Lofofferandes wat Jehovah behaag
“[Bied] julle liggame aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is.”—ROMEINE 12:1.
1. Wat sê die Bybel oor die relatiewe waarde van die offerandes onder die Mosaïese Wet?
“AANGESIEN die Wet ’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge het, maar nie die wese van die dinge nie, kan mense nooit met dieselfde offerandes wat hulle van jaar tot jaar voortdurend bring, dié wat toetree, vervolmaak nie” (Hebreërs 10:1). Hier bevestig die apostel Paulus, met een treffende stelling, dat al die offerandes wat onder die Mosaïese Wet geoffer is geen permanente waarde het wat mense se redding betref nie.—Kolossense 2:16, 17.
2. Waarom is dit nie tevergeefs om die breedvoerige inligting in die Bybel omtrent die offerandes van die Wet te probeer verstaan nie?
2 Beteken dit dat die inligting in die Pentateug omtrent offerandes vandag van geen waarde vir Christene is nie? Diegene wat aan die Teokratiese Bedieningskool in die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld ingeskryf is, het in werklikheid onlangs die eerste vyf boeke van die Bybel in bietjie meer as ’n jaar gelees. Party het hulle ingespan om al die besonderhede te lees en te verstaan. Was al hulle inspanning tevergeefs? Dit kan beslis nie die geval wees nie, want “alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Die vraag is dus: Watter “onderrigting” en “vertroosting” kan ons uit al daardie inligting in die Wet aangaande offerandes kry?
Vir ons onderrigting en vertroosting
3. Watter basiese behoefte het ons?
3 Hoewel daar nie van ons verwag word om letterlike offerandes te bring op die wyse wat deur die Wet voorgeskryf is nie, is daar iets wat die offerandes in sekere mate vir die Israeliete gedoen het wat ons nog steeds dringend nodig het, naamlik vergifnis van ons sondes en die verkryging van God se guns. Maar hoe kan ons hierdie voordele ontvang, aangesien ons nie meer letterlike offerandes bring nie? Nadat Paulus getoon het wat die beperkings van die diereofferandes was, sê hy: “Wanneer [Jesus] in die wêreld inkom, sê hy derhalwe: ‘“Offerande en offer wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei. U het nie heelbrandoffers en sondoffer goedgekeur nie.” Toe het ek gesê: “Kyk! Ek kom (in die rol van die boek staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God.”’”—Hebreërs 10:5-7.
4. Hoe pas Paulus Psalm 40:7-9 op Jesus Christus toe?
4 Paulus haal uit Psalm 40:7-9 aan en toon dat Jesus nie gekom het om die “slagoffer of spysoffer” en die “brandoffer en sondoffer” te verewig nie, wat alles teen die tyd dat Paulus sy briewe geskryf het nie meer God se goedkeuring geniet het nie. Jesus het eerder gekom met ’n liggaam wat deur sy hemelse Vader berei is, een wat in elke opsig ooreengekom het met die liggaam wat God berei het toe Hy Adam geskep het (Genesis 2:7; Lukas 1:35; 1 Korintiërs 15:22, 45). As die volmaakte Seun van God was Jesus die “saad” van die vrou, soos in Genesis 3:15 voorspel is. Hy sou stappe doen om ‘Satan se kop te vermorsel’, hoewel Jesus self ‘in die hakskeen gebyt’ sou word. Sodoende het Jesus die middel geword waardeur Jehovah redding vir die mensdom voorsien het, die een waarop manne van geloof sedert die dae van Abel gehoop het.
5, 6. Watter voortrefliker manier om God te nader, is beskikbaar vir Christene?
5 Paulus praat oor hierdie spesiale rol wat Jesus gespeel het en sê: “Die een wat sonde nie geken het nie, het [God] vir ons tot sonde gemaak, sodat ons deur middel van hom God se regverdigheid kon word” (2 Korintiërs 5:21). Die uitdrukking “tot sonde gemaak” kan ook vertaal word as ‘’n sondoffer gemaak’. Die apostel Johannes sê: “Hy is ’n soenofferande vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:2). Hoewel die Israeliete deur middel van hulle offerandes ’n tydelike middel gehad het waardeur hulle God kon nader, het Christene dus ’n voortrefliker grondslag om God te nader—die offerande van Jesus Christus (Johannes 14:6; 1 Petrus 3:18). As ons geloof beoefen in die losprysofferande wat deur God voorsien is en Hom gehoorsaam, kan ons ook vergifnis vir ons sondes verkry en God se guns en seën geniet (Johannes 3:17, 18). Is dit nie ’n bron van vertroosting nie? Hoe kan ons egter bewys dat ons geloof in die losprysofferande stel?
6 Nadat die apostel Paulus verduidelik het dat Christene ’n voortrefliker grondslag het om God te nader, noem hy drie maniere waarop ons ons geloof en waardering vir God se liefdevolle voorsiening kan toon, soos ons in Hebreërs 10:22-25 lees. Hoewel Paulus se vermaning hoofsaaklik gerig is aan diegene wat ‘toegang tot die heiligdom’ het—dit wil sê gesalfde Christene met ’n hemelse roeping—moet die hele mensdom beslis aandag skenk aan Paulus se geïnspireerde woorde as hulle by Jesus se soenofferande baat wil vind.—Hebreërs 10:19.
Bring rein en onbesmette offerandes
7. (a) Hoe weerspieël Hebreërs 10:22 wat tydens ’n offerande gedoen is? (b) Wat moes gedoen word om te verseker dat ’n offerande vir God aanneemlik is?
7 Paulus spoor Christene eerstens aan: “Laat ons dan met waaragtige harte toetree in die volle versekerdheid van die geloof, aangesien ons harte deur besprinkeling van ’n goddelose gewete gereinig is en ons liggame met skoon water gewas is” (Hebreërs 10:22). Die taal wat hier gebruik word, weerspieël ongetwyfeld wat tydens ’n tipiese offerande onder die Wet gedoen is. Dit is gepas, want ’n offerande kon slegs aanneemlik wees as dit met die regte beweegrede geoffer is en as dit iets was wat rein en onbesmet was. Die offerdier was van die beeste of van die kleinvee, dit wil sê van die rein diere, en dit was “sonder gebrek”. As dit ’n offerande van voëls was, moes dit van die tortelduiwe of jong duiwe wees. As dit aan hierdie voorwaardes voldoen het, moes dit “met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen” (Levitikus 1:2-4, 10, 14; 22:19-25). Die spysoffer het geen suurdeeg bevat nie, wat verdorwenheid voorstel; dit sou ook nie heuning bevat nie, wat waarskynlik verwys na die stroop van vrugte wat geneig is om gisting te veroorsaak. Wanneer die offerandes—van diere of spys—op die altaar geoffer is, is sout, ’n preserveermiddel, bygevoeg.—Levitikus 2:11-13.
8. (a) Wat is vereis van iemand wat ’n offerande gebring het? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons aanbidding vir Jehovah aanneemlik is?
8 Wat van die persoon wat die offerande bring? Die Wet het bepaal dat enigiemand wat voor Jehovah verskyn rein en onbesmet moes wees. Iemand wat om die een of ander rede onrein geword het, moes eers ’n sondoffer of skuldoffer bring om sy rein posisie voor Jehovah te herstel sodat sy brandoffer of gemeenskapsoffer vir Hom aanneemlik kon wees (Levitikus 5:1-6, 15, 17). Besef ons dus hoe belangrik dit is om altyd ’n rein posisie voor Jehovah te behou? As ons wil hê dat ons aanbidding vir God aanneemlik moet wees, moet ons vinnig optree om enige oortreding teen God se wette reg te stel. Ons moet nie aarsel om van die godgegewe hulpmiddele gebruik te maak nie—“die ouer manne van die gemeente” en die “soenofferande vir ons sondes”, Jesus Christus.—Jakobus 5:14; 1 Johannes 2:1, 2.
9. Wat is die grootste verskil tussen die offerandes wat aan Jehovah gebring is en dié wat aan valse gode geoffer is?
9 Die klem op offerandes sonder enige gebrek was in werklikheid die grootste verskil tussen die offerandes wat aan Jehovah gebring is en dié wat die mense van die nasies rondom Israel aan valse gode geoffer het. Een naslaanwerk lewer kommentaar oor hierdie onderskeidende kenmerk van die offerandes in die Mosaïese Wet en sê: “Ons sal dalk opmerk dat daar geen verband met waarsêery is nie; geen godsdienswaansin, selfverminkings of heilige prostitusie nie, sensuele en bandelose vrugbaarheidsritusse is streng verbied; geen menseoffers nie; geen offerandes aan die dooies nie.” Dit alles vestig die aandag op een feit: Jehovah is heilig, en sonde of verdorwenheid van enige aard word nie deur hom vergoelik of goedgekeur nie (Habakuk 1:13). Aanbidding en offerandes aan hom moet rein en onbesmet wees—fisies, sedelik en geestelik.—Levitikus 19:2; 1 Petrus 1:14-16.
10. Watter selfondersoek moet ons doen in ooreenstemming met Paulus se vermaning in Romeine 12:1, 2?
10 Met die oog hierop moet ons onsself op alle lewensterreine deeglik ondersoek om seker te maak dat ons diens aan Jehovah vir hom aanneemlik is. Ons moet nooit dink dat dit nie saak maak wat ons in ons privaat lewe doen nie, solank ons net ’n deelname aan Christelike vergaderinge en aan die bediening het. Ons moet ook nie voel dat ons aandeel aan Christelike bedrywighede ons enigsins onthef van ons plig om God se wette op ander gebiede van ons lewe te onderhou nie (Romeine 2:21, 22). Ons kan nie God se seën en guns verwag as ons toelaat dat enigiets wat in sy oë onrein of besmet is ons denke of gedrag besoedel nie. Hou Paulus se woorde in gedagte: “[Ek] versoek . . . julle dringend op grond van die medelye van God, broers, om julle liggame aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë. En hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.”—Romeine 12:1, 2.
Bring lofofferandes met jou hele hart
11. Wat sluit die uitdrukking “openbare bekendmaking” in, waarvan Hebreërs 10:23 praat?
11 In sy brief aan die Hebreërs het Paulus vervolgens die aandag op ’n noodsaaklike aspek van ware aanbidding gevestig: “Laat ons die openbare bekendmaking van ons hoop vashou sonder om te wankel, want hy wat beloof het, is getrou” (Hebreërs 10:23). Die uitdrukking “openbare bekendmaking” beteken letterlik “belydenis”, en Paulus praat ook van “’n lofofferande” (Hebreërs 13:15). Dit herinner ons aan die soort offerande wat manne soos Abel, Noag en Abraham geoffer het.
12, 13. Wat het ’n Israeliet erken wanneer hy ’n brandoffer geoffer het, en wat kan ons doen om dieselfde gees te weerspieël?
12 ’n Israeliet het ’n brandoffer “uit vrye wil” aan Jehovah geoffer (Levitikus 1:3, NW). Met so ’n offerande het hy vrywillig ’n openbare bekendmaking, of erkenning, van Jehovah se oorvloedige seëninge en liefderyke goedhartigheid teenoor sy volk gedoen. Onthou dat ’n kenmerk van die brandoffer was dat die hele offerande op die altaar verbrand is—’n gepaste simbool van algehele toegewydheid en toewyding. Ons toon eweneens ons geloof in die losprysofferande en ons waardering vir daardie voorsiening wanneer ons gewillig en heelhartig aan Jehovah ons “lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe”.
13 Hoewel Christene nie letterlike offerandes—van diere of groente—offer nie, het hulle wel die verantwoordelikheid om van die goeie nuus van die Koninkryk te getuig en dissipels van Jesus Christus te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Gryp jy geleenthede aan om die goeie nuus van God se Koninkryk in die openbaar bekend te maak sodat baie meer mense kan leer van die wonderlike dinge wat God vir gehoorsame mense in die vooruitsig het? Bestee jy gewillig jou tyd en energie daaraan om belangstellendes te onderrig en hulle te help om dissipels van Jesus Christus te word? Ons ywerige deelname aan die bediening is, soos die lieflike geur van ’n brandoffer, vir God welbehaaglik.—1 Korintiërs 15:58.
Vreugdevolle deelgenootskap met God en mense
14. Hoe stem Paulus se woorde in Hebreërs 10:24, 25 ooreen met die doel van die gemeenskapsoffer?
14 Laastens vestig Paulus die aandag op ons verhouding met mede-Christene terwyl ons God aanbid. “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Die uitdrukkings “om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor”, “ons onderlinge vergadering” en “mekaar aanmoedig” herinner ons aan wat die gemeenskapsoffer in Israel vir God se volk gedoen het.
15. Watter ooreenkoms sien ons tussen die gemeenskapsoffer en Christelike vergaderinge?
15 Die woord “gemeenskapsoffer” word soms vertaal met “vredeoffer”. Die Hebreeuse woord vir “vrede” word hier in die meervoud gebruik, wat moontlik aandui dat diegene wat aan sulke offerandes deelneem vrede met God en vrede met medeaanbidders geniet. ’n Geleerde sê aangaande die gemeenskapsoffer: “Dit was inderdaad ’n tyd vir gelukkige deelgenootskap met die Verbondsgod, waartydens Hy afgedaal het om Israel se Gas by die offermaal te word, soos Hy ook altyd hulle Gasheer was.” Dit herinner ons aan Jesus se belofte: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde” (Matteus 18:20). Elke keer wanneer ons ’n Christelike vergadering bywoon, vind ons baat by die opbouende assosiasie, die bemoedigende onderrigting en die gedagte dat ons Here Jesus Christus in ons midde is. Dit maak ’n Christelike vergadering ’n waarlik vreugdevolle en geloofversterkende geleentheid.
16. Waarom is Christelike vergaderinge besonder vreugdevolle geleenthede as ’n mens die gemeenskapsoffer in gedagte hou?
16 Met die gemeenskapsoffer is al die vet—om die ingewande, die niere en die lendene, sowel as die netvet om die lewer en die vetstert van die skaap—aan Jehovah geoffer deur dit aan die brand te steek en op die altaar te laat rook (Levitikus 3:3-16). Die vet is beskou as die rykste en beste deel van ’n dier. Die feit dat dit op die altaar geoffer is, het voorgestel dat die beste aan Jehovah gegee word. Christelike vergaderinge is besonder vreugdevolle geleenthede, nie net omdat ons onderrigting ontvang nie, maar ook omdat ons Jehovah loof. Ons doen dit deur ons beskeie, dog beste pogings aan te wend om hartlik saam te sing, aandagtig te luister en wanneer moontlik kommentaar te lewer. “Loof Jah!” het die psalmis uitgeroep. “Sing ’n nuwe lied tot Jehovah, sy lof in die gemeente van lojales.”—Psalm 149:1, NW.
Oorvloedige seëninge van Jehovah wag op ons
17, 18. (a) Watter groot offerande het Salomo met die inwyding van die tempel in Jerusalem geoffer? (b) Hoe is die volk met die tempel se inwyding geseën?
17 Met die inwyding van die tempel in Jerusalem, in die sewende maand van die jaar 1026 v.G.J., het koning Salomo “’n groot offerande voor Jehovah” gebring, wat bestaan het uit “die brandoffer en die graanoffer en die vetstukke van die gemeenskapsoffers”. Benewens dit wat in die graanoffers geoffer is, is altesaam 22 000 beeste en 120 000 skape by daardie geleentheid geoffer.—1 Konings 8:62-65, NW.
18 Kan jy jou voorstel hoeveel geld en werk so ’n enorme plegtigheid moes gekos het? Tog het die seëninge wat Israel ontvang het ongetwyfeld die koste verreweg oortref. Aan die einde van die feesverrigtinge het Salomo “die volk laat gaan, en hulle het die koning geseën en na hul tente gegaan, verheug en opgeruimd oor al die goeie dinge wat die HERE aan sy kneg Dawid en sy volk Israel gedoen het” (1 Konings 8:66). Dit is waarlik soos Salomo dit gestel het: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22, NW.
19. Wat kan ons doen om nou en tot in alle ewigheid groot seëninge van Jehovah te ontvang?
19 Ons lewe in die tyd wanneer die “skaduwee van die toekomstige goeie dinge” vervang is deur “die wese van die dinge” (Hebreërs 10:1). Jesus Christus, in die rol van die groot antitipiese Hoëpriester, het reeds in die hemel self ingegaan en die waarde van sy eie bloed aangebied om versoening te doen vir almal wat geloof in sy offerande beoefen (Hebreërs 9:10, 11, 24-26). Op grond van daardie groot offerande, en deur lofofferandes wat rein en onbesmet is met ons hele hart aan God te bring, kan ons ook “verheug en opgeruimd” voortgaan, terwyl ons uitsien na oorvloedige seëninge van Jehovah.—Maleagi 3:10.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter onderrigting en vertroosting kan ons uit die inligting in die Wet omtrent offerandes kry?
• Wat is die eerste vereiste vir ’n offerande om aanneemlik te wees, en watter betekenis het dit vir ons?
• Wat kan ons offer wat met ’n vrywillige brandoffer vergelyk kan word?
• In watter opsigte kan Christelike vergaderinge met ’n gemeenskapsoffer vergelyk word?
[Prent op bladsy 18]
Jesus se losprysofferande is deur Jehovah voorsien vir die mensdom se redding
[Prent op bladsy 20]
Ons diens kan slegs vir Jehovah aanneemlik wees as ons heeltemal onbesmet is
[Prent op bladsy 21]
Ons erken Jehovah se goedheid in die openbaar wanneer ons aan die bediening deelneem