Lê jou daarop toe om beter te lees
DIERE kan nie doen wat jy nou doen nie. Een uit elke 6 mense het nie geleer lees nie—dikwels omdat hulle nie die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie—en baie wat wel leer lees het, doen dit nie gereeld nie. En tog stel jou vermoë om die gedrukte woord te lees jou in staat om ander lande te besoek, om mense te ontmoet wie se lewe joune kan verryk en om praktiese kennis op te doen wat jou sal help om die sorge van die lewe die hoof te bied.
’n Jong persoon se vermoë om te kan lees, sal ’n invloed hê op hoeveel voordeel hy uit sy skoolopleiding trek. Wanneer hy werk soek, kan sy leesvermoë bepaal watter soort werk hy gaan kry en hoeveel ure hy moet werk om ’n bestaan te maak. Huisvrouens wat goed kan lees, kan beter vir hulle gesin sorg wanneer dit kom by voedsame kos, higiëne en die voorkoming van siektes. Moeders wat goeie lesers is, kan ook ’n baie positiewe invloed op die verstandelike ontwikkeling van hulle kinders uitoefen.
Die grootste voordeel wat jou leesvermoë natuurlik meebring, is dat dit jou in staat kan stel om “die kennis van God [te] vind” (Spr. 2:5). Baie van die dinge wat ons in God se diens doen, vereis dat ons moet kan lees. Die Skrif en Bybelpublikasies word by gemeentelike vergaderinge gelees. Jou bekwaamheid in die veldbediening word grootliks beïnvloed deur jou leesvermoë. En jy moet kan lees om vir hierdie bedrywighede voor te berei. Om hierdie rede hang jou geestelike groei tot ’n groot mate van jou leesgewoontes af.
Maak goed gebruik van die geleentheid
Party wat God se weë leer, het beperkte skoolopleiding gehad. Hulle moet dalk geleer word om te lees sodat hulle vinniger geestelike vooruitgang kan maak. Of hulle het moontlik persoonlike hulp nodig om beter te kan lees. As daar ’n plaaslike behoefte is, probeer gemeentes lees-en-skryf-klasse organiseer wat op die publikasie Apply Yourself to Reading and Writing gebaseer is. Derduisende het al grootliks by hierdie voorsiening baat gevind. Omdat dit so belangrik is om goed te kan lees, tref party gemeentes reëlings vir leesklasse wat saam met die Teokratiese Bedieningskool gehou word. Selfs waar sulke klasse nie gehou word nie, kan ’n mens goeie vordering maak deur elke dag tyd opsy te sit om hardop te lees en deur gereeld die skool by te woon en daaraan deel te neem.
Ongelukkig het dinge soos strokiesverhale en televisie veroorsaak dat baie mense lees verwaarloos. Iemand wat baie televisie kyk en min lees, sal moontlik sukkel om leesvaardighede te ontwikkel, sowel as die vermoë om helder te dink, te redeneer en hom goed uit te druk.
Die “getroue en verstandige slaaf” voorsien publikasies wat ons help om die Bybel te verstaan. Dit stel ’n skat van kennis oor lewensbelangrike geestelike sake beskikbaar (Matt. 24:45; 1 Kor. 2:12, 13). Dit hou ons ook op hoogte van belangrike verwikkelinge in die wêreld en die betekenis daarvan, dit help ons om die sigbare wêreld beter te leer ken en leer ons hoe om kwessies wat ons raak, te hanteer. Bowenal vestig dit ons aandag op hoe ons God op aanneemlike wyse kan dien en sy goedkeuring kan verkry. Sulke heilsame leesstof sal jou help om as ’n geestelike mens te groei.
Die vermoë om goed te lees, is natuurlik nie al wat belangrik is nie. Die vaardigheid moet ook reg gebruik word. Net soos ’n mens selektief moet wees met wat jy eet, moet jy ook selektief wees met wat jy lees. Waarom sou jy voedsel eet wat nie werklik voedingswaarde het nie of wat jou selfs kan vergiftig? Waarom sou jy eweneens, selfs net vir ontspanning, materiaal lees wat die verstand en hart kan besoedel? Bybelbeginsels moet die standaard wees waarteen ons al ons leesstof meet. Voordat jy besluit wat jy sal lees, moet jy tekste in gedagte hou soos Prediker 12:12, 13; Efesiërs 4:22-24; 5:3, 4; Filippense 4:8; Kolossense 2:8; 1 Johannes 2:15-17 en 2 Johannes 10.
Lees met die regte beweegrede
Wanneer ’n mens die Evangelieverslae ondersoek, word dit duidelik waarom die regte beweegrede belangrik is wanneer jy lees. Byvoorbeeld, in Matteus se Evangelie vra Jesus geleerde godsdiensleiers vrae soos: “Het julle nie gelees [nie]?” en “Het julle nooit gelees nie?” voordat hy hulle die skriftuurlike antwoorde op hulle slinkse vrae gegee het (Matt. 12:3, 5; 19:4; 21:16, 42; 22:31). Een les wat ons hieruit leer, is dat ons verkeerde gevolgtrekkings kan maak of die punt heeltemal kan mis as ons met die verkeerde beweegrede lees. Die Fariseërs het die Skrif gelees omdat hulle gedink het dat hulle die ewige lewe daardeur sou verkry. Hierdie beloning, het Jesus verduidelik, word nie aan diegene gegee wat nie lief is vir God en nie Sy middel tot redding aanvaar nie (Joh. 5:39-43). Die Fariseërs se beweegrede was selfsugtig; daarom was baie van hulle gevolgtrekkings verkeerd.
Liefde vir Jehovah is die suiwerste beweegrede wat ons kan hê om sy Woord te lees. Hierdie liefde beweeg ons om uit te vind wat God se wil is, want die liefde “is bly saam met die waarheid” (1 Kor. 13:6). As ons Jehovah met ons “hele verstand” liefhet, sal dit ons beweeg om ons verstand kragtig in te span om kennis van God in te neem, al het ons dit in die verlede nie geniet om te lees nie (Matt. 22:37). Liefde wakker belangstelling aan, en belangstelling maak ons gretig om te leer.
Gee aandag aan jou leestempo
Lees gaan hand aan hand met herkenning. Selfs nou, terwyl jy lees, herken jy woorde en onthou jy hulle betekenis. Jy kan jou leestempo verbeter as jy jou herkenningsveld vergroot. Pleks van na elke woord te kyk, moet jy ’n hele paar woorde op ’n slag probeer sien. Namate jy hierdie vermoë ontwikkel, sal jy vind dat jy beter verstaan wat jy lees.
Maar wanneer jy dieper materiaal lees, sal jy dalk meer by jou leeswerk baat vind as jy ’n ander metode gebruik. Jehovah het Josua raad gegee oor die manier waarop hy die Skrif moes lees en gesê: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees” (Jos. 1:8). ’n Mens praat dikwels op gedempte toon wanneer jy peins. Daarom word die Hebreeuse woord wat met ‘op gedempte toon lees’ vertaal word, ook met “peins” vertaal (Ps. 63:6; 77:12; 143:5). Wanneer iemand peins, dink hy diep; hy is nie haastig nie. Wanneer ’n mens God se Woord peinsend lees, laat jy toe dat dit ’n groter indruk op jou verstand en hart maak. Die Bybel bevat profesieë, raad, spreuke, poësie, verklarings van God se oordele, besonderhede oor Jehovah se voornemens en ’n oorvloed van werklike voorbeelde—wat alles kosbaar is vir diegene wat in Jehovah se weë wil wandel. Hoe voordelig is dit tog as ’n mens die Bybel só lees dat dit diep op jou verstand en hart ingeprent word!
Leer om te konsentreer
Terwyl jy lees, moet jy jou indink in elke toneel wat beskryf word. Probeer jou die karakters in jou gedagtes voorstel, en leef jou in in die gebeure wat in hulle lewe plaasvind. Dit is redelik maklik wanneer ’n mens ’n verslag lees soos die een oor Dawid en Goliat, wat in 1 Samuel hoofstuk 17 opgeteken is. Maar selfs besonderhede in Eksodus en Levitikus oor die oprigting van die tabernakel of die inhuldiging van die priesterdom sal groter betekenis aanneem wanneer jy visualiseer wat die afmetings is en watter materiaal gebruik is of wanneer jy jou die geur voorstel van die reukwerk, die geroosterde graan en die diere wat as brandoffers gebring is. Dink net watter ontsagwekkende voorreg dit moes gewees het om as ’n priester te dien! (Luk. 1:8-10). As jy jou sintuie en jou emosies op hierdie manier inspan, sal dit jou help om die sin van wat jy lees, beter te begryp en sal dit as ’n geheuehulp dien.
Maar as jy nie versigtig is nie, kan jou gedagtes begin dwaal terwyl jy lees. Jy sien dalk die woorde, maar jou gedagtes is êrens anders. Speel daar musiek? Is die televisie aan? Kan jy gesinslede hoor gesels? Indien moontlik, is dit beter om op ’n stil plek te lees. Maar jou aandag word nie altyd net deur iets van buite afgelei nie. Miskien het jy ’n besige dag gehad. Hoe maklik is dit tog om weer die dag se gebeure in jou gedagtes oor te gaan! Dit is natuurlik goed om oor die dag se gebeure te dink—maar nie wanneer jy lees nie. Jy konsentreer dalk wanneer jy begin, of jy bid moontlik selfs voordat jy begin lees. Maar terwyl jy lees, begin jou gedagtes dwaal. Probeer weer. Dissiplineer jouself om op jou leeswerk te konsentreer. Jy sal geleidelik verbetering sien.
Wat doen jy wanneer jy by ’n woord kom wat jy nie verstaan nie? Party onbekende woorde word dalk in die teks gedefinieer of bespreek. Of moontlik kan jy die betekenis van die woord uit die konteks aflei. Indien nie, kan jy die woord gerus in ’n woordeboek naslaan as een beskikbaar is, of merk die woord sodat jy iemand later kan vra wat dit beteken. Dit sal jou woordeskat vergroot en jy sal beter verstaan wat jy lees.
Openbare voorlesing
Toe die apostel Paulus vir Timoteus gesê het om voort te gaan om hom op lees toe te lê, het Paulus spesifiek verwys na wanneer ’n mens vir iemand anders lees (1 Tim. 4:13). Doeltreffende openbare voorlesing behels meer as om net woorde hardop van ’n bladsy af te lees. Die leser moet verstaan wat die woorde beteken en die gedagtes daaragter begryp. Slegs dan kan hy die betekenis en die gepaardgaande emosies behoorlik weergee. Dit verg natuurlik deeglike voorbereiding en oefening. Paulus het dus gemaan: ‘Gaan voort om jou toe te lê op openbare voorlesing.’ In die Teokratiese Bedieningskool sal jy waardevolle opleiding in hierdie vaardigheid ontvang.
Sit tyd opsy om te lees
“Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spr. 21:5). Hoe waar is dit tog wanneer dit kom by ons begeerte om te lees! Om daaruit “voordeel” te trek, moet ons deeglik beplan sodat ander bedrywighede ons nie verhinder om te lees nie.
Wanneer lees jy? Vind jy dit beter om vroeg in die oggend te lees? Of is jou verstand later in die dag helderder? Al kan jy net 15 of 20 minute elke dag opsy sit om te lees, sal jy verbaas wees hoeveel jy kan bereik. Die sleutel is gereeldheid.
Waarom het Jehovah besluit dat sy grootse voornemens in ’n boek opgeteken moes word? Sodat mense sy geskrewe Woord kan raadpleeg. Dit stel hulle in staat om Jehovah se wonderlike werke te ondersoek, om dit aan hulle kinders te vertel en om God se handelinge in hulle geheue in te prent (Ps. 78:5-7). Die beste manier waarop ons ons waardering vir Jehovah se vrygewigheid in hierdie verband kan toon, is deur die manier waarop ons ons toelê om sy lewegewende Woord te lees.