Is jy ’n “volgroeide” Christen?
“TOE ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer.” Dit is wat die apostel Paulus geskryf het. Almal van ons was vroeër hulpelose babas. Maar ons het nie babas gebly nie. Paulus het gesê: “Noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê.”—1 Korintiërs 13:11.
Alle Christene begin insgelyks as geestelike babas. Maar mettertyd kan almal “kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van wasdom wat tot die volheid van die Christus behoort” (Efesiërs 4:13). In 1 Korintiërs 14:20 word ons vermaan: “Broers, moenie jong kinders in begripsvermoëns word nie . . . Word egter volgroeid in begripsvermoëns.”
Dit is vandag vir God se volk ’n seën om volgroeide, oftewel volwasse, Christene in hulle midde te hê, veral omdat daar soveel nuwelinge is. Volwasse Christene verleen bestendigheid aan ’n gemeente. Hulle het ’n positiewe uitwerking op die algemene gees van die gemeente waar hulle is.
Terwyl fisiese groei min of meer outomaties gebeur, is tyd en inspanning nodig om geestelik te groei. Verbasend genoeg het party Christene in Paulus se dag nie ‘tot volwassenheid voortgebeur’ nie, hoewel hulle God baie jare al gedien het (Hebreërs 5:12; 6:1). Wat van jou? Hetsy jy God al baie jare dien of net ’n betreklike kort tydjie, dit sal gepas wees as jy jouself eerlik ondersoek (2 Korintiërs 13:5). Is jy een van dié wat werklik ’n volwasse Christen genoem kan word? Indien nie, hoe kan jy een word?
“Volgroeid in begripsvermoëns”
’n Geestelike baba word maklik “rondgeslinger . . . soos deur golwe en herwaarts en derwaarts gevoer . . . deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling”. Paulus het derhalwe gemaan: “Laat ons . . . deur liefde in alle dinge opgroei in hom wat die hoof is, Christus” (Efesiërs 4:14, 15). Hoe doen ’n mens dit? Hebreërs 5:14 sê: “Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.”
Let op dat die waarnemingsvermoëns van volwasse mense geoefen is deur gebruik, oftewel die toepassing van Bybelbeginsels in hulle lewe. ’n Mens word dus nie oornag volwasse nie; dit neem tyd om geestelik te groei. Jy kan nietemin heelwat doen om jou geestelike groei te bespoedig deur persoonlike studie te doen—veral van die dieper dinge in God se Woord. In onlangse tye het Die Wagtoring talle diep onderwerpe bespreek. Volwasse persone skram nie weg van sulke artikels omdat dit dinge bevat “wat moeilik is om te verstaan” nie (2 Petrus 3:16). Hulle is eerder gretig om sulke vaste voedsel in te neem!
Ywerige verkondigers en onderrigters
Jesus het sy dissipels beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Ywerige deelname aan die predikingswerk kan ook tot jou geestelike groei bydra. Probeer gerus om na gelang van jou omstandighede die grootste moontlike aandeel daaraan te hê.—Matteus 13:23.
Vanweë die druk van die lewe is dit soms vir ons ’n uitdaging om vir die predikingswerk tyd in te ruim. Maar deur ‘jou kragtig in te span’ as ’n verkondiger toon jy hoe belangrik die “goeie nuus” vir jou is (Lukas 13:24; Romeine 1:16). Jy sal gevolglik as “’n voorbeeld vir die getroues” beskou word.—1 Timoteus 4:12.
Handhawers van onkreukbaarheid
Om tot volwassenheid te groei, behels ook dat jy jou inspan om jou onkreukbaarheid te handhaaf. Dawid het dié woorde gesê, wat opgeteken staan in Psalm 26:1 (NW): “Oordeel my, o Jehovah, want ek het in my onkreukbaarheid gewandel.” Onkreukbaarheid is morele regskapenheid, volkomenheid. Dit beteken egter nie volmaaktheid nie. Dawid het self heelwat ernstige sondes gepleeg. Maar omdat hy teregwysing aanvaar en sy weg verander het, het hy getoon dat daar in sy hart nog steeds opregte liefde vir Jehovah God was (Psalm 26:2, 3, 6, 8, 11). Onkreukbaarheid verg algehele, of volkome, toegewydheid uit die hart. Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart.”—1 Kronieke 28:9.
Om jou onkreukbaarheid te handhaaf, behels dat jy “geen deel van die wêreld” is nie, dat jy glad nie by die nasies se politiek en hulle oorloë betrokke raak nie (Johannes 17:16). Jy moet ook verdorwe gebruike vermy, soos hoerery, egbreuk en dwelmmisbruik (Galasiërs 5:19-21). Maar om jou onkreukbaarheid te handhaaf, behels meer as om net hierdie dinge te vermy. Salomo het gewaarsku: “Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; ’n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer” (Prediker 10:1). Ja, selfs “’n bietjie dwaasheid”, soos ongepaste skertsery of flirtasie met die teenoorgestelde geslag, kan die reputasie bederf van iemand vir wie “wysheid” kosbaar is (Job 31:1). Toon dus jou volwassenheid deur in alle aspekte van jou gedrag voorbeeldig te probeer wees en selfs wat “boos lyk” te vermy.—1 Tessalonisense 5:22, King James Version.
Lojales
’n Volwasse Christen is ook lojaal. Die apostel Paulus vermaan Christene in Efesiërs 4:24: ‘Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.’ In die Griekse Geskrifte beteken die oorspronklike woord vir “lojaliteit” heiligheid, regverdigheid, ontsag. ’n Lojale persoon is toegewyd, vroom; hy kom al sy verantwoordelikhede teenoor God pligsgetrou na.
Wat is party maniere waarop jy sulke lojaliteit kan ontwikkel? Een manier sal wees om met die ouer manne in jou plaaslike gemeente saam te werk (Hebreërs 13:17). Omdat volwasse Christene erken dat Christus die aangestelde Hoof van die Christengemeente is, is hulle lojaal teenoor diegene wat aangestel is “om as herders toesig te hou oor die gemeente van God” (Handelinge 20:28). Hoe onvanpas sal dit tog wees om die gesag van die aangestelde ouer manne te betwis of te ondermyn! Jy moet ook ’n lojaliteitsgevoel hê teenoor “die getroue en verstandige slaaf” en die kanaal wat gebruik word om geestelike “voedsel op die regte tyd te gee” (Matteus 24:45). Jy moet die inligting in Die Wagtoring en al die ander publikasies wat daarmee saamgaan so gou moontlik lees en toepas.
Toon liefde deur jou dade
Paulus het aan Christene in Tessalonika geskryf: ‘Die liefde van ’n ieder en ’n elk van julle neem toe teenoor mekaar’ (2 Tessalonisense 1:3). Om in liefde toe te neem, is ’n besonder belangrike aspek van geestelike groei. Jesus het volgens Johannes 13:35 gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Sulke broederliefde word nie bloot deur emosie of gevoel gekenmerk nie. Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words sê: “Liefde kan slegs gesien word aan die dade wat dit voortbring.” Ja, jy beur in hierdie opsig tot volwassenheid voort deur liefde in dade te laat oorgaan!
In Romeine 15:7 lees ons byvoorbeeld: “Verwelkom mekaar.” Een manier om liefde te betoon, is deur jou medegelowiges en nuwelinge by gemeentelike vergaderinge—opreg en entoesiasties—te groet! Leer hulle persoonlik ken. Toon “persoonlike belangstelling” in ander (Filippense 2:4). Miskien kan jy selfs gasvryheid bewys deur verskillende mense na jou huis te nooi (Handelinge 16:14, 15). Die onvolmaakthede van ander kan soms die diepte van jou liefde beproef, maar namate jy leer om ‘hulle in liefde te verdra’, toon jy dat jy volwasse word.—Efesiërs 4:2.
Die gebruik van ons bates om rein aanbidding te bevorder
In die ou tyd het nie almal onder God se volk hulle verantwoordelikheid nagekom om Jehovah se tempel te ondersteun nie. God het gevolglik sy profete, soos Haggai en Maleagi, gestuur om Sy volk in hierdie verband aan te spoor (Haggai 1:2-6; Maleagi 3:10). Vandag gebruik volwasse Christene hulle bates met blydskap om Jehovah se aanbidding te ondersteun. Volg hulle voorbeeld na deur die beginsel in 1 Korintiërs 16:1, 2 te volg deur gereeld ‘iets opsy te sit’ om vir die gemeente en die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies by te dra. God se Woord belowe: “Wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai.”—2 Korintiërs 9:6.
Moenie van jou ander bates, soos jou tyd en energie, vergeet nie. Probeer die ‘tyd uitkoop’ deur dit nie aan minder belangrike bedrywighede te bestee nie (Efesiërs 5:15, 16; Filippense 1:10). Leer om jou tyd doeltreffender te gebruik. As jy dit doen, sal jy moontlik kan help met instandhoudingswerk aan die Koninkryksaal en ander soortgelyke bedrywighede wat Jehovah se aanbidding bevorder. As jy jou bates op hierdie manier gebruik, sal dit verdere bewys lewer dat jy ’n volwasse Christen word.
Beur tot volwassenheid voort!
Mans en vroue wat graag studeer en goeie kennis besit, wat ywerige verkondigers is, wat hulle onkreukbaarheid handhaaf, wat lojaal en liefdevol is en wat gewillig is om die Koninkrykswerk fisies en materieel te ondersteun, is waarlik ’n groot seën. Dit is dus geen wonder nie dat die apostel Paulus gemaan het: “Laat ons . . . , noudat ons die grondleer oor die Christus agter ons gelaat het, tot volwassenheid voortbeur”!—Hebreërs 6:1.
Is jy ’n volwasse Christen? Of is jy nog steeds in sekere opsigte soos ’n geestelike baba? (Hebreërs 5:13). Hoe dit ook al sy, wees vasbeslote om jou toe te lê op persoonlike studie, die predikingswerk en die betoning van liefde aan jou broers. Aanvaar enige raad en dissipline wat volwasse persone jou gee (Spreuke 8:33). Dra jou volle Christelike verantwoordelikheid. Met tyd en inspanning kan jy ook “kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van wasdom wat tot die volheid van die Christus behoort”.—Efesiërs 4:13.
[Lokteks op bladsy 27]
Volwasse Christene verleen bestendigheid aan ’n gemeente. Hulle het ’n positiewe uitwerking op die algemene gees daarvan
[Prente op bladsy 29]
Volwasse persone dra tot die gees van die gemeente by deur in ander belang te stel