Die wedergeboorte—Die weg na redding?
HOE sou jy antwoord op die vraag: “Is jy weer gebore?” Miljoene gelowiges oor die hele wêreld sal met ’n besliste “Ja!” antwoord. Hulle glo dat om wedergebore te wees, ’n kenmerk van alle ware Christene en die enigste weg na redding is. Hulle het dieselfde beskouing as godsdiensleiers soos die teoloog Robert C. Sproul, wat geskryf het: “As ’n persoon nie wedergebore is nie, . . . is hy nie ’n Christen nie.”
Is jy een van dié wat glo dat wedergeboorte jou op die weg na redding plaas? Indien wel, sal jy ongetwyfeld jou familielede en vriende wil help om daardie weg te vind en daarop te begin wandel. Maar om dit te kan doen, moet hulle eers verstaan wat die verskil is tussen iemand wat wedergebore is en iemand wat nie is nie. Hoe sou jy vir hulle verduidelik wat dit beteken om wedergebore te wees?
Baie mense glo dat die uitdrukking “wedergebore” na iemand verwys wat ’n gelofte aflê om God en Christus te dien en wat gevolglik verander word van iemand wat geestelik dood is na iemand wat geestelik lewend is. Trouens, ’n woordeboek wat tans in gebruik is, definieer iemand wat wedergebore is as “iemand, gewoonlik ’n Christen, wat sy verbintenis tot sy geloof hernieu of bevestig het, veral ná ’n intense godsdienstige ervaring”.—Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary—Eleventh Edition.
Sal jy verbaas wees om te hoor dat die Bybel nie met hierdie definisie saamstem nie? Wil jy graag weet wat God se Woord werklik omtrent die wedergeboorte leer? Jy sal beslis daarby baat vind om hierdie onderwerp van naderby te ondersoek. Waarom? Want ’n juiste begrip van wat dit beteken om wedergebore te wees, sal jou lewe en jou toekomsverwagtinge beïnvloed.
Wat leer die Bybel?
Die enigste plek in die hele Bybel waar die uitdrukking “wedergebore”, oftewel “weer gebore”, gevind word, is in Johannes 3:1-12, wat ’n interessante gesprek tussen Jesus en ’n godsdiensleier in Jerusalem beskryf. Jy sal hierdie hele Bybelverslag in die bygaande venster vind. Ons moedig jou aan om dit noukeurig deur te lees.
In die verslag beklemtoon Jesus verskeie aspekte van die “nuwe geboorte”.a Trouens, Jesus se bespreking help ons om hierdie vyf belangrike vrae te beantwoord:
◼ Hoe belangrik is die nuwe geboorte?
◼ Kan ons self besluit om die nuwe geboorte te ondergaan?
◼ Wat is die doel daarvan?
◼ Hoe gebeur dit?
◼ Watter verandering in ons verhouding met God bring dit teweeg?
Kom ons ondersoek hierdie vrae een vir een.
[Voetnoot]
a Die term “nuwe geboorte” word gevind in 1 Petrus 1:3, 23. Dit is nog ’n Bybelterm wat die ervaring om “weer gebore” te word, beskryf. Albei terme word afgelei van die Griekse werkwoord gen·naʹo.
[Venster/Prent op bladsy 4]
“Julle moet weer gebore word”
“En daar was ’n man van die Fariseërs, Nikodemus was sy naam, ’n heerser van die Jode. Dié het in die nag na hom toe gekom en vir hom gesê: ‘Rabbi, ons weet dat u as ’n leermeester van God af gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat u doen nie tensy God met hom is.’ Jesus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ Nikodemus het vir hom gesê: ‘Hoe kan ’n mens gebore word wanneer hy oud is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie, of hoe?’ Jesus het geantwoord: ‘Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand uit water en gees gebore word, kan hy nie in die koninkryk van God ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder omdat ek vir jou gesê het: Julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar dit wil, en jy hoor die geluid daarvan, maar jy weet nie waar dit vandaan kom en waarheen dit gaan nie. So is elkeen wat uit die gees gebore is.’ Nikodemus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Hoe kan hierdie dinge gebeur?’ Jesus het geantwoord en vir hom gesê: ‘Is jy ’n leermeester van Israel en tog weet jy hierdie dinge nie? Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, maar julle neem die getuienis wat ons gee, nie aan nie. As ek julle aardse dinge vertel het en julle nogtans nie glo nie, hoe sal julle glo as ek julle hemelse dinge vertel?’”—Johannes 3:1-12.