HOOFSTUK 17
Bly na aan Jehovah se organisasie
DIE dissipel Jakobus het geskryf: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8). Ja, Jehovah is nie te verhewe of te ver van ons af om na ons te luister wanneer ons tot hom bid nie, al is ons onvolmaak (Hand. 17:27). Hoe kan ons nader aan God kom? Ons kan dit doen deur ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah op te bou, en dit sluit opregte gebed tot hom in (Ps. 39:12). Ons kan ’n hegte vriendskap met God ontwikkel deur sy Woord, die Bybel, gereeld te studeer. Op hierdie manier leer ons van Jehovah God, sy voornemens en sy wil vir ons (2 Tim. 3:16, 17). So leer ons om hom lief te kry en ontwikkel ons ’n gesonde vrees vir hom wat sal keer dat ons iets doen waarvan hy nie hou nie. – Ps. 25:14.
2 Maar ’n hegte verhouding met Jehovah is slegs moontlik deur middel van sy Seun, Jesus (Joh. 17:3; Rom. 5:10). Geen mens kan ons ooit beter insig in Jehovah se denke gee as Jesus nie. Hy het sy Vader so intiem geken dat hy kon sê: “Niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader. En niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Luk. 10:22). Wanneer ons die Evangelies studeer om uit te vind hoe Jesus gedink en gevoel het, leer ons in werklikheid hoe Jehovah dink en voel. Hierdie kennis help ons om nader aan ons God te kom.
3 Onder die hoofskap van God se Seun bou ons ’n hegte verhouding met Jehovah op deur na aan die sigbare deel van Jehovah se organisasie te bly wat ons leer hoe om God se wil te doen. Soos in Matteus 24:45-47 voorspel is, het die Meester, Jesus Christus, “die getroue en verstandige slaaf” aangestel om “voedsel op die regte tyd” aan die huisgesin van die geloof te voorsien. Vandag gee die getroue slaaf ons ’n oorvloed geestelike voedsel. Deur sy organisasie sê Jehovah vir ons om sy Woord elke dag te lees, ons Christelike vergaderinge gereeld by te woon en ’n betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van die “goeie nuus van die Koninkryk” te hê (Matt. 24:14; 28:19, 20; Jos. 1:8; Ps. 1:1-3). Ons wil nooit ’n vleeslike beskouing van die getroue slaaf hê nie. Ons moet daarna streef om na aan die sigbare deel van Jehovah se organisasie te bly en om die leiding daarvan te volg. Dit sal ons nader aan ons God, Jehovah, laat kom en sal ons versterk en beskerm ten spyte van moeilike tye.
HOEKOM MOEILIKE TYE TOENEEM
4 Miskien is jy al baie jare lank in die waarheid. Indien wel, weet jy beslis wat dit beteken om deur toetse van lojaliteit te gaan. Maar selfs al het jy Jehovah net onlangs leer ken en met sy volk begin assosieer, weet jy dat Satan die Duiwel almal teëstaan wat hulle aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp (2 Tim. 3:12). Of jy nou deur min of baie toetse gegaan het, jy het geen rede om bang of mismoedig te word nie. Jehovah belowe dat hy jou sal ondersteun en jou sal beloon deur jou te verlos en jou die ewige lewe te gee. – Heb. 13:5, 6; Op. 2:10.
5 Ons almal sal dalk nog gedurende hierdie oorblywende dae van Satan se stelsel deur moeilike tye gaan. Vandat God se Koninkryk in 1914 opgerig is, word Satan nie meer in die hemel by Jehovah toegelaat nie. Hy is na die aarde neergegooi, en hy en sy bose engele is tot hierdie omgewing beperk. Satan is woedend hieroor, en daarom gaan dit al hoe slegter op die aarde en word Jehovah se toegewyde knegte al hoe meer vervolg. Dit bewys dat ons in die laaste dae van sy goddelose heerskappy oor die mensdom lewe. – Op. 12:1-12.
6 Satan is woedend omdat hy weet dat sy tyd kort is. Daarom doen hy en sy demone alles in hulle vermoë om die Koninkrykspredikingswerk stop te sit en om die eenheid van Jehovah se knegte te vernietig. Dit plaas ons in die middel van die geestelike oorlog wat beskryf word as “’n stryd [nie] teen vlees en bloed nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke”. As ons aan Jehovah se kant wil bly en oorwinnaars wil wees, moet ons nie opgee in die stryd nie. Ons moet altyd die volle geestelike wapenrusting aanhê. Ons moet “vasstaan teen die slinkse planne” van die Duiwel (Ef. 6:10-17). Dit beteken dat ons moet volhard.
ONTWIKKEL VOLHARDING
7 Volharding is “die vermoë om moeilike tye of teëspoed te verduur”. In ’n geestelike sin beteken volharding dat ons vasbeslote is om te doen wat reg is ten spyte van moeilike tye, teenstand, vervolging of enigiets anders wat bedoel is om ons te keer om lojaal aan God te bly. Christelike volharding moet aangeleer word. Dit neem tyd. Ons vermoë om te volhard, verbeter wanneer ons geestelik vorder. As ons deur klein toetse van geloof gaan wanneer ons as ’n Christen begin lewe, maak dit ons sterker. Dit sal ons ook help om moeiliker toetse te verduur wat beslis later sal kom (Luk. 16:10). Ons kan nie bekostig om te wag totdat groot toetse kom voordat ons besluit om standvastig in die geloof te bly nie. Ons moet ’n definitiewe besluit neem voordat toetse kom. Die apostel Petrus het gewys dat volharding saam met ander eienskappe wat God eer, ontwikkel moet word toe hy geskryf het: “Julle [moet] julle ywerig inspan om by julle geloof goedheid te voeg, by julle goedheid kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding toegewydheid aan God, by julle toegewydheid aan God broederlike liefde, by julle broederlike liefde liefde vir alle mense.” – 2 Pet. 1:5-7; 1 Tim. 6:11.
Ons volharding word dag na dag opgebou wanneer ons deur toetse gaan en dit oorkom
8 Jakobus het in sy brief gewys hoe belangrik dit is om volharding te ontwikkel: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer julle deur allerhande moeilike tye gaan, want julle weet dat julle geloof tot volharding lei wanneer dit getoets is. Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks te kort skiet nie” (Jak. 1:2-4). Jakobus sê dat Christene bly moet wees wanneer hulle deur moeilike tye gaan omdat dit ons help om volharding te ontwikkel. Het jy al so daaraan gedink? Daarna wys Jakobus dat volharding ’n werk het om te doen. Dit moet ons Christelike persoonlikheid vervolmaak en ons help om God se goedkeuring te kry. Ja, ons volharding word dag na dag opgebou wanneer ons deur toetse gaan en dit oorkom. Volharding help ons dan weer om ander goeie eienskappe aan te leer wat ons nodig het.
9 Ons volharding maak Jehovah bly; dit sal hom beweeg om ons die ewige lewe as beloning te gee. Jakobus het verder gesê: “Gelukkig is die mens wat volhard in moeilike tye, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah belowe het aan dié wat Hom altyd liefhet” (Jak. 1:12). Ja, ons volhard omdat ons vir ewig wil lewe. Sonder volharding kan ons nie in die waarheid bly nie. As ons voor wêreldse druk ingee, sal ons terugsink in die wêreld. Sonder volharding sal ons nie meer Jehovah se gees hê nie en daarom nie die vrug daarvan in ons lewe voortbring nie.
10 As ons in hierdie moeilike tye wil volhard, moet ons die regte beskouing ontwikkel van die lyding wat Christene moet deurmaak. Onthou dat Jakobus geskryf het: “Julle moet baie bly wees.” Dit is dalk nie maklik nie, aangesien jy dalk fisies swaarkry of angstig is. Maar onthou dat ons toekomstige lewe op die spel is. Iets wat met die apostels gebeur het, help ons om te sien hoe ons ons kan verbly wanneer ons deur moeilike tye gaan. Ons lees hieroor in die boek Handelinge: “Hulle het die apostels laat roep, hulle geslaan en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te praat, en hulle het hulle laat gaan. Hulle het toe van die Sanhedrin af weggegaan en was bly omdat hulle waardig bevind is om ter wille van sy naam verneder te word” (Hand. 5:40, 41). Die apostels het besef dat hulle lyding bewys het dat hulle aan Jesus se opdrag gehoorsaam was en dat hulle Jehovah se goedkeuring gekry het. Toe Petrus jare later sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, het hy genoem hoe waardevol sulke lyding ter wille van regverdigheid is. – 1 Pet. 4:12-16.
11 Iets soortgelyks het met Paulus en Silas gebeur. Terwyl hulle besig was met hulle sendingwerk in Filippi, is hulle in hegtenis geneem. Hulle is daarvan aangekla dat hulle groot moeilikheid in die stad maak en gebruike verkondig wat die mense in die stad nie mag aanvaar of beoefen nie. Daarom is hulle erg geslaan en in die tronk gegooi sonder dat hulle wonde behandel is. Die Bybelverslag sê: “Omtrent middernag was Paulus en Silas besig om te bid en om God te loof deur liedere te sing, en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand. 16:16-25). Vir Paulus en Silas was hulle lyding ter wille van Christus ’n bewys aan mense dat hulle aan God lojaal is. Dit was ook ’n manier om ’n verdere getuienis te gee aan diegene wat moontlik na die goeie nuus sou luister. Mense se lewe was op die spel. Daardie selfde aand het die tronkbewaarder en almal in sy huis geluister en dissipels geword (Hand. 16:26-34). Paulus en Silas het vertrou op Jehovah, op sy krag en op sy bereidwilligheid om hulle in hulle lyding te ondersteun. Hulle is nie teleurgestel nie.
12 Vandag gee Jehovah ons ook alles wat ons nodig het om ons gedurende moeilike tye te ondersteun. Hy wil hê dat ons moet volhard. Hy het vir ons sy geïnspireerde Woord gegee om ons toe te rus met akkurate kennis oor sy voorneme. Dit bou ons geloof op. Ons het die geleentheid om met medegelowiges te assosieer en heilige diens te verrig. Ons het ook die voorreg om deur gebed ’n hegte verhouding met Jehovah te behou. Hy luister na ons wanneer ons hom loof en hom opreg vir sy hulp vra om rein in sy oë te bly (Fil. 4:13). En iets wat ons nooit moet vergeet nie, is die krag wat ons kry wanneer ons nadink oor ons hoop vir die toekoms. – Matt. 24:13; Heb. 6:18; Op. 21:1-4.
VOLHARDING TYDENS VERSKEIE TOETSE
13 Die toetse wat ons vandag deurmaak, is soortgelyk aan dié waarvoor die vroeë dissipels van Jesus Christus te staan gekom het. In ons tyd word Jehovah se Getuies beledig en fisies mishandel deur teenstanders wat verkeerd ingelig is. Net soos in die dae van die apostels, word baie van die teenstand veroorsaak deur mense wat fanaties is oor godsdiens en God se Woord wys hoe vals hulle leerstellings en gebruike is (Hand. 17:5-9, 13). Jehovah se volk het soms verligting gevind deur aanspraak te maak op wetlike regte wat deur politieke regerings gewaarborg word (Hand. 22:25; 25:11). Maar heersers het ons werk ook al amptelik verbied in ’n poging om ons Christelike bediening stop te sit (Ps. 2:1-3). Onder sulke omstandighede volg ons moedig die voorbeeld van die getroue apostels, wat gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” – Hand. 5:29.
14 Terwyl die gees van nasionalisme regoor die aarde toeneem, word groter druk op verkondigers van die goeie nuus gesit om nie hulle godgegewe bediening uit te voer nie. Al God se knegte verstaan die waarskuwing in Openbaring 14:9-12 oor die aanbidding van “die wilde dier en sy beeld”. Ons verstaan die betekenis van Johannes se woorde: “Hiervoor het die heiliges volharding nodig, dié wat die gebooie van God gehoorsaam en aan die geloof van Jesus vashou.”
15 Toetse as gevolg van oorloë, revolusies, vervolging of ’n amptelike verbod op ons werk, kan dit vir jou onmoontlik maak om openlik te aanbid. Julle sal dalk nie as ’n gemeente kan vergader nie. Daar kan dalk nie met die takkantoor kontak gemaak word nie. Besoeke deur kringopsieners word miskien onderbreek. Publikasies bereik julle dalk nie. Wat moet jy doen as enige van hierdie dinge gebeur?
16 Die antwoord is: Doen wat jy kan en soveel as wat jy kan onder die omstandighede. Persoonlike studie behoort moontlik te wees. Klein groepies kan gewoonlik in huise bymekaarkom vir studie. Publikasies wat in die verlede bestudeer is en die Bybel self kan as ’n grondslag vir vergaderinge gebruik word. Moenie bekommerd of angstig raak nie. Die Bestuursliggaam kan gewoonlik binne ’n kort tydjie weer in kontak kom met verantwoordelike broers.
17 Selfs al is jy van al jou Christenbroers afgesonder, moet jy in gedagte hou dat jy nie van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, afgesonder is nie. Jou hoop kan sterk bly. Jehovah kan nog steeds jou gebede hoor, en hy kan jou met sy gees versterk. Vertrou op hom vir leiding. Onthou dat jy ’n kneg van Jehovah en ’n dissipel van Jesus Christus is. Maak dus goed gebruik van geleenthede om te getuig. Jehovah sal jou pogings seën, en ander sal moontlik binne ’n kort tydjie by jou aansluit in ware aanbidding. – Hand. 4:13-31; 5:27-42; Fil. 1:27-30; 4:6, 7; 2 Tim. 4:16-18.
18 Maar as jy, soos die apostels en ander, deur die dood self bedreig word, moet jy jou vertroue stel in “die God wat die dooies opwek” (2 Kor. 1:8-10). Jou geloof in die opstanding kan jou help om selfs die ergste teenstand te verduur (Luk. 21:19). Christus Jesus het die voorbeeld gestel; hy het geweet dat sy getrouheid in moeilike tye ander sou versterk om te volhard. Jy kan ook so ’n bron van krag vir jou broers wees. – Joh. 16:33; Heb. 12:2, 3; 1 Pet. 2:21.
19 Vervolging en teenstand is dalk nie die enigste moeilike situasies waardeur jy sal moet gaan nie. Byvoorbeeld, party het mismoedig geword omdat die mense in hulle gebied nie belangstel nie. Ander moes fisiese of emosionele siektes deurgaan of moes ander beperkings as gevolg van hulle menslike swakheid verduur. Die apostel Paulus het die een of ander soort probleem gehad wat sy diens soms belemmer of moeilik gemaak het (2 Kor. 12:7). En Epafroditus, ’n eerste-eeuse Christen van Filippi, het ‘hartseer geword omdat sy vriende gehoor het dat hy siek geword het’ (Fil. 2:25-27). Ons menslike onvolmaakthede en dié van ander kan probleme skep wat baie moeilik is om te verdra. Persoonlikheidsverskille kan tussen mede-Christene of selfs tussen gesinslede ontstaan. Maar sulke struikelblokke kan verduur en oorkom word deur diegene wat die raad van Jehovah se Woord volg. – Eseg. 2:3-5; 1 Kor. 9:27; 13:8; Kol. 3:12-14; 1 Pet. 4:8.
VASBESLOTE OM GETROU TE BLY
20 Ons moet getrou bly aan die een wat deur Jehovah aangestel is as Hoof van die gemeente, Jesus Christus (Kol. 2:18, 19). Ons moet ten volle saam werk met “die getroue en verstandige slaaf” en dié wat as opsieners aangestel is (Heb. 13:7, 17). As ons teokratiese reëlings getrou volg en saamwerk met dié wat die leiding neem, sal ons georganiseer wees om Jehovah se wil te doen. Ons moet die voorreg van gebed ten volle gebruik. Onthou, nie eers tronkmure of alleenopsluiting kan ons kommunikasie met ons liefdevolle hemelse Vader keer of die eenheid tussen ons en mede-aanbidders versteur nie.
21 Laat ons met vasbeslotenheid en volharding alles in ons vermoë doen om ons predikingsopdrag uit te voer. Laat ons volhou met die werk wat Jesus Christus ná sy opstanding aan sy volgelinge gegee het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het” (Matt. 28:19, 20). Laat ons Jesus se voorbeeld volg deur te volhard. Laat ons ons oë gevestig hou op die Koninkrykshoop en die vooruitsig op ewige lewe (Heb. 12:2). As gedoopte dissipels van Christus het ons die voorreg om ’n aandeel te hê aan die vervulling van Jesus se profesie oor “die einde van die wêreldstelsel”. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom” (Matt. 24:3, 14). As ons gedurende hierdie tyd heelhartig op hierdie werk fokus, sal ons die vreugde geniet om vir ewig in Jehovah se regverdige nuwe wêreld te lewe!