Aan die Efesiërs
3 Ek, Paulus, is dus ’n gevangene+ van Christus Jesus ter wille van julle, die mense van die nasies. 2 Julle het beslis gehoor dat die bestuurderskap+ van die onverdiende goedheid van God tot julle voordeel aan my gegee is. 3 Die heilige geheim is deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, net soos ek voorheen kortliks aan julle geskryf het. 4 Wanneer julle hierdie brief lees, sal julle dus besef dat ek die heilige geheim+ van die Christus verstaan. 5 In vorige geslagte is hierdie geheim nie aan die mensekinders bekend gemaak soos dit nou deur gees aan die heilige apostels en profete geopenbaar is nie.+ 6 Hierdie geheim is dat mense van die nasies in eenheid met Christus Jesus deur middel van die goeie nuus mede-erfgename en lede van dieselfde liggaam sal wees.+ Hulle sal saam met ons in die belofte deel. 7 Ek het ’n bedienaar hiervan geword danksy die vrye gawe van God se onverdiende goedheid wat deur die werking van sy krag aan my gegee is.+
8 Hierdie onverdiende goedheid is aan my gegee,+ iemand wat die onbelangrikste van al die heiliges is,+ sodat ek die goeie nuus oor die onmeetbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak. 9 Dit is ook aan my gegee sodat ek almal kon laat sien hoe die openbaring van die heilige geheim+ beheer word, wat deur die eeue heen geheim gehou is deur God, wat alles geskep het. 10 Dit het gebeur sodat die wysheid van God, wat op ’n groot verskeidenheid maniere geopenbaar word, nou deur middel van die gemeente+ aan die regerings en die owerhede in die hemelse plekke bekend gemaak kan word.+ 11 Dit is volgens sy ewige voorneme in verband met die Christus,+ Jesus ons Here, 12 deur middel van wie ons hierdie vrymoedigheid van spraak en vrye toegang+ vol vertroue deur ons geloof in hom het. 13 Daarom wil ek julle vra om nie moed op te gee weens die probleme wat ek ter wille van julle ondervind nie, want dit beteken eer vir julle.+
14 Daarom buig ek my knieë voor die Vader, 15 aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het. 16 Ek bid dat hy julle uit die oorvloed van sy heerlikheid deur die krag van sy gees sterk sal maak in die mens wat julle innerlik is.+ 17 En ek bid dat die Christus deur julle geloof in julle harte mag woon, tesame met liefde.+ Mag julle stewig gewortel+ en gevestig wees op die fondament,+ 18 sodat julle saam met al die heiliges heeltemal in staat kan wees om ten volle te verstaan wat die breedte en lengte en hoogte en diepte van die waarheid is 19 en om die liefde van die Christus te ken,+ wat beter is as alle kennis, sodat julle gevul kan word met al die goeie dinge wat God gee.
20 God kan deur sy krag wat in ons aan die werk is,+ oneindig meer vir ons doen as alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel.+ 21 Hy verdien dus die eer deur middel van die gemeente en deur middel van Christus Jesus tot in alle geslagte, vir ewig en altyd. Amen.