STUDIE 52
Doeltreffende vermaning
CHRISTEN- OUER MANNE moet in staat wees om “deur die gesonde leer te vermaan” (Tit. 1:9). Soms moet dit ondanks uiters moeilike situasies gedoen word. Dit is belangrik om in ooreenstemming met skriftuurlike riglyne raad te gee. Ouer manne moet dus ag gee op die raad: ‘Gaan voort om jou op vermaning toe te lê’ (1 Tim. 4:13). Hoewel hierdie bespreking hoofsaaklik bedoel is vir ouer manne of diegene wat hierdie voorreg nastreef, is daar tye wanneer ouers hulle kinders moet vermaan of wanneer diegene wat Bybelstudies hou, hulle Bybelstudente moet vermaan. In sulke gevalle sal soortgelyke riglyne geld.
Situasies wat dit vereis. Om vas te stel wanneer vermaning nodig is, is dit nuttig om situasies in die Bybel te ondersoek waar vermaning gegee is. Die apostel Petrus het ouer manne vermaan om hulle verantwoordelikheid as herders van die kudde van God getrou na te kom (1 Pet. 5:1, 2). Paulus het vir Titus aangesê om jonger manne te vermaan om “gesond van verstand te wees” (Tit. 2:6). Paulus het mede-Christene aangespoor om ‘eenstemmig te praat’ en diegene te vermy wat verdeeldheid onder die broers wou saai (1 Kor. 1:10; Rom. 16:17; Fil. 4:2). Hoewel Paulus lede van die gemeente in Tessalonika geprys het oor die goeie dinge wat hulle gedoen het, het hy hulle vermaan om die onderrigting wat hulle ontvang het, selfs in voller mate toe te pas (1 Tess. 4:1, 10). Petrus het mede-Christene dringend versoek om hulle “deurentyd van vleeslike begeertes te onthou” (1 Pet. 2:11). Judas het sy broers vermaan om “hard te stry vir die geloof” weens die invloed van goddelose mense wat hulle aan losbandige gedrag skuldig gemaak het (Jud. 3, 4). Alle Christene is aangespoor om mekaar te vermaan sodat nie een van hulle deur die bedrieglike krag van sonde verhard sou word nie (Heb. 3:13). Petrus het Jode wat nog nie geloof in Christus gestel het nie, vermaan: “Laat julle uit hierdie verdorwe geslag red.”—Hand. 2:40.
Watter eienskappe is nodig om in sulke situasies ernstige vermanings te gee? Hoe kan die een wat vermaan, die dringendheid van die saak oordra sonder om onderdrukkend of kwaai te wees?
“Op grond van liefde.” As ons ander nie “op grond van liefde” vermaan nie, sal dit dalk kras klink (Filem. 9). Wanneer onmiddellike optrede nodig is, moet die spreker se aanbieding natuurlik die dringendheid van die situasie oordra. ’n Sagte voordrag kan dit apologeties laat klink. Terselfdertyd moet die vermaning met erns en diep gevoel gegee word. As die gehoor liefdevol vermaan word, sal dit hulle heel moontlik aanspoor. Toe Paulus namens homself en sy metgeselle gepraat het, het hy vir die Tessalonisense gesê: “Julle [weet] goed hoe ons, soos ’n vader sy kinders, aangehou het om elkeen van julle te vermaan” (1 Tess. 2:11). Daardie Christenopsieners het liefdevol versoeke aan die broers gerig. Laat jou woorde uit opregte besorgdheid oor jou gehoor voortspruit.
Wees taktvol. Moenie diegene wat jy tot optrede probeer aanspoor, van jou vervreem nie. Moet terselfdertyd nie nalaat om vir jou gehoor “al die raad van God” te vertel nie (Hand. 20:27). Diegene wat raad waardeer, sal nie aanstoot neem of jou minder liefhê omdat jy hulle vriendelik aangespoor het om te doen wat reg is nie.—Ps. 141:5.
Dikwels is dit goed om iemand eers opreg en vir iets spesifieks te prys en hom dan te vermaan. Dink aan die goeie dinge wat jou broers doen—dinge waarin Jehovah beslis behae skep: die geloof wat in hulle werk gesien kan word, die liefde waardeur hulle beweeg word om hulle in te span en hulle volharding ondanks beproewende situasies (1 Tess. 1:2-8; 2 Tess. 1:3-5). Dit sal jou broers help om te voel dat hulle waardeer en verstaan word, en dit sal hulle ontvanklik maak vir die vermaning wat volg.
“Met alle lankmoedigheid.” Vermaning moet “met alle lankmoedigheid” gegee word (2 Tim. 4:2). Wat behels dit? Lankmoedigheid sluit in dat ’n mens onregte of irritasies geduldig verduur. ’n Lankmoedige persoon bly hoop dat dié wat na hom luister, sal toepas wat hy sê. As vermaning in hierdie gees gegee word, sal dié wat na jou luister, nie dink dat jy die slegste van hulle dink nie. Jou vertroue dat jou broers en susters Jehovah na die beste van hulle vermoë wil dien, sal hulle begeerte versterk om te doen wat reg is.—Heb. 6:9.
“Deur die gesonde leer.” Hoe kan ’n ouer man “deur die gesonde leer . . . vermaan”? Deur ‘met betrekking tot sy onderrigkuns stewig aan die betroubare woord vas te hou’ (Tit. 1:9). Moenie jou persoonlike mening lug nie, maar beroep jou op die gesag van God se Woord wanneer jy vermaan. Laat die Bybel jou beskouing vorm van wat gesê moet word. Noem die voordele wat dit inhou wanneer ’n mens toepas wat die Bybel oor die saak onder bespreking sê. Hou die onmiddellike en toekomstige gevolge van ongehoorsaamheid aan God se Woord goed in gedagte, en gebruik dit om jou gehoor daarvan te oortuig dat hulle gepaste stappe moet neem.
Maak seker dat jy presies aan jou gehoor verduidelik wat hulle moet doen en hoe hulle dit moet doen. Stel dit duidelik dat jou redenasie stewig op die Skrif gegrond is. As die Skrif ’n mate van vryheid toelaat in enige besluit wat geneem moet word, moet jy verduidelik hoeveel vryheid dit toelaat. Doen dan in jou slot ’n finale beroep op dié wat na jou luister, sodat hulle meer vasbeslote sal wees om op te tree.
Met “vrymoedigheid van spraak”. Om ander doeltreffend te kan vermaan, moet ’n mens “vrymoedigheid van spraak in die geloof” hê (1 Tim. 3:13). Wat stel iemand in staat om met vrymoedigheid te praat? Die feit dat sy “voorbeeld van goeie werke” ooreenstem met wat hy sy broers aanspoor om te doen (Tit. 2:6, 7; 1 Pet. 5:3). Waar dit die geval is, sal diegene wat tot optrede aangespoor word, besef dat die een wat hulle vermaan, nie van hulle verwag om te doen wat hy self nie doen nie. Hulle sal sien dat hulle sy geloof kan navolg, net soos hy daarna streef om Christus na te volg.—1 Kor. 11:1; Fil. 3:17.
Vermaning wat op God se Woord gebaseer is en in ’n gees van liefde gegee word, kan baie nuttig wees. Diegene wat die verantwoordelikheid ontvang het om sulke raad te gee, moet hulle daarop toelê om dit goed te doen.—Rom. 12:8.