Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense en die Kolossense
WANNEER die apostel Paulus hoor dat Judaïseerders party Christene van rein aanbidding laat afwyk, skryf hy ’n kragtige brief “aan die gemeentes van Galasië” (Gal. 1:2). Die brief is tussen 50-52 G.J. geskryf en bevat reguit raad en sterk vermaning.
Ongeveer tien jaar later, terwyl Paulus in Rome is as ’n “gevangene van Christus Jesus”, skryf hy aan die gemeentes in Efese, Filippi en Kolosse en gee hy hulle goeie raad en liefdevolle aanmoediging (Ef. 3:1). Ons kan vandag baat vind deur aandag te skenk aan die boodskap in die Bybelboeke Galasiërs, Efesiërs, Filippense en Kolossense.—Heb. 4:12.
“REGVERDIG VERKLAAR”—HOE?
Aangesien Judaïseerders Paulus se geloofwaardigheid op listige manier probeer ondermyn, verdedig hy sy apostelskap deur sekere outobiografiese besonderhede te verstrek (Gal. 1:11–2:14). Paulus weerlê hulle valse leringe en maak die punt dat “’n mens nie weens werke van die wet regverdig verklaar word nie, maar net deur geloof in Christus Jesus”.—Gal. 2:16.
Christus het ‘dié onder die wet losgekoop’ en hulle bevry om Christelike vryheid te geniet, sê Paulus. Hy vermaan die Galasiërs streng: “Staan . . . vas, en moenie dat julle weer ’n juk van slawerny opgelê word nie.”—Gal. 4:4, 5; 5:1.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3:16-18, 28, 29—Is die Abrahamitiese verbond nog steeds van krag? Ja, dit is. Die Wetsverbond was ’n byvoeging tot en nie ’n vervanging van God se verbond met Abraham nie. Daarom het die Abrahamitiese verbond van krag gebly nadat die Wet “tot niet gemaak” is (Ef. 2:15). Die beloftes daarvan word oorgedra aan Abraham se ware “saad”—Christus Jesus, as die vernaamste een, en dié wat “aan Christus behoort”.
6:2—Wat is “die wet van die Christus”? Hierdie wet bestaan uit alles wat Jesus geleer en beveel het. Dit sluit veral die gebod in om ‘mekaar lief te hê’.—Joh. 13:34.
6:8—Hoe ‘saai ons met die oog op die gees’? Ons doen dit deur so te lewe dat God se gees vryelik op ons kan inwerk. Om met die oog op die gees te saai, behels heelhartige deelname aan bedrywighede wat die vloei van die gees bevorder.
Lesse vir ons:
1:6-9. Christen- ouer manne moet sonder versuim optree wanneer probleme in die gemeente ontstaan. Deur grondige redenasies tesame met die Skrif te gebruik, kan hulle valse redenering gou weerlê.
2:20. Die losprys is ’n persoonlike geskenk van God aan ons. Ons moet leer om dit so te beskou.—Joh. 3:16.
5:7-9. Slegte omgang kan ons “verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam”. Dit is verstandig van ons om dit te vermy.
6:1, 2, 5. Dié wat “geestelik bekwaam” is, kan ons help om ’n las te dra, soos ’n moeilike of onaangename situasie waarin ons beland het as gevolg van ’n misstap wat ons onwetend begaan het. Maar ons moet self ons vrag van geestelike verantwoordelikhede dra.
‘ALLES WORD IN DIE CHRISTUS BYEENGEBRING’
Paulus beklemtoon die tema van Christelike eenheid in sy brief aan die Efesiërs en praat van ‘’n administrasie aan die voleinding van die vasgestelde tye om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde’. Christus het “gawes in die vorm van mense” gegee om almal te help om “tot die eenheid in die geloof” te kom.—Ef. 1:10; 4:8, 13.
Om God te eer en eenheid te bevorder, moet Christene hulle ‘met die nuwe persoonlikheid beklee’ en ‘onderdanig wees aan mekaar in die vrees van Christus’. Hulle moet ook “vasstaan teen die sette van die Duiwel” deur die volle geestelike wapenrusting aan te trek.—Ef. 4:24; 5:21; 6:11.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:4-7—Hoe is gesalfde Christene voorbestem lank voordat hulle gebore is? Hulle is voorbestem as ’n groep, of ’n klas, nie as individue nie. Dit het plaasgevind voordat die sondige mensewêreld ontstaan het. Die profesie in Genesis 3:15, wat uitgespreek is voordat enige sondige mens verwek is, sluit God se voorneme in dat sekere volgelinge van Christus saam met hom in die hemel sal regeer.—Gal. 3:16, 29.
2:2—Hoe is die gees van die wêreld soos die lug, en hoe oefen dit gesag uit? “Die gees van die wêreld”—die gees van onafhanklikheid en ongehoorsaamheid—is so deurdringend soos die lug wat ons inasem (1 Kor. 2:12). Dit oefen gesag, of mag, uit deurdat dit oorredend, onversetlik en meedoënloos is.
2:6—Hoe kan gesalfde Christene “in die hemelse plekke” wees terwyl hulle nog op aarde is? Die uitdrukking “hemelse plekke” verwys hier nie na hulle beloofde hemelse erfenis nie. Dit dui eerder op hulle verhewe geestelike posisie weens die feit dat hulle “met die beloofde heilige gees verseël” is.—Ef. 1:13, 14.
Lesse vir ons:
4:8, 11-15. Jesus Christus het “gevangenes weggevoer”, dit wil sê mense onder Satan se beheer uitgebring om hulle as gawes vir die opbouing van die Christengemeente te gebruik. Ons kan “deur liefde in alles opgroei in . . . Christus” deur gehoorsaam en onderdanig te wees aan dié wat die leiding onder ons neem en deur gemeentelike reëlings te ondersteun.—Heb. 13:7, 17.
5:22-24, 33. ’n Vrou moet nie net onderdanig wees aan haar man nie, maar moet hom ook respekteer. Sy doen dit deur ’n “stille en sagmoedige gees” te openbaar en daarna te streef om hom tot eer te strek deur goed van hom te praat en haar in te span om tot die sukses van sy besluite by te dra.—1 Pet. 3:3, 4; Tit. 2:3-5.
5:25, 28, 29. Net soos ’n man homself “voed”, moet hy ook ’n goeie voorsiener vir sy vrou wees—fisies, emosioneel en geestelik. Hy moet haar ook koester deur genoeg tyd saam met haar deur te bring en deur haar in woord en daad met teerheid te behandel.
6:10-13. Om demoniese magte te weerstaan, moet ons ons heelhartig inspan om die geestelike wapenrusting van God aan te trek.
‘GAAN VOORT OM ORDELIK TE WANDEL’
Paulus se brief aan die Filippense lê klem op liefde. “Dit is wat ek aanhou bid”, sê hy, “dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë.” Om hulle te help om die strik van oordrewe selfversekerdheid te vermy, vermaan hy hulle: “[Hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.”—Fil. 1:9; 2:12.
Paulus spoor diegene wat geestelik volwasse is, aan om te “streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo”. Hy sê: “Laat ons . . . , in die mate waarin ons vooruitgang gemaak het, voortgaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel.”—Fil. 3:14-16.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:23 en voetnoot in NW—Watter “twee dinge” het Paulus onder druk laat verkeer, en watter “losmaking” het hy begeer? As gevolg van die omstandighede waarin Paulus was, het hy onder druk verkeer van die twee moontlikhede voor hom: die lewe of die dood (Fil. 1:21). Hoewel hy nie meld wat hy gaan kies nie, sê hy wat hy begeer—“die losmaking en om saam met Christus te wees” (Fil. 3:20, 21; 1 Tess. 4:16). Hierdie “losmaking” gedurende Christus se teenwoordigheid sou daartoe lei dat Paulus die beloning ontvang wat Jehovah vir hom berei het.—Matt. 24:3.
2:12, 13—Hoe veroorsaak God dat ons “wil sowel as werk”? Jehovah se heilige gees kan in ons hart en verstand werksaam wees om ons begeerte te vergroot om ons uiterse bes in sy diens te doen. Ons is dus nie sonder hulp terwyl ons ‘aanhou om ons eie redding te bewerk nie’.
Lesse vir ons:
1:3-5. Hoewel die Filippense materieel arm was, het hulle vir ons ’n goeie voorbeeld gestel deur vrygewigheid te betoon.—2 Kor. 8:1-6.
2:5-11. Soos blyk uit Jesus se voorbeeld, is nederigheid nie ’n teken van swakheid nie, maar van sedelike krag. Wat meer is, Jehovah verhef die nederiges.—Spr. 22:4.
3:13. “Die dinge wat agter is”, kan iets wees soos ’n winsgewende loopbaan, die sekuriteit daarvan om deel van ’n ryk gesin te wees of selfs ernstige sondes van die verlede waaroor ons berou getoon het en waarvan ons “skoon gewas” is (1 Kor. 6:11). Ons moet van hierdie dinge vergeet, dit wil sê ophou om daaroor besorg te wees, en ons moet ons ‘uitstrek na die dinge wat voor is’.
“IN DIE GELOOF STANDVASTIG GEMAAK”
In sy brief aan die Kolossense weerlê Paulus die verkeerde beskouings van valse onderrigters. Hy redeneer dat redding nie daarvan afhang dat ’n persoon die vereistes van die Wet nakom nie, maar dat hy “in die geloof bly”. Paulus sê dat die Kolossense moet “voortgaan om in eenheid met [Christus] te wandel, terwyl [hulle] in hom gewortel is en opgebou word en in die geloof standvastig gemaak word”. Watter uitwerking moet dit op hulle hê om so standvastig gemaak te word?—Kol. 1:23; 2:6, 7.
Paulus skryf: “Beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid. En laat die vrede van die Christus in julle harte heers.” Die apostel sê vir hulle: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.” Aangaande diegene buite die gemeente sê hy: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor” hulle.—Kol. 3:14, 15, 23; 4:5.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:8—Wat is “die elementêre dinge van die wêreld” waarteen Paulus gewaarsku het? Dit is die elemente van Satan se wêreld—basiese dinge of beginsels waaruit dit bestaan of waardeur dit gelei of gemotiveer word (1 Joh. 2:16). Dit sluit die filosofie, materialisme en valse godsdienste van hierdie wêreld in.
4:16—Waarom is die brief aan die Laodisense nie deel van die Bybel nie? Dit kan wees dat die brief nie inligting bevat het wat vir ons dag nodig is nie. Of dalk het dit punte uit ander kanonieke briewe herhaal.
Lesse vir ons:
1:2, 20. Die losprys, ’n blyk van God se onverdiende goedhartigheid, kan ons gewete van skuldgevoelens reinig en ons innerlike vrede gee.
2:18, 23. “Skynnederigheid”—geveinsde nederigheid om ander te beïndruk, moontlik deur van materiële dinge afstand te doen of deur die liggaam streng te behandel—is ’n aanduiding daarvan dat iemand “opgeblase is deur sy vleeslike gesindheid”.