“Julle sal getuies van my wees”
“[Jesus] het vir hulle gesê: ‘ . . . Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.’”—HAND. 1:7, 8.
1, 2. (a) Wie is die voortreflikste getuie van Jehovah? (b) Wat beteken die naam Jesus, en hoe het God se Seun in ooreenstemming met die betekenis van sy naam opgetree?
“HIERVOOR is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig.” (Lees Johannes 18:33-37.) In ’n verhoor waar sy lewe op die spel was, het Jesus Christus hierdie woorde vir die Romeinse goewerneur van Judea gesê. Jesus het homself pas as ’n koning geïdentifiseer. Jare later het die apostel Paulus na hierdie moedige voorbeeld van Jesus verwys, “wat as ’n getuie die goeie openbare bekendmaking voor Pontius Pilatus gedoen het” (1 Tim. 6:13). Ja, dit vereis soms groot moed om ’n “getroue en waaragtige getuie” in Satan se wêreld vol haat te wees!—Op. 3:14.
2 Omdat Jesus ’n lid van die Joodse nasie was, was hy by geboorte ’n getuie van Jehovah (Jes. 43:10). Trouens, hy was die grootste getuie wat God nog ooit ter wille van Sy naam verwek het. Jesus het die betekenis van sy eie godgegewe naam ernstig opgeneem. Toe ’n engel vir Jesus se pleegvader, Josef, gesê het dat Maria weens die heilige gees swanger is, het die engel bygevoeg: “Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hulle sondes red” (Matt. 1:20, 21; vtn. in NW). Die meeste Bybelgeleerdes stem saam dat die naam Jesus van ’n Hebreeuse naam, Jesua, kom en dat dit ’n verkorte vorm van die goddelike naam bevat; dit beteken “Jehovah is redding”. In ooreenstemming met die betekenis van Jesus se naam het hy “die verlore skape van die huis van Israel” gehelp om berou oor hulle sondes te toon sodat hulle weer Jehovah se goedkeuring kon verkry (Matt. 10:6; 15:24; Luk. 19:10). Om dié rede het Jesus ywerig oor God se Koninkryk getuig. Die Evangelieskrywer Markus het gesê: “Jesus [het] na Galilea gegaan en die goeie nuus van God verkondig en gesê: ‘Die vasgestelde tyd is vervul, en die koninkryk van God het naby gekom. Wees berouvol en stel geloof in die goeie nuus’” (Mark. 1:14, 15). Jesus het ook die Joodse godsdiensleiers moedig veroordeel, wat daartoe bygedra het dat hulle hom aan ’n paal laat teregstel het.—Mark. 11:17, 18; 15:1-15.
“DIE LUISTERRYKE DINGE VAN GOD”
3. Wat het op die derde dag ná Jesus se dood gebeur?
3 Maar iets wonderliks het gebeur! Op die derde dag ná Jesus se wrede dood het Jehovah hom opgewek, nie as ’n mens nie, maar as ’n onsterflike geesskepsel (1 Pet. 3:18). Om vir sy dissipels te bewys dat hy weer lewe, het die Here Jesus ’n vleeslike liggaam aangeneem. Op die eerste dag ná sy opstanding het hy ten minste vyf keer aan verskillende dissipels verskyn.—Matt. 28:8-10; Luk. 24:13-16, 30-36; Joh. 20:11-18.
4. Watter vergadering het Jesus op sy opstandingsdag gehou, en watter verantwoordelikheid het hy onder sy dissipels se aandag gebring?
4 Toe Jesus die vyfde keer verskyn het, was dit aan die apostels en ander wat saam met hulle was. By daardie onvergeetlike geleentheid het hy as ’t ware ’n studie van God se Woord gehou. “Hy [het] hulle verstand ten volle geopen om die betekenis van die Skrif te begryp.” Hulle het dus begryp dat sy dood deur die toedoen van God se vyande asook sy wonderdadige opstanding in die Skrif voorspel is. Teen die einde van hierdie vergadering op sy opstandingsdag het Jesus dit duidelik gemaak watter verantwoordelikheid sy toehoorders het. Hy het vir hulle verduidelik dat “in sy naam . . . berou tot vergifnis van sondes in al die nasies verkondig [sou] word—en van Jerusalem af.” Hy het bygevoeg: “Julle [moet] getuies van hierdie dinge wees.”—Luk. 24:44-48.
5, 6. (a) Waarom het Jesus gesê: “Julle sal getuies van my wees”? (b) Watter nuwe aspek van Jehovah se voorneme moes Jesus se dissipels bekend maak?
5 Veertig dae later, gedurende Jesus se laaste verskyning, sou sy apostels dus verstaan wat hy bedoel het met die eenvoudige maar kragtige opdrag: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Waarom het Jesus gesê: “Julle sal getuies van my wees”, nie van Jehovah nie? Jesus kon laasgenoemde gesê het, maar sy toehoorders was Israeliete en was dus reeds getuies van Jehovah.
6 Jesus se dissipels moes nou ’n nuwe aspek van Jehovah se voorneme bekend maak—iets baie groters as Israel se verlossing uit slawerny in Egipte en later uit gevangenskap in Babilon. Die dood en opstanding van Jesus Christus het die grondslag voorsien vir bevryding van die ergste vorm van gevangenskap, naamlik slawerny aan sonde en die dood. Op Pinkster 33 HJ het Jesus se pas gesalfde dissipels “die luisterryke dinge van God” aan die mense bekend gemaak, en baie het daarop gereageer. Jesus het dus van sy hemelse posisie aan sy Vader se regterhand begin sien hoe sy naam groter betekenis aanneem namate duisende berou getoon het en geloof in hom as Jehovah se middel tot redding gestel het.—Hand. 2:5, 11, 37-41.
“’N LOSPRYS IN RUIL VIR BAIE”
7. Wat het die gebeure op die dag van Pinkster 33 HJ bewys?
7 Die gebeure op die dag van Pinkster in 33 HJ het bewys dat Jehovah die waarde van Jesus se volmaakte menseoffer goedgunstiglik aanvaar het as ’n versoening, of bedekking, van sonde (Heb. 9:11, 12, 24). Soos Jesus verduidelik het, het hy gekom “nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Die “baie” wat by Jesus se losprys sou baat vind, sou nie tot berouvolle Jode beperk word nie. Dit is eerder God se wil dat “alle soorte mense gered moet word”, aangesien die losprys “die sonde van die wêreld wegneem”!—1 Tim. 2:4-6; Joh. 1:29.
8. Tot watter mate het Jesus se dissipels getuig, en hoe was dit moontlik?
8 Het daardie vroeë dissipels van Jesus die nodige moed gehad om aan te hou om van hom te getuig? Hulle het beslis, maar hulle het dit nie met hulle eie krag gedoen nie. Jehovah se kragtige heilige gees het hulle gemotiveer en versterk om aan te hou preek. (Lees Handelinge 5:30-32.) Ongeveer 27 jaar ná Pinkster 33 HJ het “die verkondiging van die waarheid van dié goeie nuus” Jode en nie-Jode “in die hele skepping wat onder die hemel is”, bereik.—Kol. 1:5, 23.
9. Soos voorspel is, wat het met die oorspronklike Christengemeente gebeur?
9 Maar ongelukkig het die oorspronklike Christengemeente geleidelik bedorwe geword (Hand. 20:29, 30; 2 Pet. 2:2, 3; Jud. 3, 4). Soos Jesus aangedui het, sou hierdie afvalligheid, wat deur “die bose”, Satan, bevorder word, groei en die ware Christelike godsdiens verberg tot aan “die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 13:37-43). Dan sou Jehovah Jesus op die troon plaas as Koning oor die mensdom. Dit het in Oktober 1914 gebeur, wat die begin van “die laaste dae” van Satan se goddelose stelsel aangedui het.—2 Tim. 3:1.
10. (a) Na watter belangrike datum het gesalfde Christene in die moderne tyd verwys? (b) Wat het in Oktober 1914 gebeur, en hoe weet ons dit?
10 Gesalfde Christene in die moderne tyd het vooruitgewys na Oktober 1914 as ’n betekenisvolle datum. Hulle het dit gebaseer op Daniël se profesie oor ’n groot boom wat afgekap is en weer ná “sewe tye” sou groei (Dan. 4:16). Jesus het na dieselfde tydperk as “die vasgestelde tye van die nasies” verwys in sy profesie oor sy toekomstige teenwoordigheid en “die voleinding van die stelsel van dinge”. Vanaf daardie betekenisvolle jaar, 1914, kan die “teken van [Christus se] teenwoordigheid” as die aarde se nuwe Koning duidelik deur almal gesien word (Matt. 24:3, 7, 14; Luk. 21:24). Sedertdien het “die luisterryke dinge van God” dus ingesluit dat Jehovah Jesus op die troon geplaas het as Koning oor die mensdom.
11, 12. (a) Wat het die aarde se nuwe Koning in die naoorlogse jaar 1919 begin doen? (b) Watter ander verwikkeling het vanaf die middel-1930’s duidelik geword? (Sien prent aan begin van artikel.)
11 As die aarde se nuwe Koning het Jesus Christus kort voor lank sy gesalfde volgelinge uit gevangenskap aan “Babilon die Grote” begin verlos (Op. 18:2, 4). In die naoorlogse jaar 1919 het dit vir gesalfde Christene moontlik geword om wêreldwyd te getuig oor God se middel tot redding en die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk. Hulle het hierdie geleentheid om te getuig, aangegryp, en dit het gelei tot die insameling van nog duisende gesalfdes wat Christus se mede-erfgename geword het.
12 Vanaf die middel-1930’s het dit duidelik geword dat Christus miljoene van sy “ander skape”, wat die veelvolkige “groot menigte” uitmaak, begin insamel het. Onder die leiding van gesalfde Christene volg hierdie groot menigte ook die moedige voorbeeld van Jesus en maak hulle in die openbaar bekend dat hulle redding aan God en Jesus te danke is. Omdat hulle in hierdie getuieniswerk volhard en aanhou om geloof in Christus se losprys te stel, sal hulle die voorreg hê om oorlewendes te wees van “die groot verdrukking”, wat ’n einde aan Satan se wêreld sal bring.—Joh. 10:16; Op. 7:9, 10, 14.
‘SKRAAP VRYMOEDIGHEID BYMEKAAR OM DIE GOEIE NUUS TE SPREEK’
13. Wat is ons as Jehovah se Getuies vasbeslote om te doen, en hoe kan ons seker wees dat ons suksesvol sal wees?
13 Laat ons aanhou om ons voorreg te waardeer om Getuies te wees van “die luisterryke dinge” wat Jehovah God gedoen het en van sy beloftes vir die toekoms. Maar om Getuies hiervan te wees, is nie altyd maklik nie. Baie van ons broers werk in gebiede waar daar baie onverskilligheid, bespotting of openlike vervolging is. Ons kan net soos die apostel Paulus en sy metgeselle optree. Paulus het gesê: ‘Ons moet deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaarskraap om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek’ (1 Tess. 2:2). Laat ons dus nooit tou opgooi nie. Ons moet eerder vasbeslote wees om ons toewyding na te leef terwyl Satan se stelsel in puin stort (Jes. 6:11). Ons kan dit nie in ons eie krag doen nie, maar ons moet die voorbeeld van die vroeë Christene volg deur te bid dat Jehovah ons deur middel van sy gees “die krag wat bo die normale is”, sal gee.—Lees 2 Korintiërs 4:1, 7; Luk. 11:13.
14, 15. (a) Hoe is Christene in die eerste eeu HJ beskou, en wat het die apostel Petrus oor hulle gesê? (b) Hoe moet ons voel as ons mishandel word omdat ons Jehovah se Getuies is?
14 Vandag is daar wel miljoene wat beweer dat hulle Christene is, “maar hulle verloën [God] deur hulle werke, want hulle is verfoeilik en ongehoorsaam en nie goedgekeur vir enige goeie werk nie” (Tit. 1:16). Dit sal goed wees as ons in gedagte hou dat ware Christene in die eerste eeu deur baie van hulle tydgenote—dalk selfs deur die meerderheid—gehaat is. Dit is waarom die apostel Petrus geskryf het: “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig, omdat . . . die gees van God . . . op julle rus.”—1 Pet. 4:14.
15 Kan hierdie geïnspireerde woorde op Jehovah se hedendaagse Getuies toegepas word? Ja, beslis, want ons getuig van Jesus se koningskap. Wanneer ons gehaat word omdat ons Jehovah se naam dra, is dit dus dieselfde as om “vir die naam van [Jesus] Christus gesmaad [te] word”, wat vir sy teenstanders gesê het: “Ek het in die naam van my Vader gekom, maar julle neem my nie aan nie” (Joh. 5:43). As jy weer teenstand in jou getuieniswerk ervaar, kan jy dus moed skep. Sulke mishandeling is ’n bewys dat jy God se goedkeuring het en dat sy gees ‘op jou rus’.
16, 17. (a) Wat ondervind Jehovah se volk in baie dele van die wêreld? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?
16 Terselfdertyd moet ons in gedagte hou dat daar groot vermeerdering in baie dele van die wêreld is. Selfs in gebiede wat deeglik gedek is, vind ons mense wat bereid is om te luister en vir wie ons ons wonderlike boodskap van redding kan vertel. Mag ons pligsgetrou teruggaan na belangstellendes en, indien moontlik, die Bybel saam met hulle studeer en hulle help om tot toewyding en doop te vorder. Ons voel waarskynlik soos Sarie in Suid-Afrika, wat al meer as 60 jaar bedrywig is in die getuieniswerk. Sy sê: “Ek is baie dankbaar dat ek deur middel van Jesus se losprysoffer ’n goeie verhouding kan geniet met Jehovah, die Soewerein van die heelal, en ek is bly dat ek sy glorieryke naam bekend kan maak.” Sy en haar man, Martinus, het al baie mense, insluitende hulle drie kinders, gehelp om aanbidders van Jehovah te word. “Geen ander bedrywigheid”, voeg Sarie by, “verskaf groter tevredenheid nie, en deur middel van sy heilige gees gee Jehovah ons almal die nodige krag om aan te hou met hierdie lewensreddende werk.”
17 Hetsy ons gedoopte Christene is of daarna streef om gedoop te word, ons het alle rede om dankbaar te wees vir die voorreg om met die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies te assosieer. Hou dus aan om deeglik te getuig terwyl jy daarna streef om jou rein te hou van Satan se onheilige wêreld. Deur dit te doen, sal jy ons hemelse Vader vereer, wie se glorieryke naam ons bevoorreg is om te dra.