“Wees waaksaam met die oog op gebede”
“Wees . . . gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede.”—1 PET. 4:7.
1, 2. (a) Waarom is dit noodsaaklik om “waaksaam met die oog op gebede” te wees? (b) Watter ondersoekende vrae moet ons ons met betrekking tot gebed afvra?
“DIE tyd van die nag wanneer ’n mens die meeste sukkel om wakker te bly, is net voor dagbreek”, sê ’n voormalige nagwerker. Ander wat die hele nag moet wakker bly, sal heel moontlik saamstem. Hedendaagse Christene kom voor ’n soortgelyke uitdaging te staan omdat die lang nag van Satan se goddelose stelsel van dinge nou op sy donkerste is (Rom. 13:12). Hoe gevaarlik sal dit tog vir ons wees om op hierdie laat stadium aan die slaap te raak! Dit is noodsaaklik dat ons “gesond van verstand” moet wees en moet ag slaan op die skriftuurlike vermaning om “waaksaam met die oog op gebede [te wees]”.—1 Pet. 4:7.
2 Omdat ons so diep in die tyd van die einde lewe, sal dit verstandig wees om ons af te vra: ‘Hoe waaksaam is ek wat gebed betref? Maak ek gebruik van elke vorm van gebed, en hou ek aan om te bid? Is dit my gewoonte om vir ander te bid, of draai my gebede gewoonlik net om my eie behoeftes en begeertes? En hoe belangrik is gebed wanneer dit kom by my redding?’
HOU AAN MET ELKE VORM VAN GEBED
3. Wat is ’n paar vorme van gebed?
3 In sy brief aan die Efesiërs het die apostel Paulus na “elke vorm van gebed” verwys (Ef. 6:18). In ons gebede versoek ons Jehovah dalk dikwels om ons te help om in ons behoeftes te voorsien en struikelblokke te oorkom. Die “Hoorder van die gebed” luister liefdevol na ons versoeke om hulp (Ps. 65:2). Maar ons moet ook probeer om van ander vorme van gebed gebruik te maak. Dit sluit lof, danksegging en smeking in.
4. Waarom moet ons Jehovah dikwels in ons gebede loof?
4 Daar is baie redes waarom ons gebede tot Jehovah woorde van lof moet insluit. Ons word byvoorbeeld beweeg om hom te loof wanneer ons dink aan “sy magtige werke” en “die oorvloed van sy grootheid”. (Lees Psalm 150:1-6.) Trouens, in die ses verse van Psalm 150 word ons 13 keer aangespoor om Jehovah te loof! Met diepe eerbied vir God het die skrywer van ’n ander psalm gesing: “Sewe keer per dag het ek u geloof weens u regverdige regterlike beslissings” (Ps. 119:164). Jehovah verdien beslis om geloof te word. Moet ons hom dus nie “sewe keer per dag”, dit wil sê baie dikwels, in ons gebede loof nie?
5. Hoe is dit ’n beskerming om ’n dankbare gees te hê wanneer ons bid?
5 Danksegging is nog ’n belangrike vorm van gebed. Paulus het Christene in die stad Filippi aangespoor: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Fil. 4:6). Dit beskerm ons wanneer ons ons opregte dankbaarheid in gebed teenoor Jehovah uitspreek, veral aangesien ons in die laaste dae lewe waartydens mense “ondankbaar” is (2 Tim. 3:1, 2). Trouens, daar heers ’n gees van ondankbaarheid in die wêreld. As ons nie versigtig is nie, kan hierdie gees ons maklik beïnvloed. As ons ons dankbaarheid teenoor God in gebed uitspreek, bevorder dit tevredenheid en verhoed dit dat ons ‘murmureerders en klaers oor ons lewenslot’ word (Jud. 16). Wat meer is, as gesinshoofde danksegging insluit wanneer hulle saam met hulle geliefdes bid, bevorder hulle ’n dankbare gees in hulle vrou en kinders.
6, 7. Wat is smeking, en waaroor kan ons smeekbedes tot Jehovah doen?
6 Smeking is opregte gebed wat met intense gevoel gepaardgaan. Waaroor kan ons smeekbedes tot Jehovah doen? Ons kan dit doen wanneer ons vervolg word of met ’n lewensgevaarlike siekte te kampe het. Dit is te verstane dat ons God op sulke tye in gebed sal smeek om ons te help. Maar is dit die enigste tye waarop ons Jehovah in gebed kan smeek?
7 Let op Jesus se modelgebed en op wat hy oor God se naam, Sy Koninkryk en Sy wil gesê het. (Lees Matteus 6:9, 10.) Hierdie wêreld is deurdrenk van goddeloosheid, en menseregerings kan nie eens in die basiese behoeftes van hulle burgers voorsien nie. Daarom moet ons tog sekerlik bid dat ons hemelse Vader se naam geheilig moet word en dat sy Koninkryk die aarde van Satan se heerskappy moet bevry. Dit is ook nou die tyd om Jehovah te smeek dat sy wil op die aarde moet geskied, net soos in die hemel. Laat ons dus waaksaam bly en geredelik van alle vorme van gebed gebruik maak.
‘HOU AAN BID’
8, 9. Waarom moet ons Petrus en die ander apostels nie veroordeel omdat hulle in die tuin van Getsemane aan die slaap geraak het nie?
8 Hoewel die apostel Petrus Christene vermaan het om “waaksaam met die oog op gebede” te wees, het hy by ten minste een geleentheid versuim om dit self te doen. Hy was een van die dissipels wat aan die slaap geraak het terwyl Jesus in die tuin van Getsemane gebid het. Selfs nadat Jesus vir hulle gesê het om ‘aan te hou om te waak en te bid’, het hulle dit nie gedoen nie.—Lees Matteus 26:40-45.
9 Maar eerder as om Petrus en die ander apostels te veroordeel omdat hulle nie wakker gebly het nie, sal dit goed wees as ons in gedagte hou dat hulle klaarblyklik ’n baie uitputtende dag agter die rug gehad het. Hulle het voorbereidings vir die Pasga getref en het dit daardie aand gevier. Toe het Jesus die Here se Aandmaal ingestel, wat getoon het hoe die Herdenking van sy dood in die toekoms gehou moet word (1 Kor. 11:23-25). “Nadat hulle lofliedere gesing het”, het hulle deur die smal strate van Jerusalem geloop en “na die Olyfberg uitgegaan” (Matt. 26:30, 36). Teen daardie tyd was dit dalk al lank ná middernag. As ons daardie nag in die tuin van Getsemane was, sou ons moontlik ook aan die slaap geraak het. Jesus het nie sy vermoeide apostels gekritiseer nie, maar het eerder liefdevol erken dat ‘die gees gretig is, maar die vlees swak is’.
10, 11. (a) Watter les het Petrus uit sy ondervinding in die tuin van Getsemane geleer? (b) Wat leer ons uit Petrus se ondervinding?
10 Petrus het by die ondervinding in die tuin van Getsemane baat gevind. Hy het ’n pynlike les geleer uit sy gebrek aan waaksaamheid. Jesus het vroeër gesê: “Julle almal sal vannag in verband met my struikel.” Daarop het Petrus uitgeroep: “Al struikel al die ander in verband met u, sal ek nooit struikel nie!” Jesus het geantwoord deur te sê dat Petrus hom drie keer sal verloën. Petrus het voet by stuk gehou en gesê: “Selfs al moet ek saam met u sterf, sal ek u hoegenaamd nie verloën nie” (Matt. 26:31-35). Petrus het nietemin gestruikel, net soos Jesus voorspel het. Toe Petrus Jesus die laaste keer verloën het, was hy so oorweldig deur droefheid dat hy “bitterlik gehuil” het.—Luk. 22:60-62.
11 Petrus het beslis ’n les uit hierdie ondervinding geleer en sy neiging oorkom om selfversekerd te wees. Gebed het Petrus klaarblyklik in hierdie verband gehelp. Trouens, dit is opmerkenswaardig dat Petrus die een is wat ons die raad gee om “waaksaam met die oog op gebede” te wees. Pas ons hierdie geïnspireerde raad toe? En toon ons ons afhanklikheid van Jehovah deur ‘aan te hou bid’? (Ps. 85:8). Laat ons ook die apostel Paulus se vermaning in gedagte hou: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Kor. 10:12.
NEHEMIA SE GEBEDE IS VERHOOR
12. Waarom is Nehemia vir ons ’n goeie voorbeeld?
12 Dink aan Nehemia, wat in die vyfde eeu VHJ as die Persiese koning Artasasta se skinker gedien het. Hy was ’n goeie voorbeeld van iemand wat vurig gebid het. Hy het dae lank “voortdurend gevas en gebid voor . . . God” oor die benarde toestand van die Jode in Jerusalem (Neh. 1:4). Toe Artasasta hom gevra het waarom sy gesig somber was, het Nehemia “dadelik . . . tot die God van die hemel gebid” (Neh. 2:2-4). Wat was die gevolg? Jehovah het sy gebede verhoor en het sake so gerig dat dit Sy volk tot voordeel gestrek het (Neh. 2:5, 6). Hoe geloofversterkend moes dit tog vir Nehemia gewees het!
13, 14. Wat moet ons doen om ons geloof sterk te hou en Satan se pogings om ons te ontmoedig, te weerstaan?
13 As ons aanhou bid, soos Nehemia gedoen het, sal dit ons help om ons geloof sterk te hou. Satan is genadeloos en val ons dikwels aan wanneer ons swak is. As ons byvoorbeeld met siekte of depressie te kampe het, kan ons dalk begin voel asof die tyd wat ons elke maand aan die bediening bestee, vir God baie min beteken. Party van ons worstel moontlik met ontstellende gedagtes, dalk weens dinge wat ons in die verlede ondervind het. Satan wil hê dat ons moet glo dat ons waardeloos is. Hy val ons dikwels aan deur ons emosies te probeer uitbuit en sodoende ons geloof af te breek. Maar as ons “waaksaam met die oog op gebede” is, kan ons ons geloof sterk hou. Trouens, ‘die groot skild van geloof sal ons [in staat stel] om al die brandende pyle van die bose te blus’.—Ef. 6:16.
14 As ons “waaksaam met die oog op gebede” is, sal ons nie onkant gevang word en ons geloof prysgee as ons onverwags ’n toets van geloof die hoof moet bied nie. Laat ons Nehemia se voorbeeld in gedagte hou en onmiddellik tot God bid wanneer ons voor toetse en beproewinge te staan kom. Ons kan slegs met Jehovah se hulp daarin slaag om versoekings te weerstaan en toetse van ons geloof te verduur.
BID VIR ANDER
15. Watter vrae moet ons ons afvra in verband met ons gebede vir ander?
15 Jesus het ’n smeekbede vir Petrus gedoen dat die apostel se geloof hom nie moet begewe nie (Luk. 22:32). Die getroue eerste-eeuse Christen Epafras het Jesus in hierdie verband nagevolg en hom ingespan om vir sy broers in Kolosse te bid. “Hy . . . bid altyd ernstig vir julle”, het Paulus aan hulle geskryf, “dat julle staande mag bly, geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God” (Kol. 4:12, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Ons kan ons gerus afvra: ‘Bid ek ernstig vir my broers regoor die wêreld? Hoe dikwels bid ek vir medegelowiges wat weens ’n natuurramp ly? Wanneer laas het ek my in gebed ingespan vir diegene wat groot verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie het? Het ek onlangs vir mense in die gemeente gebid wat ontberinge verduur?’
16. Maak ons gebede ten behoewe van ander werklik ’n verskil? Verduidelik.
16 As ons ten behoewe van ander tot Jehovah God bid, kan dit hulle werklik help. (Lees 2 Korintiërs 1:11.) Hoewel Jehovah nie verplig is om op te tree omdat baie van sy aanbidders hom herhaaldelik versoek nie, let hy op die belangstelling wat hulle gesamentlik toon sowel as hulle opregte en diepe besorgdheid oor mekaar wanneer hy hulle gebede verhoor. Daarom moet ons ons voorreg en verantwoordelikheid om vir ander te bid, ernstig opneem. Soos Epafras, moet ons ons hartgrondige liefde en ons besorgdheid vir ons Christenbroers en -susters toon deur ons in te span om vir hulle te bid. As ons dit doen, sal dit tot ons geluk bydra, want “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”.—Hand. 20:35.
‘ONS REDDING IS NABY’
17, 18. Hoe sal dit ons help as ons “waaksaam met die oog op gebede” is?
17 Net voordat Paulus gesê het dat ‘die nag ver gevorder het en die dag naby gekom het’, het hy geskryf: “Julle [ken] die tyd . . . , dat dit reeds die uur is vir julle om uit die slaap te ontwaak, want nou is ons redding nader as toe ons gelowiges geword het” (Rom. 13:11, 12). God se beloofde nuwe wêreld is naby, en ons redding is nader as wat ons dalk dink. Ons moenie geestelik aan die slaap raak nie, en ons moet nooit toelaat dat die wêreld se afleidings die tyd in beslag neem wat ons opsygesit het om alleen met Jehovah te praat nie. Laat ons eerder “waaksaam met die oog op gebede” wees. As ons dit doen, sal dit ons help om bewys te lewer van “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” terwyl ons op die dag van Jehovah wag (2 Pet. 3:11, 12). Ons lewenswyse sal dus toon dat ons geestelik wakker bly en dat ons werklik glo dat die einde van hierdie goddelose stelsel op hande is. Laat ons dus ‘onophoudelik bid’ (1 Tess. 5:17). Laat ons Jesus ook navolg deur ’n stil plekkie te vind waar ons alleen tot Jehovah kan bid. As ons tydsaam tot Jehovah bid, sal ons al hoe nader aan hom kom (Jak. 4:7, 8). En wat ’n seën sal dit tog wees!
18 Die Bybel sê: “In die dae van sy vlees het Christus smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red, en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor” (Heb. 5:7). Jesus het smekinge en bedes opgedra en tot aan die einde van sy aardse lewe aan God getrou gebly. Gevolglik het Jehovah sy geliefde Seun uit die dood gered en hom met onsterflike lewe in die hemel beloon. Ons kan ook aan ons hemelse Vader getrou bly ongeag voor watter versoekings en beproewinge ons moontlik in die toekoms te staan kom. Ja, ons kan die prys van die ewige lewe verkry—mits ons “waaksaam met die oog op gebede” bly.