Beoefen selfbeheersing en verwerf die prys!
“Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, beoefen selfbeheersing in alles.”—1 KORINTIËRS 9:25.
1. Hoe het miljoene getoon dat hulle hulle aan Jehovah wou toewy, volgens Efesiërs 4:22-24?
AS JY as een van Jehovah se Getuies gedoop is, het jy in die openbaar bekend gemaak dat jy gewillig is om deel te neem aan ’n wedstryd met die ewige lewe as prys. Jy het ingestem om Jehovah se wil te doen. Baie van ons moes groot veranderinge maak voordat ons ons aan Jehovah toegewy het, sodat ons toewyding betekenisvol en aanvaarbaar vir God kon wees. Ons het die apostel Paulus se raad aan Christene gevolg: ‘Lê die ou persoonlikheid af, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat volgens sy bedrieglike begeertes verderf word. Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’ (Efesiërs 4:22-24). Met ander woorde, voordat ons ons aan God kon toewy, moes ons ons vorige, onaanvaarbare lewenswandel die rug toekeer.
2, 3. Hoe toon 1 Korintiërs 6:9-12 dat twee soorte veranderinge nodig is om God se goedkeuring weg te dra?
2 Sekere kenmerke van die ou persoonlikheid wat voornemende Getuies van Jehovah moet aflê, is dinge wat God se Woord ronduit veroordeel. Paulus het in sy brief aan die Korintiërs ’n paar hiervan opgenoem en gesê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.” Toe het hy getoon dat eerste-eeuse Christene die nodige persoonlikheidsveranderinge aangebring het, en bygevoeg: “Tog is dit wat party van julle was.” Let op, was, nie is nie.—1 Korintiërs 6:9-11.
3 Paulus het aangedui dat verdere veranderinge dalk ook nodig sal wees, want hy het voorts gesê: “Alles is my geoorloof; maar nie alles is voordelig nie” (1 Korintiërs 6:12). Daarom besef baie wat vandag graag Jehovah se Getuies wil word, hoe belangrik dit is om selfs nee te sê vir dinge wat, hoewel dit geoorloof is, geen voordeel inhou nie of min blywende waarde het. Hierdie dinge is dalk tydrowend en kan hulle aandag aflei van belangriker dinge.
4. Met watter woorde van Paulus stem toegewyde Christene saam?
4 Toewyding aan God is iets wat gewillig gedoen word, nie teësinnig asof dit ’n groot opoffering vereis nie. Toegewyde Christene stem saam met Paulus wat, nadat hy ’n volgeling van Christus geword het, gesê het: “Weens [Jesus] het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Filippense 3:8). Paulus was heeltemal bereid om nee te sê vir dinge van min waarde sodat hy kon aanhou om God te dien.
5. Watter wedloop het Paulus met sukses voltooi, en hoe kan ons dieselfde doen?
5 Paulus het selfbeheersing beoefen in sy geestelike wedloop en kon uiteindelik sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê, wat die Here, die regverdige regter, my in daardie dag as beloning sal gee, en tog, nie net aan my nie, maar ook aan almal wat sy openbaarwording liefgehad het” (2 Timoteus 4:7, 8). Sal ons eendag iets soortgelyks kan sê? Ons sal as ons in geloof selfbeheersing beoefen terwyl ons volhard in ons Christelike wedloop en dit voltooi.
Selfbeheersing om te doen wat goed is
6. Wat is selfbeheersing, en op watter twee maniere moet ons dit beoefen?
6 Die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel met “selfbeheersing” vertaal word, beteken letterlik dat iemand mag of beheer oor homself het. Dit dra dikwels die gedagte oor dat ’n mens jouself weerhou van die kwaad. Maar dit is duidelik dat ’n mate van selfbeheersing ook nodig is as ons ons liggaam wil gebruik om goeie werke te doen. Die natuurlike neiging van onvolmaakte mense is om te doen wat verkeerd is; daarom het ons ’n tweevoudige stryd (Prediker 7:29; 8:11). Terwyl ons ons weerhou van die kwaad, moet ons onsself ook dwing om goed te doen. Trouens, een van die beste maniere om die kwaad te vermy, is om ons liggaam te beheer sodat ons goed kan doen.
7. (a) Waarvoor moet ons bid, soos Dawid gedoen het? (b) Waaroor moet ons peins as ons groter selfbeheersing aan die dag wil lê?
7 Dit is duidelik dat selfbeheersing noodsaaklik is as ons ons toewyding aan God wil naleef. Ons moet soos Dawid bid: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees” (Psalm 51:10). Ons kan peins oor die voordele wat dit inhou as ons dinge vermy wat sedelik verkeerd of fisies skadelik is. Dink aan die skade wat dit ons kan berokken as ons sulke dinge nie vermy nie: ernstige gesondheidsprobleme, geskende verhoudings, selfs ’n vroeë dood. Dink daarenteen aan die talle voordele as ons bly by die lewensweg wat Jehovah wil hê ons moet volg. Ons moet egter realisties wees en onthou dat ons hart verraderlik is (Jeremia 17:9). Ons moet vasbeslote wees om weerstand te bied teen enige poging van ons hart om gehoorsaamheid aan Jehovah se standaarde as onbelangrik af te maak.
8. Wat weet ons uit ondervinding? Lig toe.
8 Die meeste van ons weet uit ondervinding dat die onwillige vlees dikwels die vuur van ’n gewillige gees probeer blus. Neem byvoorbeeld die Koninkrykspredikingswerk. Jehovah skep behae in die gewilligheid van mense om aan hierdie lewegewende werk deel te neem (Psalm 110:3; Matteus 24:14). Vir die meeste van ons was dit nie maklik om te leer om in die openbaar te getuig nie. Dit het vereis—en vereis dalk nog steeds—dat ons ons liggaam beheer, dit “kasty” en dit ‘as ’n slaaf lei’, en nie toelaat dat dit ons die maklikste weg laat kies nie.—1 Korintiërs 9:16, 27; 1 Tessalonisense 2:2.
“In alles”?
9, 10. Wat behels dit om “selfbeheersing in alles” te beoefen?
9 Die Bybelraad om “selfbeheersing in alles” te beoefen, dui aan dat dit meer behels as om net ons humeur te beteuel en onsedelike gedrag te vermy. Ons meen miskien dat ons reeds selfbeheersing op hierdie gebiede openbaar, en indien wel, kan ons inderdaad dankbaar wees. Maar wat van ander gebiede van die lewe waar dit dalk nie so duidelik is dat selfbeheersing nodig is nie? Ter toeligting: Gestel ons woon in ’n redelik welvarende land met ’n hoë lewenstandaard. Sal dit nie verstandig wees om te leer om geld nie kwistig uit te gee nie? Dit sal goed wees as ouers hulle kinders leer om nie alles te koop wat hulle oë sien net omdat dit beskikbaar is, hulle daarvan hou of dit kan bekostig nie. Hierdie opleiding sal natuurlik slegs doeltreffend wees as ouers die regte voorbeeld stel.—Lukas 10:38-42.
10 Dit kan ons wilskrag versterk as ons leer om sonder sekere dinge klaar te kom. Dit kan ook ons waardering vergroot vir die materiële dinge wat ons wel besit en ons meer simpatiek maak teenoor diegene wat sonder sekere dinge moet klaarkom, nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle moet. ’n Beskeie lewenswyse is natuurlik strydig met gewilde gesindhede soos “bederf jouself” of “jy verdien die beste”. Die advertensiewese bevorder die begeerte na onmiddellike bevrediging, maar hulle doen dit omdat hulle wins wil maak. Hierdie situasie kan ons pogings belemmer om selfbeheersing aan die dag te lê. ’n Tydskrif uit ’n welvarende Europese land het onlangs gesê: “As mense wat onder die haglike toestande van volslae armoede lewe, ’n innerlike stryd moet voer om ongewenste begeertes onder beheer te hou, hoeveel te meer moet diegene dit doen wat in die land van melk en heuning lewe in vandag se welgestelde gemeenskappe!”
11. Waarom is dit nuttig om vergenoegdheid aan te leer, en wat maak dit moeilik?
11 As ons dit moeilik vind om te onderskei tussen wat ons wil hê en wat ons werklik nodig het, sal dit dalk nuttig wees om stappe te neem wat sal verseker dat ons nie onverantwoordelik optree nie. As ons byvoorbeeld die neiging wil teëwerk om los en vas te koop, sal dit goed wees as ons ons voorneem om nie op krediet te koop nie of om net ’n sekere bedrag geld saam te neem wanneer ons inkopies doen. Onthou dat Paulus gesê het dat “godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid” “’n middel tot groot gewin” is. Hy het geredeneer: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:6-8). Is ons? Dit vereis wilskrag en selfbeheersing om te leer om ’n eenvoudige lewe te lei, vry van al die laste wat met ’n genotsugtige lewe gepaardgaan. Maar dit is ’n belangrike les wat ons moet leer.
12, 13. (a) In watter opsigte behels Christelike vergaderinge selfbeheersing? (b) Op watter ander gebiede moet ons selfbeheersing aankweek?
12 Die bywoning van Christelike vergaderinge en byeenkomste behels ook ’n sekere mate van selfbeheersing. Hierdie eienskap help ons byvoorbeeld om nie ons gedagtes gedurende die program te laat dwaal nie (Spreuke 1:5). Dit kan selfbeheersing verg om ander nie te steur deur vir diegene langs ons te fluister in plaas van aandagtig na die spreker te luister nie. Selfbeheersing is dalk nodig om ons rooster aan te pas sodat ons betyds kan opdaag. Verder vereis dit moontlik selfbeheersing om tyd opsy te sit vir die voorbereiding van vergaderinge en om dan daaraan deel te neem.
13 As ons selfbeheersing aan die dag lê in klein dingetjies, verbeter dit ons vermoë om dit in groter dinge te doen (Lukas 16:10). Hoe goed is dit dus tog om onsself te dissiplineer om God se Woord en Bybelpublikasies gereeld te lees, dit te bestudeer en te peins oor wat ons leer! En dit is ook verstandig om onsself te dissiplineer wat gepaste werk, vriendskappe, gesindhede en persoonlike gewoontes betref of om onsself te dissiplineer om nee te sê vir aktiwiteite wat ons kan beroof van kosbare tyd vir God se diens! Om besig te bly in Jehovah se diens, is beslis ’n goeie beskerming teen dinge wat ons kan weglok uit die geestelike paradys van Jehovah se aardwye gemeente.
Word volgroeid deur selfbeheersing
14. (a) Hoe moet kinders leer om selfbeheersing te beoefen? (b) Watter voordele kan dit inhou as kinders hierdie lesse vroeg in die lewe leer?
14 ’n Pasgebore baba is nie bekend vir sy selfbeheersing nie. ’n Pamflet deur deskundiges op die gebied van kindergedrag verduidelik: “Selfbeheersing kom nie vanself of oornag nie. Babas en kleuters het ouers se leiding en ondersteuning nodig om die proses te begin om selfbeheersing aan te leer. . . . As ouers die proses lei, neem selfbeheersing toe regdeur die skooljare.” ’n Studie van vierjarige kinders het getoon dat dié wat geleer het om ’n mate van selfbeheersing te beoefen, “oor die algemeen gebalanseerder, gewilder, avontuurlustiger en betroubaarder tieners geword het wat groter selfvertroue het”. Dié wat nog nie hierdie les begin leer het nie, “was meer geneig om eensaam, maklik gefrustreerd en koppig te wees. Hulle kon nie druk hanteer nie en het weggeskram van uitdagings.” Dit spreek vanself dat ’n kind moet leer om selfbeheersing te beoefen om ’n gebalanseerde volwassene te word.
15. Waarop dui ’n gebrek aan selfbeheersing, in teenstelling met watter doelwit wat in die Bybel uiteengesit word?
15 As ons volgroeide Christene wil word, moet ons eweneens leer om selfbeheersing aan die dag te lê. ’n Gebrek daaraan toon dat ons nog geestelike babas is. Die Bybel spoor ons aan om “volgroeid in begripsvermoëns” te word (1 Korintiërs 14:20). Ons doelwit is om “tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God [te kom], tot ’n volgroeide man, tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort”. Waarom? “Sodat ons nie langer klein kindertjies moet wees nie, wat rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” (Efesiërs 4:13, 14). Dit is derhalwe noodsaaklik vir ons geestelikheid dat ons leer om selfbeheersing te beoefen.
Kweek selfbeheersing aan
16. Hoe voorsien Jehovah hulp?
16 Ons het goddelike hulp nodig om selfbeheersing aan te kweek, en daardie hulp is beskikbaar. Soos ’n volmaakte spieël wys God se Woord ons waar ons persoonlike veranderinge moet aanbring, en dit voorsien raad oor hoe ons dit kan doen (Jakobus 1:22-25). ’n Liefdevolle broederskap is ook gereed om ons te help. Christen- ouer manne toon begrip wanneer hulle persoonlike hulp verleen. Jehovah self gee sy heilige gees vryelik as ons in gebed daarvoor vra (Lukas 11:13; Romeine 8:26). Laat ons dus met blydskap gebruik maak van hierdie voorsienings. Die wenke op bladsy 21 kan help.
17. Watter aansporing gee Spreuke 24:16 ons?
17 Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah ons pogings om hom te behaag, waardeer! Dit moet ons beweeg om voortdurend groter selfbeheersing te probeer aankweek. Ongeag hoe dikwels ons struikel, ons moet nooit tou opgooi nie. “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan” (Spreuke 24:16). Elke keer as ons ’n oorwinning behaal, het ons rede om trots te wees op onsself. Ons kan ook daarvan seker wees dat Jehovah trots is op ons. Een Getuie sê dat hy, voordat hy sy lewe aan Jehovah toegewy het, elke keer as hy daarin geslaag het om ’n week lank nie te rook nie, homself beloon het deur iets nuttigs te koop met die geld wat hy weens selfbeheersing gespaar het.
18. (a) Wat is betrokke by ons stryd om selfbeheersing te beoefen? (b) Watter versekering gee Jehovah ons?
18 Ons moet bowenal onthou dat selfbeheersing die verstand en emosies behels. Ons kan dit sien uit Jesus se woorde: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28; Jakobus 1:14, 15). Iemand wat geleer het om sy verstand en gevoelens te beheer, sal dit makliker vind om sy hele liggaam te beheer. Laat ons derhalwe ons voorneme versterk om nie net die kwaad te vermy nie, maar selfs nie daaroor te dink nie. As verkeerde gedagtes opkom, moet ons dit onmiddellik verwerp. Ons kan vir versoeking vlug deur ons oë biddend gerig te hou op Jesus (1 Timoteus 6:11; 2 Timoteus 2:22; Hebreërs 4:15, 16). As ons ons bes doen, volg ons in werklikheid die raad van Psalm 55:22: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”
Onthou jy?
• Op watter twee maniere moet ons selfbeheersing beoefen?
• Wat beteken dit om “selfbeheersing in alles” te beoefen?
• Watter praktiese wenke om selfbeheersing aan te kweek, het jy tydens ons studie opgemerk?
• Waar begin selfbeheersing?
[Venster/Prente op bladsy 21]
Hoe om groter selfbeheersing aan te kweek
• Openbaar dit selfs in klein dingetjies
• Peins oor die teenswoordige en toekomstige voordele daarvan
• Vervang dinge wat God verbied, met dinge wat hy goedkeur
• Verwerp verkeerde gedagtes onmiddellik
• Vul jou verstand met geestelik opbouende gedagtes
• Aanvaar die hulp wat ryp mede-Christene kan gee
• Vermy situasies wat jou in versoeking kan lei
• Bid vir God se hulp wanneer jy versoek word
[Prente op bladsy 18, 19]
Selfbeheersing beweeg ons om goed te doen