“Hou aan om krag te verkry in die Here”
“Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte.”—Efesiërs 6:10.
1. (a) Watter buitengewone geveg het ongeveer 3 000 jaar gelede plaasgevind? (b) Waarom het Dawid die oorwinning behaal?
ONGEVEER 3 000 jaar gelede het twee stryders van twee vyandelike leërs op die slagveld teenoor mekaar te staan gekom. Die jonger stryder was ’n herderseun met die naam Dawid. Voor hom het Goliat gestaan, ’n man wat buitengewoon sterk en groot was. Sy pantser het omtrent 57 kilogram geweeg, en hy het ’n enorme spies en ’n groot swaard gedra. Dawid het absoluut geen wapenrusting aangehad nie, en sy enigste wapen was ’n slinger. Die Filistynse reus Goliat het beledig gevoel dat sy Israelitiese uitdager ’n blote seun was (1 Samuel 17:42-44). Vir die toeskouers aan albei kante het die uiteinde ongetwyfeld na ’n uitgemaakte saak gelyk. Maar die sterkes wen nie altyd die geveg nie (Prediker 9:11). Dawid het die oorwinning behaal omdat hy in Jehovah se krag geveg het. “Die stryd behoort aan Jehovah”, het hy gesê. Die Bybelverslag toon dat “Dawid, met ’n slinger en ’n klip, die oorhand oor die Filistyn gekry” het.—1 Samuel 17:47, 50.
2. Aan watter soort geveg neem Christene deel?
2 Christene neem nie deel aan fisiese oorlogvoering nie. Hoewel hulle vreedsaam teenoor alle mense is, is hulle wel betrokke by ’n geestelike stryd teen uiters magtige teenstanders (Romeine 12:18). In die laaste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs het Paulus ’n geveg beskryf waarin elke Christen gewikkel is. Hy het geskryf: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.”—Efesiërs 6:12.
3. Wat het ons volgens Efesiërs 6:10 nodig as ons suksesvol wil wees?
3 Hierdie “bose geesmagte” is Satan en die demone, wat daarop uit is om ons verhouding met Jehovah God te vernietig. Aangesien hulle baie sterker as ons is, bevind ons ons in ’n soortgelyke situasie as dié van Dawid, en tensy ons op God staatmaak vir krag, kan ons nie oorwin nie. Trouens, Paulus spoor ons aan om “aan [te hou] om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte” (Efesiërs 6:10). Nadat die apostel hierdie raad gegee het, beskryf hy die geestelike voorsienings en die Christelike eienskappe wat ons in staat stel om oorwinnaars te wees.—Efesiërs 6:11-17.
4. Watter twee hoofpunte sal ons in hierdie artikel bespreek?
4 Kom ons ontleed nou wat die Skrif sê oor die taktiek van ons vyande en waarin hulle krag lê. Dan sal ons die verdedigende strategie bespreek wat ons moet gebruik om onsself te beskerm. As ons Jehovah se voorskrifte volg, kan ons vol vertroue wees dat ons vyande nie die oorhand oor ons sal kry nie.
’n Worstelstryd teen bose geesmagte
5. Hoe help die gebruik van die woord “worstelstryd” in Efesiërs 6:12 ons om Satan se strategie te verstaan?
5 Paulus verduidelik dat ons “’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” het. Die vernaamste bose gees is natuurlik Satan die Duiwel, “die heerser van die demone” (Matteus 12:24-26). Die Bybel beeld ons geveg uit as “’n worstelstryd”, of ’n stoeigeveg. In die stoeiwedstryde van eertydse Griekeland het elke deelnemer probeer om sy teenstander sy ewewig te laat verloor sodat hy hom op die grond kon gooi. Die Duiwel wil eweneens hê dat ons ons geestelike ewewig moet verloor. Hoe gaan hy te werk om dit reg te kry?
6. Toon uit die Skrif hoe die Duiwel verskillende taktieke kan gebruik om ons geloof te ondermyn.
6 Die Duiwel kan soos ’n slang, ’n brullende leeu of selfs soos ’n engel van lig optree (2 Korintiërs 11:3, 14; 1 Petrus 5:8). Hy kan van menslike agente gebruik maak om ons te vervolg of te ontmoedig (Openbaring 2:10). Aangesien Satan die hele wêreld tot sy beskikking het, kan hy die begeertes en verloklikhede daarvan gebruik om ons te verstrik (2 Timoteus 2:26; 1 Johannes 2:16; 5:19). Hy kan wêreldse of afvallige denke gebruik om ons te mislei, net soos hy Eva bedrieg het.—1 Timoteus 2:14.
7. Watter beperkings het die demone, en watter dinge tel in ons guns?
7 Hoewel die wapens en die mag van Satan en sy demone moontlik oorweldigend lyk, het hulle beperkings. Hierdie bose geeste kan ons nie dwing om bose dinge te doen wat ons hemelse Vader mishaag nie. Ons is met wilsvryheid geskep, en ons het beheer oor ons gedagtes en dade. Wat meer is, ons is nie alleen in die stryd nie. Wat in Elisa se dag waar was, is ook in ons dag waar: “Dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is” (2 Konings 6:16). Die Bybel verseker ons dat die Duiwel van ons sal wegvlug as ons hom teëstaan en ons aan God onderwerp.—Jakobus 4:7.
Bewus van Satan se planne
8, 9. Watter beproewinge het Satan oor Job gebring om sy onkreukbaarheid te ondermyn, en voor watter geestelike gevare kom ons vandag te staan?
8 Ons is nie onkundig omtrent Satan se planne nie omdat die Skrif sy taktiek openbaar (2 Korintiërs 2:11). Teen die regverdige man Job het die Duiwel ernstige ekonomiese probleme, die dood van geliefdes, gesinsteenstand, fisiese lyding en ongegronde kritiek van valse vriende gebruik. Job het neerslagtig geword en gedink dat God hom verlaat het (Job 10:1, 2). Hoewel Satan vandag moontlik nie die direkte oorsaak van hierdie probleme is nie, word baie Christene wel deur sulke teëspoed geraak, en die Duiwel kan dit uitbuit.
9 Geestelike gevare het skerp toegeneem in hierdie tyd van die einde. Ons lewe in ’n wêreld waar materiële strewes geestelike doelwitte oorskadu. Die media beeld voortdurend ongeoorloofde seks uit as ’n bron van geluk, nie as ’n oorsaak van hartseer nie. En die meeste mense het “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” geword (2 Timoteus 3:1-5). Hierdie denkwyse kan ons geestelike ewewig bedreig as ons nie “hard . . . stry vir die geloof” nie.—Judas 3.
10-12. (a) Wat is een waarskuwing wat Jesus in sy illustrasie van die saaier gegee het? (b) Lig toe hoe geestelike waardes verstik kan word.
10 Een van Satan se sette wat hy met groot sukses gebruik, is om ons diep betrokke te kry by hierdie wêreld en sy materialistiese strewes. Jesus het in sy illustrasie van die saaier gewaarsku dat “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” soms ‘die woord [van die Koninkryk] verstik’ (Matteus 13:18, 22). Die Griekse woord wat hier met “verstik” vertaal word, beteken “verwurg”.
11 In tropiese woude kan ’n mens die wurgvy vind. Dit groei stadig al om die stam van ’n gasheerboom. Stelselmatig rank die plant om sy gasheer en word sy wortels al hoe sterker. Die wurgvy se talryke wortels absorbeer uiteindelik die meeste van die voedingstowwe in die grond onder die boom, terwyl sy blaredak sy gasheer van lig beroof. Eindelik gaan die gasheer dood.
12 Net so kan die sorge van hierdie stelsel asook die strewe na rykdom en ’n gerieflike lewenstyl geleidelik al hoe meer van ons tyd en energie in beslag neem. Omdat ons aandag afgelei word deur die dinge van die wêreld, kan ons maklik persoonlike Bybelstudie verwaarloos en ’n gewoonte daarvan maak om van Christelike vergaderinge af weg te bly, sodat ons afgesny raak van geestelike voeding. Materialistiese doelwitte vervang nou geestelike strewes, en ons word uiteindelik maklike prooi vir Satan.
Ons moet vasstaan
13, 14. Watter standpunt moet ons inneem wanneer Satan ons teëstaan?
13 Paulus het medegelowiges aangespoor om “[vas te staan] teen die sette van die Duiwel” (Efesiërs 6:11). Ons kan natuurlik nie die Duiwel en sy demone uit die weg ruim nie. God het daardie taak aan Jesus Christus opgedra (Openbaring 20:1, 2). Maar totdat Satan verwyder is, moet ons “vasstaan” sodat sy aanvalle ons nie oorweldig nie.
14 Die apostel Petrus het ook die belangrikheid daarvan beklemtoon om vas te staan teen Satan. “Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, het Petrus geskryf. “Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind. Maar weerstaan hom, vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word” (1 Petrus 5:8, 9). Die ondersteuning van ons geestelike broers en susters is in werklikheid uiters belangrik vir ons om te kan vasstaan wanneer die Duiwel ons soos ’n brullende leeu aanval.
15, 16. Gee ’n skriftuurlike voorbeeld om te toon hoe die ondersteuning van medegelowiges ons kan help om vas te staan.
15 Wanneer ’n leeu op die grasvlaktes van Afrika in die nabyheid van wildsbokke brul, reageer hulle dalk deur blitsvinnig weg te hardloop totdat hulle buite gevaar is. Olifante verskaf egter ’n voorbeeld van wedersydse ondersteuning. Die boek Elephants—Gentle Giants of Africa and Asia verduidelik: “’n Verdedigingsmetode wat ’n olifanttrop gewoonlik gebruik, is om ’n sirkel met hulle liggame te vorm; die volwassenes kyk buitentoe, in die rigting van die gevaar, en die jong diere word binne die kring beskerm.” Leeus wat voor so ’n vertoning van krag en ondersteuning te staan kom, sal selde selfs jong olifante aanval.
16 Wanneer Satan en sy demone ons bedreig, moet ons eweneens saamstaan, skouer aan skouer met ons broers wat vasstaan in die geloof. Paulus het erken dat sekere mede-Christene gedurende sy gevangenskap in Rome vir hom “’n versterkende hulp” was (Kolossense 4:10, 11). Die Griekse woord wat met “versterkende hulp” vertaal word, verskyn net een keer in die Christelike Griekse Geskrifte. Volgens Vine se Expository Dictionary of New Testament Words “dui ’n werkwoordvorm van die woord op medisyne wat irritasie verlig”. Soos strelende salf kan die ondersteuning van geestelik volwasse aanbidders van Jehovah die pyn verlig wat deur emosionele of fisiese lyding veroorsaak word.
17. Wat kan ons help om aan God getrou te bly?
17 Vandag kan aanmoediging van mede-Christene ons versterk in ons voorneme om God getrou te dien. Veral Christen- ouer manne is gretig om geestelike hulp te voorsien (Jakobus 5:13-15). Hulpmiddele om getrou te bly, is onder meer gereelde Bybelstudie en die bywoning van Christelike vergaderinge en byeenkomste. Ons eie hegte verhouding met God help ons om aan hom getrou te bly. Ja, hetsy ons eet of drink of enigiets anders doen, ons begeerte moet wees om alles tot heerlikheid van God te doen (1 Korintiërs 10:31). Biddende vertroue op Jehovah is natuurlik onontbeerlik as ons op ’n weg wil bly wat hom behaag.—Psalm 37:5.
18. Waarom moet ons nie moed opgee nie, al beroof moeilike omstandighede ons van ons krag?
18 Soms val Satan ons aan wanneer ons nie geestelik sterk voel nie. ’n Leeu val gewoonlik ’n verswakte dier aan. Dinge soos gesinsprobleme, ekonomiese ontberinge of siekte kan ons van ons geestelike krag beroof. Maar laat ons nie ophou om te doen wat God behaag nie, want Paulus het gesê: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korintiërs 12:10; Galasiërs 6:9; 2 Tessalonisense 3:13). Wat het hy bedoel? Hy het bedoel dat die krag van God vir ons menslike swakhede kan vergoed, mits ons ons tot Jehovah wend vir krag. Dawid se oorwinning oor Goliat toon dat God sy knegte kan en sal versterk. Hedendaagse Getuies van Jehovah kan daarvan getuig dat hulle in tye van uiterste beproewinge die versterkende hand van God ervaar het.—Daniël 10:19.
19. Gee ’n voorbeeld om te toon hoe Jehovah sy knegte kan versterk.
19 Een egpaar het aangaande die ondersteuning wat God hulle gegee het, geskryf: “Deur die jare heen het ons Jehovah as man en vrou gedien en baie seëninge geniet, asook talle wonderlike mense leer ken. Jehovah het ons ook geleer en versterk om ontberinge met welslae te verduur. Soos Job het ons nie altyd verstaan waarom sekere dinge gebeur het nie, maar ons het geweet dat Jehovah altyd daar is om ons te help.”
20. Watter skriftuurlike bewyse toon dat Jehovah altyd sy knegte ondersteun?
20 Jehovah se hand is nie te kort om sy getroue knegte te ondersteun en te versterk nie (Jesaja 59:1). Die psalmis Dawid het gesing: “Jehovah ondersteun almal wat val en rig almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14). Ja, ons hemelse Vader ‘dra elke dag die vrag vir ons’ en voorsien ons van wat ons werklik nodig het.—Psalm 68:19.
Ons het “die volle wapenrusting van God” nodig
21. Hoe het Paulus klem gelê op die belangrikheid van die geestelike wapenrusting?
21 Ons het ’n paar van Satan se metodes bespreek en gesien hoe belangrik dit is dat ons vasstaan wanneer ons voor sy aanvalle te staan kom. Nou moet ons nog ’n noodsaaklike voorsiening bespreek wat ons help om ons geloof met welslae te verdedig. In sy brief aan die Efesiërs het die apostel Paulus twee keer melding gemaak van ’n onontbeerlike faktor wat ons help om vas te staan teen Satan se sette en om oorwinnaars te wees in ons worstelstryd teen bose geesmagte. Paulus het geskryf: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel . . . Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle in die bose dag weerstand kan bied en, nadat julle alles deeglik gedoen het, kan vasstaan.”—Efesiërs 6:11, 13.
22, 23. (a) Wat sluit ons geestelike wapenrusting in? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
22 Ja, ons moet “die volle wapenrusting van God” dra. Toe Paulus sy brief aan die Efesiërs geskryf het, is hy deur ’n Romeinse soldaat bewaak, wat dalk soms ’n volle wapenrusting gedra het. Maar dit was onder goddelike inspirasie dat die apostel beweeg is om die geestelike wapenrusting te bespreek wat elke kneg van Jehovah dringend nodig het.
23 Hierdie godgegewe wapenrusting sluit eienskappe in wat ’n Christen moet hê sowel as geestelike voorsienings wat Jehovah maak. In die volgende artikel sal ons elke deel van die geestelike wapenrusting ondersoek. Dit sal ons in staat stel om te bepaal in watter mate ons toegerus is vir ons geestelike oorlogvoering. Terselfdertyd sal ons sien hoe die wonderlike voorbeeld van Jesus Christus ons help om Satan die Duiwel met welslae te weerstaan.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter stryd voer alle Christene?
• Beskryf party van Satan se taktieke.
• Hoe kan die ondersteuning van medegelowiges ons versterk?
• Op wie se krag moet ons staatmaak, en waarom?
[Prente op bladsy 11]
Christene ‘het ’n worstelstryd teen bose geesmagte’
[Prent op bladsy 12]
Sorge van hierdie stelsel kan die woord van die Koninkryk verstik
[Prent op bladsy 13]
Mede-Christene kan “’n versterkende hulp” wees
[Prent op bladsy 14]
Bid jy tot God vir krag?