Bring heelhartige offerandes aan Jehovah
“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah.”—KOL. 3:23.
1-3. (a) Het Jesus se dood aan die folterpaal beteken dat Jehovah nie meer enige soort offerande van ons vereis nie? Verduidelik. (b) Watter vraag ontstaan met betrekking tot offerandes in ons dag?
IN DIE eerste eeu HJ het Jehovah aan sy volk geopenbaar dat Jesus se losprysoffer die Mosaïese Wet tot niet gemaak het (Kol. 2:13, 14). Nie een van die offerandes wat die Jode honderde jare lank gebring het, was meer nodig of het enige waarde gehad nie. Die Wet het sy funksie as ’n “tugmeester . . . wat na Christus gelei het”, vervul.—Gal. 3:24.
2 Dit wil nie sê dat Christene nie meer in offerandes belangstel nie. Inteendeel, die apostel Petrus het gesê dat dit nodig is om “geestelike offerandes te bring wat vir God aanneemlik is deur Jesus Christus” (1 Pet. 2:5). Daarbenewens het die apostel Paulus duidelik getoon dat ’n toegewyde Christen se lewe—elke aspek daarvan—tereg as “’n offerande” beskou kan word.—Rom. 12:1.
3 ’n Christen bring dus offerandes aan Jehovah, hetsy deur sekere dinge aan hom te offer of deur sekere dinge ter wille van hom op te offer. Hoe kan ons, op grond van wat ons weet van die vereistes wat aan die Israeliete gestel is, seker wees dat al ons offerandes vandag vir Jehovah aanneemlik is?
IN DIE DAAGLIKSE LEWE
4. Wat moet ons in gedagte hou omtrent die daaglikse lewensbedrywighede?
4 Dit lyk dalk moeilik om ons bedrywighede in die daaglikse lewe met offerandes aan Jehovah te verbind. Op die oog af lyk dit miskien of huiswerk, skoolwerk, sekulêre werk, inkopies, ensovoorts min te doen het met geestelike belange. Maar as jy jou lewe aan Jehovah toegewy het of hoop om dit in die nabye toekoms te doen, is die gesindheid waarmee jy jou daaglikse bedrywighede benader, belangrik. Ons is 24 uur per dag Christene. Skriftuurlike beginsels moet in elke aspek van ons lewe toegepas word. Paulus het ons dus aangespoor: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.”—Lees Kolossense 3:18-24.
5, 6. Watter oorwegings moet ons daaglikse kleredrag en gedrag beïnvloed?
5 ’n Christen se daaglikse bedrywighede is nie deel van sy heilige diens nie. Maar die feit dat Paulus ons aanspoor om ‘met ons hele siel’, of heelhartig, soos vir Jehovah te werk, laat ons aan ons hele lewensweg dink. Hoe kan ons dit dan op onsself toepas? Is ons gedrag en kleredrag te alle tye betaamlik? Of is ons dalk, terwyl ons besig is met daaglikse bedrywighede, skaam om ons as Jehovah se Getuies te identifiseer, miskien weens ons gedrag of weens ons kleredrag? Mag dit nooit gebeur nie! Jehovah se knegte wil niks doen wat moontlik God se naam oneer sal aandoen nie.—Jes. 43:10; 2 Kor. 6:3, 4, 9.
6 Kom ons ondersoek hoe ’n begeerte om “met [ons] hele siel soos vir Jehovah” te werk, ’n aantal gebiede van die lewe raak. Terwyl ons dit doen, moet jy in gedagte hou dat al die offerandes wat die Israeliete vir Jehovah aangebied het, die allerbeste moes wees wat hulle gehad het.—Eks. 23:19.
HOE DIT JOU LEWE RAAK
7. Wat is betrokke by Christelike toewyding?
7 Toe jy jou aan Jehovah toegewy het, het jy die besluit sonder voorbehoud geneem, nie waar nie? Jy het in werklikheid gesê dat jy Jehovah in elke aspek van jou lewe eerste sal stel. (Lees Hebreërs 10:7.) Dit was ’n goeie besluit. Jy het ongetwyfeld al gesien dat dit voortreflike resultate lewer wanneer jy daarna streef om uit te vind wat Jehovah se wil in ’n saak is en in ooreenstemming daarmee probeer optree (Jes. 48:17, 18). God se volk is heilig en vreugdevol omdat hulle die eienskappe weerspieël van die Een wat hulle onderrig.—Lev. 11:44; 1 Tim. 1:11.
8. Wat beteken dit vir ons dat Jehovah offerandes in die ou tyd as heilig beskou het?
8 Die offerandes wat die Israeliete aan Jehovah gebring het, is as heilig beskou (Lev. 6:25; 7:1). Die Hebreeuse woord wat met “heiligheid” vertaal word, dra die gedagte oor van afgesonderdheid, eksklusiwiteit of gewydheid aan God. As ons wil hê dat ons offerandes vir Jehovah aanneemlik moet wees, moet dit afgesonderd wees van en onbesmet wees deur wêreldse invloede. Ons kan niks liefhê wat Jehovah haat nie. (Lees 1 Johannes 2:15-17.) Dit beteken inderdaad dat ons niks met enigiemand of enigiets te doen moet hê wat ons vanuit God se standpunt sal verontreinig nie (Jes. 2:4; Op. 18:4). Dit beteken ook dat ons nie ons oë kan toelaat om te bly kyk na wat onrein of onsedelik is of ons verstand kan toelaat om oor sulke dinge te fantaseer nie.—Kol. 3:5, 6.
9. Hoe belangrik is ’n Christen se optrede teenoor ander, en waarom?
9 Paulus het medegelowiges aangespoor: “[Moenie] vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik” (Heb. 13:16). As dit dus ons gewoonte is om goed te wees en aan ander goed te doen, is dit iets wat Jehovah as ’n aanneemlike offerande aan hom beskou. Liefdevolle besorgdheid oor ander is ’n kenmerk van ware Christene.—Joh. 13:34, 35; Kol. 1:10.
OFFERANDES IN AANBIDDING
10, 11. Hoe beskou Jehovah ons Christelike bediening en aanbidding, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
10 Een van die opvallendste maniere waarop ons as Christene goeie dinge vir ander doen, is deur “die openbare bekendmaking van ons hoop”. Gryp jy elke geleentheid aan om te getuig? Paulus het hierdie noodsaaklike Christelike bedrywigheid beskryf as “’n lofoffer . . . , dit wil sê die vrug van die lippe wat [God se] naam in die openbaar bekend maak” (Heb. 10:23; 13:15; Hos. 14:2). Baie kan gesê word oor die hoeveelheid en gehalte van die tyd wat ons aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk bestee, en baie Diensvergaderingdele is bedoel om ons denke in verband hiermee te stimuleer. Maar kortom, aangesien ons velddiens en informele getuieniswerk “’n lofoffer” is, ’n deel van ons aanbidding, moet hierdie offerande die allerbeste wees wat ons kan bring. Hoewel omstandighede verskil, is die hoeveelheid tyd wat ons aan die verkondiging van die goeie nuus bestee, dikwels ’n weerspieëling van ons waardering vir geestelike dinge.
11 Christene bestee gereeld tyd aan aanbidding, hetsy op hulle eie of saam met ander. Jehovah vereis dat ons dit doen. Ons hoef weliswaar nie meer ’n streng Sabbatsrus te onderhou of gereeld na feeste in Jerusalem te reis nie. Maar hierdie eertydse gebruike het wel hulle ekwivalente in die Christelike lewenswyse. God verwag nog steeds van ons om dooie werke te staak en sy Woord te bestudeer, te bid en Christelike vergaderinge by te woon. En Christengesinshoofde neem die inisiatief om gesinsaanbidding met die lede van hulle gesin te hou (1 Tess. 5:17; Heb. 10:24, 25). Aangaande ons geestelike bedrywighede kan ons ons gerus afvra: ‘Kan ek die gehalte van my aanbidding verbeter?’
12. (a) Waarmee kan die reukwerk wat destyds in aanbidding geoffer is, vandag vergelyk word? (b) Watter uitwerking moet hierdie vergelyking op die inhoud van ons gebede hê?
12 Koning Dawid het vir Jehovah gesing: “Mag my gebed soos reukwerk voor u berei word” (Ps. 141:2). Dink vir ’n oomblik aan jou gebede—aan die gereeldheid en gehalte daarvan. Die boek Openbaring vergelyk “die gebede van die heiliges” met reukwerk in die sin dat aanneemlike gebede soos ’n welriekende en aangename geur na Jehovah opstyg (Op. 5:8). In eertydse Israel moes die reukwerk wat gereeld op Jehovah se altaar geoffer is, noukeurig en volgens ’n presiese resep voorberei word. Dit was vir Jehovah slegs aanneemlik as dit geoffer is volgens die riglyne wat hy gestel het (Eks. 30:34-37; Lev. 10:1, 2). As ons hartgrondige gebede op soortgelyke wyse saamgestel word, kan ons seker wees dat dit vir Jehovah aanneemlik is.
OM TE GEE EN TE ONTVANG
13, 14. (a) Watter diens het Epafroditus en die gemeente in Filippi aan Paulus bewys, en hoe het die apostel hieroor gevoel? (b) Hoe kan ons die voorbeeld van Epafroditus en die Filippense volg?
13 Finansiële bydraes ter ondersteuning van die wêreldwye werk kan met ’n offerande vergelyk word, hetsy ons baie of min gee (Mark. 12:41-44). In die eerste eeu HJ het die gemeente in Filippi Epafroditus na Rome gestuur om na Paulus se fisiese behoeftes om te sien. Hierdie verteenwoordiger van die Filippense het blykbaar ’n geldgeskenk van die gemeente saam met hom geneem. Dit was nie die eerste keer dat die Filippense vrygewigheid aan Paulus betoon het nie. Deur hulle goedhartigheid wou hulle Paulus van finansiële sorge bevry sodat hy meer tyd aan die bediening kon wy. Hoe het Paulus die geskenk beskou? Hy het dit “’n welriekende geur, ’n aanneemlike offerande, welbehaaglik vir God”, genoem. (Lees Filippense 4:15-19.) Paulus het die Filippense se liefdevolle gebaar innig waardeer, en Jehovah het ook.
14 Vandag waardeer Jehovah ook ons bydraes tot die wêreldwye werk grootliks. Daarbenewens belowe hy dat hy in al ons geestelike en fisiese behoeftes sal voorsien as ons voortgaan om Koninkryksbelange eerste in ons lewe te stel.—Matt. 6:33; Luk. 6:38.
TOON JOU WAARDERING
15. Wat is van die dinge waarvoor jy dankbaar is teenoor Jehovah?
15 Dit sal lank neem om al die redes op te noem wat ons het om dankbaar te wees teenoor Jehovah. Moet ons hom nie elke dag bedank vir die gawe van lewe nie? Hy gee ons alles wat ons nodig het om aan die lewe te bly—kos, klere en onderdak sowel as die lug wat ons inasem. Wat meer is, ons geloof, wat op juiste kennis gegrond is, gee ons hoop. Dit is gepas dat ons Jehovah aanbid en lofoffers aan hom bring, bloot as gevolg van wie hy is en wat hy vir ons doen.—Lees Openbaring 4:11.
16. Hoe moet ons op Christus se losprysoffer reageer?
16 Soos ons in die vorige artikel gesien het, is Christus se losprysoffer ’n baie kosbare gawe van God aan die mensdom. Dit is ’n uitsonderlike blyk van God se liefde vir ons (1 Joh. 4:10). Wat is die gepaste reaksie hierop? Paulus het gesê: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; . . . en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Kor. 5:14, 15). Paulus het in werklikheid gesê dat ons, as ons God se onverdiende goedhartigheid waardeer, ons lewe sal gebruik om Hom en Sy Seun te eer. Ons liefde en waardering vir God en Christus word geopenbaar deur ons gehoorsaamheid en deur ons begeerte om te preek en dissipels te maak.—1 Tim. 2:3, 4; 1 Joh. 5:3.
17, 18. Hoe het party hulle lofoffer aan Jehovah vergroot? Gee ’n voorbeeld.
17 Is dit vir jou moontlik om die lofoffer wat jy aan God bring, te verbeter? Nadat hulle nagedink het oor al die goeie dinge wat Jehovah vir hulle gedoen het, is baie beweeg om hulle tyd en bedrywighede so te reël dat hulle ’n groter deelname aan die Koninkrykspredikingswerk of ander teokratiese bedrywighede kon hê. Party kan elke jaar ’n maand of meer hulppionierdiens doen, terwyl ander gewone pioniers geword het. Nog ander neem deel aan Koninkryksbouprojekte. Is dit nie uitstekende maniere om waardering te toon nie? As hierdie dade van heilige diens met die regte beweegrede verrig word—om waardering en dankbaarheid te toon—is dit vir God aanneemlik.
18 Baie Christene het gevoel dat hulle dank aan Jehovah verskuldig is, en dit het hulle tot dade aangespoor. Morena is een van hulle. Sy het na antwoorde op haar geestelike vrae gesoek in Katolisisme, die godsdiens waarin sy grootgemaak is, en in Asiatiese filosofie. Maar sy het nie bevredigende antwoorde daar gevind nie. Eers toe sy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het, is haar geestelike dors geles. Morena was so dankbaar vir die skriftuurlike antwoorde op al haar vrae en vir die bestendigheid wat hierdie antwoorde aan haar lewe verleen het, dat sy Jehovah wou bedank deur al haar energie in sy diens te gebruik. Sy het onmiddellik ná haar doop gereeld hulppionierdiens begin doen, en toe haar omstandighede dit toegelaat het, het sy sonder versuim ’n gewone pionier geword. Dit was 30 jaar gelede, en Morena is nog steeds in die voltydse diens.
19. Hoe kan jy jou offerandes aan Jehovah vergroot?
19 Daar is natuurlik talle getroue knegte van Jehovah wie se omstandighede hulle nie toelaat om pioniers te wees nie. Wat ons ook al in staat is om in Jehovah se diens te doen, ons almal kan aanneemlike geestelike offerandes aan hom bring. In ons gedrag moet ons regverdige beginsels nougeset volg, terwyl ons in gedagte hou dat ons Jehovah te alle tye verteenwoordig. In geloof stel ons volle vertroue in die verwesenliking van God se voornemens. In goeie werke help ons om die goeie nuus te versprei. Laat ons uit die oorvloed van ons hart en uit waardering vir alles wat Jehovah vir ons gedoen het, voortgaan om heelhartige offerandes aan Jehovah te bring.
[Lokteks op bladsy 25]
Beweeg Jehovah se goedheid jou om jou lofoffer te verbeter?
[Prent op bladsy 23]
Gryp jy elke geleentheid aan om te getuig?