Bybelboek nommer 60—1 Petrus
Skrywer: Petrus
Waar geskryf: Babilon
Geskrif voltooi: ca. 62–64 G.J.
1. Waarom moes die Christene beproewinge verduur, en waarom was Petrus se eerste brief tydig?
NAMATE die vroeë Christene die deugde van God alom verkondig het, het die Koninkrykswerk dwarsdeur die Romeinse Ryk gefloreer en gegroei. Daar het egter sekere misvattings oor hierdie ywerige groep ontstaan. Vir eers het hulle godsdiens sy oorsprong in Jerusalem en onder die Jode gehad, met die gevolg dat sommige hulle verwar het met die polities georiënteerde Joodse selote wat hulle nie aan die Romeinse juk wou onderwerp nie en wat voortdurend moeilikheid vir distriksgoewerneurs veroorsaak het. Die Christene was bowendien anders omdat hulle geweier het om offers te bring aan die keiser of om deel te neem aan die heidense godsdiensseremonies wat toe in swang was. Hulle is sleggemaak en moes baie beproewinge verduur ter wille van die geloof. Op die regte tyd, en met voorbedagtheid wat op goddelike inspirasie dui, het Petrus sy eerste brief geskryf waarin hy die Christene aangemoedig het om standvastig te wees en hulle raad gegee het in verband met hulle gedrag onder Nero, die keiser van daardie tyd. Hierdie brief was uiters tydig met die oog op die storm van vervolging wat byna onmiddellik daarna losgebars het.
2. Wat bewys dat Petrus die skrywer was van die brief wat sy naam dra, en aan wie is die brief gerig?
2 Petrus se skrywerskap word deur die openingswoorde bevestig. Bowendien haal Ireneus, Clemens van Alexandrië, Origines en Tertullianus almal uit die brief aan, waarby hulle Petrus as die skrywer noem.a Die egtheid van Eerste Petrus is net so goed gestaaf soos dié van die ander geïnspireerde briewe. Eusebius deel ons mee dat die ouderlinge van die kerk die brief vryelik gebruik het; daar was in sy tyd (ca. 260-342 G.J.) geen twyfel oor die egtheid daarvan nie. Ignatius, Hermas en Barnabas, van die begin van die tweede eeu, het almal daarna verwys.b Eerste Petrus is in volkome harmonie met die res van die geïnspireerde Skrif en bevat ’n kragtige boodskap vir die Joodse en nie-Joodse Christene wat aangespreek word as “die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië”—streke van Klein-Asië.—1 Pet. 1:1.
3. Watter bewyse help ons om vas te stel wanneer Eerste Petrus geskryf is?
3 Wanneer is die brief geskryf? Die inhoud dui daarop dat die Christene beproewinge te wagte was, òf van die heidene òf van onbekeerde Jode, maar dat Nero se vervolgingsveldtog, wat in 64 G.J. op tou gesit is, nog nie begin het nie. Dit blyk dat Petrus die brief kort voor hierdie tyd geskryf het, waarskynlik tussen 62 en 64 G.J. Die feit dat Markus nog by Petrus was, versterk hierdie gevolgtrekking. Gedurende Paulus se eerste gevangenskap in Rome (ca. 59-61 G.J.) was Markus by Paulus maar sou hy na Klein-Asië reis; en ten tyde van Paulus se tweede gevangenskap (ca. 65 G.J.) het Markus op die punt gestaan om hom weer by Paulus in Rome aan te sluit (1 Pet. 5:13; Kol. 4:10; 2 Tim. 4:11). Gedurende die tussenperiode sou hy die geleentheid gehad het om by Petrus in Babilon te wees.
4, 5. (a) Waardeur word die bewering weerlê dat Petrus sy eerste brief uit Rome geskryf het? (b) Wat dui daarop dat hy van die letterlike Babilon af geskryf het?
4 Waar is Eerste Petrus geskryf? Alhoewel Bybelkommentators dit eens is oor die egtheid, kanonisiteit, skrywerskap en benaderde skryfdatum, verskil hulle van mening oor waar die brief geskryf is. Volgens Petrus se eie getuienis het hy sy eerste brief geskryf terwyl hy in Babilon was (1 Pet. 5:13). Maar sommige beweer dat hy uit Rome geskryf het en dat “Babilon” ’n kriptiese naam vir Rome was. Die getuienis staaf egter nie hierdie sienswyse nie. Die Bybel gee nêrens te kenne dat Babilon spesifiek na Rome verwys nie. Aangesien Petrus sy brief aan diegene in letterlike Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië gerig het, volg dit logies dat sy vermelding van Babilon op die letterlike plek met daardie naam betrekking het (1:1). Petrus het goeie rede gehad om in Babilon te wees. Aan hom is ‘die evangelie vir die besnedenes toevertrou’, en daar was ’n groot Joodse bevolking in Babilon (Gal. 2:7-9). Waar dit die saamstel van die Babiloniese Talmoed bespreek, praat die Encyclopaedia Judaica van die Judaïsme se “groot akademies van Babilon” gedurende die Gewone Jaartelling.c
5 Die geïnspireerde Skrif, met inbegrip van die twee briewe wat deur Petrus geskryf is, maak geen melding daarvan dat hy na Rome gegaan het nie. Paulus sê dat hy in Rome was maar rep geen woord oor Petrus se aanwesigheid daar nie. Hoewel Paulus 35 name in sy brief aan die Romeine noem en groete aan 26 persone by name stuur, maak hy geen melding van Petrus nie. Waarom nie? Eenvoudig omdat Petrus nie daar was nie! (Rom. 16:3-15). Die “Babilon” van waar Petrus sy eerste brief geskryf het, was klaarblyklik die letterlike Babilon aan die oewer van die Eufraatrivier in Mesopotamië.
INHOUD VAN EERSTE PETRUS
6. Van watter hoop skryf Petrus, en op grond waarvan is die “wedergeboorte” tot hierdie hoop moontlik?
6 Die wedergeboorte tot ’n lewende hoop deur Christus (1:1-25). Aan die begin vestig Petrus sy lesers se aandag op “die wedergeboorte . . . tot ’n lewende hoop” en die onverwelklike erfenis wat in die hemele vir hulle bewaar is. Dit is ooreenkomstig God se barmhartigheid deur die opstanding van Jesus Christus. Daarom verheug die ‘uitverkorenes’ hulle grootliks, al word hulle deur allerhande beproewinge bedroef, sodat die beproefdheid van hulle geloof “bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus”. Die ou profete, ja, selfs engele, het hierdie saligheid of redding ondersoek. Die uitverkorenes moet derhalwe die lendene van hulle verstand omgord tot aktiwiteit en hulle hoop vestig op hierdie onverdiende goedheid terwyl hulle in hul hele lewenswandel heilig word. Dit is immers gepas aangesien hulle losgekoop is, nie deur verganklike dinge nie, maar “deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”. Hulle “wedergeboorte” is deur die woord van die lewende en ewige God, Jehovah, welke woord tot in ewigheid bly en as goeie nuus aan hulle verkondig is.—1:1, 3, 7, 19, 23.
7. (a) Waartoe word Christene opgebou, en met watter doel? (b) Hoe moet hulle, as bywoners en vreemdelinge, wandel?
7 ’n Skoon lewenswandel onder die heidene (2:1–3:22). As lewende stene word Christene opgebou tot ’n geestelike huis, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus, die hoeksteen, wat vir die ongehoorsames ’n rots van struikeling geword het. Dié wat geloof beoefen, word “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”. As bywoners en vreemdelinge onder die nasies moet hulle hul onthou van vleeslike begeertes en hul lewenswandel skoon hou. Hulle moet onderdanig wees aan “elke menslike verordening”, hetsy aan ’n koning of aan sy goewerneurs. Ja, laat hulle “almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer”. Laat diensknegte eweneens aan hulle here onderdanig wees, met behoud van ’n goeie gewete, terwyl hulle onregverdige lyding verdra. Selfs Christus het, al was hy sonder sonde, uitskellery en lyding verduur en sodoende “’n voorbeeld nagelaat” sodat sy voetstappe nagevolg kan word.—2:9, 13, 17, 21.
8. (a) Watter goeie raad word aan getroude mans en vroue gegee? (b) Wat is nodig indien iemand ’n goeie gewete voor God wil verkry?
8 Onderdanigheid geld ook vir vroue, wat deur rein gedrag tesame met diepe eerbied selfs hulle ongelowige mans sonder woorde kan win. By hulle moet dit nie om die uiterlike versiering gaan nie. Dit moet wees soos met die gehoorsame Sara, “die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God”. Mans moet aan hul vroue eer bewys as “die swakkere” en as “mede-erfgename van die genade van die lewe”. Alle Christene moet broederliefde betoon. “Wie die lewe wil liefhê . . . , moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here [Jehovah] is op die regverdiges.” In plaas dat hulle mense vrees, moet hulle altyd bereid wees om rekenskap te gee omtrent hulle hoop. Dit is beter om te ly omdat ’n mens goed doen, indien dit God se wil is, as omdat jy kwaad doen. “Immers, ook Christus het eens vir altyd gesterf betreffende sondes, ’n regverdige vir onregverdiges, om julle tot God te lei, hy wat gedood is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees.” Noag se geloof, wat tot uiting gekom het deur die bou van die ark, het daartoe gelei dat hy en sy gesin behoue gebly het. Net so word dié gered wat hulle op grond van geloof in Christus aan God toewy, hulle laat doop ter simbolisering van daardie geloof en wat dan aanhou om God se wil te doen, en hulle ontvang ’n goeie gewete van God.—3:4, 7, 10-12, 18, NW.
9. Watter gesindheid moet Christene hê? Ondanks wat?
9 Christene verheug hulle daarin om God se wil te doen, ondanks lyding (4:1–5:14). Christene moet dieselfde gesindheid as Christus hê deur net volgens God se wil te lewe en nie meer volgens dié van die heidene nie, al word hulle deur die heidene belaster omdat hulle nie saam met hulle bly loop “in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie”. Omdat die einde van alle dinge naby is, moet hulle ingetoë en nugter wees, gedurig bid en mekaar vurig liefhê sodat God in alles verheerlik kan word. Hulle moenie verbaas wees oor die vuurgloed van vervolging onder hulle nie, maar hulle moet hulle verheug as deelgenote in die lyde van die Christus. Niemand moet egter as kwaaddoener ly nie. Aangesien die oordeel by die huis van God begin, “laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade”.—4:4, 19.
10. Watter raad word aan ouere manne en aan jonger manne gegee, en met watter kragtige versekering sluit Eerste Petrus af?
10 Die ouere manne moet as herders gewillig, ja, gretig toesig hou oor die kudde van God. As voorbeelde vir die kudde sal hulle gewis die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang by die verskyning van die Opperherder. Laat jonger manne onderdanig wees aan die ouere manne, almal met ootmoed bekleed, “want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade”. Laat hulle standvastig wees in die geloof, en op hulle hoede vir daardie “brullende leeu”, die Duiwel. Weer klink daar ’n kragtige versekering op wanneer Petrus afsluit met die vermaning: “Mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”—5:5, 8, 10, 11.
WAAROM NUTTIG
11. Hoe borduur Petrus voort op Jesus en Paulus se raad wanneer hy aan opsieners advies gee?
11 Die eerste brief van Petrus bevat grondige advies vir opsieners. Petrus borduur voort op Jesus se raad in Johannes 21:15-17 en dié van Paulus in Handelinge 20:25-35 en toon opnuut dat die werk van die opsiener herderlike werk is en dat dit onselfsugtig, gewillig en gretig gedoen moet word. Die opsiener is ’n onderherder; hy dien in onderworpenheid aan “die Opperherder”, Jesus Christus, en moet aan hom rekenskap gee vir die kudde van God, wie se belange hy as ’n voorbeeld en in alle nederigheid moet behartig.—5:2-4.
12. (a) Watter relatiewe onderdanigheid moet aan heersers en aan here betoon word? (b) Watter vermaning gee Petrus in verband met die onderdanigheid van die vrou en die hoofskap van die man? (c) Watter Christelike eienskap word in die hele brief beklemtoon?
12 Talle ander aspekte van Christelike onderdanigheid word in Petrus se brief aangeroer, en uitstekende raad word gegee. In 1 Petrus 2:13-17 word gepaste onderdanigheid aan die heersers, soos ’n koning en goewerneurs, voorgeskryf. Dit moet egter relatiewe onderdanigheid wees, want dit word betoon ter wille van die Here en gaan gepaard met ‘die vrees van God’, wie se slawe Christene is. Huisknegte word vermaan om onderdanig te wees aan hulle here en om leed te verdra indien hulle “ter wille van die gewete voor God” sou ly. Vroue ontvang ook onskatbare vermaning in verband met onderdanigheid aan hul man, selfs as hy ’n ongelowige is, want Petrus toon dat hulle rein, eerbiedige gedrag “baie kosbaar is voor God” en selfs hulle man vir die waarheid kan wen. Hier gebruik Petrus die illustrasie van Sara se getroue onderdanigheid aan Abraham om krag te verleen aan die argument (1 Pet. 2:17-20; 3:1-6; Gen. 18:12). Mans moet op hulle beurt hul hoofskap met gepaste inagneming van die “swakkere” uitoefen. Nog steeds oor hierdie onderwerp vermaan Petrus: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees.” En dan beklemtoon hy die belangrikheid van ootmoed, nederigheid, ’n Christelike eienskap wat in sy hele brief beklemtoon word.—1 Pet. 3:7-9; 5:5-7; 2:21-25.
13. (a) Hoe sit Petrus in sy brief die doel uiteen waarmee God die Christengemeente uit die duisternis geroep het? (b) Op watter vreugdevolle erfenis wys Petrus, en wie verkry dit?
13 Gedurende ’n tyd dat vurige beproewinge en vervolginge weer begin opvlam het, het Petrus versterkende aanmoediging gegee, en sy brief is inderdaad van onskatbare waarde vir almal wat vandag met dergelike beproewinge te kampe het. Let op hoe hy hom op die Hebreeuse Geskrifte beroep wanneer hy Jehovah se woorde aanhaal: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16; Lev. 11:44). ’n Ander keer, in ’n gedeelte wat ryk is aan verwysings na ander geïnspireerde geskrifte, toon hy hoe die Christengemeente as ’n geestelike huis van lewende stene op die fondament van Christus gebou is. En met watter doel? Petrus antwoord: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:4-10; Jes. 28:16; Ps. 118:22; Jes. 8:14; Ex. 19:5, 6; Jes. 43:21; Hos. 1:10; 2:22). Aan hierdie “koninklike priesterdom”, die algemene priesterdom wat die hele heilige nasie van God omvat, stel Petrus die Koninkryksbelofte van ’n “onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis”, “die onverwelklike kroon van heerlikheid”, “ewige heerlikheid in Christus Jesus”. Aldus word hulle grootliks aangemoedig om hulle te bly verheug sodat hulle “by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel”.—1 Pet. 1:4; 5:4, 10; 4:13.
[Voetnote]
a McClintock en Strong se Cyclopedia, herdruk van 1981, Dl. VIII, bladsy 15.
b New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, onder redaksie van J. D. Douglas, bladsy 918.
c Jerusalem, 1971, Dl. 15, kol. 755.