God gee om vir die bejaardes
DIT is nie verbasend dat die mishandeling van bejaardes vandag so algemeen is nie. Die Bybel het lank gelede voorspel dat mense in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel “liefhebbers van hulleself [sal] wees, . . . sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:1-3). Die Griekse woord wat met “natuurlike geneentheid” vertaal word, kan die liefde insluit wat normaalweg tussen gesinslede bestaan. Soos Bybelprofesie toon, is daar vandag ’n merkbare gebrek aan hierdie soort geneentheid.
In skerp teenstelling met diegene wat bejaardes mishandel, beskou Jehovah God die oues van dae as baie kosbaar en gee hy om vir hulle. Let op hoe die Bybel dit bevestig.
“’n Regter van weduwees”
Jehovah God se besorgdheid oor bejaardes blyk duidelik uit die Hebreeuse Geskrifte. Byvoorbeeld, in Psalm 68:5 noem Dawid God “’n regter van weduwees”, wat dikwels bejaardes is.a In ander Bybelvertalings word die woord “regter” vertaal met “verdediger”, “beskermer” en “kampvegter”. Dit is duidelik dat Jehovah omgee vir weduwees. Trouens, die Bybel sê selfs dat sy toorn ontvlam as hulle sleg behandel word (Eksodus 22:22-24). Weduwees—en alle getroue bejaardes—is baie kosbaar in die oë van God en sy knegte. In Spreuke 16:31 sien ons wat Jehovah God en sy volk se beskouing is wanneer dit sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word.”
Dit is geen wonder nie dat respek vir bejaardes ’n fundamentele deel van die Wet was wat Jehovah aan Israel gegee het. Die Israeliete is beveel: “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon, en jy moet jou God vrees. Ek is Jehovah” (Levitikus 19:32). In Israel was eerbied vir bejaardes dus ten nouste verbonde aan ’n Israeliet se verhouding met Jehovah God. Hy kon nie sê dat hy God liefhet as hy bejaardes sleg behandel nie.
Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie. Maar hulle is wel onder “die wet van die Christus”, wat ’n diepgaande uitwerking het op hulle gedrag en gesindheid, en dit sluit in dat hulle liefde vir en besorgdheid teenoor hulle ouers en bejaardes toon (Galasiërs 6:2; Efesiërs 6:1-3; 1 Timoteus 5:1-3). En Christene betoon nie net liefde omdat hulle beveel word om dit te doen nie, maar omdat hulle hart hulle beweeg. “Julle [moet] mekaar intens liefhê uit die hart”, het die apostel Petrus gemaan.—1 Petrus 1:22.
Die dissipel Jakobus gee ons verdere rede om na bejaardes om te sien. Hy het geskryf: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar” (Jakobus 1:27). Jakobus maak ’n treffende punt. Dit maak ons bewus van hoe belangrik hierdie dierbares vir Jehovah is.
Om ons bloot daarvan te weerhou om bejaardes te mishandel, is dus nie genoeg nie. Ons moet eerder ons daadwerklike besorgdheid oor hulle toon deur positiewe dade te verrig. (Sien die venster “Liefde in aksie”, op bladsye 6-7.) Jakobus het geskryf: “Geloof sonder werke is dood.”—Jakobus 2:26.
Vertroosting “in hulle verdrukking”
Ons kan nog ’n les uit Jakobus se woorde leer. Let op dat Jakobus vir Christene gesê het om na weduwees om te sien “in hulle verdrukking”. Die Griekse woord wat met “verdrukking” vertaal word, beteken basies die benoudheid, beproewinge of lyding wat ons ervaar weens die druk van ons omstandighede in die lewe. Dit ly geen twyfel nie dat baie bejaardes sulke benoudheid verduur. Party is eensaam. Ander is neerslagtig weens die beperkings wat met die ouderdom gepaardgaan. Selfs dié wat redelik bedrywig in hulle diens aan God is, kan ontmoedig raak. Dink byvoorbeeld aan John,b wat al meer as vier dekades lank as ’n getroue verkondiger van God se Koninkryk dien, en die laaste drie dekades in spesiale voltydse diens deurgebring het. John is nou in sy tagtigerjare en hy erken dat hy soms mismoedig voel. Hy sê: “Ek kyk dikwels terug en onthou my foute, soveel foute. Ek dink gedurig dat ek beter kon gedoen het.”
Hierdie persone kan vertroosting vind in die wete dat Jehovah, hoewel hy volmaak is, nie ’n perfeksionis is nie. Al is hy bewus van ons foute, sê die Bybel van hom: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Ja, Jehovah sien verder as ons foute en let op wat in ons hart is. Hoe weet ons dit?
Koning Dawid—wat self met foute en onvolmaaktheid geworstel het—is deur God geïnspireer om die volgende woorde te skryf, wat in Psalm 139:1-3 opgeteken staan: “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my. U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet. My gaan en my lê het u afgemeet, en met al my weë het u vertroud geraak.” Hier beteken die woord “afgemeet” letterlik om te “sif”, baie soos wanneer ’n plaasboer die graan van die kaf skei deur dit te sif. Onder goddelike inspirasie verseker Dawid ons dat Jehovah weet hoe om ons goeie werke uit te sif en dit in sy geheue te bewaar.
Ons barmhartige hemelse Vader onthou—en waardeer—ons goeie werke solank ons getrou aan hom bly. Trouens, die Bybel sê dat hy dit as ’n daad van onregverdigheid sou beskou as hy ons werk en die liefde wat ons vir sy naam getoon het, sou vergeet.—Hebreërs 6:10.
“Die vorige dinge het verbygegaan”
Die Bybel toon dat die probleme wat met veroudering gepaardgaan, nie deel van God se voorneme met die mensdom was nie. Dit was eers nadat ons eerste ouers, die eerste man en vrou, teen hulle Skepper in opstand gekom het, dat die aftakelende gevolge van veroudering deel van die mens se ondervinding geword het (Genesis 3:17-19; Romeine 5:12). Dit sal nie vir ewig voortduur nie.
Soos reeds getoon is, bewys baie van die slegte toestande wat ons vandag ondervind—insluitende die slegte behandeling van bejaardes—dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1). God se voorneme is om die gevolge van sonde ongedaan te maak, insluitende die skade wat veroudering en die dood veroorsaak het. Die Bybel sê: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
In God se nuwe wêreld sal al die pyne en kwale wat met die ouderdom gepaardgaan, iets van die verlede wees. So ook die mishandeling van bejaardes (Miga 4:4). Selfs diegene wat gesterf het en in God se geheue is, sal weer lewend gemaak word, sodat hulle ook die geleentheid sal hê om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Johannes 5:28, 29). Dan sal dit duideliker as ooit tevore wees dat Jehovah God nie net vir bejaardes omgee nie, maar vir almal wat hom gehoorsaam.
[Voetnote]
a Party weduwees is natuurlik nie bejaard nie. Die feit dat God ook vir jonger weduwees omgee, sien ons byvoorbeeld in Levitikus 22:13.
b Nie sy regte naam nie.
[Venster/Prente op bladsy 6, 7]
Liefde in aksie
Onder Jehovah se Getuies neem gemeentelike ouer manne die leiding om na die bejaardes om te sien. Hulle neem die apostel Petrus se vermaning ernstig op: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is” (1 Petrus 5:2). Hulle sorg onder andere vir God se kudde deur op praktiese maniere na die bejaardes om te sien. Maar wat kan dit behels?
Dit verg geduld en moontlik ’n aantal besoeke en gesprekke om te bepaal presies wat die behoeftes van ’n bejaarde is. Dalk het hulle hulp nodig wanneer dit kom by inkopies of skoonmaak, vervoer na Christelike vergaderinge, die lees van die Bybel en Christelike publikasies en baie ander dinge. Waar moontlik moet praktiese en betroubare reëlings getref en deurgevoer word.c
Maar sê nou ’n ouer broer of suster in die gemeente raak behoeftig—dalk het hulle geldelike hulp nodig? Eerstens sal dit goed wees om uit te vind of daar kinders of ander familielede is wat kan help. Dit sal in ooreenstemming wees met die woorde in 1 Timoteus 5:4: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë.”
Die bejaarde het moontlik hulp nodig om vas te stel of hy of sy kwalifiseer vir enige voorsiening wat die regering dalk maak. Miskien kan sommige in die gemeente hiermee help. As daar geen voorsiening beskikbaar is nie, kan die ouer manne bepaal of die individu kwalifiseer vir hulp van die gemeente. In party gevalle is dit in die eerste-eeuse gemeente toegelaat, want die apostel Paulus het aan sy medewerker Timoteus geskryf: “Laat ’n weduwee op die lys geplaas word wat nie minder nie as sestig jaar oud is, die vrou van een man, van wie getuienis afgelê word omtrent goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, as sy vreemdelinge gasvry ontvang het, as sy die voete van heiliges gewas het, as sy die verdruktes gehelp het, as sy elke goeie werk ywerig nagestreef het.”—1 Timoteus 5:9, 10.
[Voetnoot]
c Vir ’n verdere bespreking, sien die artikel “Voorsien in die behoeftes van ons bejaardes—’n Christelike uitdaging”, in Die Wagtoring van 15 Julie 1988.
[Prent op bladsy 5]
Dorkas het na behoeftige weduwees omgesien.—Handelinge 9:36-39