Bybelboek nommer 59—Jakobus
Skrywer: Jakobus
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: Voor 62 G.J.
1. Waarom ontstaan daar ’n vraag oor Jakobus se skrywerskap van die boek met die naam Jakobus?
“HY IS buite sy sinne.” Dit is wat Jesus se familielede van hom gedink het. Gedurende sy aardse bediening ‘het ook sy broers nie in Hom geglo nie’, en Jakobus, tesame met Joses, Simon en Judas, is nie onder Jesus se vroeë dissipels gereken nie (Mark. 3:21; Joh. 7:5; Matt. 13:55). Op watter gronde kan daar dan gesê word dat Jakobus, die halfbroer van Jesus, die Bybelboek met die naam Jakobus geskryf het?
2. Wat dui daarop dat Jesus se halfbroer die skrywer van Jakobus was?
2 Die verslag toon dat die verrese Jesus aan Jakobus verskyn het, en dit het hom ongetwyfeld daarvan oortuig dat Jesus die Messias is (1 Kor. 15:7). Handelinge 1:12-14 sê dat Maria en die broers van Jesus selfs voor Pinkster saam met die apostels in ’n bokamer in Jerusalem byeengekom het om te bid. Maar het een van die apostels met die naam Jakobus nie die brief geskryf nie? Nee, want die skrywer identifiseer hom in die begin nie as ’n apostel nie, maar as ‘’n dienskneg van die Here Jesus Christus’. Bowendien noem die inleidende woorde van Judas, wat ooreenkom met dié van Jakobus, Judas ook “’n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus” (Jak. 1:1; Jud. 1). Hieruit kan ons met gerustheid aflei dat Jakobus en Judas, die vleeslike halfbroers van Jesus, die Bybelboeke geskryf het wat hulle naam dra.
3. Waarom was Jakobus bekwaam om die brief te skryf?
3 Jakobus was hoogs bekwaam om ’n brief met raad aan die Christengemeente te skryf. Hy het groot agting geniet as ’n opsiener in die gemeente in Jerusalem. Paulus praat van “Jakobus, die broer van die Here”, as een van die “pilare” in die gemeente saam met Cefas en Johannes (Gal. 1:19; 2:9). Dat Jakobus ’n vername posisie beklee het, blyk uit die feit dat Petrus ná sy vrylating uit die gevangenis onmiddellik berig gestuur het aan “Jakobus en die broeders”. En was dit nie Jakobus wat as woordvoerder vir “die apostels en die ouderlinge” opgetree het toe Paulus en Barnabas na Jerusalem gegaan het om ’n beslissing in verband met die besnydenis te versoek nie? Terloops, hierdie beslissing en die brief van Jakobus begin albei met die identiese begroeting: “Groete!”—nog iets wat op ’n gemeenskaplike skrywer dui.—Hand. 12:17; 15:13, 22, 23; Jak. 1:1.
4. Wat dui daarop dat die brief Jakobus kort voor 62 G.J. geskryf is?
4 Die geskiedskrywer Josephus deel ons mee dat die hoëpriester Ananus (Ananias), ’n Sadduseër, vir die dood van Jakobus deur steniging verantwoordelik was. Dit was ná die dood van die Romeinse goewerneur Festus, omstreeks 62 G.J., en vóór sy opvolger, Albinus, die bewind aanvaar het.a Maar wanneer het Jakobus sy brief geskryf? Jakobus het sy brief vanuit Jerusalem gerig aan “die twaalf stamme wat in die verstrooiing is”. (Jak. 1:1, sien voetnoot in NW-naslaanuitgawe.) Dit sou tyd gekos het vir die Christelike geloof om hom na die uitgieting van heilige gees in 33 G.J. te verbrei, en dit sou ook tyd gekos het vir die verontrustende toestande wat in die brief gemeld word om te ontwikkel. Die brief dui boonop aan dat die Christene nie meer klein groepies gevorm het nie, maar dat hulle georganiseer was in gemeentes met ryp “ouderlinge” wat vir die swakkes kon bid en hulle kon ondersteun. Bowendien het genoeg tyd verstryk sodat daar ’n mate van selfvoldaanheid en formalisme kon insluip (2:1-4; 4:1-3; 5:14; 1:26, 27). Dit is dus hoogs waarskynlik dat Jakobus sy brief op ’n laat tydstip geskryf het, moontlik kort voor 62 G.J., indien ons kan peil trek op Josephus se verslag oor die gebeure rondom die dood van Festus en op die bronne wat beweer dat Festus in omstreeks 62 G.J. dood is.
5. Wat bewys dat Jakobus eg is?
5 Wat die egtheid van Jakobus betref, kom die brief in die Codex Vaticanus nr. 1209, die Codex Sinaiticus en die Codex Alexandrinus voor. Dit is opgeneem in minstens tien ou katalogusse wat van vóór die Konsilie van Carthago in 397 G.J. dateer.b Dit is veelvuldig aangehaal deur vroeë kerkskrywers. ’n Diepe harmonie met die res van die geïnspireerde Skrif blyk baie duidelik uit Jakobus se geskrif.
6. (a) Watter omstandighede het dit noodsaaklik gemaak dat Jakobus sy brief skryf? (b) Hoe vul Jakobus Paulus se argumente oor geloof aan in plaas van dit te weerspreek?
6 Waarom het Jakobus hierdie brief geskryf? ’n Noukeurige beskouing van die brief onthul dat interne toestande moeilikhede onder die broers veroorsaak het. Christelike standaarde is verlaag, ja, selfs veronagsaam, sodat sommige geestelike egbreeksters geword het wat vriendskap met die wêreld betref. Sommige wat graag sogenaamde weersprekings versin, het beweer dat Jakobus se brief wat geloof deur werke aanmoedig Paulus se redenasie dat redding alleen deur geloof moontlik is en nie deur werke nie te niet doen. Uit die verband blyk dit egter dat dit by Jakobus gaan om geloof wat deur werke gerugsteun word en nie net deur woorde nie, terwyl Paulus onteenseglik werke van die Wet in gedagte het. In werklikheid vul Jakobus die argumente van Paulus aan deur een stap verder te gaan en te verduidelik hoe geloof tot uiting kom. Jakobus se raad in verband met die daaglikse probleme van die Christen is baie prakties.
7. Hoe volg Jakobus Jesus se onderrigmetodes na, en met watter uitwerking?
7 Illustrasies uit die alledaagse lewe, met inbegrip van diere, skepe, boere en plantegroei, verleen ’n kleurryke agtergrond vir Jakobus se argumente oor geloof, geduld en volharding. Hierdie navolging van Jesus se suksesvolle onderrigmetodes maak sy raad besonder kragtig. Hierdie brief bring ons onder die indruk van Jakobus se skerp insig in die beweegredes waardeur mense hulle laat lei.
INHOUD VAN JAKOBUS
8. Wat sal die gevolg wees van geduldige volharding, maar wat van verkeerde begeertes?
8 Geduldige volharding as “daders van die woord” (1:1-27). Jakobus begin met aanmoedigende woorde: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val.” Deur geduldige lydsaamheid, of volharding, sal hulle volmaak word. As iemand wysheid kortkom, moet hy aanhou om dit van God te bid, sonder om te twyfel, soos ’n windgedrewe golf van die see, maar in geloof. Die geringe sal verhoog word, maar die ryke sal verwelk soos die blom wat vergaan. Gelukkig is die man wat beproewing verdra, want hy sal “die kroon van die lewe ontvang wat die Here [Jehovah] beloof het aan die wat Hom liefhet”. God versoek niemand met bose dinge om sy ondergang te bewerk nie. Dit is ’n mens se eie verkeerde begeertes wat vrugbaar word en sonde baar, en dit bring die dood voort.—1:2, 12, 22.
9. Wat beteken dit om “daders van die woord” te wees, en watter vorm van aanbidding word deur God goedgekeur?
9 Waar kom alle goeie gawes vandaan? Van die nimmer veranderende “Vader van die ligte”. “Volgens sy wil”, sê Jakobus, “het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.” Christene moet dan gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word, en hulle moet afstand doen van alle vuiligheid en morele boosheid en die ingeplante woord van redding ontvang. “Word daders van die woord en nie net hoorders . . . nie.” Want hy wat stip kyk in die spieëlagtige wet van die vryheid en daarby bly, sal “gelukkig wees in wat hy doen”. Die formele aanbidding van die man wat nie sy tong in toom hou nie, is tevergeefs, maar “reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld”.—1:17, 18, 22, 25, 27.
10. (a) Watter onderskeide moet vermy word? (b) Wat is die verband tussen werke en geloof?
10 Die geloof tot volmaaktheid gebring deur regte werke (2:1-26). Die broers maak onderskeide, want hulle gee die voorkeur aan rykes bo armes. Maar “het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk . . . nie”? Is die rykes nie verdrukkers nie? Die broers moet die koninklike wet, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, volbring en moet partydigheid vermy. Laat hulle ook barmhartigheid beoefen, want wie op een punt van die Wet oortree, oortree in alles. Die geloof sonder die werke is sinloos, net soos dit sinloos is om vir ’n arm broer of suster te sê om ‘warm en versadig te word’ sonder om aan hulle praktiese hulp te verleen. Kan geloof getoon word sonder dat daar werke is? Het Abraham se geloof nie volkome geword deur sy werke toe hy Isak op die altaar geoffer het nie? Ragab, die hoer, is eweneens “geregverdig uit die werke”. Die geloof sonder die werke is dus dood.—2:5, 8, 16, 19, 25.
11. (a) Watter illustrasies gebruik Jakobus om teen die tong te waarsku? (b) Hoe moet wysheid en verstand aan die dag gelê word?
11 Beheersing van die tong om wysheid te leer (3:1-18). Die broers moet lugtig wees om leermeesters te word, sodat hulle nie ’n groter oordeel ondergaan nie. Almal struikel dikwels. Soos ’n stang ’n perd se liggaam en ’n klein roer ’n groot skip stuur, so het daardie klein lid, die tong, groot mag. Hy is soos ’n vuur wat ’n hele bos aan die brand kan steek! Wilde diere word makliker getem as die tong. Daarmee loof mense Jehovah maar vervloek hulle hul medemens. Dit is nie reg nie. Laat ’n fontein bitter sowel as vars water opborrel? Kan ’n vyeboom olywe voortbring? ’n wingerdstok vye? brak water vars water? Jakobus vra: “Wie is wys en verstandig onder julle?” Laat hom sy werke met sagmoedigheid toon terwyl hy selfsug en dierlike geroem teen die waarheid vermy. Want “die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins”.—3:13, 17.
12. (a) Watter verkeerde toestande bestaan in die gemeente, en waar kom hulle vandaan? (b) Watter gesindheid moet vermy en watter eienskap moet aangekweek word om Jehovah se goedkeuring te verkry?
12 Vermy wellus, vriendskap met die wêreld (4:1-17). “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle?” Jakobus beantwoord sy eie vraag: “Van julle welluste wat in julle lede stryd voer”! Sommige het die verkeerde beweegredes. Diegene wat vriende van die wêreld wil wees, is “egbreeksters”, en hulle word vyande van God. Daarom vermaan hy: “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.” Jehovah sal die nederiges verhoog. Die broers moet dus ophou om mekaar te oordeel. En omdat niemand sy lewe van dag tot dag seker kan wees nie, behoort hulle te sê: “As die Here [Jehovah] wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” Roem is verkeerd, en dit is sonde om te weet wat reg is en dit nie te doen nie.—4:1, 4, 7, 8, 15.
13. (a) Waarom is daar wee vir die rykes? (b) Hoe lig Jakobus die nodigheid van geduld en volharding toe, en met watter gevolge?
13 Gelukkig is hulle wat in geregtigheid volhard! (5:1-20). ‘Ween en huil, julle rykes!’ verklaar Jakobus. ‘Die roes van julle rykdom sal tot ’n getuienis teen julle wees. Jehovah van die leërskare het die hulpgeroep gehoor van die maaiers wat deur julle beroof is. Julle het in weelde en in singenot gelewe, en julle het die regverdige veroordeel en vermoor.’ Maar die broers moet, met die oog op die nabyheid van die Here se teenwoordigheid, geduldig wees, soos die landbouer wat op sy oes wag, en hulle moet dink aan die voorbeeld van die profete, “wat in die Naam van die Here [Jehovah] gespreek het”. Gelukkig is hulle wat volhard het! Die broers moet hulle herinner aan die volharding van Job en die uitkoms wat Jehovah gegee het, dat Jehovah “vol medelye en ontferming is”.—5:1-6, 10, 11.
14. Watter raad word ten slotte in verband met die belydenis van sonde en oor gebed gegee?
14 Laat hulle ophou sweer. Hulle moet eerder sorg dat hulle “ja ja” en hulle “nee nee” is. Hulle moet hulle sondes openlik bely en vir mekaar bid. Soos Elia se gebede getoon het, het “die vurige gebed van ’n regverdige . . . groot krag”. As iemand van die waarheid afgedwaal het, sal die een wat hom van sy dwaalweg bekeer ‘’n siel uit die dood red en ’n menigte sondes bedek’.—5:12, 16, 20.
WAAROM NUTTIG
15. Hoe maak Jakobus toepassings van die Hebreeuse Geskrifte? Lig dit toe.
15 Hoewel Jakobus die naam Jesus net twee maal noem (1:1; 2:1), maak hy talle praktiese toepassings van die leringe van die Meester, soos uit ’n noukeurige vergelyking van Jakobus se brief met die Bergpredikasie blyk. Terselfdertyd verskyn Jehovah se naam 13 keer (NW), en sy beloftes word beklemtoon as beloninge vir Christene wat hulle geloof behou (4:10; 5:11). Jakobus gebruik herhaaldelik illustrasies en gepaste aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte om sy praktiese raad te ontwikkel. Hy dui die bron aan met uitdrukkings soos: “volgens die Skrif”, “die Skrif is vervul” en “die Skrif . . . sê”, en pas dan hierdie skriftuurplase op die Christelike leefwyse toe (2:8, 23; 4:5). Wanneer Jakobus punte van raad duidelik maak en geloof in God se Woord as ’n harmoniese geheel opbou, maak hy gepas melding van Abraham se werke van geloof, Ragab se beoefening van geloof deur werke, Job se getroue volharding en Elia se vertroue in gebed.—Jak. 2:21-25; 5:11, 17, 18; Gen. 22:9-12; Jos. 2:1-21; Job 1:20-22; 42:10; 1 Kon. 17:1; 18:41-45.
16. Watter raad en waarskuwings gee Jakobus, en van watter bron kom sulke praktiese wysheid?
16 Van onskatbare waarde is Jakobus se raad om daders van die woord te wees en nie net hoorders nie, om altyd bewys te lewer van geloof deur regverdige werke, om vreugde te put uit die verduring van allerhande beproewinge, om God om wysheid te bly vra, om gedurig in die gebed tot hom te nader en om die koninklike wet, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, te volbring (Jak. 1:22; 2:24; 1:2, 5; 4:8; 5:13-18; 2:8). Hy gee sterk waarskuwings teen die verkondiging van dwalinge, die skadelike gebruik van die tong, die maak van klasseonderskeide in die gemeente, die sug na singenot, en vertroue in verganklike rykdom (3:1, 8; 2:4; 4:3; 5:1, 5). Jakobus stel dit baie duidelik dat vriendskap met die wêreld op geestelike egbreuk en vyandskap met God neerkom, en hy gee die definisie van die praktiese vorm van aanbidding wat rein is in God se oë: “om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (4:4; 1:27). Al hierdie raad, so prakties en verstaanbaar, is presies wat ’n mens sou verwag van hierdie ‘pilaar’ van die vroeë Christengemeente (Gal. 2:9). Die vriendelike boodskap is vandag nog steeds ’n rigsnoer vir Christene in ons veelbewoë tye, want dit is “wysheid van bo”, wat “die vrug van die geregtigheid” voortbring.—3:17, 18.
17. Watter kragtige rede word gegee om in getroue werke te volhard?
17 Jakobus was gretig om sy broers te help om hulle doel, die lewe in God se Koninkryk, te bereik. Daarom spoor hy hulle aan: “Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here is naby.” Hulle is gelukkig as hulle beproewinge bly verduur, want God se goedkeuring sal beteken dat hulle “die kroon van die lewe ontvang wat die Here [Jehovah] beloof het aan die wat Hom liefhet” (5:8; 1:12). God se belofte van die kroon van die lewe—hetsy onsterflike lewe in die hemele of die ewige lewe op aarde—word derhalwe beklemtoon as ’n kragtige rede om in getroue werke te volhard. Hierdie wonderlike brief sal almal gewis aanmoedig om die ewige lewe as doel na te streef, of dit nou in die hemel of in Jehovah se nuwe wêreld onder die heerskappy van die Koninkryksaad, ons Here Jesus Christus, is.—2:5.
[Voetnote]
a Jewish Antiquities, XX, 197-200 (ix, 1); Webster’s New Biographical Dictionary, 1983, bladsy 350.
b Sien tabel, bladsy 303.