Help ander om die Koninkryksboodskap te aanvaar
“Agrippa het vir Paulus gesê: ‘Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word.’”—HANDELINGE 26:28.
1, 2. Wat het daartoe aanleiding gegee dat die apostel Paulus voor goewerneur Festus en koning Herodes Agrippa II verskyn het?
IN DIE jaar 58 G.J. het koning Herodes Agrippa II en sy suster Bernice die Romeinse goewerneur Porcius Festus in Sesarea besoek. Hulle het op uitnodiging van goewerneur Festus “met groot vertoon gekom en saam met militêre bevelvoerders asook vooraanstaande manne in die stad in die gehoorsaal ingegaan”. Op bevel van Festus is die Christenapostel Paulus voor hulle gebring. Wat het daartoe aanleiding gegee dat hierdie volgeling van Jesus Christus voor die regterstoel van goewerneur Festus gestaan het?—Handelinge 25:13-23.
2 Wat Festus vir sy gaste gesê het, voorsien ’n antwoord op daardie vraag. Hy het gesê: “Koning Agrippa en manne wat almal hier saam met ons teenwoordig is, julle sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode hulle tesame in Jerusalem sowel as hier tot my gewend het en geskreeu het dat hy nie langer behoort te lewe nie. Maar ek het gevind dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie. En toe hierdie man hom op die keiser beroep, het ek besluit om hom te stuur. Maar ek het niks sekers oor hom om aan my Heer te skryf nie. Daarom het ek hom voor julle gebring, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek, nadat die geregtelike ondersoek plaasgevind het, iets kan kry om te skryf. Want dit lyk vir my onredelik om ’n gevangene te stuur en nie ook die aanklagte teen hom aan te dui nie.”—Handelinge 25:24-27.
3. Waarom het godsdiensleiers aanklagte teen Paulus ingebring?
3 Die woorde van Festus dui aan dat Paulus daar was op valse aanklagte van sedisie—’n misdaad wat die doodstraf verdien het (Handelinge 25:11). Maar Paulus was onskuldig. Die aanklagte het voortgespruit uit die jaloesie van godsdiensleiers in Jerusalem. Hulle het Paulus se werk as Koninkryksverkondiger teëgestaan, en dit het hulle erg gegrief dat hy ander gehelp het om volgelinge van Jesus Christus te word. Paulus is van Jerusalem af onder gewapende geleide na die hawestad Sesarea gebring, waar hy hom op die keiser beroep het. Van daar af sou hy na Rome geneem word.
4. Watter verbasende woorde het koning Agrippa geuiter?
4 Stel jou voor: Hier staan Paulus in die goewerneur se paleis voor ’n groep mense wat die heerser van ’n belangrike deel van die Romeinse Ryk insluit. Koning Agrippa draai na Paulus en sê: “Dit is jou vergun om . . . te spreek.” Terwyl die woorde uit Paulus se mond vloei, gebeur daar iets merkwaardigs. Wat Paulus sê, begin die koning raak. Trouens, koning Agrippa sê: “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word.”—Handelinge 26:1-28.
5. Waarom was Paulus se woorde aan Agrippa so doeltreffend?
5 Dink net! Weens Paulus se uitstekende verdediging het die deurdringende krag van God se Woord ’n heerser se hart geraak (Hebreërs 4:12). Wat het Paulus se verdediging so doeltreffend gemaak? En wat kan ons by Paulus leer om ons in ons dissipelmaakwerk te help? As ons sy verdediging ontleed, is daar twee hoofelemente wat uitstaan: (1) Paulus het oorreding in sy aanbieding gebruik. (2) Hy het sy kennis van God se Woord op bekwame wyse gebruik, net soos ’n vakman ’n stuk gereedskap doeltreffend gebruik.
Gebruik die oorredingskuns
6, 7. (a) Wat beteken die woord “oorreding”, soos dit in die Bybel gebruik word? (b) Watter rol speel oorreding wanneer ons ander help om ’n Bybellering te aanvaar?
6 In die boek Handelinge word Griekse terme vir oorreding herhaaldelik in verband met Paulus gebruik. Watter betekenis het dit vir ons in ons dissipelmaakwerk?
7 In die oorspronklike taal van die Christelike Griekse Geskrifte beteken “oorreed” of “oortuig” om “oor te haal” of “van gedagte te laat verander deur middel van redenering of sedelike oorwegings”, sê Vine se Expository Dictionary of New Testament Words. ’n Kykie na die grondbetekenis gee ons verdere insig. Dit dra die gedagte oor van vertroue. As jy dus iemand oortuig om ’n Bybellering te aanvaar, het jy sy vertroue gewen, sodat hy geloof stel in die juistheid van daardie lering. Dit is natuurlik nie genoeg om net vir iemand te vertel wat die Bybel sê en dan te verwag dat hy dit sal glo en daarop sal reageer nie. Die persoon wat na jou luister, moet oortuig wees dat wat jy sê waar is, of hy nou ’n kind, buurman, werksmaat, skoolmaat of familielid is.—2 Timoteus 3:14, 15.
8. Wat behels dit om iemand van ’n skriftuurlike waarheid te oortuig?
8 Hoe kan jy iemand daarvan oortuig dat wat jy uit God se Woord verkondig, die waarheid is? Paulus het deur middel van logiese redenering, gegronde argumente en ernstige aansporings persone met wie hy gepraat het, van gedagte probeer verander.a Jy moet dus nie net sê dat iets waar is nie, maar voldoende bewyse voorsien wat jou stelling bevestig. Hoe kan dit gedoen word? Maak seker dat wat jy sê, heeltemal gegrond is op God se Woord en nie op persoonlike mening nie. Gebruik ook stawende getuienis om jou hartgrondige skriftuurlike stellings te bevestig (Spreuke 16:23). As jy byvoorbeeld verduidelik dat gehoorsame mense die lewe op ’n paradysaarde sal geniet, kan jy daardie stelling deur middel van ’n skriftuurlike verwysing staaf, soos Lukas 23:43 of Jesaja 65:21-25. Hoe kan jy jou skriftuurlike punt versterk? Jy kan voorbeelde gebruik waarmee die persoon bekend is. Jy kan hom herinner aan die eenvoudige en kostelose genot wat verskaf word deur ’n pragtige sonsondergang, die aangename geur van ’n blom, die heerlike smaak van ’n vrug, of selfs die plesier om ’n voël dop te hou wat haar kleintjie voer. Help hom om te verstaan dat sulke genotvolle dinge ’n bewys daarvan is dat die Skepper wil hê ons moet die lewe op aarde geniet.—Prediker 3:11, 12.
9. Hoe kan ons redelikheid aan die dag lê in ons predikingswerk?
9 Wanneer jy iemand probeer oortuig om ’n sekere Bybellering te aanvaar, moet jy versigtig wees dat jou entoesiasme jou nie onredelik laat klink en sodoende jou luisteraar onontvanklik maak nie. Die Bedieningskool-boek gee hierdie waarskuwing: “As jy ’n opvatting wat iemand na aan die hart lê, as vals blootlê deur die waarheid op ’n taktlose manier oor te dra, sal dit oor die algemeen nie ’n gunstige reaksie uitlok nie, al staaf jy dit met ’n hele aantal tekste. Byvoorbeeld, as gewilde vieringe sonder meer veroordeel word omdat dit van heidense oorsprong is, sal dit moontlik nie mense se beskouing daarvan verander nie. ’n Redelike benadering het gewoonlik beter resultate.” Waarom moet ons ’n doelbewuste poging aanwend om redelik te wees? Die boek sê: “’n Redelike benadering moedig gesprekvoering aan, gee mense iets om later oor na te dink en baan die weg vir toekomstige gesprekke. Dit kan baie oortuigend wees.”—Kolossense 4:6.
Oorreding wat die hart bereik
10. Hoe het Paulus sy verdediging voor Agrippa begin?
10 Kom ons ondersoek nou Paulus se verdediging in Handelinge hoofstuk 26 noukeuriger. Let op hoe hy sy toespraak begin. Om sy onderwerp in te lei, het Paulus ’n gegronde rede gevind om Agrippa te prys, hoewel die koning in ’n onsedelike verhouding met sy suster Bernice was. Paulus het gesê: “Ek ag my gelukkig, koning Agrippa, dat dit voor u is wat ek my vandag moet verdedig aangaande alles waarvan ek deur Jode beskuldig word, veral aangesien u baie goed op hoogte is van al die gebruike sowel as die geskille onder Jode. Daarom smeek ek u om my geduldig aan te hoor.”—Handelinge 26:2, 3.
11. Hoe het Paulus se woorde respek vir Agrippa getoon, en watter goeie gevolg het dit gehad?
11 Het jy opgemerk dat Paulus Agrippa se hoë posisie erken het deur hom op sy titel, koning, aan te spreek? Dit het respek getoon, en deur sy wyse keuse van woorde het Paulus Agrippa eer bewys (1 Petrus 2:17). Die apostel het erken dat Agrippa goed op hoogte was van die ingewikkelde gebruike en wette van sy Joodse onderdane en gesê dat hy hom gelukkig ag om hom voor so ’n goed ingeligte heerser te kan verdedig. Paulus, ’n Christen, het nie opgetree asof hy homself hoër geag het as Agrippa, wat nie ’n Christen was nie (Filippense 2:3). Paulus het die koning eerder gesmeek om hom geduldig aan te hoor. Sodoende het Paulus ’n atmosfeer geskep waarin Agrippa, sowel as die ander toehoorders, meer geneig sou wees om te aanvaar wat hy van plan was om te sê. Hy het ’n gemeenskaplike grondslag gelê waarop hy sy argumente kon bou.
12. Hoe kan ons die harte van ons toehoorders probeer bereik in die Koninkrykspredikingswerk?
12 Laat ons ook, soos Paulus voor Agrippa gedoen het, van die inleiding tot die slot van ons aanbieding van die Koninkryksboodskap, mense se harte probeer bereik. Ons kan dit doen deur opregte respek te toon vir die persoon vir wie ons getuig en deur ons hartgrondige belangstelling in sy of haar bepaalde agtergrond en sienswyse.—1 Korintiërs 9:20-23.
Gebruik God se Woord op bekwame wyse
13. Hoe kan jy, soos Paulus, jou toehoorders motiveer?
13 Paulus wou graag sy toehoorders aanspoor om op die goeie nuus te reageer (1 Tessalonisense 1:5-7). Daarom het hy hulle figuurlike hart, die setel van motivering, probeer bereik. As ons weer kyk na Paulus se verdediging voor Agrippa, sien ons hoe Paulus God se Woord “reg hanteer” het deur na die woorde van Moses en die profete te verwys.—2 Timoteus 2:15.
14. Verduidelik hoe Paulus oorreding gebruik het toe hy voor Agrippa was.
14 Paulus het geweet dat Agrippa net in naam ’n Jood was. Hy het dus ’n beroep gedoen op Agrippa se kennis van Judaïsme en verduidelik dat sy prediking in werklikheid gehandel het oor “niks behalwe dinge wat die Profete sowel as Moses verklaar het sou plaasvind” aangaande die Messias se dood en opstanding nie (Handelinge 26:22, 23). Paulus het Agrippa toe direk aangespreek en gevra: “Glo u die Profete, koning Agrippa?” Agrippa het hom in ’n dilemma bevind. As hy sou sê dat hy die profete verwerp, sou dit sy reputasie as ’n Joodse gelowige skend. Maar as hy sou saamstem met Paulus se redenasie, sou hy hom in die openbaar aan die apostel se kant skaar en die gevaar loop om ’n Christen genoem te word. Paulus het wyslik sy eie vraag beantwoord en gesê: “Ek weet dat u glo.” Wat het Agrippa se hart hom beweeg om hierop te sê? Hy het geantwoord: “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word” (Handelinge 26:27, 28). Hoewel Agrippa nie ’n Christen geword het nie, het Paulus klaarblyklik sy hart tot ’n mate met sy boodskap geraak.—Hebreërs 4:12.
15. Waarom kon Paulus ’n gemeente in Tessalonika stig?
15 Het jy opgemerk dat Paulus die goeie nuus nie net bekend gemaak het nie, maar ook oorreding in sy aanbieding gebruik het? Omdat Paulus daardie benadering gebruik het terwyl hy ‘die woord van God reg hanteer’ het, het party wat na hom geluister het, nie net toehoorders gebly nie, maar gelowiges geword. Dit was die geval in Tessalonika, waar Paulus vir Jode en godvresende nie-Jode in die sinagoge getuig het. Die verslag in Handelinge 17:2-4 sê: “Paulus [het] volgens sy gewoonte na hulle toe ingegaan, en hy het drie sabbatte lank uit die Skrif met hulle geredeneer en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan . . . Gevolglik het party van hulle gelowiges geword.” Paulus het oorredingskrag gebruik. Hy het geredeneer, verduidelik en deur middel van die Skrif bewys dat Jesus die langverwagte Messias was. Die gevolg? ’n Gemeente van gelowiges is gestig.
16. Hoe kan jy groter genot put uit die verkondiging van die Koninkryk?
16 Kan jy vaardiger word in jou vermoë om God se Woord met oorreding te verduidelik? Indien wel, sal jy meer persoonlike bevrediging en genot put uit jou werk om vir mense te getuig en hulle te onderrig aangaande God se Koninkryk. Dit is wat verkondigers van die goeie nuus ondervind het toe hulle wenke toegepas het om die Bybel meer in die predikingswerk te gebruik.
17. Vertel ’n persoonlike ondervinding of gee die hoofgedagte van die een in hierdie paragraaf om te toon hoe nuttig dit is om die Bybel in ons bediening te gebruik.
17 ’n Reisende opsiener van Jehovah se Getuies het byvoorbeeld geskryf: “Baie van die broers en susters dra nou hulle Bybel in die hand wanneer hulle van huis tot huis getuig. Dit het die verkondigers gehelp om ’n teks te lees vir baie van die mense wat hulle ontmoet. Dit het die huisbewoner sowel as die verkondiger gehelp om die Bybel, nie net tydskrifte en boeke nie, met ons bediening te assosieer.” Dit hang natuurlik af van verskeie faktore, waaronder plaaslike gebruike, of ons die Bybel sigbaar sal hê wanneer ons aan die predikingswerk deelneem. Nietemin wil ons daaraan geken word dat ons God se Woord op bekwame wyse gebruik om ander te oortuig om die Koninkryksboodskap te aanvaar.
Ons moet God se beskouing van die bediening hê
18, 19. (a) Hoe beskou God ons bediening, en waarom moet ons sy beskouing ontwikkel? (b) Wat sal ons help om herbesoeke met welslae te doen? (Sien die venster getiteld “Hoe om herbesoeke met welslae te doen”, op bladsy 16.)
18 Nog ’n manier waarop ons die hart van ons toehoorders kan bereik, behels dat ons God se beskouing van die bediening het en geduld aan die dag lê. God se wil is dat alle soorte mense “tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Is dit nie ook ons begeerte nie? Jehovah is ook geduldig, en sy geduld gee baie die geleentheid om tot berou te kom (2 Petrus 3:9). Wanneer ons dus iemand vind wat gewillig is om na die Koninkryksboodskap te luister, moet ons dalk herhaaldelik teruggaan om die belangstelling te ontwikkel. Dit verg tyd en geduld om die saadjies van waarheid te sien groei (1 Korintiërs 3:6). Die bygaande venster met die titel “Hoe om herbesoeke met welslae te doen” gee wenke oor hoe om hierdie belangstelling verder te ontwikkel. Onthou dat mense se lewens—hulle probleme en situasies—gedurig verander. Dit sal dalk baie probeerslae verg om hulle tuis te vind, maar dit is die moeite werd. Ons wil hulle graag ’n geleentheid gee om God se boodskap van redding te hoor. Bid dus tot Jehovah God om jou die wysheid te gee sodat jy die oorredingskuns kan ontwikkel in jou werk om ander te help om die Koninkryksboodskap te aanvaar.
19 Wat anders kan ons as Christenwerkers doen wanneer ons iemand vind wat graag meer oor die Koninkryksboodskap wil leer? Ons volgende artikel sal ons hiermee help.
[Voetnoot]
a Sien studies 48 en 49 in die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir meer inligting oor die oorredingskuns.
Onthou jy?
• Wat het Paulus se verdediging voor koning Agrippa doeltreffend gemaak?
• Hoe kan ons boodskap mense se hart bereik?
• Wat sal ons help om God se Woord op doeltreffende wyse te gebruik om die hart te bereik?
• Hoe kan ons God se beskouing van die bediening verkry?
[Venster/Prente op bladsy 16]
Hoe om herbesoeke met welslae te doen
• Toon opregte persoonlike belangstelling in mense.
• Kies ’n interessante Bybelonderwerp om te bespreek.
• Lê elke keer die grondslag vir die volgende besoek.
• Dink steeds aan die persoon nadat jy daar weg is.
• Gaan gou terug, miskien binne ’n dag of twee, om sy belangstelling lewendig te hou.
• Hou in gedagte dat dit jou doelwit is om ’n tuisbybelstudie te begin.
• Bid dat Jehovah die belangstelling sal laat groei.
[Prent op bladsy 15]
Paulus het oorreding gebruik toe hy voor goewerneur Festus en koning Agrippa verskyn het