, het ongeveer 40 van hierdie skrywers, of menslike sekretarisse, gebruik. Al hierdie medeskrywers was Hebreërs en derhalwe lede van die nasie aan wie “die woorde van God toevertrou is” (Rom. 3:2). Agt van hulle was Christelike Jode wat Jesus òf persoonlik òf deur sy apostels geken het. Die geïnspireerde Skrif wat voor hulle tyd geskryf is, het getuienis gelewer aangaande die koms van die Messias, of Christus (1 Pet. 1:10, 11). Hoewel hierdie aardse Bybelskrywers, van Moses tot die apostel Johannes, uit baie stande en agtergronde gekom het, het hulle almal die soewereiniteit van Jehovah God hooggehou en sy voornemens op die aarde verkondig. Hulle het in die naam van Jehovah en deur die krag van sy gees geskryf.—Jer. 2:2, 4; Eseg. 6:3; 2 Sam. 23:2; Hand. 1:16; Openb. 1:10.
23. Watter vroeëre verslae het sommige Bybelskrywers gebruik, en hoe het hierdie verslae ’n deel van die geïnspireerde Skrif geword?
23 Verskeie van hierdie skrywers het in hulle geskrifte gegewens ingesluit uit ooggetuieverslae van vroeëre skrywers, waarvan nie almal geïnspireer was nie. Moses het moontlik dele van Genesis uit sulke ooggetuieverslae saamgestel, en Samuel het waarskynlik dieselfde gedoen toe hy die boek Rigters geskryf het. Jeremia het Eerste en Tweede Konings saamgestel, en Esra het Eerste en Tweede Kronieke geskryf; albei het merendeels van hierdie metode gebruik gemaak. Die heilige gees het hierdie samestellers gelei sodat hulle kon bepaal watter dele van vroeëre menslike dokumente opgeneem moet word, en sodoende is die betroubaarheid van hierdie samestellings bevestig. Van die oomblik dat hierdie uittreksels uit ouer dokumente saamgevoeg is, het hulle ’n deel van die geïnspireerde Skrif geword.—Gen. 2:4; 5:1; 2 Kon. 1:18; 2 Kron. 16:11.
24, 25. (a) Watter tydperk in die geskiedenis word in die Bybel behandel? (b) Noem enkele interessante feite uit die tabel op bladsy 12.
24 In watter volgorde is die 66 Bybelboeke geskryf? Watter deel van die eindelose tydstroom behandel hulle? Nadat die Genesisverslag die skepping van die hemel en die aarde en die voorbereiding van die aarde as tuiste vir die mens beskryf het, begin dit by die aanvang van die mensegeskiedenis met die skepping van die eerste mens in 4026 v.G.J. Daarna verhaal die Heilige Skrif belangrike gebeurtenisse tot kort na 443 v.G.J. Dan, na ’n sprong van meer as 400 jaar, word die verslag hervat in 3 v.G.J. en van daar gevoer tot omstreeks 98 G.J. Uit ’n historiese oogpunt bestryk die Skrif dus ’n tydperk van 4 123 jaar.
25 Die tabel op bladsy 12 gee ons insae in die agtergrond van die Bybelskrywers en die volgorde waarin die Bybelgeskrifte voltooi is.
DIE VOLLEDIGE “BOEK” VAN GODDELIKE WAARHEID
26. In watter opsig is die Skrif een volledige boek?
26 Die Heilige Skrif vorm, as ’n versameling van Genesis tot Openbaring, een volledige boek, een volledige biblioteek, in sy geheel geïnspireer deur die een Opperouteur. Dit moet nie in twee dele verdeel word sodat daar aan een deel minder waarde geheg word nie. Die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte is onontbeerlik vir mekaar. Laasgenoemde vul eersgenoemde aan om die een volledige boek van goddelike waarheid te vorm. Die 66 Bybelboeke vorm tesame die een biblioteek van die Heilige Skrif.—Rom. 15:4.
27. Waarom is die benamings “Ou Testament” en “Nuwe Testament” onjuis?
27 Dit is ’n tradisionele fout om God se geskrewe Woord in twee dele te verdeel en die eerste deel, van Genesis tot Maleagi, die “Ou Testament” te noem, en die tweede deel, van Mattheüs tot Openbaring, die “Nuwe Testament”. In 2 Korinthiërs 3:14 praat die Afrikaanse Bybel (hersiene uitgawe van 1953) van “die lesing van die Ou Testament”, maar die apostel verwys nie hier na die ou Hebreeuse Geskrifte in hulle geheel nie. Hy het ook nie bedoel dat die geïnspireerde Christelike geskrifte ’n “Nuwe Testament [verbond]” uitmaak nie. Die apostel praat naamlik van die Wetsverbond, wat deur Moses in die Pentateug opgeteken is en wat net ’n deel van die voorchristelike geskrifte uitmaak. Om hierdie rede sê hy in die volgende vers: “wanneer Moses gelees word”. Die Griekse woord wat in die Afrikaanse Bybel met “testament” vertaal word, word in talle moderne vertalings eenvormig met “verbond” vertaal.—Matt. 26:28; 2 Kor. 3:6, 14, New World Translation of the Holy Scriptures, Revised Standard Version, American Standard Version.
28. Watter versekering word ten opsigte van Bybelprofesieë gegee?
28 Daar mag nie gepeuter word met dit wat as die Heilige Skrif neergeskryf en bewaar is nie (Deut. 4:1, 2; Openb. 22:18, 19). Die apostel Paulus skryf hieroor: “Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Gal. 1:8; sien ook Johannes 10:35.) Jehovah se hele profetiese woord moet op die bestemde tyd vervul word. “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jes. 55:11.
DIE SKRIF ONDERSOEK
29. Watter inligting word ter inleiding verskaf wanneer elke Bybelboek agtereenvolgens in hierdie boek ondersoek word?
29 Op die volgende bladsye word die 66 boeke van die Heilige Skrif een vir een ondersoek. Die agtergrond van elke boek word beskryf, en inligting word verstrek oor die skrywer, wanneer die boek geskryf is en, in sommige gevalle, die tydperk wat gedek word. Daarbenewens word bewyse verstrek dat die boek eg is en dat dit tereg deel van die geïnspireerde Skrif uitmaak. Sodanige bewyse word soms gevind in die woorde van Jesus Christus of in die geïnspireerde geskrifte van ander knegte van God. Baie dikwels blyk die egtheid van die boek uit die onbetwisbare vervulling van Bybelprofesieë of uit interne getuienis in die boek self, soos die harmonie, eerlikheid en openhartigheid daarvan. Argeologiese vondste of betroubare feite uit die sekulêre geskiedenis kan bykomende bewyse verskaf.
30. Hoe word die inhoud van elke Bybelboek aangebied?
30 In die beskrywing van die inhoud van elke boek is daarna gestrewe om die kragtige boodskap van die Bybelskrywer so uit te lig dat dit die hart van die leser vervul met ’n innige liefde vir die geïnspireerde Skrif en sy Outeur, Jehovah God, en aldus waardering opbou vir die lewende boodskap van God se Woord in al sy praktiese uitvoerbaarheid, harmonie en skoonheid. Die inhoud van die boek word paragraafgewys onder tussenhofies uiteengesit. Dit word gedoen om studie te vergemaklik en nie om ’n arbitrêre onderverdeling van die boeke van die Bybel aan te gee nie. Elke boek vorm op sigself ’n geheel en lewer ’n waardevolle bydrae tot die begrip van die goddelike voornemens.
31. (a) Watter inligting word verstrek om te toon waarom elke boek nuttig is? (b) Watter glorieryke tema word in die besprekings van die Bybelboeke deurentyd op die voorgrond gehou?
31 Die studie van elke boek word afgesluit met ’n bespreking van die redes waarom daardie deel van die geïnspireerde Skrif “nuttig [is] om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid” (2 Tim. 3:16, NW). Daar word gewys op gevalle waar latere Bybelskrywers onder inspirasie getuienis aflê oor die vervulling van profesieë. Die boek se bydrae tot die ontwikkeling van die deurlopende tema van die Bybel word telkens aangetoon. Die Bybel is geen mite nie. Dit bevat die enigste lewende boodskap vir die mensdom. Van die eerste boek, Genesis, tot die laaste boek, Openbaring, getuig die geïnspireerde Skrif van die voorneme van die Skepper van die heelal, Jehovah God, om sy naam te heilig deur middel van die Koninkryk onder die heerskappy van sy Saad. Daarin lê die glorieryke hoop vir almal wat geregtigheid liefhet.—Matt. 12:18, 21.
32. Watter inligting word verstrek om ons waardering vir die Bybel te vergroot?
32 Na die bespreking van die 66 Bybelboeke self wy ons die laaste deel aan agtergrondinligting oor die Bybel. Dit sluit studies in oor die geografie van die Beloofde Land, die tydsorde van Bybelgebeurtenisse, Bybelvertalings, argeologiese en ander aanvullende bewyse van die egtheid van die Bybel en bewyse in verband met die katalogus van die Bybel. Ander waardevolle inligting en tabelle verskyn ook in hierdie gedeelte. Dit alles is bedoel om ons groter waardering te gee vir die Bybel as die mees praktiese en nuttigste boek wat daar vandag op die aarde bestaan.
33. Hoe kan die Bybel beskryf word, en watter nut hou ’n studie daarvan in?
33 Die goddelike Outeur het baie breedvoerig tot die mensdom gespreek. Die dinge wat hy vir sy kinders op die aarde gedoen het, gee blyk van sy oneindige liefde en vaderlike belangstelling. Wat ’n verbasende versameling geïnspireerde dokumente het hy tog nie in die Heilige Skrif vir ons voorsien nie! Hierdie dokumente is inderdaad ’n onvergelyklike skat, ’n uitgebreide biblioteek van ‘goddelik geademde’ inligting, veel kosbaarder en omvangryker as die geskrifte van blote mense. Volgehoue studie van God se Woord sal nooit “vermoeiing van die vlees” word nie; dit sal eerder ewige voordele meebring vir dié wat vertroud raak met “die woord van die Here [wat] bly tot in ewigheid”.—Pred. 12:12; 1 Pet. 1:24, 25.
[Tabel op bladsy 12]
DIE GEÏNSPIREERDE SKRYWERS VAN DIE BYBEL EN HULLE GESKRIFTE
(In tydsorde)
Volg-orde Skrywers Beroepe Geskrifte Geskrifte
voltooi
1. Moses Geleerde, 1473 v.G.J. Genesis; Exodus;
herder, Levitikus; Job;
profeet, Numeri;
leier Deuteronomium;
(moontlik ook 91)
2. Josua Leier ca. 1450 v.G.J. Josua
3. Samuel Leviet, voor ca. Rigters; Rut; ’n deel
profeet 1080 v.G.J. van Eerste
Samuel
4. Gad Profeet ca. 1040 v.G.J. ’n Deel van Eerste
Samuel; Tweede
Samuel (albei saam
met Natan)
5. Natan Profeet ca. 1040 v.G.J. Sien hierbo (saam met
Gad)
6. Dawid Koning, 1037 v.G.J. Baie van die Psalms
herder,
musikus
7. Seuns van Van die Psalms
Korag
8. Asaf Sanger Van die Psalms
9. Heman Wyse man Psalm 88
10. Etan Wyse man Psalm 89
11. Salomo Koning, ca. 1000 v.G.J. Die meeste van die
bouer, Spreuke; Die
wyse man Hooglied van Salomo;
Prediker; Psalm 127
12. Agur Spreuke hoofstuk 30
13. Lemuël Koning Spreuke hoofstuk 31
14. Jona Profeet ca. 844 v.G.J. Jona
15. Joël Profeet ca. 820 v.G.J. Joël (?)
16. Amos Veewagter, ca. 804 v.G.J. Amos
profeet
17. Hosea Profeet na 745 v.G.J. Hosea
18. Jesaja Profeet na 732 v.G.J. Jesaja
19. Miga Profeet voor Miga
717 v.G.J.
20. Sefanja Vors, voor Sefanja
profeet 648 v.G.J.
21. Nahum Profeet voor Nahum
632 v.G.J.
22. Habakuk Profeet ca. 628 v.G.J. (?) Habakuk
23. Obadja Profeet ca. 607 v.G.J. Obadja
24. Esegiël Priester, ca. 591 v.G.J. Esegiël
profeet
25. Jeremia Priester, 580 v.G.J. Eerste en Tweede
profeet Konings; Jeremia;
Klaagliedere
26. Daniël Vors, ca. 536 v.G.J. Daniël
heerser,
profeet
27. Haggai Profeet 520 v.G.J. Haggai
28. Sagaria Profeet 518 v.G.J. Sagaria
29. Mordegai Eerste ca. 475 v.G.J. Ester
minister
30. Esra Priester, ca. 460 v.G.J. Eerste en Tweede
kopiis, Kronieke; Esra
administrateur
31. Nehemia Hofbeampte, na 443 v.G.J. Nehemia
goewerneur
32. Maleagi Profeet na 443 v.G.J. Maleagi
33. Mattheüs Tollenaar, ca. 41 G.J. Mattheüs
apostel
34. Lukas Geneesheer, ca. 56-58 G.J. Lukas; Handelinge
sendeling
35. Jakobus Opsiener voor 62 G.J. Jakobus
(broer van
Jesus)
36. Markus Sendeling ca. 60-65 G.J. Markus
37. Petrus Visser, ca. 64 G.J. Eerste en Tweede
apostel Petrus
38. Paulus Sendeling, ca. 65 G.J. Eerste en Tweede
apostel, Thessalonicense;
tentmaker Galasiërs; Eerste en
Tweede Korinthiërs;
Romeine; Efesiërs;
Filippense;
Kolossense;
Filemon; Hebreërs;
Eerste en Tweede
Timotheüs; Titus
39. Judas Dissipel ca. 65 G.J. Judas
(broer van
Jesus)
40. Johannes Visser, ca. 98 G.J. Openbaring; Johannes;
apostel Eerste, Tweede en
Derde Johannes