Die Bybel se beskouing
Is dit reg om Jesus te aanbid?
DEUR die eeue heen het baie in die Christendom Jesus Christus aanbid asof hy die almagtige God is. Maar Jesus self het die aandag op Jehovah God gevestig en hom alleen aanbid. Toe Jesus byvoorbeeld aangespoor is om ’n daad van aanbidding teenoor die Duiwel te verrig, het hy gesê: “Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig” (Matteus 4:10). Jesus het sy dissipels later beveel: “Moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel.”—Matteus 23:9.
Jesus het aan ’n Samaritaanse vrou verduidelik watter soort aanbidding persone aan God moet gee. Hulle aanbidding moet op gees en waarheid gebaseer wees. Trouens, “die Vader soek . . . sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23, 24). Ja, net God moet aanbid word. As ons enigiemand of enigiets anders aanbid, is dit ’n vorm van afgodediens, wat in die Hebreeuse asook die Griekse Geskrifte veroordeel word.—Exodus 20:4, 5; Galasiërs 5:19, 20.
‘Maar’, maak party dalk beswaar, ‘toon die Bybel dan nie dat ons Jesus ook moet aanbid nie? Paulus het mos in Hebreërs 1:6 gesê: “Laat al die engele van God hom [Jesus] aanbid”’ (King James Version). Hoe kan ons hierdie teks verstaan in die lig van wat die Bybel oor afgodediens sê?
Aanbidding in die Bybel
Eerstens moet ons verstaan wat Paulus hier met die woord aanbid bedoel het. Hy het die Griekse woord pro·ski·neʹo gebruik. Unger’s Bible Dictionary sê dat hierdie woord letterlik beteken om ‘iemand se hand te soen as ’n teken van ontsag of om hulde te bewys’. An Expository Dictionary of New Testament Words deur W. E. Vine sê dat hierdie woord “op ’n daad van verering dui, hetsy dit aan die mens . . . of aan God bewys word”. In Bybeltye het pro·ski·neʹo dikwels letterlik beteken om voor iemand in ’n hoë posisie te buig.
Neem byvoorbeeld die gelykenis wat Jesus vertel het van die slaaf wat nie ’n groot som geld aan sy heer kon terugbetaal nie. ’n Vorm van dié Griekse woord verskyn in hierdie gelykenis, en in die King James Version is dit vertaal as: “Die dienskneg het gevolglik neergeval en hom [die koning] aanbid [’n vorm van pro·ski·neʹo] en gesê: Heer, wees geduldig met my, en ek sal u alles betaal.” (Matteus 18:26; ons kursiveer.) Het hierdie man ’n daad van afgodediens verrig? Glad nie! Hy het bloot aan die koning, sy heer en meerdere, die eer en respek bewys wat hy verdien het.
In Bybeltye was sulke huldebewyse, of blyke van respek, baie algemeen in die Ooste. Jakob het hom sewe keer neergebuig toe hy sy broer, Esau, ontmoet het (Genesis 33:3). Josef se broers het hulle voor hom neergebuig, of aan hom hulde bewys, ter erkenning van sy posisie in die Egiptiese hof (Genesis 42:6). Na aanleiding hiervan kan ons beter verstaan wat gebeur het toe die sterrewiggelaars die jong kind Jesus gevind het, wat hulle erken het as “die een wat as koning van die Jode gebore is”. Volgens die vertaling in die King James Version het hulle “neergeval en hom aanbid [pro·ski·neʹo]”.—Matteus 2:2, 11.
Dit is dus duidelik dat die woord pro·ski·neʹo, wat in sommige Bybelvertalings as “aanbid” vertaal word, nie uitsluitlik vir die soort verering gebruik word wat Jehovah God verdien nie. Dit kan ook na die respek en eer verwys wat aan ’n ander persoon bewys word. Om enige misverstand te probeer vermy, vertaal sommige Bybelvertalings die woord pro·ski·neʹo in Hebreërs 1:6 as “betoon eer aan hom” (New Jerusalem Bible), “eer hom” (The Complete Bible in Modern English), “buig jou voor hom neer” (Twentieth Century New Testament) of “aan hom hulde bewys” (Nuwe Wêreld-vertaling).
Jesus is ons huldebewyse waardig
Verdien Jesus sulke huldebewyse? Baie beslis! In sy brief aan die Hebreërs verduidelik die apostel Paulus dat Jesus as die “erfgenaam van alle dinge . . . aan die regterhand van die Majesteit in hoë plekke gaan sit” het (Hebreërs 1:2-4). Daarom moet ‘elke knie in die naam van Jesus buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader’.—Filippense 2:10, 11.
Christus sal hierdie verhewe posisie en die groot uitvoerende gesag wat daarmee gepaardgaan binnekort gebruik om hierdie aarde in ’n aardwye paradys te omskep. Onder God se leiding, en danksy die losprysofferande van Jesus, sal hy die wêreld bevry van alle hartseer, pyn en verdriet tot voordeel van diegene wat hulle aan sy regverdige heerskappy onderwerp. Verdien hy gevolglik nie om deur ons geëer, gerespekteer en gehoorsaam te word nie?—Psalm 2:12; Jesaja 9:5; Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4.
“’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis”
Maar die Bybel toon duidelik dat ons aanbidding—in die sin van godsdienstige verering en toegewydheid—slegs aan God gerig moet word. Moses het hom beskryf as “’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis”. En die Bybel beveel ons om “die Een [te aanbid] wat die hemel en die aarde en see en waterfonteine gemaak het”.—Deuteronomium 4:24, NW; Openbaring 14:7.
Jesus beklee beslis ’n sleutelrol in ware aanbidding, wat eer en respek waardig is (2 Korintiërs 1:20, 21; 1 Timoteus 2:5). Hy is die enigste weg waardeur ons Jehovah God kan nader (Johannes 14:6). Ware Christene is dus verstandig om hulle aanbidding slegs aan Jehovah God, die Almagtige, te rig.