“Begeerlike dinge” vul Jehovah se huis
“Ek [Jehovah] sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul.”—HAGGAI 2:7, NW.
1. Waarom dink ons eerste aan ons geliefdes in ’n noodsituasie?
WATTER begeerlike dinge vul jou huis? Het jy weelderige meubels, ’n gesofistikeerde rekenaar, ’n nuwe motor in jou garage? Al het jy al hierdie dinge, sal jy sekerlik saamstem dat die kosbaarste dinge in jou huis die mense—jou gesinslede—is, nie waar nie? Stel jou voor jy skrik een nag wakker en ruik rook. Jou huis brand, en jy het net ’n paar minute om uit te kom! Wat is vir jou van die grootste belang? Jou meubels? Jou rekenaar? Jou motor? Sal jy nie eerder aan jou geliefdes dink nie? Natuurlik sal jy, want mense is kosbaarder as dinge.
2. Wat is die omvang van Jehovah se skepping, en vir watter aspek daarvan het Jesus die grootste liefde?
2 Dink nou aan Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus. Jehovah is “die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het” (Handelinge 4:24). Deur sy Seun, die “meesterwerker”, het Jehovah alle ander dinge gemaak (Spreuke 8:30, 31, NW; Johannes 1:3; Kolossense 1:15-17). Dit ly geen twyfel nie dat Jehovah sowel as Jesus alles wat hulle geskep het kosbaar ag. (Vergelyk Genesis 1:31.) Maar watter aspek van die skepping dink jy het vir hulle die grootste waarde—dinge of mense? In Jesus se rol as die verpersoonliking van wysheid sê hy: “Die dinge waarvoor ek lief was, was die mensekinders”, of soos die Nuwe Afrikaanse Vertaling dit stel: “Mense was vir my [Jesus] ’n vreugde.”
3. Watter profesie het Jehovah deur middel van Haggai uitgespreek?
3 Vir Jehovah is mense ongetwyfeld baie kosbaar. ’n Bewys hiervan kan in die profetiese woorde gevind word wat hy in die jaar 520 v.G.J. deur middel van sy profeet Haggai uitgespreek het. Jehovah het verklaar: “Ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul. . . . Die heerlikheid van hierdie latere huis sal groter word as dié van die vroeëre.”—Haggai 2:7, 9, NW.
4, 5. (a) Waarom sou dit onredelik wees om te dink dat die uitdrukking “begeerlike dinge” na materiële prag verwys? (b) Hoe sou jy “begeerlike dinge” definieer, en waarom?
4 Watter “begeerlike dinge” sou Jehovah se huis vul en daaraan onvergelyklike heerlikheid gee? Weelderige voorwerpe en pragtige versierings? Goud, silwer en edelstene? Dit sou beslis nie redelik wees nie. Hou in gedagte dat die vroeëre tempel, wat omtrent vyf eeue tevore ingewy is, ’n multimiljoenrandprojek was!a Jehovah sou tog sekerlik nie verwag dat hierdie betreklike klein groepie Jode wat na hulle vaderland teruggekeer het ’n tempel sou bou wat Salomo se tempel in materiële prag sou oortref nie!
5 Wat is die “begeerlike dinge” dus wat Jehovah se huis sou vul? Dit moet beslis mense wees. Dit is immers nie silwer en goud wat Jehovah se hart verbly nie, maar mense wat hom uit liefde dien (Spreuke 27:11; 1 Korintiërs 10:26). Ja, alle mans, vroue en kinders wat Jehovah op aanneemlike wyse dien, is vir hom kosbaar (Johannes 4:23, 24). Hulle is “begeerlike dinge” en hulle is vir Jehovah veel kosbaarder as al die pragtige dinge wat Salomo se tempel versier het.
6. Wat was die doel van God se eertydse tempel?
6 Ondanks voortdurende teenstand is die tempel in 515 v.G.J. voltooi. Die tempel in Jerusalem het tot die tyd van Jesus se offerande die sentrum van rein aanbidding vir talle “begeerlike dinge” gebly, wat natuurlike Jode en nie-Joodse proseliete ingesluit het. Maar die tempel het iets veel groters verteenwoordig, soos ons sal sien.
’n Eerste-eeuse vervulling
7. (a) Wat het God se eertydse tempel in Jerusalem voorafgeskadu? (b) Beskryf wat die hoëpriester op Versoendag gedoen het.
7 Die tempel in Jerusalem het ’n voortrefliker reëling vir aanbidding voorafgeskadu. Dit is God se geestelike tempel, wat Jehovah in 29 G.J. in aansyn gebring het met Jesus as Hoëpriester (Hebreërs 5:4-10; 9:11, 12). Kyk byvoorbeeld na ’n parallel tussen die pligte van Israel se hoëpriester en die dade van Jesus. Elke jaar op die Versoendag het die hoëpriester na die altaar in die tempelvoorhof gegaan en ’n bul geoffer om vir die sondes van die priesters versoening te doen. Later het hy die tempel binnegegaan met die bloed van die bul, dan het hy by die deure tussen die voorhof en die Heilige ingegaan en daarna deur die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het. Wanneer die hoëpriester in die Allerheiligste gekom het, het hy die bloed voor die verbondsark gesprinkel. Daarna het hy dieselfde prosedure gevolg wanneer hy ’n bok geoffer het om versoening te doen vir Israel se 12 niepriesterlike stamme (Levitikus 16:5-15). Hoe hou hierdie gebruik verband met God se geestelike tempel?
8. (a) In watter sin is Jesus van 29 G.J. af geoffer? (b) Watter spesiale verhouding met Jehovah het Jesus regdeur sy bediening op aarde geniet?
8 Jesus is as ’t ware op die altaar van God se wil geoffer toe hy in 29 G.J. gedoop en met God se heilige gees gesalf is (Lukas 3:21, 22). Hierdie gebeurtenis het in werklikheid die begin aangedui van Jesus se selfopofferende lewenswyse wat drie en ’n half jaar geduur het (Hebreërs 10:5-10). Gedurende daardie tydperk het Jesus ’n verhouding met God geniet as ’n geesverwekte seun. Hierdie unieke verhouding wat Jesus met sy hemelse Vader gehad het, is iets wat ander mense nie ten volle kon verstaan nie. Dit was asof hulle ’n bedekking voor hulle oë van onderskeidingsvermoë gehad het, net soos ’n bedekking voorkom het dat diegene in die tabernakel se voorhof die Heilige kon sien.—Exodus 40:28.
9. Waarom kon Jesus nie as ’n mens in die hemel ingaan nie, en hoe is hierdie probleem opgelos?
9 Al was die mens Jesus ’n geesverwekte Seun van God, kon hy nie toegang tot lewe in die hemel kry nie. Waarom nie? Omdat vlees en bloed nie God se hemelse Koninkryk kan beërf nie (1 Korintiërs 15:44, 50). Aangesien Jesus se mensevlees ’n versperring was, is dit goed afgebeeld deur die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste in God se eertydse tempel geskei het (Hebreërs 10:20). Maar drie dae ná Jesus se dood, het God hom as ’n gees opgewek (1 Petrus 3:18). Toe kon hy ingaan in die Allerheiligste van God se geestelike tempel—die hemel self. En dit is presies wat gebeur het. Paulus skryf: “Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom [wat blykbaar na die Allerheiligste verwys] wat met hande gemaak is, wat ’n kopie van die werklikheid is nie, maar in die hemel self, om nou vir ons voor die persoon van God te verskyn.”—Hebreërs 9:24.
10. Wat het Jesus gedoen toe hy na die hemel teruggekeer het?
10 In die hemel het Jesus ‘die bloed van sy offerande gesprinkel’ deur die lospryswaarde van sy lewensbloed aan Jehovah aan te bied. Maar Jesus het selfs meer gedoen. Kort voor sy dood het hy vir sy volgelinge gesê: “Ek gaan heen om vir julle ’n plek te berei. En as ek heengaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is” (Johannes 14:2, 3). Deur toegang te kry tot die Allerheiligste, of die hemel, het Jesus dus die weg geopen vir ander om te volg (Hebreërs 6:19, 20). Hierdie persone, wat 144 000 in getal sal wees, sal as onderpriesters in God se geestelike tempelreëling dien (Openbaring 7:4; 14:1; 20:6). Net soos die hoëpriester van Israel eers die bloed van die bul in die Allerheiligste ingeneem het om versoening vir die sondes van die priesters te doen, word die waarde van Jesus se vergote bloed eers ten behoewe van hierdie 144 000 onderpriesters aangewend.b
Die hedendaagse “begeerlike dinge”
11. Ten behoewe van wie het Israel se hoëpriester ’n bok geoffer, en wat het dit voorafgeskadu?
11 Dit wil voorkom of die algemene insameling van die gesalfdes teen die jaar 1935 voltooi was.c Maar Jehovah het toe nog nie sy huis heeltemal met heerlikheid gevul nie. Nee, “begeerlike dinge” moes nog daarin kom. Onthou dat die hoëpriester in Israel twee diere geoffer het—’n bul vir die sondes van die priesters en ’n bok vir die sondes van die niepriesterlike stamme. Aangesien die priesters die gesalfdes voorgestel het wat saam met Jesus in die hemelse Koninkryk sal wees, wie het die niepriesterlike stamme verteenwoordig? Ons kan die antwoord vind in Jesus se woorde wat in Johannes 10:16 opgeteken staan: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.” Twee verskillende groepe mense vind dus baat by Jesus se vergote bloed—eerstens daardie Christene wat die hoop het om saam met Jesus in die hemel te regeer en tweedens diegene wat uitsien na ewige lewe op ’n paradysaarde. Dit is klaarblyklik hierdie tweede groep wat afgebeeld word deur die “begeerlike dinge” van Haggai se profesie.—Miga 4:1, 2; 1 Johannes 2:1, 2.
12. Hoe word talle “begeerlike dinge” vandag na God se huis aangetrek?
12 Hierdie “begeerlike dinge” vul nog steeds Jehovah se huis. In onlangse jare is beperkings opgehef in Oos-Europa, dele van Afrika en ander lande, wat dit moontlik gemaak het vir die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk om met welslae verkondig te word in gebiede waar daar tot dusver nie getuig is nie. Namate begeerlikes in God se tempelreëling inkom, probeer hulle op hulle beurt om nog dissipels te maak, in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag (Matteus 28:19, 20). Terwyl hulle dit doen, kom hulle baie mense, oud en jonk, teë wat moontlik “begeerlike dinge” kan word wat Jehovah se huis met heerlikheid sal vul. Kyk na net ’n paar voorbeelde van hoe dit plaasvind.
13. Hoe het ’n dogtertjie in Bolivia haar ywer vir die verkondiging van die Koninkryksboodskap getoon?
13 In Bolivia het ’n vyfjarige dogtertjie wat deur Getuie-ouers grootgemaak is, haar onderwyseres gevra of sy gedurende die week van die kringopsiener se besoek afwesig kon wees van skool. Waarom? Sy wou gedurende hierdie hele week van spesiale bedrywigheid aan die bediening deelneem. Haar ouers was verbaas, maar verheug dat sy so ’n goeie gesindheid geopenbaar het. Dié dogtertjie hou nou vyf tuisbybelstudies, en party van hierdie studente woon Christelike vergaderinge by. Sy het selfs al haar onderwyseres na die Koninkryksaal gebring. Dalk sal party van haar Bybelstudente mettertyd toon dat hulle van die “begeerlike dinge” is wat Jehovah se huis met heerlikheid sal vul.
14. Hoe is ’n suster in Korea se volharding beloon toe sy met iemand gepraat het wat skynbaar nie belanggestel het nie?
14 Terwyl ’n Christenvrou in Korea op ’n treinstasie gewag het, het sy ’n student genader wat met oorfone na musiek gesit en luister het. “Behoort jy aan ’n godsdiens?” het sy gevra. “Ek stel nie in enige godsdiens belang nie”, het die student geantwoord. Dit het nie die suster afgeskrik nie. “Met verloop van tyd”, het sy verder gesê, “sal ’n persoon dalk wel ’n godsdiens wil kies. Maar as hy geen kennis van godsdiens het nie, kan hy moontlik die verkeerde een kies.” Die student se houding het verander, en hy het met belangstelling na ons suster begin luister. Sy het vir hom die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? aangebied en gesê dat hierdie publikasie vir hom van groot hulp sal wees wanneer die tyd aanbreek dat hy ’n godsdiens wil kies. Hy het die boek met graagte geneem. Die daaropvolgende week het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en hy woon nou alle gemeentelike vergaderinge by.
15. Hoe begin ’n jong meisie in Japan Bybelstudies, en hoe is haar pogings al beloon?
15 In Japan beskou die 12-jarige Megoemi haar skool as ’n vrugbare gebied om die predikings- en onderrigtingswerk te doen. Sy het selfs al baie Bybelstudies begin. Hoe doen Megoemi dit? Aangesien sy gedurende die pouse die Bybel lees of vir vergaderinge voorberei, vra haar klasmaats haar dikwels wat sy doen. Party vra Megoemi waarom sy nie aan sekere bedrywighede by die skool deelneem nie. Megoemi beantwoord hulle vrae en sê ook vir hulle dat God ’n naam het. Dit prikkel dikwels die belangstelling van haar luisteraars. Daarna bied sy hulle ’n Bybelstudie aan. Megoemi hou tans 20 studies—18 van hulle met haar klasmaats.
16. Hoe het ’n broer in Kameroen Bybelstudies begin met ’n paar mense wat deel was van ’n groep spotters?
16 In Kameroen het ’n groep van agt mans wat op ’n bouterrein gewerk het ’n broer geroep wat besig was om Bybellektuur vir verbygangers aan te bied. Hulle wou die broer bespot en het hom gevra waarom hy nie aan die Drie-eenheid, die helse vuur of die onsterflikheid van die siel glo nie. Ons broer het die Bybel gebruik om hulle vrae te beantwoord. Gevolglik het drie van die mans ’n Bybelstudie aanvaar. Een van hulle, Daniel, het die vergaderinge begin bywoon en selfs al sy besittings wat met spiritisme verband hou, vernietig (Openbaring 21:8). Hy is in minder as ’n jaar gedoop.
17. Hoe het sekere broers in El Salvador vernuf gebruik om vir ’n man te getuig wat eers nie na die Koninkryksboodskap wou luister nie?
17 In El Salvador het ’n man altyd sy kwaai hond voor sy deur vasgemaak wanneer hy die Getuies sien nader kom het. Die man het dan gewag dat die Getuies verbygaan, en dan het hy die hond weer in die huis ingelaat. Die broers kon nooit met die man praat nie. Eendag het hulle dus ’n ander benadering probeer. Hulle het geweet dat die man hulle kon hoor en het besluit om vir die hond te getuig. Hulle het tot by die huis gekom, die hond gegroet en gesê hoe bly hulle was dat hulle die geleentheid kon hê om met hom te gesels. Hulle het gepraat oor die tyd wanneer daar ’n paradys op aarde sal wees, wanneer niemand kwaad sal wees nie—ja, wanneer selfs die diere vreedsaam sal wees. Hulle het die hond toe vriendelik gegroet en met die paadjie begin afloop. Tot hulle groot verbasing het die man uit sy huis gekom en om verskoning gevra omdat hy die Getuies nog nooit die geleentheid gegee het om met hom te praat nie. Hy het die tydskrifte geneem, en ’n Bybelstudie is met hom begin. Hierdie man is nou ons broer—een van die “begeerlike dinge”!
“Moenie bang wees nie”
18. Voor watter uitdagings kom baie Christene te staan, maar hoe beskou Jehovah sy aanbidders?
18 Neem jy deel aan die lewensbelangrike Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk? Indien wel, het jy waarlik ’n groot voorreg. Trouens, dit is deur hierdie werk dat Jehovah “begeerlike dinge” na sy huis trek (Johannes 6:44). Jy voel dalk wel soms ’n bietjie moeg of mismoedig. Partykeer worstel sommige—selfs van Jehovah se getroue knegte—met gevoelens van onwaardigheid. Maar skep moed! Jehovah beskou elkeen van sy aanbidders as begeerlik, en hy stel opreg belang in jou redding.—2 Petrus 3:9.
19. Watter bemoediging het Jehovah deur Haggai gegee, en hoe kan hierdie woorde ons versterk?
19 Wanneer ons mismoedig voel, hetsy weens teenstand of ander onaangename omstandighede, kan Jehovah se woorde aan die Jode wat na hulle vaderland teruggekeer het ons versterk. In Haggai 2:4-6 (NW) lees ons: “‘Maar nou, wees sterk, o Serubbabel’, is die uiting van Jehovah, ‘en wees sterk, o Josua, die seun van Josadak, die hoëpriester. En wees sterk, julle almal, volk van die land’, is die uiting van Jehovah, ‘en werk. Want ek is met julle’, is die uiting van Jehovah van die leërs. ‘Onthou wat ek met julle gesluit het toe julle uit Egipte uitgetrek het, en toe my gees in julle midde gestaan het. Moenie bang wees nie.’ Want só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Nog een keer—’n klein rukkie—en ek skud die hemel en die aarde en die see en die droë grond.’” Let op dat Jehovah ons nie net aanspoor om sterk te wees nie, maar ons ook sê hoe ons krag kan kry. Hoe? Kyk na die bemoedigende woorde: “Ek is met julle.” Hoe geloofversterkend is dit tog om te besef dat Jehovah met ons is ongeag watter struikelblokke in ons weg kom!—Romeine 8:31.
20. Hoe vul onvergelyklike heerlikheid Jehovah se huis tans?
20 Jehovah het inderdaad bewys dat hy met sy volk is. Trouens, dit is net soos hy deur die profeet Haggai gesê het: “Die heerlikheid van hierdie latere huis sal groter word as dié van die vroeëre . . . En op hierdie plek sal ek vrede gee” (Haggai 2:9, NW). Dit ly geen twyfel nie, die grootste heerlikheid kan vandag in Jehovah se geestelike tempel gevind word. Honderdduisende stroom jaarliks na ware aanbidding. Hulle word geestelik goed gevoed, en selfs in hierdie veelbewoë wêreld geniet hulle ’n vrede wat slegs oortref sal word deur die vrede wat in God se nuwe wêreld sal heers.—Jesaja 9:5, 6; Lukas 12:42.
21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
21 Jehovah se tyd om die nasies by Armageddon te skud, is op hande (Openbaring 16:14, 16). Laat ons derhalwe die oorblywende tyd gebruik om meer lewens te help red. Mag ons sterk wees en ons volle vertroue in Jehovah stel. Laat ons vasbeslote wees om hom aan te hou aanbid by sy groot geestelike tempel, en dit met nog meer “begeerlike dinge” te vul totdat Jehovah sê dat ons werk voltooi is.
[Voetnote]
a Die totaal wat bygedra is om Salomo se tempel te bou, sou teen die huidige waarde byna 242 miljard rand wees. Alles wat nie vir die bouwerk gebruik is nie, is in die tempelskatkis gesit.—1 Konings 7:51.
b Anders as die hoëpriester van Israel het Jesus geen sondes gehad waarvoor versoening nodig was nie. Maar sy medepriesters het wel sondes gehad omdat hulle uit die sondige mensdom gekoop is.—Openbaring 5:9, 10.
Onthou jy?
• Wat is vir Jehovah kosbaarder as materiële dinge?
• Watter twee verskillende groepe vind baat by Jesus se vergote bloed?
• Wie is die “begeerlike dinge” wat Jehovah se huis met heerlikheid sou vul?
• Watter bewyse het ons dat Haggai se profesie vandag vervul word?
[Diagram op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Weet jy wat die simboliese betekenis van Jehovah se eertydse tempel is?
Allerheiligste
Voorhangsel
Heilige
Voorportaal
Altaar
Voorhof
[Prent op bladsy 17]
Die hoëpriester het ’n bul vir die sondes van die Leviete en ’n bok vir die sondes van Israel se niepriesterlike stamme geoffer
[Prent op bladsy 18]
Deur die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk word menigtes na Jehovah se huis getrek