Kom nader aan God
‘Word navolgers van God’
GOEDHARTIGHEID. Medelye. Vergifnis. Liefde. Ongelukkig sien ’n mens vandag selde dat sulke deugde geopenbaar word. Wat van jou? Het jy al ooit gevoel dat jou pogings om edele eienskappe aan te kweek tot mislukking gedoem is? ’n Selfkritiese hart hou dalk vol dat sekere struikelblokke, soos diepgewortelde slegte gewoontes of pynlike ondervindinge van die verlede, dit vir jou onmoontlik maak om sulke innemende eienskappe aan te kweek. Maar die Bybel leer hierdie gerusstellende waarheid—ons Skepper weet dat ons die potensiaal het om positiewe eienskappe aan te kweek.
God se Woord vermaan ware Christene: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Daardie woorde is ’n merkwaardige aanduiding van God se vertroue in sy aanbidders. Hoe so? Jehovah God het die mens na Sy beeld geskep, ooreenkomstig Sy gelykenis (Genesis 1:26, 27). God het mense dus eienskappe gegee wat met sy eienskappe ooreenkom.a Wanneer die Bybel Christene dus aanspoor om “navolgers van God” te word, is dit asof Jehovah self vir hulle sê: ‘Ek glo in julle. Ek weet dat julle die vermoë het om in ’n mate soos ek te wees, al is julle onvolmaak.’
Wat is ’n paar van God se eienskappe wat ons kan navolg? Die omliggende verse antwoord. Let daarop dat Paulus die woord “dan” gebruik aan die begin van die vermaning om God na te volg. Hierdie woord koppel die gedagte aan die vorige vers, wat goedhartigheid, tere medelye en vergifnis noem (Efesiërs 4:32; 5:1). Daarna, in die vers ná die raad om God na te volg, sê Paulus vir Christene om ’n lewe na te streef wat gekenmerk word deur onselfsugtige liefde (Efesiërs 5:2). Wanneer dit daarby kom om goedhartigheid, hartlike medelye en liefde te betoon sowel as om ander vryelik te vergewe, het ons waarlik die heel beste voorbeeld om na te volg—Jehovah God.
Waarom behoort ons soos God te wil wees? Let op die kragtige motivering wat Paulus se woorde bevat: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders.” Is dit nie ’n hartroerende gedagte nie? Jehovah beskou sy aanbidders as kinders vir wie hy innig lief is. Soos ’n klein seuntjie dalk probeer om net soos sy vader te wees, so probeer ware Christene hulle bes om soos hulle hemelse Vader te wees.
Jehovah dwing mense nie om hom na te volg nie. Inteendeel, hy het ons wilsvryheid gegee. Of jy ’n navolger van God gaan word of nie, hang dus van jou af (Deuteronomium 30:19, 20). Moet egter nooit vergeet dat jy die potensiaal het om goddelike eienskappe aan die dag te lê nie. Om God na te volg, moet jy natuurlik eers uitvind watter soort persoon hy is. Die Bybel kan jou help om te leer oor die eienskappe en weë van die God wie se weergalose persoonlikheid miljoene beweeg het om navolgers van hom te word.
[Voetnoot]
a Om na God se beeld gemaak te wees, het volgens Kolossense 3:9, 10 te doen met persoonlikheidseienskappe. Diegene wat God wil behaag, word aangespoor om hulle te beklee “met die nuwe persoonlikheid, wat . . . vernuwe word na die beeld van die Een [God] wat dit geskep het”.