Wyse raad vir egpare
“Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here. Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê.”—Efesiërs 5:22, 25.
1. Wat is die regte beskouing van die huwelik?
JESUS het gesê dat God, deur middel van die huwelik, ’n man en ’n vrou onder een juk saamvoeg om “een vlees” te wees (Matteus 19:5, 6). Dit behels dat twee mense met verskillende persoonlikhede leer om gemeenskaplike belangstellings te ontwikkel en saam werk om gemeenskaplike doelwitte te bereik. Die huwelik is ’n lewenslange verbintenis, nie ’n terloopse ooreenkoms wat maklik verbreek kan word nie. In baie lande is dit nie moeilik om ’n egskeiding te kry nie, maar in die oë van ’n Christen is die huweliksband heilig. Dit mag slegs om ’n baie ernstige rede beëindig word.—Matteus 19:9.
2. (a) Watter hulp is beskikbaar vir egpare? (b) Waarom is dit belangrik om daarna te streef om ’n sukses van die huwelik te maak?
2 ’n Huweliksberader het gesê: “’n Goeie huwelik is ’n proses van voortdurende veranderinge, aangesien dit deur nuwe kwessies beïnvloed word, werk maak van probleme wat ontstaan en gebruik maak van die hulpmiddele wat op elke stadium van die lewe beskikbaar is.” Vir Christenegpare sluit hierdie hulpmiddele wyse raad uit die Bybel in sowel as die ondersteuning van mede-Christene en ’n hegte verhouding met Jehovah deur middel van gebed. ’n Suksesvolle huwelik is blywend, en oor die jare bring dit vir die man en vrou geluk en tevredenheid mee. Nog belangriker, dit vereer Jehovah God, die Insteller van die huwelik.—Genesis 2:18, 21-24; 1 Korintiërs 10:31; Efesiërs 3:15; 1 Tessalonisense 5:17.
Volg Jesus en sy gemeente na
3. (a) Gee ’n opsomming van Paulus se raad aan egpare. (b) Watter goeie voorbeeld het Jesus gestel?
3 Tweeduisend jaar gelede het die apostel Paulus wyse raad aan Christenegpare gegee toe hy geskryf het: “Soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens dit ook in alles aan hulle mans wees. Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:24, 25). Watter goeie vergelykings word hier getref! Christenvrouens wat in nederigheid aan hulle mans onderdanig bly, volg die gemeente na deurdat hulle die hoofskapbeginsel erken en nakom. Gelowige mans wat aanhou om hulle vrouens in gunstige of in moeilike tye lief te hê, toon dat hulle die voorbeeld van Christus, wat die gemeente liefhet en daarvoor sorg, noukeurig navolg.
4. Hoe kan mans Jesus se voorbeeld volg?
4 ’n Christenman is die hoof van sy gesin, maar ook hy het ’n hoof, naamlik Jesus (1 Korintiërs 11:3). Net soos Jesus vir sy gemeente gesorg het, moet mans dus liefdevol in die geestelike en fisiese behoeftes van hulle gesin voorsien, al verg dit persoonlike opoffering. Hulle stel die welsyn van hulle gesin voor hulle eie begeertes en voorkeure. Jesus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Hierdie beginsel geld veral in die huwelik. Paulus het dit getoon toe hy gesê het: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. . . . Geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit” (Efesiërs 5:28, 29). ’n Man moet sy vrou voed en koester met dieselfde ywer as wat hy homself voed en koester.
5. Hoe kan vrouens die Christengemeente navolg?
5 Godvrugtige vrouens kyk na die Christengemeente as ’n voorbeeld. Toe Jesus op die aarde was, het sy volgelinge hulle vorige strewes met blydskap agtergelaat en hom gevolg. Ná sy dood het hulle aan hom onderdanig gebly, en gedurende die bykans 2 000 jaar daarna het die ware Christengemeente in alles aan Jesus onderdanig gebly en sy leierskap gevolg. Net so minag Christenvrouens nie hulle mans nie en probeer hulle ook nie die skriftuurlike hoofskapreëling in die huwelik as onbelangrik afmaak nie. Hulle ondersteun eerder hulle mans en is onderdanig aan hulle, werk met hulle saam en moedig hulle sodoende aan. Wanneer die man sowel as die vrou op so ’n liefdevolle wyse optree, sal hulle huwelik slaag en sal die verhouding aan hulle albei vreugde verskaf.
Gaan voort om met hulle saam te woon
6. Watter raad het Petrus aan mans gegee, en waarom is dit belangrik?
6 Die apostel Petrus het ook raad vir egpare gehad, en sy woorde aan mans was besonder reguit. Hy het gesê: “Net so moet julle, mans, voortgaan om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). Die erns van Petrus se raad word gesien in die laaste woorde van daardie vers. As ’n man sy vrou nie eer nie, sal dit sy verhouding met Jehovah raak. Sy gebede sal verhinder word.
7. Hoe moet ’n man sy vrou eer?
7 Hoe kan mans dan eer aan hulle vrouens toeken? ’n Man wat sy vrou eer, behandel haar liefdevol, met respek en waardigheid. Om ’n vrou op so ’n minsame manier te behandel, sou vir baie mans vreemd gewees het. ’n Griekse geleerde skryf: “Onder die Romeinse wet het ’n vrou geen regte gehad nie. Wat die wet betref, het sy vir altyd ’n kind gebly. . . . Sy was heeltemal onderworpe aan haar man en volkome aan sy genade oorgelewer.” Hoe het dit tog van Christelike leringe verskil! Die Christenman het sy vrou geëer. Sy handelinge met haar is deur Christelike beginsels bepaal, nie deur sy luim nie. Wat meer is, hy was bedagsaam teenoor haar “ooreenkomstig kennis” en het in ag geneem dat sy ’n swakker vat is.
“’n Swakker vat”—In watter sin?
8, 9. In watter opsigte is vroue gelyk aan mans?
8 Toe Petrus gesê het dat die vrou “’n swakker vat” is, het hy nie bedoel dat vroue intellektueel of geestelik swakker as mans is nie. Baie Christenmans het weliswaar voorregte in die gemeente wat vroue nie verwag om te hê nie, en in die gesin is vrouens onderdanig aan hulle mans (1 Korintiërs 14:35; 1 Timoteus 2:12). Maar dieselfde geloof, volharding en hoë sedelike standaarde word van almal, mans en vroue, vereis. En soos Petrus gesê het, is die man sowel as die vrou “erfgename van die onverdiende guns van die lewe”. Wat redding betref, is hulle in Jehovah God se oë gelyk (Galasiërs 3:28). Petrus het aan gesalfde Christene in die eerste eeu geskryf. Sy woorde het Christenmans dus daaraan herinner dat hulle en hulle vrouens, as “mede-erfgename met Christus”, dieselfde hemelse hoop het (Romeine 8:17). Eendag sou hulle albei as priesters en konings in God se hemelse Koninkryk dien!—Openbaring 5:10.
9 Gesalfde Christenvrouens was geensins minderwaardig in vergelyking met hulle gesalfde Christenmans nie. En hierdie beginsel geld ook vir diegene met ’n aardse hoop. Mans sowel as vroue van die “groot menigte” was hulle klere en maak dit wit in die bloed van die Lam. Mans sowel as vroue bring regoor die wêreld “dag en nag” lof aan Jehovah (Openbaring 7:9, 10, 14, 15). Mans sowel as vroue sien daarna uit om “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te geniet, wanneer hulle hulle in “die werklike lewe” sal verheug (Romeine 8:21; 1 Timoteus 6:19). Hetsy hulle van die gesalfdes of van die ander skape is, alle Christene dien Jehovah saam as “een kudde onder een herder” (Johannes 10:16). Wat ’n dwingende rede is dit tog vir ’n Christenman en -vrou om die verskuldigde eer aan mekaar te bewys!
10. In watter sin is die vrou “’n swakker vat”?
10 In watter sin is die vrou dan “’n swakker vat”? Petrus het moontlik verwys na die feit dat vroue oor die algemeen kleiner as mans is en minder fisiese krag as hulle het. Verder eis die wonderlike voorreg om kinders te baar ’n fisiese tol weens ons onvolmaaktheid. Vroue van vrugbare leeftyd ondervind miskien gereeld tydperke van fisiese ongemak. Hulle het beslis spesiale behandeling en bedagsaamheid nodig wanneer hulle sulke ongemak verduur of die uitputtende ondervinding van swangerskap en kindergeboorte deurmaak. ’n Man wat aan sy vrou eer toeken en besef watter ondersteuning sy nodig het, sal grootliks bydra tot die sukses van die huwelik.
In ’n godsdienstig verdeelde huis
11. In watter sin kan ’n huwelik slaag selfs as die man en vrou aan verskillende godsdienste behoort?
11 Maar gestel huweliksmaats het verskillende godsdiensbeskouings omdat een van hulle ’n tyd nadat hulle getrou het, die Christelike waarheid aangeneem het en die ander nie. Kan so ’n huwelik slaag? Die ondervinding van baie sê ja. ’n Man en vrou met verskillende godsdiensbeskouings kan nog steeds ’n suksesvolle huwelik hê in die sin dat dit blywend kan wees en vir albei geluk kan meebring. Wat meer is, die huwelik is nog steeds geldig in Jehovah se oë; hulle is nog steeds “een vlees”. Die raad aan Christenhuweliksmaats is dus om by die ongelowige maat te bly as daardie maat daartoe bereid is. As daar kinders is, vind hulle baat by die getrouheid van die Christenouer.—1 Korintiërs 7:12-14.
12, 13. Hoe kan Christenvrouens hulle ongelowige mans help deur Petrus se raad te volg?
12 Petrus gee vriendelike raad aan Christenvrouens wat in godsdienstig verdeelde huise woon. Sy woorde kan in beginsel deur Christenmans toegepas word wat hulle in dieselfde situasie bevind. Petrus skryf: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”—1 Petrus 3:1, 2.
13 As ’n vrou haar geloof taktvol aan haar man kan verduidelik, is dit goed. Maar sê nou hy wil nie luister nie? Dit is sy keuse. Nogtans is alles nie verlore nie, want Christelike gedrag gee ook ’n kragtige getuienis. Baie mans wat aanvanklik nie belanggestel het in die geloof van hulle vrou nie of wat dit selfs teëgestaan het, het “die regte gesindheid vir die ewige lewe” verkry nadat hulle die goeie gedrag van hulle vrou gesien het (Handelinge 13:48). Selfs as ’n man nie die Christelike waarheid aanneem nie, kan die gedrag van sy vrou nog steeds ’n goeie indruk op hom maak, met goeie gevolge vir die huwelik. Een man wie se vrou een van Jehovah se Getuies is, het erken dat hy nooit hulle hoë standaarde sal kan naleef nie. Nietemin het hy hom “die gelukkige man van ’n wonderlike vrou” genoem en sy vrou en haar mede-Getuies hartlik geprys in ’n brief aan ’n koerant.
14. Hoe kan mans ongelowige vrouens help?
14 Christenmans wat die beginsels in Petrus se woorde toegepas het, het eweneens hulle vrou deur hulle gedrag gewen. Ongelowige vrouens het gesien hoe hulle man ’n verantwoordelikheidsin ontwikkel, ophou om geld te mors op sigarette, drank en dobbelary en nie meer skeltaal gebruik nie. Party van hierdie huweliksmaats het ander lede van die Christengemeente ontmoet. Hulle is beïndruk deur die liefdevolle Christenbroederskap, en wat hulle onder die broers gesien het, het hulle tot Jehovah aangetrek.—Johannes 13:34, 35.
“Die geheime persoon van die hart”
15, 16. Watter soort gedrag van ’n Christenvrou kan haar ongelowige man wen?
15 Watter soort gedrag kan ’n man wen? Eintlik is dit gedrag wat van nature deur Christenvroue aangekweek word. Petrus sê: “Laat julle versiering nie dié wees van uiterlike haarvlegtery en van die omhang van goue sierade of die dra van boklere nie, maar laat dit die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees wees, wat in die oë van God van groot waarde is. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulle versier, en hulle het hulle aan hulle eie mans onderwerp, soos Sara Abraham gehoorsaam het en hom ‘heer’ genoem het. En julle het haar kinders geword, mits julle aanhou om goed te doen en om geen oorsaak van verskrikking te vrees nie.”—1 Petrus 3:3-6.
16 Petrus vermaan ’n Christenvrou om nie op haar uiterlike voorkoms staat te maak nie. Haar man moet eerder sien watter uitwerking Bybelleringe op haar innerlike het. Hy moet die nuwe persoonlikheid in werking sien. Dalk sal hy dit vergelyk met die ou persoonlikheid wat sy vrou voorheen gehad het (Efesiërs 4:22-24). Hy sal haar “stille en sagmoedige gees” beslis verkwikkend en aantreklik vind. Hierdie gees sal nie net haar man behaag nie, maar is ook “in die oë van God van groot waarde”.—Kolossense 3:12.
17. Hoe is Sara ’n goeie voorbeeld vir Christenvrouens?
17 Daar word na Sara verwys as iemand wat navolgenswaardig is, en sy is ’n goeie voorbeeld vir Christenvrouens, hetsy hulle mans gelowiges is of nie. Sara het Abraham ongetwyfeld as haar hoof beskou. Selfs in haar hart het sy hom haar “heer” genoem (Genesis 18:12). En tog het dit nie afbreuk gedoen aan haar waardigheid nie. Dit was duidelik dat sy ’n geestelike sterk vrou was met haar eie onwrikbare geloof in Jehovah. Sy is inderdaad deel van die “groot wolk van getuies” wie se voorbeeld van geloof ons moet beweeg om “die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding [te] hardloop” (Hebreërs 11:11; 12:1). Dit is vir ’n Christenvrou nie vernederend om soos Sara te wees nie.
18. Watter beginsels moet in ’n verdeelde huisgesin in gedagte gehou word?
18 In ’n godsdienstig verdeelde huis is die man nog steeds die hoof. As hy die gelowige is, sal hy sy vrou se oortuigings in ag neem, hoewel hy nie sy eie geloof sal prysgee nie. As die vrou die gelowige is, sal sy ook nie haar geloof prysgee nie (Handelinge 5:29). Nietemin sal sy nie in opstand kom teen haar man se hoofskap nie. Sy sal sy posisie respekteer en onder “die wet van haar man” bly.—Romeine 7:2.
Die Bybel se wyse raad
19. Wat is van die dinge wat druk op die huwelik kan plaas, maar hoe kan hierdie druk die hoof gebied word?
19 Vandag is daar baie dinge wat druk op die huwelik kan plaas. Party mans versuim om hulle verantwoordelikhede na te kom. Party vrouens weier om die hoofskap van hulle man te aanvaar. In party huwelike word die een huweliksmaat deur die ander mishandel. Christene se lojaliteit kan beproef word deur ekonomiese druk, menslike onvolmaaktheid en die gees van die wêreld met sy onsedelikheid en verwronge waardes. Maar Christenmans en -vrouens wat ongeag hulle situasie Bybelbeginsels volg, ontvang Jehovah se seën. Al pas net een huweliksmaat Bybelbeginsels toe, is die situasie beter as wanneer nie een van die twee dit doen nie. Wat meer is, Jehovah is lief vir sy knegte wat selfs in moeilike situasies aan hulle huweliksgeloftes getrou bly, en hy onderskraag hulle. Hy vergeet nie hulle lojaliteit nie.—Psalm 18:25; Hebreërs 6:10; 1 Petrus 3:12.
20. Watter raad gee Petrus aan alle Christene?
20 Nadat die apostel Petrus raad aan getroude mans en vrouens gegee het, het hy met hartlike woorde van aanmoediging afgesluit. Hy het gesê: “Laastens moet julle almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees, nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie, maar seën eerder, want julle is tot hierdie weg geroep, sodat julle ’n seën kan beërf” (1 Petrus 3:8, 9). Inderdaad wyse raad vir almal, veral vir egpare!
Onthou jy?
• Hoe volg Christenmans Jesus na?
• Hoe volg Christenvrouens die gemeente na?
• Hoe kan mans eer aan hulle vrouens toeken?
• Wat is die beste weg vir ’n Christenvrou wie se man nie ’n gelowige is nie?
[Prent op bladsy 16]
’n Christenman is lief vir sy vrou en gee vir haar om
’n Christenvrou respekteer en eer haar man
[Prent op bladsy 17]
In teenstelling met die Romeinse wet het Christelike leringe vereis dat ’n man sy vrou eer
[Prent op bladsy 18]
Mans sowel as vroue van die “groot menigte” sien uit na die ewige lewe in die Paradys
[Prent op bladsy 20]
Sara het Abraham as haar heer beskou