Ouers, voorsien in die behoeftes van julle gesin
“As iemand vir sy eie mense . . . nie sorg nie, het hy die geloof verloën.”—1 TIMOTEUS 5:8.
1, 2. (a) Waarom is dit aanmoedigend om te sien dat gesinne Christelike vergaderinge saam bywoon? (b) Wat is van die uitdagings wat gesinne die hoof bied om betyds by die vergaderinge te wees?
WANNEER jy in die Christengemeente rondkyk voordat ’n vergadering begin, sien jy moontlik dat skoon en netjiese kinders hulle sitplekke langs hulle ouers inneem. Is dit nie aangenaam om die liefde in sulke gesinne te sien nie—liefde vir Jehovah en vir mekaar? Maar ’n mens kan maklik vergeet hoeveel inspanning dit verg om ’n gesin betyds by die vergaderinge te kry.
2 Die meeste ouers is die hele dag baie besig, en op vergaderingaande word die gesinslewe nog besiger. ’n Ete moet berei word, takies moet verrig word en huiswerk moet klaargemaak word. Die ouers dra die swaarste vrag en moet seker maak dat almal skoon is, geëet het en betyds klaar is. Met kinders kan die onverwagte natuurlik op die mees ongeleë oomblikke gebeur. Die oudste kind skeur sy broek terwyl hy speel. Die jongste gooi sy kos uit. Die kinders begin stry (Spreuke 22:15). Wat is die gevolg? Ten spyte van sorgvuldige beplanning deur die ouers loop sake dalk skeef. Nogtans is die gesin feitlik altyd ’n ruk voordat die vergadering begin, by die Koninkryksaal. Hoe aanmoedigend is dit tog om hulle week ná week, jaar ná jaar, daar te sien terwyl die kinders as dienaars van Jehovah grootword!
3. Hoe weet ons dat Jehovah gesinne baie waardeer?
3 Al is jou werk as ’n ouer soms moeilik, selfs uitputtend, kan jy seker wees dat Jehovah jou inspanning baie waardeer. Jehovah is die Insteller van die gesinsreëling. Sy Woord sê dus dat elke familie “sy naam”—ja, sy bestaan—“te danke het” aan Jehovah (Efesiërs 3:14, 15). Wanneer julle as ouers dan daarna streef om julle rol in die gesin op die regte manier te vervul, eer julle die Soewereine Heer van die heelal (1 Korintiërs 10:31). Is dit nie ’n groot voorreg nie? Dit is dus gepas dat ons die toewysing bespreek wat Jehovah ouers gegee het. In hierdie artikel sal ons kyk hoe daar in die gesin se behoeftes voorsien moet word. Kom ons hersien drie maniere waarop God van ouers verwag om vir hulle kinders te sorg.
Voorsien in materiële behoeftes
4. Watter reëlings het Jehovah in die gesin getref sodat daar in die kinders se behoeftes voorsien kan word?
4 Die apostel Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Wie het Paulus in gedagte gehad toe hy hier van “iemand” gepraat het? Dit was die gesinshoof, gewoonlik die vader. God gee die vrou ook ’n waardige rol as haar man se helper (Genesis 2:18). In Bybeltye het vrouens dikwels hulle mans gehelp om in die gesin se behoeftes te voorsien (Spreuke 31:13, 14, 16). Vandag word enkelouergesinne al hoe algemener.a Baie ongetroude Christenouers kwyt hulle uitstekend van hulle taak om vir hulle huisgesin te sorg. Dit is natuurlik ideaal as ’n gesin albei ouers het, met die vader wat die leiding neem.
5, 6. (a) Wat is van die uitdagings waarvoor diegene te staan kom wat op materiële gebied vir hulle eie mense probeer sorg? (b) Watter beskouing van sekulêre werk sal Christenbroodwinners help om te volhard?
5 Watter soort versorging het Paulus in 1 Timoteus 5:8 in gedagte gehad? Die konteks dui aan dat hy regstreeks van die materiële behoeftes van die gesin gepraat het. In vandag se wêreld kom ’n gesinshoof dalk voor baie struikelblokke te staan om op hierdie manier te voorsien. Ekonomiese probleme is vandag oor die hele wêreld iets algemeens, en so ook afdankings, hoë werkloosheidsyfers en stygende lewenskoste. Wat kan ’n broodwinner help om ondanks hierdie uitdagings te volhard?
6 Dit sal goed wees as ’n broodwinner in gedagte hou dat hy ’n toewysing uitvoer wat van Jehovah af kom. Paulus se geïnspireerde woorde toon dat ’n man wat in staat is om hierdie bevel te gehoorsaam maar weier om dit te doen, vergelyk kan word met iemand wat ‘die geloof verloën het’. ’n Christen sal sy uiterste bes doen om nie in so ’n posisie voor sy God te wees nie. Maar ongelukkig is baie mense in vandag se wêreld “sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:1, 3). Trouens, tallose vaders kom nie hulle verantwoordelikheid na nie en laat hulle gesin in die steek. Christenmans het nie so ’n liefdelose, ongeërgde beskouing van hulle verantwoordelikheid om vir hulle eie mense te sorg nie. In teenstelling met baie van hulle medewerkers beskou Christenbroodwinners selfs die nederigste werk as waardig en belangrik, ’n manier waarop hulle Jehovah God kan behaag, aangesien dit hulle in staat stel om vir hulle geliefdes te sorg.
7. Waarom is dit gepas dat ouers oor Jesus se voorbeeld peins?
7 Dit sal moontlik ook vir gesinshoofde nuttig wees om oor Jesus se volmaakte voorbeeld te peins. Onthou dat die Bybel in ’n profesie na Jesus as ons “Ewige Vader” verwys (Jesaja 9:6, 7). As “die laaste Adam” vervang Jesus in werklikheid “die eerste mens, Adam,” as die vader van diegene wat geloof beoefen (1 Korintiërs 15:45). In teenstelling met Adam, wat ’n selfsugtige vader was, is Jesus die ideale vader. Die Bybel sê van hom: “Hieraan het ons die liefde leer ken, omdat hy vir ons van sy siel afstand gedoen het” (1 Johannes 3:16). Ja, Jesus het sy lewe gewillig vir ander opgeoffer. Maar hy het ook elke dag in geringer sake die behoeftes van ander bo sy eie gestel. Ouers, dit sal goed wees as julle daardie selfopofferende gees navolg.
8, 9. (a) Wat kan ouers by voëls leer oor die onselfsugtige versorging van hulle kleintjies? (b) Hoe toon baie Christenouers ’n selfopofferende gees?
8 Ouers kan baie oor onselfsugtige liefde leer uit Jesus se woorde aan God se eiesinnige volk: “Hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak!” (Matteus 23:37). Jesus het hier ’n aanskoulike beskrywing gegee van ’n moederhen wat haar kleintjies met haar vlerke beskerm. Ouers kan werklik baie leer uit die beskermingsinstinkte van ’n moedervoël, wat haar lewe geredelik in gevaar sal stel om haar kuikens teen kwaad te beskerm. Maar dit is ook merkwaardig om te sien wat voëlouers elke dag doen. Hulle vlieg aanhoudend heen en weer op soek na kos. Selfs wanneer hulle byna uitgeput is, sit hulle die kos in die gapende bekkies van hulle kuikens, wat dit insluk en gewoonlik nog wil hê. Baie van die diere wat Jehovah geskep het, is “instinktief wys” wanneer dit kom by die manier waarop hulle in die behoeftes van hulle kleintjies voorsien.—Spreuke 30:24.
9 Net so lê Christenouers oral in die wêreld ’n uitstekende selfopofferende gees aan die dag. Julle sal eerder self leed aangedoen word as om toe te laat dat julle kinders iets oorkom. Boonop maak julle elke dag gewillig opofferings om vir julle eie mense te sorg. Baie van julle staan vroeg op om uitputtende of vervelige werk te doen. Julle werk hard om voedsame kos op die tafel te sit. Julle voer ’n stryd om te sorg dat julle kinders skoon klere, ’n gepaste blyplek en genoeg skoolopleiding het. En julle hou dag ná dag, jaar ná jaar, daarmee vol. Hierdie selfopoffering en volharding behaag Jehovah beslis! (Hebreërs 13:16). Maar terselfdertyd hou julle in gedagte dat daar belangriker maniere is waarop julle vir julle eie mense moet sorg.
Voorsien in geestelike behoeftes
10, 11. Wat is die belangrikste menslike behoefte, en wat moet Christenouers doen voordat hulle hierdie behoefte in hulle kinders kan bevredig?
10 Om in geestelike behoeftes te voorsien, is selfs noodsaakliker as om in materiële behoeftes te voorsien. Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4; 5:3). Wat kan julle as ouers doen om in die geestelike behoeftes van julle kinders te voorsien?
11 In hierdie verband word geen Skrifgedeelte seker meer dikwels aangehaal as Deuteronomium 6:5-7 nie. Maak gerus jou Bybel oop en lees hierdie verse. Let op dat dit eers vir ouers sê om hulle eie geestelikheid op te bou deur liefde vir Jehovah aan te kweek en sy woorde ter harte te neem. Ja, jy moet ’n ernstige student van God se Woord wees wat die Bybel gereeld lees en daaroor peins sodat jy ’n goeie begrip van Jehovah se weë, beginsels en wette kan verkry en liefde daarvoor kan aankweek. Dit sal jou hart vul met interessante Bybelwaarhede wat jou met vreugde, ontsag en liefde vir Jehovah sal vervul. Jy sal ’n oorvloed goeie dinge hê om aan jou kinders oor te dra.—Lukas 6:45.
12. Hoe kan ouers Jesus se voorbeeld volg wanneer hulle Bybelwaarhede by hulle kinders inskerp?
12 Geestelike sterk ouers is bereid om die raad in Deuteronomium 6:7 toe te pas en by elke geleentheid Jehovah se woorde by hulle nakomelinge ‘in te skerp’. “Inskerp” beteken om deur middel van herhaling te onderrig en in te prent. Jehovah weet goed dat ons almal—veral kinders—herhaling nodig het om te leer. Jesus het dus herhaling in sy bediening gebruik. Toe hy sy dissipels geleer het om nederig te wees, nie trots en mededingend nie, het hy byvoorbeeld ’n verskeidenheid maniere gevind om hierdie beginsel te herhaal. Hy het onderrig deur te redeneer, toe te lig, selfs te demonstreer (Matteus 18:1-4; 20:25-27; Johannes 13:12-15). Maar dit is merkwaardig dat Jesus nooit ongeduldig was nie. Ouers moet eweneens maniere vind om hulle kinders grondwaarhede te leer en moet Jehovah se beginsels geduldig herhaal totdat die kinders dit verstaan en toepas.
13, 14. By watter geleenthede kan ouers Bybelwaarhede by hulle kinders inskerp, en watter hulpmiddele kan hulle gebruik?
13 Die gesinstudie bied ideale geleenthede vir hierdie onderrigting. Trouens, ’n gereelde, opbouende, vreugdevolle gesinsbybelstudie is onontbeerlik vir ’n gesin se geestelikheid. Christengesinne oor die hele wêreld geniet sulke studies, waartydens hulle gebruik maak van die lektuur wat Jehovah se organisasie voorsien, en hulle pas die studie by die behoeftes van die kinders aan. Die boek Leer by die Groot Onderwyser is ’n groot seën in hierdie verband, en so ook die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.b Maar die gesinstudie is nie die enigste tyd om kinders te leer nie.
14 Soos Deuteronomium 6:7 toon, is daar baie geleenthede wanneer julle as ouers geestelike sake met julle kinders kan bespreek. Of julle nou saam reis, saam takies verrig of saam ontspan, julle sal waarskynlik geleenthede vind om in julle kinders se geestelike behoeftes te voorsien. Julle hoef natuurlik nie gedurig vir julle kinders oor Bybelwaarhede te “preek” nie. Probeer liewer om gesinsgesprekke op ’n opbouende, geestelike vlak te hou. Die Ontwaak! bevat byvoorbeeld baie artikels oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Hierdie artikels kan die weg baan vir gesprekke oor Jehovah se diereskepping, plekke met pragtige natuurskoon oral in die wêreld en die wonderlike verskeidenheid kulture en lewenswyses van mense. Sulke gesprekke sal kinders dalk beweeg om meer van die lektuur te lees wat “die getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien.—Matteus 24:45-47.
15. Hoe kan ouers hulle kinders help om die Christelike bediening as interessant en bevredigend te beskou?
15 Opbouende gesprekke met jou kinders sal jou help om nog ’n geestelike behoefte te bevredig. Christenkinders moet leer om op bekwame wyse met ander oor hulle geloof te praat. Wanneer julle oor die een of ander interessante gedagte in Die Wagtoring of Ontwaak! gesels, kan jy na geleenthede soek om te wys hoe die inligting met die bediening verband hou. Jy kan byvoorbeeld vra: “Sal dit nie wonderlik wees as meer mense dit omtrent Jehovah weet nie? Hoe dink jy kan ons iemand se belangstelling in hierdie onderwerp wek?” Sulke gesprekke sal kinders dalk help om meer daarin belang te stel om met ander te praat oor wat hulle leer. Wanneer jou kinders jou dan in die bediening vergesel, sien hulle ’n lewende voorbeeld van hoe sulke gesprekke gevoer word. Hulle leer moontlik ook dat die bediening ’n interessante en vreugdevolle werk is, wat groot bevrediging en geluk verskaf.—Handelinge 20:35.
16. Wat kan kinders leer wanneer hulle na hulle ouers se gebede luister?
16 Ouers voorsien ook in hulle kinders se geestelike behoeftes wanneer hulle bid. Jesus het sy dissipels geleer hoe om te bid, en hy het by baie geleenthede saam met hulle gebid (Lukas 11:1-13). Dink net hoeveel hulle geleer het deur saam met Jehovah se Seun te bid! Jou kinders kan eweneens baie uit jou gebede leer. Hulle kan byvoorbeeld leer dat Jehovah wil hê dat ons vryelik uit die hart met hom moet praat en hom moet nader oor enigiets wat ons dalk kwel. Ja, jou gebede kan jou kinders help om ’n noodsaaklike geestelike waarheid te leer: Hulle kan ’n verhouding met hulle hemelse Vader hê.—1 Petrus 5:7.
Voorsien in emosionele behoeftes
17, 18. (a) Hoe toon die Bybel dat dit belangrik is om liefde aan kinders te betoon? (b) Hoe moet vaders Jehovah navolg deur hulle kinders van hulle liefde te verseker?
17 Kinders het natuurlik ook dringende emosionele behoeftes. God se Woord sê vir ouers hoe belangrik dit is om in hierdie behoeftes te voorsien. Jonger vroue word byvoorbeeld aangespoor “om hulle kinders lief te hê”. Dit word verbind met die feit dat jong moeders tot besinning gebring moet word, of “verstandelik gesond” moet wees (Titus 2:4, voetnoot in NW). Dit is beslis verstandig om liefde aan ’n kind te betoon. Dit leer ’n kind om lief te hê en bring lewenslange voordele. Aan die ander kant is dit dwaas om nie liefde aan ’n kind te betoon nie. Dit veroorsaak groot pyn en bewys dat ’n ouer versuim om Jehovah na te volg, wat ondanks ons onvolmaakthede ontsaglike liefde aan ons betoon.—Psalm 103:8-14.
18 Jehovah doen selfs die eerste stap om liefde aan sy aardse kinders te betoon. Soos 1 Johannes 4:19 sê, het “hy ons eerste liefgehad”. Vaders, julle in die besonder moet Jehovah se voorbeeld volg en die eerste stap doen om ’n liefdevolle band met julle kinders te smee. Die Bybel spoor vaders aan om nie hulle kinders te vertoorn nie, “sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Min dinge vertoorn kinders meer as die idee dat ’n ouer hulle nie liefhet of waardeer nie. Vaders wat nie maklik aan hulle gevoelens uiting gee nie, kan gerus Jehovah se voorbeeld in gedagte hou. Jehovah het selfs uit die hemel gepraat om sy Seun van sy goedkeuring en liefde te verseker (Matteus 3:17; 17:5). Hoe het dit Jesus tog aangemoedig! Kinders put eweneens baie krag en moed daaruit wanneer hulle ouers hulle opreg van hulle liefde en goedkeuring verseker.
19. Waarom is dissipline belangrik, en watter middeweg probeer Christenouers vind?
19 Ouerliefde is natuurlik meer as net woorde. Liefde word hoofsaaklik deur dade getoon. Om in kinders se materiële en geestelike behoeftes te voorsien, kan ’n blyk van ouerliefde wees, veral wanneer ouers dit doen op ’n manier wat toon dat liefde die vernaamste aansporing is. Dissipline is ook ’n noodsaaklike blyk van ouerliefde. Trouens, “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet” (Hebreërs 12:6). Daarenteen toon ’n versuim om te dissiplineer dat ouers hulle kinders haat! (Spreuke 13:24). Jehovah vind altyd die goue middeweg en dissiplineer “in die regte mate” (Jeremia 46:28). Dit is nie altyd vir onvolmaakte ouers maklik om hierdie middeweg te vind nie. Maar dit is beslis die moeite werd om hard te probeer om dit te vind. Streng, liefdevolle dissipline help ’n kind om ’n gelukkige, produktiewe lewe te lei wanneer hy groot is (Spreuke 22:6). Is dit nie wat elke Christenouer vir sy kind wil hê nie?
20. Hoe kan ouers hulle kinders die heel beste geleentheid gee om ‘die lewe te kies’?
20 Ouers, wanneer julle die belangrike werk doen wat Jehovah julle gegee het—om in julle kinders se materiële, geestelike en emosionele behoeftes te voorsien—is daar groot belonings. Julle gee julle kinders sodoende die heel beste geleentheid om ‘die lewe te kies’ en daarna te “bly lewe” (Deuteronomium 30:19). Dié kinders wat kies om Jehovah te dien en op die weg na die lewe te bly wanneer hulle ouer word, verskaf hulle ouers groot vreugde (Psalm 127:3-5). Hierdie vreugde sal vir ewig duur! Maar hoe kan jongmense Jehovah nou loof? Die volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnote]
a In hierdie bespreking sal daar gewoonlik na die man as die broodwinner verwys word. Maar die beginsels is ook van toepassing op Christenvroue wat die hoofbroodwinner is.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Hoe sal jy antwoord?
Wat kan ouers doen om in hulle kinders se behoeftes te voorsien
• op materiële gebied?
• op geestelike gebied?
• op emosionele gebied?
[Prent op bladsy 18]
Baie voëls sorg met onvermoeide inspanning vir hulle kleintjies
[Prent op bladsy 20]
Ouers moet eers hulle eie geestelikheid opbou
[Prente op bladsy 20, 21]
Ouers kan baie geleenthede vind om hulle kinders van die Skepper te leer
[Prent op bladsy 22]
Kinders put krag en moed uit hulle ouers se goedkeuring