Bybelboek nommer 58—Hebreërs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 61 G.J.
1. Ooreenkomstig watter opdrag het Paulus die brief aan die Hebreërs geskryf?
PAULUS is die beste bekend as die apostel van “die heidene”. Maar was sy bediening tot die nie-Jode beperk? Beslis nie! Net voor Paulus gedoop is en sy werkopdrag ontvang het, het die Here Jesus vir Ananias gesê: “Hy [Paulus] is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel” (Hand. 9:15; Gal. 2:8, 9). Die skrywe van die boek Hebreërs was waarlik in harmonie met Paulus se opdrag om Jesus se naam voor die kinders van Israel te dra.
2. Hoe kan argumente teen Paulus se skrywerskap van Hebreërs weerlê word?
2 Sommige kritici trek egter Paulus se skrywerskap van Hebreërs in twyfel. Een beswaar is dat Paulus se naam nie in die brief voorkom nie. Maar dit is nie werklik ’n beletsel nie, want baie ander kanonieke boeke bevat ook nie die naam van die skrywer nie. In sulke gevalle word die skrywer dikwels deur bewyse in die boek self geïdentifiseer. Sommige meen bowendien dat Paulus dalk sy naam met opset weggelaat het toe hy aan die Hebreeuse Christene in Judea geskryf het, omdat die Jode aldaar sy naam gehaat gemaak het (Hand. 21:28). Ook die verandering van styl vergeleke met sy ander briewe is nie werklik ’n beswaar teen Paulus se skrywerskap nie. Of Paulus hom nou tot heidene, Jode of Christene gerig het, hy het altyd bewys gelewer van sy vermoë ‘om vir almal alles te word’. Hier word sy argumente aan Jode aangebied as afkomstig van ’n Jood, argumente wat hulle ten volle kon verstaan en waardeer.—1 Kor. 9:22.
3. Watter bewyse in die boek self bevestig dat Paulus Hebreërs geskryf het en dui daarop dat hy vernaamlik vir die Jode geskryf het?
3 Die bewyse in die boek self staaf Paulus se skrywerskap volkome. Die skrywer was in Italië en was verbonde met Timotheüs. Hierdie feite pas by Paulus (Hebr. 13:23, 24). Boonop is die leer kenmerkend van Paulus, hoewel die argumente uit ’n Joodse standpunt aangebied word sodat dit ingang sou vind by die uitsluitlik Hebreeuse gemeente aan wie die brief gerig is. In hierdie verband sê Clarke se Commentary, Deel 6, bladsy 681, oor Hebreërs: “Dat dit aan natuurlike Jode geskryf is, word deur die hele struktuur van die brief bewys. Was dit aan nie-Jode geskryf, sou nie een uit tienduisend die argument begryp het nie, daar hulle onbekend was met die Joodse stelsel; bekendheid hiermee word deurgaans deur die skrywer van hierdie brief veronderstel.” Dit verklaar onder meer waarom die styl anders is as dié van Paulus se ander briewe.
4. Watter verdere bewys is daar dat Paulus Hebreërs geskryf het?
4 Die ontdekking in ongeveer 1930 van die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46) het verdere bewys gelewer dat Paulus die skrywer was. Die vermaarde Britse tekskritikus sir Frederic Kenyon het die volgende kommentaar gelewer oor hierdie papiruskodeks, wat net sowat anderhalf eeu ná Paulus se dood geskryf is: “Dit is opmerklik dat Hebreërs onmiddellik na Romeine geplaas word (’n byna ongekende posisie), wat toon dat daar op die vroeë tydstip toe hierdie manuskrip geskryf is geen twyfel bestaan het oor die Pauliniese outeurskap daarvan nie.”a Oor dieselfde kwessie sê McClintock en Strong se Cyclopedia onomwonde: “Daar is geen grondige getuienis, hetsy in die brief self of daarbuite, ten gunste van enige aanspraakmaker op die outeurskap van hierdie brief behalwe Paulus nie.”b
5. Hoe bewys die inhoud van Hebreërs dat dit geïnspireer is?
5 Afgesien van die feit dat die boek deur die vroeë Christene aanvaar is, bewys die inhoud van Hebreërs dat dit “deur God geïnspireer” is. Dit wys die leser deurentyd op die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte deur middel van talle verwysings na die vroeë geskrifte, en dit toon hoe al hierdie profesieë in Christus Jesus vervul is. In die eerste hoofstuk alleen is daar nie minder nie as sewe aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte terwyl die argument ontwikkel word dat die Seun nou hoër as die engele is. Dit verheerlik voortdurend Jehovah se Woord en sy naam, en dit wys op Jesus as die Hoofbewerker van die lewe en op God se Koninkryk onder Christus as die mensdom se enigste hoop.
6. Waarop dui die getuienis ten opsigte van waar en wanneer Hebreërs geskryf is?
6 Wanneer is die brief geskryf? Wel, daar is reeds aangetoon dat Paulus die brief geskryf het terwyl hy in Italië was. In die slot van die brief sê hy: “Julle moet weet dat die broeder Timotheüs vrygelaat is, saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom” (13:23). Dit dui daarop dat Paulus verwag het om weldra uit die gevangenis vrygelaat te word en gehoop het om vergesel te word deur Timotheüs, wat ook in die gevangenis was maar reeds vrygelaat is. Daar word dus gemeen dat Paulus die brief gedurende die laaste jaar van sy eerste gevangenskap in Rome, naamlik 61 G.J., geskryf het.
7. Met watter soort teenstand het die Joodse Christene in Jerusalem te kampe gehad, en wat het hulle nodig gehad?
7 Gedurende die tyd van die einde van die Joodse stelsel van dinge het daar ’n tyd van kritieke beproewing oor die Hebreeuse Christene in Judea en veral oor dié in Jerusalem gekom. Met die groei en verspreiding van die goeie nuus het die Jode uitermate bitter en fanaties in hulle teenstand teen die Christene geword. Net enkele jare tevore het die blote verskyning van Paulus in Jerusalem ’n oproer verwek, waartydens die godsdienstige Jode luidkeels geskreeu het: “Weg van die aarde met so ’n mens, want hy behoort nie te lewe nie!” Meer as 40 Jode het hulle met ’n vloek daartoe verbind om nie te eet of te drink voor hulle hom uit die weg geruim het nie, en dit het ’n sterk geleide van swaar gewapende troepe gekos om hom by nag na Cesarea te neem (Hand. 22:22; 23:12-15, 23, 24). In hierdie atmosfeer van godsdiensfanatisme en -haat teen Christene moes die gemeente lewe, preek en standvastig bly in die geloof. Hulle moes deeglike kennis en begrip hê van die manier waarop Christus die Wet vervul het, sodat hulle nie weer sou verval tot die Judaïsme en die gepaardgaande onderhouding van die Mosaïese Wet met sy diereoffers nie, dinge wat nou niks meer as ydele ritueel was nie.
8. Waarom was Paulus besonder goed toegerus om hierdie brief aan die Hebreërs te skryf, en watter reeks argumente het hy aangevoer?
8 Niemand kon die druk en vervolging waaraan die Joodse Christene blootgestel was beter verstaan as die apostel Paulus nie. Niemand was beter toegerus om hulle van kragtige argumente en weerleggings van Joodse oorleweringe te voorsien as Paulus, die voormalige Fariseër, nie. Deur gebruik te maak van sy diepgaande kennis van die Mosaïese Wet, wat hy aan die voete van Gamaliël geleer het, het hy onbetwisbare bewyse aangevoer dat Christus die vervulling van die Wet, sy verordeninge en sy offerandes is. Hy het getoon hoe hierdie aspekte nou vervang is deur veel glorieryker werklikhede wat oneindig groter voordele onder ’n nuwe en beter verbond meebring. Sy skerp verstand kom met die een duidelike en oortuigende bewys na die ander vorendag. Die einde van die Wetsverbond en die instelling van die nuwe verbond, die voortreflikheid van Christus se priesterskap bo dié van Aäron, die werklike waarde van Christus se offer vergeleke met die offers van stiere en bokke, Christus se ingang in die hemel voor die teenwoordigheid van Jehovah self in plaas van in ’n blote aardse tent—al hierdie treffende nuwe leerstellings, wat vir die ongelowige Jode uiters haatlik was, is hier met sulke oorvloedige bewyse uit die Hebreeuse Geskrifte aan die Hebreeuse Christene voorgelê dat geen redelike Jood anders kon as om daardeur oortuig te word nie.
9. Watter kragtige wapen het die brief aan die Hebreërs geword, en hoe blyk Paulus se liefde daaruit?
9 Hierdie brief het die Hebreeuse Christene ’n nuwe en kragtige wapen gegee om die monde van die vervolgende Jode te snoer, sowel as ’n oorredende argument waarmee hulle Jode wat opreg na God se waarheid gesoek het, kon oortuig en bekeer. Die brief getuig van Paulus se innige liefde vir die Hebreeuse Christene en sy brandende begeerte om hulle in hul tyd van groot nood op praktiese wyse te help.
INHOUD VAN HEBREËRS
10. Wat sê die eerste woorde van Hebreërs oor Christus se posisie?
10 Die verhewe posisie van Christus (1:1–3:6). Die eerste woorde vestig die aandag op Christus: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” Hierdie Seun is die aangestelde Erfgenaam van alle dinge en die afskynsel van sy Vader se heerlikheid. Nadat hy die reiniging van ons sondes bewerk het, het hy nou “gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (1:1-3). Paulus haal een skriftuurplaas na die ander aan om die verhewenheid van Jesus bo die engele te bewys.
11. (a) Waarom gee Paulus die raad om des te meer ag te gee op wat gehoor is? (b) Wat kan Jesus tot stand bring vanweë sy ondervindinge en sy verhewe posisie?
11 Paulus skryf dat ons ‘des te meer ag moet gee’. Waarom? Wel, betoog Paulus, as ongehoorsaamheid aan “die woord deur engele gespreek . . . vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam wat . . . deur die Here verkondig is”? God het die “mensekind” ’n weinig minder as die engele gemaak, maar nou sien ons hierdie Jesus “met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak” (2:1-3, 6, 9). Ten einde baie kinders tot heerlikheid te bring het God eers hierdie Bewerker van hulle saligheid ‘deur lyde volmaak’. Dit is hy wat die Duiwel tot niet maak en almal “bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was”. Jesus word dus “’n barmhartige en getroue hoëpriester”. En hoe wonderlik kan hy, aangesien hy self beproewing verduur het, “dié help wat versoek [“beproef”, NW] word” (2:10, 15, 17, 18). Daarom word Jesus meer heerlikheid waardig geag as Moses.
12. Watter weg moet Christene vermy indien hulle in God se rus wil ingaan?
12 Ingang in God se rus deur geloof en gehoorsaamheid (3:7–4:13). Veral Christene moet ’n waarskuwing ter harte neem uit die Israeliete se voorbeeld van ontrouheid, uit vrees dat daar in een van hulle “’n bose en ongelowige hart [ontwikkel] deurdat hy van die lewende God afvallig word” (Hebr. 3:12, vgl. NW; Ps. 95:7-11). Weens ongehoorsaamheid en ongeloof het die Israeliete wat Egipte verlaat het in gebreke gebly om in te gaan in God se rus, of Sabbat, waartydens hy geen skeppingswerke ten opsigte van die aarde doen nie. Paulus verduidelik egter: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.” Die Israeliete se voorbeeld van ongehoorsaamheid moet vermy word. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, . . . en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.”—Hebr. 4:9, 10, 12.
13. (a) Hoe het Christus “priester vir ewig” en ’n bewerker van ewige saligheid geword? (b) Waarom spoor Paulus die Hebreërs aan om tot rypheid voort te gaan?
13 Ryp beskouing van verhewenheid van Christus se priesterskap (4:14–7:28). Paulus spoor die Hebreërs aan om vas te hou aan hulle belydenis van Jesus, die groot Hoëpriester wat deur die hemele deurgegaan het, sodat hulle barmhartigheid kan verkry. Die Christus het nie homself verheerlik nie, maar dit was die Vader wat gesê het: “U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek” (Hebr. 5:6; Ps. 110:4). Eers is Christus vir die amp van hoëpriester vervolmaak deur gehoorsaamheid te leer uit wat hy gely het, sodat hy ’n bewerker van ewige saligheid kan word vir almal wat hom gehoorsaam is. Paulus het ‘veel te sê wat swaar is om te verklaar’, maar die Hebreërs is nog kinders wat melk nodig het terwyl hulle eintlik leraars behoort te wees. “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Die apostel spoor hulle aan om “tot rypheid voort te gaan”.—Hebr. 5:11, 14; 6:1, NW.
14. Hoe kan gelowiges die belofte beërwe, en hoe is hulle hoop bevestig?
14 Dit is onmoontlik om dié wat eenmaal die woord van God geken het en wat afvallig geword het tot bekering te vernuwe “omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak”. Net deur geloof en lankmoedigheid kan gelowiges erfgename word van die belofte wat aan Abraham gegee is—’n belofte wat veilig en vas gemaak is deur twee onveranderlike dinge: God se woord en sy eed. Hulle hoop, soos “’n anker van die siel wat veilig en vas is”, is bevestig deur Jesus se ingang “tot binnekant die voorhangsel” as Voorloper en Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.—6:6, 19.
15. Wat toon dat Jesus se priesterskap, wat volgens die orde van Melgisedek is, voortrefliker as dié van Levi sou wees?
15 Hierdie Melgisedek was sowel “koning van Salem” as “priester van God, die Allerhoogste”. Selfs die familiehoof Abraham het aan hom tiendes betaal, en deur hom het Levi, wat nog in die lendene van Abraham was, dit ook gedoen. Die seën wat Melgisedek oor Abraham uitgespreek het, het dus die ongebore Levi ingesluit, en dit het getoon dat die Levitiese priesterskap minderwaardig was in vergelyking met dié van Melgisedek. Buitendien, as daar volmaaktheid deur die Levitiese priesterskap van Aäron was, sou daar immers nie ’n ander priester “volgens die orde van Melgisedek” nodig gewees het nie. En omdat daar verandering van die priesterskap is, “kom daar noodsaaklik ook verandering van wet”.—7:1, 11, 12.
16. Waarom is die priesterskap van Jesus voortrefliker as dié van die priesters onder die Wet?
16 Die Wet het inderdaad niks volkome gemaak nie, maar het swak en nutteloos geblyk te wees. Omdat hulle bly sterf het, was die priesters onder die wet talryk, maar aangesien Jesus “vir ewig bly, besit [hy] ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Hierdie Hoëpriester, Jesus, is “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars”, terwyl die hoëpriesters wat deur die Wet aangestel is swak is en eers vir hulle eie sondes offers moet bring voor hulle vir ander kan intree. Die woord van God se eedswering stel derhalwe “die Seun aan, wat vir ewig volmaak is”.—7:24-26, 28.
17. In watter opsig is die nuwe verbond ’n beter verbond?
17 Die voortreflikheid van die nuwe verbond (8:1–10:31). Daar word aangetoon dat Jesus “Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (8:6). Paulus haal Jeremia 31:31-34 volledig aan en toon dat God se wette geskrywe word op die verstand en hart van diegene wat in die nuwe verbond staan, dat almal Jehovah sal ken en dat Jehovah “aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie”. Hierdie “nuwe verbond” het die eerste (die Wetsverbond) oud gemaak, en dié is nou “naby die verdwyning”.—Hebr. 8:12, 13.
18. Watter vergelyking maak Paulus wat die offers in verband met die twee verbonde betref?
18 Paulus beskryf die jaarlikse offers by die tabernakel van die voormalige verbond as “vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling”. Toe Christus egter as Hoëpriester gekom het, was dit met sy eie kosbare bloed en nie dié van bokke of jong stiere nie. Moses se sprinkeling van dierebloed het die voormalige verbond bekragtig en die tipiese tabernakel gereinig, maar beter offers was nodig vir die hemelse werklikhede in verband met die nuwe verbond. “Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” Christus hoef nie, soos Israel se hoëpriester, jaarlikse offers te bring nie, want “nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen”.—9:10, 24, 26.
19. (a) Wat kon die Wet nie doen nie, en waarom nie? (b) Wat is God se wil in verband met heiliging?
19 Ter samevatting sê Paulus dat “die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade”, nie deur sy herhaaldelike offers die ‘bewussyn van sondes’ kon wegneem nie. Jesus het egter in die wêreld gekom om God se wil te doen. “Deur hierdie wil”, sê Paulus, “is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” Laat die Hebreërs die openbare belydenis van hulle geloof onwankelbaar vashou en “op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor”, terwyl hulle nie hulle onderlinge byeenkoms versuim nie. As hulle opsetlik bly sondig nadat hulle die juiste kennis van die waarheid ontvang het, “bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie”.—10:1, 2, 10, 24, 26.
20. (a) Wat is geloof? (b) Watter pragtige woordbeelde van geloof skilder Paulus?
20 Die geloof verduidelik en toegelig (10:32–12:3). Paulus sê nou vir die Hebreërs: “Onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ’n groot lydensworsteling deurstaan het.” Laat hulle nie hulle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, wegwerp nie, maar laat hulle volhard ten einde die vervulling van die belofte te ontvang en geloof beoefen “tot behoud van die lewe”. Geloof! Ja, dit is wat nodig is. Paulus omskryf dit eers: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Dan skilder hy in een inspirerende hoofstuk die een kort woordbeeld na die ander van mense uit die ou tyd wat deur die geloof gelewe, gewerk, gestry, volhard en erfgename van die geregtigheid geword het. “Deur die geloof” het Abraham, wat met Isak en Jakob in tente gewoon het, “die stad verwag wat fondamente het”, waarvan God die Bouer is. “Deur die geloof” het Moses volgehou “soos een wat die Onsienlike sien”. “En wat sal ek nog meer sê?” vra Paulus. “Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry [het].” Ook ander is op die proef gestel deur bespottinge, geselinge, boeie en martelings, maar hulle wou geen bevryding aanneem nie “om ’n beter opstanding te kan verkry”. Ja, “die wêreld was hulle nie werd nie”. Hulle het almal deur die geloof getuienis ontvang, maar hulle wag nog op die vervulling van die belofte. “Daarom dan”, vervolg Paulus, “terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.”—10:32, 39; 11:1, 8, 10, 27, 32, 33, 35, 38; 12:1, 2.
21. (a) Hoe kan Christene volhard in die stryd van die geloof? (b) Watter kragtiger rede verskaf Paulus om na goddelike waarskuwings te luister?
21 Volharding in die stryd van die geloof (12:4-29). Paulus vermaan die Hebreeuse Christene om te volhard in die stryd van die geloof, want Jehovah tugtig hulle as seuns. Dit is nou die tyd om slap hande en verlamde knieë op te rig en om reguit paaie vir hulle voete te maak. Hulle moet ernstig waak teen enige wortel van bitterheid en teen besoedeling wat tot hulle verwerping kan lei, soos die geval was met Esau, wat nie heilige dinge waardeer het nie. By die letterlike berg het Moses gesê: “Ek is verskrik en ek sidder” vanweë die skrikwekkende vertoning van ’n brandende vuur, die wolk en die stem. Maar hulle het by iets veel ontsagwekkenders gekom—die berg Sion en hemelse Jerusalem, tienduisende engele, die gemeente van die Eersgeborene, God die Regter van almal, en Jesus die Middelaar van ’n nuwe en beter verbond. Daar is nou des te meer rede om op die goddelike waarskuwing ag te gee! In Moses se tyd het God se stem die aarde geskud, maar nou het Hy belowe om die hemel sowel as die aarde te laat bewe. Paulus laat die punt inslaan: “Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons . . . God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.”—12:21, 28, 29.
22. Met watter opbouende raad sluit Paulus sy brief aan die Hebreërs af?
22 Verskeie vermanings in verband met aanbidding (13:1-25). Paulus sluit af met opbouende raad: Laat die broederliefde bly, moenie die gasvryheid vergeet nie, laat die huwelik onder almal eerbaar wees, bly vry van geldgierigheid, wees gehoorsaam aan julle voorgangers en moenie rondgeslinger word deur vreemde leringe nie. Ten slotte, “laat ons dan gedurig deur Hom [Jesus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”.—13:15.
WAAROM NUTTIG
23. Wat betoog Paulus in verband met die Wet, en hoe ondersteun hy sy betoog?
23 As wetlike betoog ter ondersteuning van Christus is die brief aan die Hebreërs ’n onbetwisbare meesterstuk, volmaak saamgestel en deeglik gedokumenteer met bewyse uit die Hebreeuse Geskrifte. Dit neem die verskillende aspekte van die Mosaïese Wet—die verbond, die bloed, die middelaar, die tabernakel, die priesterdom, die offers—en toon dat hierdie dinge niks meer was nie as ’n godgegewe model wat vooruitgewys het op veel groter dinge en dat dit alles kulmineer in Christus Jesus en sy offerande, die vervulling van die Wet. Die Wet “wat oud word en verouder, is naby die verdwyning”, het Paulus gesê. Maar “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (8:13; 13:8; 10:1). Hoe verheug moes daardie Hebreërs tog nie gewees het toe hulle hul brief gelees het nie!
24. Watter reëling wat vir ons vandag van onskatbare nut is, word in Hebreërs verduidelik?
24 Maar watter nut het dit vandag vir ons in die veranderde omstandighede waarin ons leef? Kan ons, daar ons nie onder die Wet staan nie, iets nuttigs in Paulus se betoog vind? Alte seker. Hier vind ons ’n uiteensetting van die groot nuwe verbondsreëling wat gebaseer is op die belofte aan Abraham dat al die geslagte van die aarde hulleself deur middel van sy Saad sal seën. Dit is ons hoop vir die lewe, ons enigste hoop, naamlik die vervulling van Jehovah se eeue-oue belofte van seën deur Abraham se Saad, Jesus Christus. Ofskoon ons nie onder die Wet staan nie, is ons as Adam se nageslag in sonde gebore en het ons ’n barmhartige hoëpriester nodig, een met ’n geldige sondoffer, een wat tot reg in Jehovah se teenwoordigheid in die hemel kan ingaan en daar vir ons kan intree. Hier vind ons hom, die Hoëpriester wat ons na die lewe in Jehovah se nuwe wêreld kan lei, wat met ons swakhede medelye kan hê, wat “in alle opsigte versoek is net soos ons” en wat ons nooi om “met vrymoedigheid na die troon van die genade [te] gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”.—4:15, 16.
25. Watter verligtende toepassings van die Hebreeuse Geskrifte maak Paulus?
25 Bowendien vind ons in Paulus se brief aan die Hebreërs hartroerende bewyse dat profesieë wat lank gelede in die Hebreeuse Geskrifte opgeteken is later op wonderbaarlike wyse vervulling ondergaan het. Dit alles strek ons vandag tot lering en troos. In Hebreërs pas Paulus byvoorbeeld vyf keer die woorde van die Koninkryksprofesie in Psalm 110:1 toe op Jesus Christus as die Koninkryksaad, wat “aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” om te wag “totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete” (Hebr. 12:2; 10:12, 13; 1:3, 13; 8:1). Verder haal Paulus Psalm 110:4 aan wanneer hy verduidelik watter belangrike amp die Seun van God as “priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek” beklee. Soos eertydse Melgisedek, wat in die Bybelverslag “sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde” is, is Jesus sowel Koning as “priester vir ewig” om die ewige voordele van sy losprysoffer aan te wend ten behoewe van almal wat hulle gehoorsaam aan sy heerskappy onderwerp (Hebr. 5:6, 10; 6:20; 7:1-21). Paulus verwys na hierdie selfde Koning-Priester waar hy Psalm 45:6, 7 aanhaal: “God is u troon in alle ewigheid, en die septer van u koninkryk is die septer van reg. U het regverdigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u gesalf met die olie van uitbundige vreugde, meer as u deelgenote” (Hebr. 1:8, 9, NW). Wanneer Paulus uit die Hebreeuse Geskrifte aanhaal en die vervulling van profesieë in Christus Jesus aantoon, sien ons hoe die stukkies van die goddelike patroon inmekaarpas en gaan daar vir ons lig op.
26. Watter aanmoediging gee Hebreërs ons om die wedloop met geloof en volharding te loop?
26 Soos die brief aan die Hebreërs duidelik toon, het Abraham uitgesien na die Koninkryk, ‘die stad wat ware fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is’—die “hemelse” stad. “Deur die geloof” het hy na die Koninkryk verlang, en hy het groot opofferings gemaak sodat hy die seëninge daarvan deur “ ’n beter opstanding” sou verkry. Wat ’n treffende voorbeeld vind ons in Abraham en in al daardie ander manne en vroue van geloof—“so ’n groot wolk van getuies” wat Paulus in hoofstuk 11 van Hebreërs vir ons skilder! Wanneer ons hierdie verslag lees, juig en spring ons hart van vreugde uit waardering vir die voorreg en hoop wat ons tesame met sulke getroue handhawers van onkreukbaarheid het. Daarom word ons aangespoor om ‘met volharding die wedloop te loop wat voor ons lê’.—11:8, 10, 16, 35; 12:1.
27. Watter glorieryke Koninkryksvooruitsigte word in Hebreërs beklemtoon?
27 Met ’n aanhaling uit Haggai se profesie vestig Paulus ons aandag op God se belofte: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebr. 12:26; Hag. 2:6). God se Koninkryk onder Christus Jesus, die Saad, sal egter vir ewig bly. “Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” Hierdie aangrypende verslag verseker ons daarvan dat Christus ’n tweede maal “sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid”. “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Mag die groot naam van Jehovah God vir ewig geheilig word deur middel van sy Koning-Priester, Jesus Christus!—Hebr. 12:28; 9:28; 13:15.
[Voetnote]
a The Story of the Bible, 1964, bladsy 91.
b Herdruk van 1981, Dl. IV, bladsy 147.