Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe van Jakobus en van Petrus
BYNA 30 jaar ná Pinkster 33 G.J. skryf die dissipel Jakobus—’n halfbroer van Jesus—’n brief aan “die twaalf stamme” van geestelike Israel (Jak. 1:1). Sy oogmerk: om hulle aan te spoor om sterk geloof te hê en te volhard wanneer hulle beproewinge verduur. Hy voorsien ook raad om verontrustende toestande reg te stel wat in die gemeentes ontstaan het.
Kort voor die Romeinse keiser Nero se vervolgingsveldtog in 64 G.J. skryf die apostel Petrus sy eerste brief aan Christene, waarin hy hulle aanspoor om vas te staan in die geloof. In sy tweede brief, wat kort ná die eerste geskryf is, spoor Petrus sy medegelowiges aan om aandag te skenk aan God se woord en waarsku hy hulle oor die koms van Jehovah se dag. Ons kan inderdaad baat vind as ons aandag skenk aan die boodskappe in die briewe van Jakobus en Petrus.—Heb. 4:12.
GOD GEE WYSHEID AAN DIEGENE WAT ‘IN GELOOF VRA’
“Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur”, skryf Jakobus, “want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang.” Aan diegene wat “aanhou om in geloof te vra”, gee Jehovah die nodige wysheid om beproewinge te verduur.—Jak. 1:5-8, 12.
Ook diegene wat in die gemeente “onderrigters word”, het geloof en wysheid nodig. Nadat Jakobus die tong geïdentifiseer het as “’n klein lid” wat ‘die hele liggaam kan bevlek’, waarsku hy teen wêreldse neigings wat ’n mens se verhouding met God kan skaad. Hy sit ook die stappe uiteen wat enigiemand wat geestelik siek is, moet doen om te herstel.—Jak. 3:1, 5, 6; 5:14, 15.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:13—Hoe ‘verbly barmhartigheid hom triomfantlik oor die oordeel’? Wanneer ons vir onsself aan God rekenskap moet gee, neem hy die barmhartigheid wat ons aan ander bewys het, in ag en vergewe hy ons op grond van die losprysoffer van sy Seun (Rom. 14:12). Is dit nie ’n goeie rede om barmhartigheid ’n vername eienskap in ons lewe te maak nie?
4:5—Watter teks haal Jakobus hier aan? Jakobus haal nie ’n spesifieke vers aan nie. Maar hierdie woorde wat deur God geïnspireer is, is moontlik gebaseer op die algemene gedagte agter tekste soos Genesis 6:5; 8:21; Spreuke 21:10 en Galasiërs 5:17.
5:20—Wie se siel sal van die dood gered word deur die een “wat ’n sondaar van die dwaling van sy weg laat terugdraai”? ’n Christen wat ’n oortreder van ’n sondige weg laat terugdraai, red die berouvolle persoon se siel van geestelike dood en dalk van ewige vernietiging. Die persoon wat die sondaar op hierdie wyse help, sal ook “’n menigte sondes [van daardie een] bedek”.
Lesse vir ons:
1:14, 15. Sonde het sy oorsprong by verkeerde begeertes. Ons moet dus nie verkeerde begeertes voed deur daaraan te bly dink nie. Ons moet eerder ‘aanhou om dinge te bedink’ wat opbouend is en om ons verstand en hart daarmee te vul.—Fil. 4:8.
2:8, 9. “Om sommige voor te trek”, is strydig met “die koninklike wet” van liefde. Gevolglik trek ware Christene niemand voor nie.
2:14-26. Ons word “deur middel van geloof gered”; “dit is nie aan werke te danke nie”, hetsy werke van die Mosaïese Wet of dié wat ons as Christene verrig. Ons geloof moet meer behels as net die bewering dat ons geloof het (Ef. 2:8, 9; Joh. 3:16). Dit moet ons tot godvrugtige dade beweeg.
3:13-17. “Die wysheid van bo” is beslis verhewe bo “die aardse, dierlike, demoniese” wysheid! Ons moet ‘goddelike wysheid bly naspeur soos verborge skatte’.—Spr. 2:1-5.
3:18, voetnote in NW. Die saad van die goeie nuus van die Koninkryk moet “gesaai [word] met vrede deur diegene wat vrede maak”. Dit is belangrik dat ons vredemakers is en nie verwaand, twisgierig of oproerig is nie.
‘STAAN VAS IN DIE GELOOF’
Petrus herinner sy medegelowiges aan hulle “lewende hoop” op ’n erfenis in die hemel. “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie’”, sê Petrus vir hulle. Nadat hy spesifieke raad oor onderdanigheid gegee het, maan hy: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees.”—1 Petrus 1:3, 4; 2:9; 3:8.
Aangesien “die einde van [die Joodse stelsel van dinge] naby gekom” het, maan Petrus die broers om ‘gesond van verstand te wees, asook waaksaam met die oog op gebede’. Hy sê vir hulle: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. . . . Weerstaan [Satan], vas in die geloof.”—1 Petrus 4:7; 5:8, 9.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3:20-22—Hoe red doop ons? Doop is ’n vereiste vir diegene wat gered wil word. Maar doop op sigself red ons nie. Redding kom eintlik “deur die opstanding van Jesus Christus”. Die doopkandidaat moet geloof hê dat redding slegs moontlik is omdat Jesus ’n offerdood gesterf het, opgewek is en “aan God se regterhand” is met gesag oor die lewendes en die dooies. Dit is doop wat op sulke geloof gegrond is, wat ooreenkom met die veilige bewaring van ‘agt siele deur die water heen’.
4:6—Wie is “die dooies” aan wie ‘die goeie nuus bekend gemaak is’? Dit is persone wat ‘dood was in hulle oortredings en sondes’, of wat geestelik dood was, voordat hulle die goeie nuus gehoor het (Ef. 2:1). Maar nadat hulle geloof in die goeie nuus gestel het, het hulle geestelik begin “lewe”.
Lesse vir ons:
1:7. Ons geloof moet getoets wees, of van ’n beproefde hoedanigheid wees, om oortreffende waarde te hê. Sulke sterk geloof is beslis tot die “behoud van die siel” (Heb. 10:39). Ons moenie voor toetse van ons geloof terugdeins nie.
1:10-12. Engele was begerig om te tuur in die diep geestelike waarhede wat God se profete van ouds aangaande die gesalfde Christengemeente geskryf het en om dit te verstaan. Hierdie dinge het egter eers duidelik geword toe Jehovah die gemeente begin gebruik het (Ef. 3:10). Moet ons nie die voorbeeld van die engele navolg en ons inspan om “die diep dinge van God” te ondersoek nie?—1 Kor. 2:10.
2:21. In navolging van ons Voorbeeld, Jesus Christus, moet ons bereid wees om selfs tot die dood te ly om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun.
5:6, 7. Wanneer ons ons sorge op Jehovah werp, help hy ons om ware aanbidding altyd eerste in ons lewe te stel en ons nie onnodig te kwel oor wat die volgende dag kan bring nie.—Matt. 6:33, 34.
‘JEHOVAH SE DAG SAL KOM’
“Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie”, skryf Petrus, “maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.” As ons aandag skenk aan die profetiese woord, kan dit ons beskerm teen “valse onderrigters” en ander mense wat ’n verderflike invloed het.—2 Pet. 1:21; 2:1-3.
‘In die laaste dae sal spotters kom met hulle spotterny’, waarsku Petrus. Maar ‘Jehovah se dag sal soos ’n dief kom’. Petrus sluit sy brief af met goeie raad vir diegene wat ‘die teenwoordigheid van daardie dag verwag en goed in gedagte hou’.—2 Pet. 3:3, 10-12.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:19—Wie is die “dagster”, wanneer gaan hy op en hoe kom ons te wete dat dit gebeur het? Die “dagster” is Jesus Christus in Koninkryksmag (Op. 22:16). In 1914 het Jesus voor die hele skepping as die Messiaanse Koning opgegaan, wat die begin van ’n nuwe dag aangedui het. Die gedaanteverandering het ’n visioenêre voorskou van Jesus se heerlikheid en Koninkryksmag gebied en het die betroubaarheid van God se profetiese woord bevestig. As ons aandag skenk aan daardie woord, verlig dit ons hart, en so word ons daarvan bewus dat die Dagster opgegaan het.
2:4—Wat is “Tartarus”, en wanneer is die opstandige engele daarin gewerp? Tartarus is ’n toestand van gevangenskap waaraan slegs geesskepsele—nie mense nie—oorgelewer word. Dit is ’n toestand van dik verstandelike duisternis wat God se helder voornemens betref. Diegene in Tartarus het geen hoop vir die toekoms nie. God het die ongehoorsame engele in Noag se dag in Tartarus gewerp, en hulle sal in daardie verlaagde toestand bly totdat hulle vernietig word.
3:17—Wat het Petrus bedoel met “voorkennis”? Petrus het na voorkennis van toekomstige gebeure verwys, wat deur inspirasie aan hom en ander Bybelskrywers gegee is. Aangesien dit nie onbeperkte kennis was nie, het hierdie voorkennis nie beteken dat die vroeë Christene al die besonderhede van toekomstige gebeure geweet het nie. Hulle het net in breë trekke geweet wat verwag kon word.
Lesse vir ons:
1:2, 5-7. As ons ’n ywerige poging aanwend om eienskappe soos geloof, volharding en godvrugtige toegewydheid aan te kweek, help dit ons nie net om toe te neem in “juiste kennis van God en van Jesus” nie, maar dit kan ook “verhoed dat [ons] onbedrywig of onvrugbaar word” met betrekking tot hierdie kennis.—2 Pet. 1:8.
1:12-15. Om ‘vas te staan in die waarheid’, het ons voortdurend herinneringe nodig, soos dié wat ons deur middel van ons gemeentelike vergaderinge, persoonlike studie en Bybellees kry.
2:2. Ons moet versigtig wees dat ons gedrag Jehovah en sy organisasie nie oneer aandoen nie.—Rom. 2:24.
2:4-9. Met die oog op wat Jehovah in die verlede gedoen het, kan ons seker wees dat hy weet “hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om uitgeroei te word”.
2:10-13. Hoewel “heerlikes”, dit wil sê Christen- ouer manne, tekortkominge het en soms foute maak, moet ons nie smadend van hulle praat nie.—Heb. 13:7, 17.
3:2-4, 12. As ons noukeurig aandag skenk aan “die woorde . . . wat vantevore deur die heilige profete gespreek is en die gebod van die Here en Redder”, sal dit ons help om die nabyheid van Jehovah se dag in gedagte te hou.
3:11-14. As diegene wat “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”, moet ons (1) ‘heilig wees in gedrag’ deur fisies, verstandelik, sedelik en geestelik rein te bly; (2) oorvloedig wees in dade wat “godvrugtige toegewydheid” weerspieël, soos dié in verband met die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk; (3) sorg dat ons gedrag en persoonlikheid altyd “vlekkeloos” is, onbesoedel deur die wêreld; (4) “smetloos” wees deur alles met ’n suiwer beweegrede te doen; en (5) “in vrede” bevind word—in vrede met God, met ons Christenbroers en met ons medemens.