Het jy altyd ’n Bybelgebod nodig?
TOE jy nog jonk was, het jou ouers waarskynlik baie reëls vir jou neergelê. Namate jy ouer geword het, het jy besef dat hulle jou belange op die hart dra. As ’n volwassene lewe jy moontlik nog steeds volgens sekere beginsels wat hulle by jou ingeskerp het, hoewel jy nie meer onder hulle gesag is nie.
Ons hemelse Vader, Jehovah, gee ons ’n aantal uitdruklike gebooie deur sy Woord, die Bybel. Hy verbied byvoorbeeld afgodediens, hoerery, egbreuk en diefstal (Eksodus 20:1-17; Handelinge 15:28, 29). Namate ons geestelik “in alles opgroei”, kom ons tot die besef dat Jehovah ons belange op die hart dra en dat sy gebooie nie uiters beperkend is nie.—Efesiërs 4:15; Jesaja 48:17, 18; 54:13.
Vir baie situasies is daar egter nie ’n uitdruklike gebod nie. Daarom meen party dat hulle maar kan doen wat hulle wil, aangesien daar nie ’n uitdruklike Bybelwet is nie. Hulle redeneer dat God sy wil as ’n gebod sou uitgedruk het, as hy dit nodig geag het.
Diegene wat so redeneer, maak dikwels onwyse besluite waaroor hulle later baie spyt is. Hulle besef nie dat die Bybel nie net wette bevat nie, maar ook ’n aanduiding gee van God se denke in sake. Namate ons die Bybel bestudeer en Jehovah se beskouing oor dinge leer ken, ontwikkel ons ’n Bybelopgeleide gewete en die vermoë om keuses te maak wat sy beskouing weerspieël. Daardeur verbly ons sy hart en geniet ons die voordele wat dit meebring as ’n mens wyse besluite neem.—Efesiërs 5:1.
Uitstekende Bybelvoorbeelde
Wanneer ons kyk na Bybelverslae van knegte van God in die ou tyd, vind ons situasies waarin hulle Jehovah se beskouing in ag geneem het, selfs wanneer daar nie ’n uitdruklike bevel was nie. Dink aan die voorbeeld van Josef. Toe Potifar se vrou hom met onsedelike versoeke genader het, was daar nog nie ’n goddelik geïnspireerde geskrewe wet teen egbreuk nie. Tog het Josef, selfs sonder ’n uitdruklike wet, onderskei dat egbreuk nie net ’n sonde teen sy eie gewete was nie, maar ook “teen God” (Genesis 39:9). Josef het blykbaar besef dat egbreuk in stryd was met God se denke en wil, soos in Eden geopenbaar is.—Genesis 2:24.
Kyk na nog ’n voorbeeld. In Handelinge 16:3 lees ons dat Paulus Timoteus besny het voordat hy hom saamgeneem het op sy Christenreise. En tog lees ons in vers 4 dat Paulus en Timoteus daarna deur die stede gereis het om “die verordeninge waarop die apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het”, oor te dra. Onder hierdie verordeninge was die besluit dat Christene nie meer verplig was om besny te word nie! (Handelinge 15:5, 6, 28, 29) Waarom het Paulus gevoel dat Timoteus besny moes word? “Weens die Jode wat in daardie plekke was, want almal sonder uitsondering het geweet dat [Timoteus se] vader ’n Griek is.” Paulus wou ander nie onnodig aanstoot gee of laat struikel nie. Dit was vir hom belangrik dat Christene aanhou om hulle ‘by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan te beveel’.—2 Korintiërs 4:2; 1 Korintiërs 9:19-23.
Hierdie denkwyse was eie aan Paulus en Timoteus. Lees gerus tekste soos Romeine 14:15, 20, 21 en 1 Korintiërs 8:9-13; 10:23-33, en sien hoe diep besorg Paulus was oor die geestelike welsyn van ander, veral dié wat dalk gestruikel sou word oor iets wat streng gesproke nie verkeerd was nie. En Paulus het oor Timoteus geskryf: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie. Want al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Christus Jesus nie. Maar julle weet watter bewys hy van homself gelewer het, dat hy, soos ’n kind saam met ’n vader, saam met my soos ’n slaaf gedien het ter bevordering van die goeie nuus” (Filippense 2:20-22). Wat ’n goeie voorbeeld het hierdie twee Christenmanne tog vir ons gestel! Hulle het nie op hulle persoonlike gerief of voorkeur aangedring wanneer daar nie ’n uitdruklike goddelike wet was nie, maar het eerder die liefde van Jehovah en sy Seun nagevolg deur in ag te neem hoe hulle persoonlike besluite ander geestelik sou raak.
Dink aan Jesus Christus, ons vernaamste voorbeeld. In sy Bergpredikasie het hy verduidelik dat iemand wat die gees van God se wette onderskei, selfs verder sal gaan as om net gehoorsaam te wees aan ’n uitdruklike bevel of gebod (Matteus 5:21, 22, 27, 28). Nie Jesus, Paulus, Timoteus of Josef het geredeneer dat iemand kan doen wat hy wil as daar nie ’n uitdruklike goddelike wet is nie. In ooreenstemming met God se beskouing het hierdie manne gelewe volgens dit wat Jesus die twee grootste gebooie genoem het—liefde vir God en liefde vir naaste.—Matteus 22:36-40.
Wat van hedendaagse Christene?
Dit is duidelik dat ’n mens nie die Bybel moet benader asof dit ’n regsdokument is nie—deur te verwag dat elke verpligting duidelik uitgespel moet wees nie. Ons maak Jehovah se hart baie bly wanneer ons kies om volgens sy denke te handel, selfs wanneer daar nie ’n uitdruklike wet is wat voorskryf wat ons moet doen nie. Met ander woorde, ons wag nie dat daar altyd vir ons gesê moet word wat God van ons verwag nie, want ons kan “begryp wat die wil van Jehovah is” (Efesiërs 5:17; Romeine 12:2). Waarom maak dit Jehovah gelukkig? Want dit toon dat dit vir ons belangriker is om hom te behaag as om op ons persoonlike voorkeure en regte aan te dring. Dit toon ook dat ons sy liefde tot so ’n mate waardeer dat ons hom daarin wil navolg en hierdie liefde die dryfveer in ons lewe wil maak (Spreuke 23:15; 27:11). Daarbenewens dra dade wat op die Skrif gebaseer is, tot geestelike en dikwels fisiese gesondheid by.
Kom ons kyk hoe hierdie beginsel in persoonlike aangeleenthede toegepas kan word.
Keuse van vermaak
Dink aan die geval van ’n jong man wat ’n sekere musiekalbum wil koop. Hy hou van die liedjies waarna hy al geluister het, maar hy is bekommerd omdat die agterkant van die omslag aandui dat die lirieke seksueel eksplisiet en onwelvoeglik is. Hy is ook daarvan bewus dat die toon van baie van die kunstenaar se liedjies driftig en aggressief is. Omdat hierdie jong man Jehovah liefhet, stel hy belang in Sy denke en gevoelens oor die saak. Hoe kan hy onderskei wat God se wil in hierdie verband is?
In sy brief aan die Galasiërs noem die apostel Paulus die werke van die vlees en dan die vrugte van God se gees. Jy weet waarskynlik wat die vrugte van God se gees insluit: liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Maar watter dinge val onder die werke van die vlees? Paulus skryf: “Die werke van die vlees is openbaar, en dit is hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en soortgelyke dinge. Aangaande hierdie dinge waarsku ek julle vooruit, net soos ek julle reeds vooruit gewaarsku het, dat dié wat sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie.”—Galasiërs 5:19-23.
Let op die heel laaste uitdrukking in daardie lys—“soortgelyke dinge”. Paulus het nie ’n volledige lys gegee van alles wat as ’n werk van die vlees beskou kan word nie. Dit is nie asof iemand kan redeneer: ‘Die Skrif laat my toe om enigiets te doen wat nie op Paulus se lys van die werke van die vlees verskyn nie.’ Lesers sou eerder hulle onderskeidingsvermoë moet gebruik om dinge te identifiseer wat dalk nie op Paulus se lys is nie, maar wat “soortgelyke dinge” is. Diegene wat sonder berou dinge beoefen wat nie gemeld word nie, maar wat “soortgelyke dinge” is, sal nie die seëninge van God se Koninkryk beërf nie.
Ons moet dus begryp, of onderskei, wat Jehovah mishaag. Is dit moeilik? Gestel jou dokter raai jou aan om meer vrugte en groente te eet, maar om tert, roomys en soortgelyke dinge te vermy. Sal dit moeilik wees om te bepaal tot watter lys koek behoort? Kyk nou weer na die vrugte van God se gees en die werke van die vlees. Tot watter lys behoort die bogenoemde musiekalbum? Dit weerspieël beslis nie liefde, goedheid, selfbeheersing of die ander eienskappe wat met God se gees vereenselwig word nie. ’n Mens sou nie ’n uitdruklike wet nodig hê om te onderskei dat hierdie soort musiek nie in ooreenstemming met God se denke is nie. Dieselfde beginsels is van toepassing op leesstof, rolprente, televisieprogramme, rekenaarspeletjies, webwerwe, ensovoorts.
Aanvaarbare persoonlike voorkoms
Die Bybel voorsien ook beginsels in verband met kleredrag en persoonsversorging. Dit stel elke Christen in staat om te bepaal of sy persoonlike voorkoms gepas en aanvaarbaar is. Ook hier sien iemand wat Jehovah liefhet, ’n geleentheid om sy hemelse Vader se hart te verbly en nie bloot te doen wat hy wil nie. Soos ons reeds gesien het, gee Jehovah nie altyd uitdruklike voorskrifte oor ’n saak nie, maar dit beteken geensins dat hy nie omgee wat sy volk doen nie. Style verskil van plek tot plek, en selfs in dieselfde plek verander dit van tyd tot tyd. God voorsien egter basiese beginsels wat sy volk ten alle tye en op alle plekke behoort te lei.
In 1 Timoteus 2:9, 10 lees ons byvoorbeeld: “So ook wil ek hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke.” Christenvroue en -mans moet dus dink aan watter soort voorkoms mense in hulle gebied verwag van diegene “wat bely dat hulle God vereer”. Dit is veral gepas dat ’n Christen in ag neem watter indruk sy voorkoms ander sal gee van die Bybelboodskap wat hy verkondig (2 Korintiërs 6:3). ’n Voorbeeldige Christen sal nie oorbesorg wees oor sy eie voorkeure of veronderstelde regte nie, maar sal eerder daarop let dat hy nie die aandag aftrek van die boodskap of ander laat struikel nie.—Matteus 18:6; Filippense 1:10.
Wanneer ’n Christen vind dat ’n sekere styl ander pla of laat struikel, kan hy die apostel Paulus navolg deur die geestelike welsyn van ander bo sy eie voorkeure te stel. Paulus het gesê: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). En van Jesus het Paulus geskryf: “Selfs die Christus het homself nie behaag nie.” Paulus se raad aan alle Christene is duidelik: “Ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing.”—Romeine 15:1-3.
Hoe ons ons waarnemingsvermoëns kan verskerp
Hoe kan ons ons waarnemingsvermoëns ontwikkel sodat ons kan weet wat Jehovah behaag, selfs wanneer hy nie spesifieke riglyne oor iets gegee het nie? As ons sy Woord daagliks lees, dit gereeld bestudeer en daaroor peins, sal dit ons waarnemingsvermoëns verbeter. Hierdie vordering vind nie oornag plaas nie. Soos met die fisiese groei van ’n kind, vind geestelike groei geleidelik plaas en word dit nie onmiddellik opgemerk nie. Ons moet dus geduldig wees en nie gefrustreerd raak as ons nie ’n onmiddellike verbetering sien nie. Aan die ander kant word ons waarnemingsvermoëns nie bloot deur die verloop van baie tyd verskerp nie. Hierdie tyd moet goed benut word deur God se Woord gereeld te bestudeer, soos hierbo genoem is, en ons moet daardie Woord na die beste van ons vermoë in ons lewe toepas.—Hebreërs 5:14.
Daar kan gesê word dat God se wette ons gehoorsaamheid toets, maar dat sy beginsels die diepte van ons geestelikheid toets, asook ons begeerte om hom te behaag. Namate ons geestelik groei, sal ons ons al hoe meer daarop toespits om Jehovah en sy Seun na te volg. Ons sal gretig wees om ons besluite te baseer op God se beskouing van sake, soos dit in die Skrif geopenbaar word. Terwyl ons ons hemelse Vader gelukkig maak in alles wat ons doen, sal ons vind dat ons eie vreugde ook toeneem.
[Prente op bladsy 23]
Klerestyle verskil van plek tot plek, maar Bybelbeginsels moet ons lei in ons keuses