Die Bybel se beskouing
Moet Christene arm wees?
JESUS het eenkeer vir ’n ryk jong heerser gesê dat hy al sy besittings moet gaan verkoop en vir die armes moet gee. Die verslag sê dat die man hartseer geword het oor Jesus se woorde en bedroef weggegaan het, “want hy het baie besittings gehad”. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal dit tog vir dié met geld wees om in die koninkryk van God in te gaan!” Jesus het bygevoeg: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”—Markus 10:21-23; Matteus 19:24.
Wat het Jesus bedoel? Is rykdom en ware aanbidding onverenigbaar? Moet Christene skuldig voel as hulle baie geld het? Verwag God dat hulle materieel ’n eenvoudige lewe moet lei?
God verwelkom “alle soorte mense”
In die ou tyd het God nie vereis dat die Israeliete in armoede moet lewe nie. Byvoorbeeld: Nadat die land onder die volk verdeel is, het hulle begin boer en handel dryf om in hulle en hulle geliefdes se behoeftes te voorsien. Faktore soos ekonomiese toestande, die weer, gesondheid of sakevernuf sou die sukses van hulle pogings beïnvloed. Die Wet van Moses het Israeliete beveel om medelye te hê met enigiemand wat finansieel gesukkel het en arm geword het (Levitikus 25:35-40). Daarenteen het party ryk geword. Boas, ’n man van geloof en onkreukbaarheid wat ’n voorouer van Jesus Christus geword het, word beskryf as “’n baie ryk man”.—Rut 2:1.
Die situasie was nog dieselfde in Jesus se dag. Toe hy met die ryk man gepraat het wat aan die begin genoem is, was dit nie Jesus se doel om strenge onthouding te bevorder nie. Hy het eerder ’n belangrike les oorgedra. Vanuit ’n menslike standpunt lyk dit dalk of dit vir ryk mense onmoontlik is om nederig te wees en God se middel tot redding te aanvaar. Tog het Jesus gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”—Matteus 19:26.
Die eerste-eeuse Christengemeente het “alle soorte mense” verwelkom (1 Timoteus 2:4). Onder hulle was mense wat ryk was, ander wat ’n gerieflike bestaan gevoer het en baie wat arm was. Party was miskien al ryk voordat hulle Christene geword het. Ander het dalk later weens gunstige omstandighede en verstandige sakebesluite ryk geword.
Net so is daar ook vandag in die Christenbroederskap mense met verskillende ekonomiese omstandighede. Hulle almal probeer die Bybel se riglyne oor geldsake volg, aangesien materialisme enigiemand kan beïnvloed. Die les wat Jesus in die geval van die ryk jong heerser oorgedra het, waarsku elke Christen teen die kragtige houvas wat geld en besittings op ’n mens kan hê.—Markus 4:19.
’n Waarskuwing vir dié wat ryk is
Hoewel rykdom op sigself nie in die Bybel veroordeel word nie, word die liefde vir geld wel veroordeel. Die Bybelskrywer Paulus het gesê: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.” Hy het daarop gewys dat sommige persone geestelike belange opgeoffer het omdat hulle ryk wou word, en sodoende is hulle “van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor”.—1 Timoteus 6:10.
Paulus het, interessant genoeg, spesifieke riglyne vir die rykes gegee. Hy het gesê: “Beveel dié wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge, om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf” (1 Timoteus 6:17). Blykbaar bestaan die gevaar dat ryk mense trots kan word en op ander kan neersien. Hulle kan ook in die versoeking kom om te dink dat rykdom ware veiligheid kan bied—iets wat net God werklik kan voorsien.
Welgestelde Christene kan teen hierdie gevare waak deur “ryk te wees in goeie werke”. Hierdie werke sluit in om “vrygewig te wees, mededeelsaam” en milddadig te gee aan dié wat behoeftig is (1 Timoteus 6:18). Christene—ryk en arm—kan ook van hulle middele gebruik om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, iets wat vir ware Christene van vandag baie belangrik is. So ’n vrygewige gees toon dat iemand die regte gesindheid ten opsigte van materiële dinge het en maak hom geliefd by Jehovah God en Jesus Christus, wat blymoedige gewers liefhet.—Matteus 24:14; Lukas 16:9; 2 Korintiërs 9:7.
Die belangriker dinge
Dit is duidelik dat daar nie van Christene verwag word om arm te wees nie. En hulle moet ook nie “vasbeslote [wees] om ryk te wees” nie (1 Timoteus 6:9). Hulle werk eenvoudig hard om ’n redelike bestaan te maak. Verskillende faktore en die ekonomiese stelsel waaronder hulle lewe, sal bepaal in watter mate hulle finansieel suksesvol is.—Prediker 11:6.
Wat hulle finansiële omstandighede ook al is, Christene moet “seker . . . maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Deur geestelike belange eerste te stel, sal hulle “vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat . . . bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”.—1 Timoteus 6:19.