‘Hanteer God se Woord reg’
“Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 TIMOTEUS 2:15.
1, 2. (a) Waarom het werkers gereedskap nodig? (b) Met watter werk is Christene besig, en hoe toon hulle dat hulle eers die Koninkryk soek?
WERKERS het gereedskap nodig om hulle take te verrig. Maar om net enige stuk gereedskap te hê, is nie genoeg nie. ’n Werker het die regte gereedskap nodig, en hy moet dit reg kan gebruik. As jy byvoorbeeld besig is om ’n tuinhuisie te bou en twee planke aan mekaar wil vasslaan, is ’n hamer en spykers nie al wat nodig is nie. Jy moet ook weet hoe om ’n spyker in die hout in te slaan sonder om die spyker te buig. As ’n mens ’n spyker in ’n plank probeer inslaan en nie weet hoe om ’n hamer te gebruik nie, sal dit baie moeilik wees, selfs frustrerend. Maar gereedskap wat reg hanteer word, help ons om take suksesvol uit te voer.
2 As Christene het ons ’n werk om te doen. Hierdie werk is van die allergrootste belang. Jesus Christus het sy volgelinge aangespoor om ‘eers die koninkryk te soek’ (Matteus 6:33). Hoe kan ons dit doen? Een manier is deur ywerig in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te wees. Nog ’n manier is om ons bediening stewig op God se Woord te grond. Goeie gedrag is ’n derde manier (Matteus 24:14; 28:19, 20; Handelinge 8:25; 1 Petrus 2:12). Om doeltreffend en gelukkig in hierdie Christelike werkstoewysing te wees, het ons die regte gereedskap nodig sowel as kennis om dit reg te gebruik. In hierdie opsig het die apostel Paulus ’n uitstekende voorbeeld as ’n Christenwerker gestel, en hy het medegelowiges aangemoedig om hom na te volg (1 Korintiërs 11:1; 15:10). Wat kan ons dus leer by Paulus, ons medewerker?
Paulus—’n ywerige Koninkryksverkondiger
3. Waarom kan ons sê dat die apostel Paulus ’n ywerige Koninkrykswerker was?
3 Watter soort werker was Paulus? Hy was beslis ywerig. Paulus het hom kragtig ingespan en die goeie nuus oor ’n groot gebied om die Middellandse See verkondig. Hierdie onvermoeibare apostel het ’n rede vir sy entoesiastiese verkondiging van die Koninkryk gegee en gesê: “As ek dan nou die goeie nuus bekend maak, is dit vir my geen rede om te roem nie, want die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” (1 Korintiërs 9:16). Wou Paulus net sy eie lewe red? Nee. Hy was nie ’n selfsugtige persoon nie. Hy wou eerder graag hê dat ander ook by die goeie nuus baat vind. Hy het geskryf: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word.”—1 Korintiërs 9:23.
4. Wat is die vernaamste gereedskap van Christenwerkers?
4 Die apostel Paulus was ’n beskeie werker wat besef het dat hy nie bloot op sy eie vaardighede kon staatmaak nie. Net soos ’n timmerman ’n hamer nodig het, het Paulus die regte gereedskap nodig gehad om God se waarheid in die harte van sy luisteraars in te skerp. Wat het hy hoofsaaklik gebruik? God se Woord, die Heilige Skrif. Die hele Bybel is eweneens die vernaamste gereedskap wat ons gebruik om ons te help om dissipels te maak.
5. Waarom is dit nie genoeg om net tekste aan te haal as ons doeltreffende bedienaars wil wees nie?
5 Paulus het geweet dat die behoorlike hantering van God se Woord meer behels as om net daaruit aan te haal. Hy het “oorredingskrag” gebruik (Handelinge 28:23). Hoe? Paulus het God se geskrewe Woord met welslae gebruik om baie mense te oortuig om Koninkrykswaarheid aan te neem. Hy het met hulle geredeneer. In ’n sinagoge in Efese het Paulus drie maande lank “toesprake gehou en oorredingskrag gebruik . . . aangaande die koninkryk van God”. Hoewel “party [aangehou het] om hulle te verhard en steeds nie geglo het nie”, het ander geluister. As gevolg van Paulus se bediening in Efese het “die woord van Jehovah . . . bly groei en seëvier”.—Handelinge 19:8, 9, 20.
6, 7. Hoe het Paulus sy bediening verheerlik, en hoe kan ons dieselfde doen?
6 As ’n ywerige Koninkryksverkondiger het Paulus ‘sy bediening verheerlik’ (Romeine 11:13). Hoe? Hy het nie daarin belanggestel om homself te verhef nie; hy het hom ook nie geskaam om in die openbaar as een van God se medewerkers bekend te staan nie. Hy het eerder sy bediening as die grootste eer beskou. Paulus het God se Woord vaardig en doeltreffend hanteer. Sy produktiewe diens was ’n aansporing vir ander en het hulle beweeg om hulle bediening in voller mate uit te voer. Ook op hierdie manier is sy bediening verheerlik.
7 Soos Paulus kan ons ons werk as bedienaars verheerlik deur die Woord van God gereeld en doeltreffend te gebruik. In alle aspekte van ons veldbediening moet ons doel wees om iets uit die Skrif aan soveel mense as moontlik mee te deel. Hoe kan ons dit met oorredingskrag doen? Kyk na drie belangrike maniere: (1) Vestig die aandag op God se Woord op ’n wyse wat respek daarvoor inboesem. (2) Verduidelik taktvol wat die Bybel sê en gee die toepassing daarvan. (3) Redeneer op oorredende wyse uit die Skrif.
8. Watter gereedskap is vandag beskikbaar om die Koninkrykspredikingswerk te doen, en hoe het jy dit al gebruik?
8 Hedendaagse Koninkryksverkondigers het gereedskap tot hulle beskikking wat Paulus nie tydens sy bediening gehad het nie. Dit sluit boeke, tydskrifte, brosjures, strooibiljette, traktate, oudio- en videokassette in. In die vorige eeu is getuieniskaarte, grammofone, klankmotors en radiouitsendings ook gebruik. Ons beste gereedskap is natuurlik die Bybel, en ons moet hierdie onontbeerlike instrument goed en behoorlik gebruik.
Ons bediening moet op God se Woord gegrond wees
9, 10. Wat kan ons uit Paulus se raad aan Timoteus leer oor hoe ons God se Woord moet gebruik?
9 Hoe kan ons God se Woord doeltreffend gebruik? Deur ag te slaan op hierdie woorde van Paulus aan sy medewerker Timoteus: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Wat behels dit om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer”?
10 Die Griekse woord wat met “reg hanteer” vertaal word, beteken letterlik “om reguit te sny” of “om ’n reguit pad te maak”. In die Christelike Griekse Geskrifte word daardie term slegs in Paulus se raad aan Timoteus gebruik. Dieselfde woord kan gebruik word om ’n reguit voor te beskryf wat in ’n landery geploeg word. ’n Krom voor sal beslis ’n verleentheid vir ’n gesoute boer wees. Timoteus is daaraan herinner dat “’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie”, geensins mag afwyk van die ware leringe van God se Woord nie. Timoteus moes nie toelaat dat sy persoonlike beskouings sy onderrigting beïnvloed nie. Hy moes sy prediking en onderrigting stewig op die Skrif grond (2 Timoteus 4:2-4). Op hierdie manier sou opregtes van hart gehelp word om Jehovah se beskouing van sake te verkry, en nie wêreldse filosofieë aan te neem nie (Kolossense 2:4, 8). Dieselfde geld vandag.
Ons moet goeie gedrag handhaaf
11, 12. Watter rol speel ons gedrag daarin dat ons die Woord van God reg hanteer?
11 Om God se Woord reg te hanteer, behels meer as om net die waarhede daarin te verkondig. Ons gedrag moet ook daarmee ooreenstem. “Ons is God se medewerkers”, en daarom moet ons nie huigelagtige werkers wees nie (1 Korintiërs 3:9). God se Woord sê: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy? Jy, die een wat sê: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’, pleeg jy egbreuk? Jy, die een wat te kenne gee dat jy ’n afsku van die afgode het, beroof jy tempels?” (Romeine 2:21, 22). Een manier waarop ons dus God se Woord reg kan hanteer as hedendaagse werkers van God, is deur ag te slaan op hierdie vermaning: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.
12 Watter resultate kan ons verwag as ons God se Woord reg hanteer? Beskou die kragtige uitwerking wat die geskrewe Woord van God op die lewe van opregtes van hart kan hê.
God se Woord het krag om mense te verander
13. Wat kan dit in mense voortbring as hulle God se Woord toepas?
13 Wanneer dit as gesaghebbend aanvaar word, oefen die boodskap van God se Woord ’n dinamiese invloed uit wat mense help om merkwaardige veranderinge in hulle lewe aan te bring. Paulus het God se Woord in aksie gesien en kon getuig van die goeie uitwerking wat dit gehad het op diegene in eertydse Tessalonika wat Christene geword het. Hy het derhalwe vir hulle gesê: “Ons [dank] God ook onophoudelik, want toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is” (1 Tessalonisense 2:13). Vir daardie Christene—trouens, vir alle ware volgelinge van Christus—kan die onbeduidende logika van die mens hoegenaamd nie vergelyk word met die allesoortreffende wysheid van God nie (Jesaja 55:9). Die Tessalonisense het “die woord onder groot verdrukking met vreugde van die heilige gees aangeneem” en voorbeelde vir ander gelowiges geword.—1 Tessalonisense 1:5-7.
14, 15. Hoe kragtig is die boodskap van God se Woord, en waarom?
14 Die Woord van God is dinamies, soos die Bron daarvan, Jehovah. Dit kom van “die lewende God”, die een deur wie se woord “die hemele gemaak” is, en daardie woord behaal altyd ‘sukses in alles waarvoor dit gestuur word’ (Hebreërs 3:12; Psalm 33:6; Jesaja 55:11). ’n Bybelgeleerde het gesê: “God skei hom nie van sy Woord af nie. Hy verloën dit nie asof dit vir hom iets vreemds is nie. . . . Daarom is dit nooit dooie materie, sodat dit nie saak maak wat daarmee gedoen word nie; want dit is ’n band van eenheid met die lewende God.”
15 Hoe kragtig is die boodskap wat van God se Woord uitgaan? Dit het baie groot krag. Paulus het heel gepas geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei.”—Hebreërs 4:12.
16. Hoe volkome kan God se Woord iemand verander?
16 Die boodskap in God se geskrewe Woord is “skerper as enige tweesnydende swaard”. Die deurdringende krag daarvan is dus so groot dat dit enige menslike instrument of stuk gereedskap ver oortref. Die Woord van God dring deur tot die diepste wese van ’n persoon en kan hom innerlik verander, kan beïnvloed hoe hy dink en wat hy liefhet, en hom ’n aanvaarbare, godvresende werker maak. Wat ’n kragtige instrument!
17. Verduidelik die krag wat God se Woord het om mense te verander.
17 Die Woord van God onthul wat ’n persoon werklik in sy diepste wese is, vergeleke met wat hy dink hy is of wat hy ander toelaat om te sien (1 Samuel 16:7). Selfs ’n goddelose persoon kan soms sy innerlike agter ’n skyn van goedhartigheid of vroomheid verberg. Bose mense probeer weens goddelose redes ’n goeie indruk skep. Hoogmoedige mense gee voor dat hulle nederig is terwyl hulle smag na die lof van mense. Maar omdat God se Woord ontbloot wat werklik in die hart is, kan dit ’n nederige persoon op kragtige wyse beweeg om die ou persoonlikheid af te lê en hom “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:22-24). Die leringe van God se Woord kan ook diegene wat skugter is, verander sodat hulle moedige Getuies van Jehovah en ywerige Koninkryksverkondigers word.—Jeremia 1:6-9.
18, 19. Toon met behulp van hierdie paragrawe of ’n persoonlike velddiensondervinding hoe Bybelwaarheid iemand se gesindheid kan verander.
18 Die krag wat God se Woord het om mense ten goede te verander, kan oral gesien word. Byvoorbeeld, Koninkryksverkondigers van Phnom Penh, Kambodja, het twee keer per maand in die provinsie Kompong Cham gaan getuig. Nadat ’n plaaslike pastoor gehoor het hoe ander geestelikes teen Jehovah se Getuies praat, het sy gevra dat die Getuies haar besoek wanneer hulle weer na die provinsie toe kom. Sy het hulle bestook met vrae oor die viering van vakansiedae en het aandagtig geluister terwyl hulle uit die Skrif met haar geredeneer het. Toe het sy uitgeroep: “Ek weet nou dat wat die ander pastore oor julle gesê het, nie waar is nie! Hulle het beweer dat julle nie die Bybel gebruik nie, maar dis al wat julle vanoggend gebruik het!”
19 Hierdie vrou het haar Bybelbesprekings met die Getuies voortgesit en nie toegelaat dat dreigemente om haar as pastoor te skors, haar van stryk bring nie. Sy het ’n vriendin vertel van haar Bybelbesprekings, en dié het toe ook die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Die vriendin was so entoesiasties oor wat sy geleer het dat sy by een van haar kerk se dienste beweeg is om te sê: “Kom, studeer die Bybel saam met Jehovah se Getuies!” Kort daarna het die voormalige pastoor en ander die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.
20. Hoe lig die ondervinding van ’n vrou in Ghana die krag van God se Woord toe?
20 Die krag van God se Woord word ook toegelig deur die geval van Paulina, ’n vrou in Ghana. ’n Voltydse Koninkryksverkondiger het ’n Bybelstudie met haar gehou uit die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei.a Paulina was getroud met ’n veelwywer en sy het besef dat sy veranderinge moes maak, maar haar man en al haar familielede het haar hewig teëgestaan. Haar oupa, ’n regter van die hoër hof en ’n ouderling in die kerk, het haar tot ander insigte probeer bring deur ’n verkeerde toepassing van Matteus 19:4-6 te gee. Die regter het met groot gesag gepraat, maar Paulina het gou besef dat dit ooreenkom met die manier waarop Satan die Skrif verdraai het toe hy Jesus Christus versoek het (Matteus 4:5-7). Sy het Jesus se duidelike woorde oor die huwelik onthou, waar hy gesê het dat God die mens man en vrou geskep het, nie man en vroue nie, en dat die twee, nie die drie nie, een vlees sou word. Sy het by haar besluit gebly en uiteindelik die egskeiding verkry wat in die geval van so ’n huwelik toegestaan word. Kort daarna was sy ’n gelukkige, gedoopte Koninkryksverkondiger.
Hou aan om God se Woord reg te hanteer
21, 22. (a) Wat moet ons vasbeslote wees om as Koninkryksverkondigers te doen? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?
21 God se geskrewe Woord is inderdaad ’n kragtige instrument wat ons kan gebruik om ander te help om veranderinge in hulle lewe te maak sodat hulle nader aan Jehovah kan kom (Jakobus 4:8). Net soos vaardige werkers gereedskap gebruik om goeie resultate te verkry, wil ons vasbeslote wees om ons kragtig in te span om God se Woord, die Bybel, op vaardige wyse te gebruik in ons godgegewe werk as Koninkryksverkondigers.
22 Hoe kan ons die Skrif doeltreffender hanteer in ons dissipelmaakwerk? Een manier is deur ons vermoëns as oorredende onderrigters te ontwikkel. Skenk gerus aandag aan die volgende artikel, wat wenke gee oor hoe ons ander kan leer en help om die Koninkryksboodskap te aanvaar.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Van watter gereedskap kan Koninkryksverkondigers gebruik maak?
• In watter opsigte was Paulus ’n voorbeeld as ’n Koninkrykswerker?
• Wat behels dit om God se Woord reg te hanteer?
• Hoe kragtig is Jehovah se geskrewe Woord?
[Prente op bladsy 10]
Van die gereedskap wat Christene in die Koninkryks-verkondigingswerk gebruik