Jehovah is ‘die beloner van dié wat hom ernstig soek’
“Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—HEBREËRS 11:6.
1, 2. Waarom worstel party van Jehovah se knegte dalk met negatiewe gevoelens?
“EK IS al amper 30 jaar lank ’n Getuie van Jehovah, maar ek het nog nooit waardig gevoel om een genoem te word nie”, erken Barbara.a “Hoewel ek pionierdiens gedoen het en al baie ander voorregte geniet het, is nie een van hierdie dinge genoeg om my in my hart te oortuig dat ek inpas nie.” Keith spreek soortgelyke gedagtes uit. “Ek het soms onwaardig gevoel, want Jehovah se knegte het soveel redes om gelukkig te wees, maar ek was nie”, sê hy. “Dit het tot skuldgevoelens gelei, wat sake net vererger het.”
2 Baie van Jehovah se getroue knegte, in die verlede sowel as die hede, het met soortgelyke gevoelens geworstel. Het jý dit al ondervind? Dalk oorweldig die een probleem ná die ander jou, terwyl dit lyk of jou medegelowiges die lewe geniet, of hulle sorgvry en gelukkig is. Gevolglik voel jy miskien dat jy nie Jehovah se goedkeuring het of sy aandag waardig is nie. Moenie oorhaastig tot die slotsom kom dat dit die geval is nie. Die Bybel verseker ons: “[Jehovah] het die ellende van die geteisterde nie verag of verafsku nie; en hy het sy aangesig nie vir hom verberg nie, en wanneer hy tot hom om hulp geroep het, het hy gehoor” (Psalm 22:24). Hierdie profetiese woorde oor die Messias toon dat Jehovah sy getroues nie net hoor nie, maar hulle ook beloon.
3. Waarom is ons nie immuun teen die druk van hierdie stelsel van dinge nie?
3 Niemand is immuun teen die druk van hierdie stelsel van dinge nie—nie eers Jehovah se volk nie. Ons lewe in ’n wêreld waarvan Jehovah se aartsvyand, Satan die Duiwel, die heerser is (2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Jehovah se knegte word nie wonderbaarlik beskerm nie, maar is eerder Satan se hoofteiken (Job 1:7-12; Openbaring 2:10). Ons moet dus tot God se vasgestelde tyd “volhard onder verdrukking” en ‘volhou met gebed’, vol vertroue dat Jehovah besorg is oor ons (Romeine 12:12). Ons moenie toegee aan die gedagte dat ons God, Jehovah, ons nie liefhet nie!
Eertydse voorbeelde van volharding
4. Meld voorbeelde van getroue knegte van Jehovah wat moeilike situasies verduur het.
4 Baie eertydse knegte van Jehovah moes moeilike situasies verduur. Hanna was byvoorbeeld “bitter van siel” omdat sy kinderloos was—’n toestand wat haar laat voel het dat God haar vergeet het (1 Samuel 1:9-11). Toe Elia deur die moorddadige koningin Isebel vervolg is, het hy bang geword en tot Jehovah gebid: “Dit is genoeg! Neem nou my siel weg, o Jehovah, want ek is nie beter as my voorvaders nie” (1 Konings 19:4). En die apostel Paulus het sekerlik die volle las van sy onvolmaaktheid gevoel toe hy erken het: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig.” Hy het bygevoeg: “Ellendige mens wat ek is!”—Romeine 7:21-24.
5. (a) Hoe is Hanna, Elia en Paulus beloon? (b) Watter vertroosting kan ons uit God se Woord put as ons met negatiewe gevoelens worstel?
5 Ons weet natuurlik dat Hanna, Elia en Paulus almal in Jehovah se diens volhard het, en Hy het hulle ryklik beloon (1 Samuel 1:20; 2:21; 1 Konings 19:5-18; 2 Timoteus 4:8). Nietemin het hulle met al die verskillende menslike emosies geworstel, wat droefheid, wanhoop en vrees ingesluit het. Dit moet ons dan nie verbaas as ons by tye negatiewe gevoelens ervaar nie. Maar wat kan jy doen as die sorge van die lewe jou laat wonder of Jehovah jou werklik liefhet? Jy kan vertroosting put uit God se Woord. In die vorige artikel het ons byvoorbeeld Jesus se woorde bespreek dat Jehovah ‘selfs die hare op jou kop’ getel het (Matteus 10:30). Daardie aanmoedigende woorde toon dat Jehovah opreg belangstel in elkeen van sy knegte. Onthou ook Jesus se illustrasie van die mossies. As nie een van daardie klein voëltjies op die grond val sonder dat Jehovah dit raaksien nie, waarom sal Jehovah dan sy oë sluit vir jou benarde toestand?
6. Hoe kan die Bybel ’n bron van vertroosting wees vir diegene wat met negatiewe gevoelens worstel?
6 Is dit werklik moontlik dat ons as onvolmaakte mense kosbaar kan wees in die oë van die almagtige Skepper, Jehovah God? Ja! Trouens, daar is tallose Bybelverse wat ons hiervan verseker. As ons daardie verse ter harte neem, kan ons die woorde van die psalmis beaam wat gesê het: “Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel” (Psalm 94:19). Kom ons bespreek ’n paar van hierdie vertroostende verklarings in God se Woord wat ons sal help om beter te verstaan dat ons kosbaar is in God se oë en dat hy ons sal beloon as ons voortgaan om sy wil te doen.
Jehovah se “spesiale eiendom”
7. Watter bemoedigende profesie het Jehovah deur Maleagi teenoor die verdorwe nasie uitgespreek?
7 ’n Betreurenswaardige situasie het gedurende die vyfde eeu v.G.J. onder die Jode geheers. Die priesters het diere met gebreke aanvaar en dit as offerandes op Jehovah se altaar gebring. Regters het partydigheid getoon. Towery, leuens, bedrog en egbreuk het hoogty gevier (Maleagi 1:8; 2:9; 3:5). Teenoor hierdie nasie wat openlik verdorwe was, het Maleagi ’n verbasende profesie uitgespreek. Jehovah sou sy volk na verloop van tyd tot ’n goedgekeurde toestand laat terugkeer. Ons lees: “‘Hulle sal beslis myne word’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘op die dag dat ek ’n spesiale eiendom voortbring. En ek sal medelye met hulle betoon, soos ’n man medelye met sy seun betoon wat hom dien.’”—Maleagi 3:17.
8. Waarom kan Maleagi 3:17 in beginsel toegepas word op die groot menigte?
8 Maleagi se profesie het ’n hedendaagse vervulling ten opsigte van geesgesalfde Christene, wat ’n geestelike nasie van 144 000 uitmaak. Hierdie nasie is inderdaad vir Jehovah “’n spesiale eiendom”, of “’n volk vir spesiale besit” (1 Petrus 2:9). Maleagi se profesie kan ook bemoedigend wees vir die “groot menigte”, wat “voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere” (Openbaring 7:4, 9). Hulle word een kudde met die gesalfdes, onder een Herder, Jesus Christus.—Johannes 10:16.
9. Waarom is Jehovah se volk vir hom “’n spesiale eiendom”?
9 Hoe beskou Jehovah diegene wat kies om hom te dien? Soos Maleagi 3:17 toon, beskou hy hulle soos ’n liefdevolle vader sy seun beskou. En let op die hartlike woorde waarmee hy sy volk beskryf—“’n spesiale eiendom”. Ander vertalings gee hierdie uitdrukking weer met “my eie”, “my kosbaarste besitting” en “my sierade”. Waarom sou Jehovah diegene wat hom dien as so spesiaal beskou? Om maar een ding te noem, hy is ’n God wat waardering toon (Hebreërs 6:10). Hy kom nader aan diegene wat hom uit die hart dien en beskou hulle as spesiaal.
10. Hoe voorsien Jehovah beskerming aan sy volk?
10 Kan jy dink aan ’n kosbare besitting van jou wat jy as spesiale eiendom beskou? Neem jy nie stappe om dit te beskerm nie? Jehovah doen dieselfde met sy “spesiale eiendom”. Hy beskerm sy volk weliswaar nie teen alle beproewinge en tragedies in die lewe nie (Prediker 9:11). Maar Jehovah kan en sal sy getroue knegte geestelik beskerm. Hy gee hulle die krag wat hulle nodig het om enige beproewing te verduur (1 Korintiërs 10:13). Daarom het Moses vir God se eertydse volk, die Israeliete, gesê: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God trek saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie” (Deuteronomium 31:6). Jehovah doen goed aan sy volk. Vir hom is hulle “’n spesiale eiendom”.
Jehovah “die Beloner”
11, 12. Hoe kan die besef dat Jehovah ons Beloner is, ons help om teen twyfelgedagtes te stry?
11 Nog ’n bewys dat Jehovah sy knegte as kosbaar beskou, is die feit dat hy hulle beloon. Hy het vir die Israeliete gesê: “‘Stel my asseblief hierin op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie’” (Maleagi 3:10). Uiteindelik sal Jehovah sy knegte natuurlik met die ewige lewe beloon (Johannes 5:24; Openbaring 21:4). Hierdie onvergelyklike beloning openbaar die omvang van Jehovah se liefde en vrygewigheid. Dit toon ook dat hy diegene wat kies om hom te dien, waarlik as kosbaar beskou. As ons leer om Jehovah as ’n ruimhartige Beloner te beskou, kan dit ons help om te stry teen enige twyfelgedagtes oor ons posisie voor God. Trouens, Jehovah spoor ons aan om hom as ’n Beloner te beskou! Paulus het geskryf: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.
12 Ons dien Jehovah natuurlik omdat ons hom liefhet—nie net omdat hy belowe om ons te beloon nie. Maar dit is nie ongepas of selfsugtig om die hoop op ’n beloning in ons hart te bewaar nie (Kolossense 3:23, 24). Omdat Jehovah lief is vir dié wat hom ernstig soek en hulle as baie kosbaar beskou, neem hy die inisiatief en beloon hy hulle.
13. Waarom is die voorsiening van die losprys die grootste bewys van Jehovah se liefde vir ons?
13 Die grootste aanduiding van die mensdom se potensiële waarde in Jehovah se oë is die voorsiening van die losprys. Die apostel Johannes het geskryf: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die voorsiening van die losprysoffer van Jesus Christus weerlê die idee dat ons waardeloos of onbeminlik is in Jehovah se oë. Ja, as Jehovah so ’n hoë prys vir ons betaal het—deurdat hy sy enigverwekte Seun geoffer het—moet hy ons beslis innig liefhê.
14. Wat toon hoe Paulus die losprys beskou het?
14 Wanneer negatiewe gevoelens dan by jou opkom, moet jy oor die losprys peins. Ja, beskou hierdie gawe as ’n voorsiening van Jehovah af aan jou persoonlik. Dit is wat die apostel Paulus gedoen het. Onthou dat hy gesê het: “Ellendige mens wat ek is!” Maar toe het hy verder gesê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here”, wat, het Paulus gesê, “my liefgehad het en homself vir my oorgegee het” (Romeine 7:24, 25; Galasiërs 2:20). Paulus was nie egotisties toe hy dit gesê het nie. Hy het bloot die vertroue gehad dat Jehovah hom as ’n individu as kosbaar beskou het. Soos Paulus, moet jy ook leer om die losprys as ’n persoonlike gawe van God te beskou. Jehovah is nie net ’n kragtige Redder nie, maar ook ’n liefdevolle Beloner.
Pas op vir Satan se ‘listige dade’
15-17. (a) Hoe buit die Duiwel negatiewe gevoelens uit? (b) Watter aanmoediging kan ons put uit die ondervinding van Job?
15 Jy vind dit miskien nogtans moeilik om te glo dat die geïnspireerde vertroosting wat in God se Woord gevind word, werklik op jou van toepassing is. Jy voel moontlik dat die beloning om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe, iets is wat ander kan ontvang, maar dat jy dit eenvoudig nie waardig is nie. Wat kan jy doen as jy so voel?
16 Jy is ongetwyfeld bekend met Paulus se vermaning aan die Efesiërs: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette [“listige dade”, voetnoot in NW] van die Duiwel” (Efesiërs 6:11). Wanneer ons aan Satan se sette dink, kom dinge soos materialisme en onsedelikheid dalk onmiddellik by ons op en tereg ook. Hierdie versoekings het baie van God se knegte in die ou tyd sowel as in ons dag verstrik. Maar ons moenie ’n ander listige daad van Satan oor die hoof sien nie—sy poging om mense te oortuig dat Jehovah God hulle nie liefhet nie.
17 Die Duiwel weet goed hoe om sulke gevoelens uit te buit in sy poging om mense van God weg te keer. Dink aan Bildad se woorde aan Job: “Hoe kan ’n sterflike mens dan reg wees voor God, of hoe kan iemand wat uit ’n vrou gebore is, rein wees? Kyk! Daar is selfs die maan, en dit is nie helder nie; en die sterre is nie rein in sy oë nie. Hoeveel minder ’n sterflike mens, wat ’n maaier is, en ’n mensekind, wat ’n wurm is!” (Job 25:4-6; Johannes 8:44). Kan jy jou voorstel hoe afbrekend daardie woorde was? Moet dus nie toelaat dat Satan jou ontmoedig nie. Wees eerder bewus van Satan se planne sodat jy die moed en stamina sal hê om nog harder te stry om te doen wat reg is (2 Korintiërs 2:11). Wat Job betref, al moes hy tereggewys word, het Jehovah hom vir sy volharding beloon deur alles wat hy verloor het, in dubbele mate vir hom terug te gee.—Job 42:10.
Jehovah “is groter as ons hart”
18, 19. Hoe is God “groter as ons hart”, en in watter opsig ‘weet hy alles’?
18 Dit kan weliswaar moeilik wees om diepliggende gevoelens van ontmoediging te onderdruk. Maar Jehovah se gees kan jou help om “sterk verskanste dinge . . . wat teen die kennis van God opgerig word”, met verloop van tyd omver te werp (2 Korintiërs 10:4, 5). Wanneer dit voel of negatiewe gedagtes jou wil oorweldig, kan jy gerus peins oor die apostel Johannes se woorde: “Hieraan sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het, en ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles.”—1 Johannes 3:19, 20.
19 Wat word bedoel met die uitdrukking “God is groter as ons hart”? Soms veroordeel ons hart ons miskien, veral wanneer ons pynlik bewus word van ons onvolmaakthede en tekortkominge. Of weens ons agtergrond is ons moontlik te geneig om ’n negatiewe beskouing van onsself te hê, asof niks wat ons doen, vir Jehovah aanneemlik kan wees nie. Die apostel Johannes se woorde verseker ons dat Jehovah groter as dit is! Hy ignoreer ons foute van die verlede en sien ons ware potensiaal raak. Hy weet ook wat ons beweegredes en bedoelings is. Dawid het geskryf: “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Ja, Jehovah ken ons beter as wat ons onsself ken!
“’n Pragtige kroon” en “’n koninklike tulband”
20. Wat openbaar Jesaja se herstellingsprofesie oor Jehovah se beskouing van sy knegte?
20 Deur middel van die profeet Jesaja het Jehovah sy eertydse volk die hoop op herstel gegee. Omdat hulle in ballingskap na Babilon sou gaan, was dié vertroosting en versekering net wat hierdie wanhopiges nodig sou hê! Jehovah het vooruitgekyk na die tyd wanneer hulle na hulle vaderland sou terugkeer en gesê: “Jy moet ’n pragtige kroon in die hand van Jehovah word, en ’n koninklike tulband in die palm van jou God” (Jesaja 62:3). Met hierdie woorde het Jehovah sy volk met waardigheid en prag beklee. Hy het vandag dieselfde gedoen met sy nasie van geestelike Israel. Dit is asof hy hulle verhef het sodat almal hulle kan bewonder.
21. Hoe kan jy seker wees dat Jehovah jou getroue volharding sal beloon?
21 Hoewel hierdie profesie hoofsaaklik in die gesalfdes vervul word, is dit ’n aanduiding van die waardigheid wat Jehovah aan almal verleen wat hom dien. Wanneer jy derhalwe deur twyfelgedagtes oorval word, moet jy onthou dat jy vir Jehovah net so kosbaar kan wees as “’n pragtige kroon” en “’n koninklike tulband”, al is jy onvolmaak. Gaan dus voort om sy hart bly te maak deur opreg daarna te streef om sy wil te doen (Spreuke 27:11). As jy dit doen, kan jy seker wees dat Jehovah jou getroue volharding sal beloon!
[Voetnoot]
a Party name is verander.
Onthou jy?
• In watter sin is ons vir Jehovah “’n spesiale eiendom”?
• Waarom is dit belangrik om Jehovah as die Beloner te beskou?
• Teen watter ‘listige dade’ van Satan moet ons op ons hoede wees?
• Hoe is God “groter as ons hart”?
[Prent op bladsy 26]
Paulus
[Prent op bladsy 26]
Elia
[Prent op bladsy 26]
Hanna
[Prent op bladsy 28]
God se Woord bevat ’n oorvloed vertroostende gedagtes