Alles sal nuut gemaak word—Soos voorspel is
“Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: . . . ‘Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’”—OPENBARING 21:5.
1, 2. Waarom is baie mense tereg huiwerig om te dink aan wat die toekoms inhou?
HET jy al ooit gesê of gedink: ‘Wie weet wat die toekoms inhou?’ ’n Mens kan verstaan waarom mense huiwerig is om te raai wat die toekoms inhou of om diegene te glo wat vol selfvertroue beweer dat hulle kan voorspel wat voorlê. Mense het eenvoudig nie die vermoë om akkuraat te voorspel wat in die maande of jare wat voorlê, gaan gebeur nie.
2 Die tydskrif Forbes ASAP het in een van sy nommers ’n hele bespreking oor tyd gehad. Daarin het ’n aanbieder van dokumentêre TV-programme, Robert Cringely, geskryf: “Uiteindelik verneder die tyd ons almal, maar niemand ly soveel onder die tyd as voorspellers nie. Om te probeer raai wat die toekoms inhou, is ’n spel waarin ons byna altyd aan die verloorkant is. . . . Maar die sogenaamde deskundiges hou aan om voorspellings te maak.”
3, 4. (a) Watter optimistiese beskouing het party oor die nuwe millennium? (b) Watter realistiese verwagting het ander wat die toekoms betref?
3 Jy het dalk opgemerk dat meer mense blykbaar nou oor die toekoms nadink, aangesien daar soveel aandag aan die nuwe millennium geskenk word. Aan die begin van verlede jaar het die tydskrif Maclean’s gesê: “Vir die meeste Kanadese is die jaar 2000 moontlik maar net nog ’n jaar op die kalender, maar dit kan met ’n waarlik nuwe begin saamval.” Professor Chris Dewdney van die Universiteit van York het hierdie rede vir optimisme gegee: “Die millennium beteken dat ons ons van ’n werklik aaklige eeu kan losmaak.”
4 Klink dit soos blote wensdenkery? In Kanada het ’n opname getoon dat net 22 persent van dié wat ondervra is, “glo dat 2000 ’n nuwe begin vir die wêreld sal inlui”. Trouens, amper die helfte “verwag nog ’n wêreldwye konflik”—’n wêreldoorlog—binne 50 jaar. Die meeste mense besef klaarblyklik dat ’n nuwe millennium nie ons probleme kan laat verdwyn en alles nuut kan maak nie. Sir Michael Atiyah, ’n voormalige president van Brittanje se Royal Society, het geskryf: “Die vinnige tempo waarteen verandering plaasvind . . . , beteken dat die een-en-twintigste eeu kritieke uitdagings vir ons hele beskawing sal meebring. Probleme soos bevolkingsaanwas, uitputting van hulpbronne, besoedeling van die omgewing en die algemene voorkoms van armoede het ons reeds ingehaal en moet dringende aandag kry.”
5. Waar kan ons betroubare inligting kry oor wat voorlê?
5 Jy wonder dalk: ‘Aangesien mense nie die toekoms kan voorspel nie, moet ons dan nie maar die toekoms eerder net ignoreer nie?’ Die antwoord is nee! Mense kan weliswaar nie akkurate voorspellings maak van wat voorlê nie, maar ons moet nie dink dat niemand dit kan doen nie. Wel, wie kan dan, en waarom moet ons optimisties oor die toekoms wees? Jy kan bevredigende antwoorde in vier spesifieke voorspellings kry. Hierdie voorspellings is opgeteken in die boek wat deur die meeste mense besit en gelees word, maar wat ook deur die meeste mense misverstaan en geïgnoreer word—die Bybel. Ongeag wat jy van die Bybel dink en hoe goed jy dit dalk ken, jy is dit aan jouself verskuldig om hierdie vier belangrike tekste te ondersoek. Hulle voorspel in werklikheid ’n baie rooskleurige toekoms. Verder toon hierdie vier belangrike profesieë wat jou toekoms en dié van jou dierbares kan wees.
6, 7. Wanneer het Jesaja sy profesie uitgespreek, en hoe het sy voorspellings ’n verbasende vervulling gehad?
6 Die eerste een vind ons in Jesaja hoofstuk 65. Voor ons dit lees, kom ons kry eers die agtergrond duidelik in gedagte—wanneer hierdie woorde geskryf is en wat die situasie was. God se profeet Jesaja, wat hierdie woorde neergeskryf het, het meer as ’n eeu voor die einde van die koninkryk van Juda gelewe. Die einde het gekom toe Jehovah sy beskerming van die ontroue Jode onttrek het en die Babiloniërs toegelaat het om Jerusalem te vernietig en die mense in ballingskap weg te voer. Dit het meer as honderd jaar ná Jesaja dit voorspel het, gebeur.—2 Kronieke 36:15-21.
7 Om die geskiedkundige agtergrond aan te vul, moet ons in gedagte hou dat Jesaja onder God se leiding die naam voorspel het van die Pers, Kores, wat Babilon uiteindelik tot ’n val sou bring, al was Kores nog nie eers gebore nie (Jesaja 45:1). Kores het dit moontlik gemaak dat die Jode in 537 v.G.J. na hulle eie land kon terugkeer. Verbasend genoeg het Jesaja daardie herstelling voorspel, soos ons in hoofstuk 65 kan lees. Hy het die aandag gevestig op die situasie wat die Israeliete in hulle land kon geniet nadat hulle teruggekeer het.
8. Watter gelukkige toekoms het Jesaja voorspel, en watter uitdrukking is veral van belang?
8 Ons lees in Jesaja 65:17-19: “Kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.” Jesaja het beslis toestande beskryf wat baie beter was as dié waarin die Jode in Babilon gelewe het. Hy het vreugde en blydskap voorspel. Kyk nou na die uitdrukking “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”. Dit is die eerste van vier kere dat hierdie frase in die Bybel voorkom, en hierdie vier gedeeltes kan direk verband hou met ons toekoms, en kan dit selfs voorspel.
9. Hoe was die eertydse Jode betrokke by ’n vervulling van Jesaja 65:17-19?
9 Die eerste vervulling van Jesaja 65:17-19 het betrekking gehad op die eertydse Jode wat, soos Jesaja heeltemal korrek voorspel het, wel na hulle eie land teruggekeer het waar hulle rein aanbidding herstel het (Esra 1:1-4; 3:1-4). Jy besef natuurlik dat hulle teruggekeer het na ’n land op dieselfde planeet, nie iewers anders in die heelal nie. Hierdie besef kan ons help om te sien wat Jesaja bedoel het met nuwe hemele en ’n nuwe aarde. Ons hoef nie soos party mense te bespiegel oor vae profesieë van Nostradamus of ander mense wat voorspellings gemaak het nie. Die Bybel self verklaar wat Jesaja bedoel het.
10. Hoe moet ons die begrip nuwe “aarde” verstaan wat Jesaja voorspel het?
10 In die Bybel verwys “aarde” nie altyd na ons aardbol nie. Psalm 96:1 sê byvoorbeeld letterlik: “Sing voor die HERE, o ganse aarde!” Ons weet dat ons planeet—die vaste grond en die uitgestrekte oseane—nie kan sing nie. Mense sing. Ja, Psalm 96:1 verwys na die mense op die aarde.a Maar Jesaja 65:17 praat ook van “nuwe hemele”. As die “aarde” ’n nuwe mensegemeenskap in die Jode se land verteenwoordig, wat dan van die “nuwe hemele”?
11. Waarna het die frase “nuwe hemele” verwys?
11 Die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur M’Clintock en Strong, sê: “Ongeag waar ’n profetiese visioen afspeel, die hemel beteken . . . die hele samestel van die heersende magte . . . wat oor die onderdane is en oor hulle heers, soos die natuurlike hemel oor die aarde staan en daaroor heers.” In verband met die gekombineerde frase “hemel en aarde” verduidelik die Cyclopedia dat ‘die frase in profetiese taal die politieke toestand van mense van verskillende range beteken. Die hemel is die heersersklas; die aarde is die burgerstand, mense waaroor meerderes heers.’
12. Hoe het die eertydse Jode “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” gehad?
12 Toe die Jode na hulle land teruggekeer het, het hulle as ’t ware onder ’n nuwe stelsel van dinge gekom. Daar was ’n nuwe administrasie. Serubbabel, ’n afstammeling van koning Dawid, was die goewerneur, en Josua was die hoëpriester (Haggai 1:1, 12; 2:21; Sagaria 6:11). Hulle het die “nuwe hemele” uitgemaak. Oor wat? Die “nuwe hemele” was oor “’n nuwe aarde”, die gereinigde mensegemeenskap wat na hulle land teruggekeer het om Jerusalem en sy tempel vir Jehovah se aanbidding te herbou. Gevolglik was daar destyds in die vervulling waarby die Jode betrokke was in der waarheid nuwe hemele en ’n nuwe aarde.
13, 14. (a) Na watter ander verwysing na die frase “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” wil ons kyk? (b) Waarom is Petrus se profesie veral in ons tyd van belang?
13 Wees versigtig om nie die hoofpunt mis te kyk nie. Ons het hier nie die Bybel bloot uit ’n akademiese oogpunt probeer verklaar nie, en dit was ook nie net ’n vinnige kykie na antieke geskiedenis nie. Jy kan dit sien as jy na ’n ander plek kyk waar die frase “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” voorkom. In 2 Petrus hoofstuk 3 sal jy hierdie frase vind en sien dat dit met ons toekoms verband hou.
14 Die apostel Petrus het sy brief geskryf meer as 500 jaar nadat die Jode na hulle vaderland teruggekeer het. Petrus het, as een van Jesus se apostels, geskryf aan die volgelinge van Christus, “die Here” wat in 2 Petrus 3:2 genoem word. In vers 4 praat Petrus van Jesus se “beloofde teenwoordigheid”, wat die profesie vandag uiters gepas maak. Daar is oorvloedige bewyse wat toon dat Jesus sedert die Eerste Wêreldoorlog teenwoordig is in die sin dat hy gesag het as Heerser in God se hemelse Koninkryk (Openbaring 6:1-8; 11:15, 18). Dit word veral betekenisvol as ’n mens iets anders in ag neem wat Petrus in hierdie hoofstuk voorspel het.
15. Hoe word Petrus se profesie oor die “nuwe hemele” vervul?
15 Ons lees in 2 Petrus 3:13: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.” Jy het moontlik reeds geleer dat Jesus in die hemel die vernaamste Heerser in die “nuwe hemele” is (Lukas 1:32, 33). Maar ander Bybeltekste dui aan dat hy nie alleen regeer nie. Jesus het beloof dat die apostels en ander soos hulle ’n plek in die hemel sal hê. In die boek Hebreërs het die apostel Paulus sulke persone beskryf as “deelgenote van die hemelse roeping”. En Jesus het gesê dat diegene wat hierdie groep uitmaak saam met hom in die hemel op trone sal sit (Hebreërs 3:1; Matteus 19:28; Lukas 22:28-30; Johannes 14:2, 3). Die punt is dat ander saam met Jesus regeer as deel van die nuwe hemele. Maar wat is die “nuwe aarde” dan waarvan Petrus gepraat het?
16. Watter “nuwe aarde” bestaan reeds?
16 Soos in die geval van die eertydse vervulling—toe die Jode na hulle land teruggekeer het—het hierdie vervulling van 2 Petrus 3:13 betrekking op mense wat hulle aan die heerskappy van die nuwe hemele onderwerp. Jy kan vandag miljoene vind wat hulle blymoedig aan hierdie heerskappy onderwerp. Hulle vind baat by die onderrigtingsprogram daarvan en strewe daarna om die wette daarvan, wat in die Bybel opgeteken staan, na te kom (Jesaja 54:13). Hierdie persone maak die grondslag van “’n nuwe aarde” uit in die sin dat hulle ’n wêreldwye gemeenskap van alle nasionaliteite, tale en rasse vorm, en hulle werk saam in onderdanigheid aan die heersende Koning, Jesus Christus. Wat merkwaardig is, is dat jy ’n deel hiervan kan wees!—Miga 4:1-4.
17, 18. Waarom gee die woorde in 2 Petrus 3:13 ons rede om na die toekoms uit te sien?
17 Moet egter nie voel dat dit die einde van die saak is, dat ons geen duidelike toekomsbeeld het nie. Trouens, as jy na die konteks van 2 Petrus hoofstuk 3 kyk, sal jy aanduidings vind van ’n groot verandering wat voorlê. In verse 5 en 6 skryf Petrus oor die Vloed in Noag se dag, die sondvloed wat ’n einde gemaak het aan die goddelose wêreld van daardie tyd. In vers 7 sê Petrus dat “die hemele en die aarde wat nou is”, die regerings sowel as die mensemassa, weggelê is vir “die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense”. Dit bevestig dat die uitdrukking “die hemele en die aarde wat nou is” nie na die stoflike heelal verwys nie, maar na mense en hulle regerings.
18 Petrus verduidelik vervolgens dat die komende dag van Jehovah ’n groot reiniging sal meebring, wat plek sal maak vir die nuwe hemele en nuwe aarde wat in vers 13 genoem word. Let op wat die einde van hierdie vers sê—“in hulle sal regverdigheid woon”. Dui dit nie aan dat daar groot verbeteringe vir ons voorlê nie? Stel dit nie vir ons waarlik nuwe dinge in die vooruitsig nie, ’n tyd wanneer mense groter genot uit die lewe sal put as vandag? As jy jou dit kan voorstel, het jy insig gekry in wat die Bybel voorspel, iets wat betreklik min mense het.
19. Wat is die agtergrond van die verwysing in die boek Openbaring na die komende “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”?
19 Maar kom ons voer dit verder. Ons het na die vers gekyk waar die frase “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” in Jesaja 65 voorkom en ’n ander keer in 2 Petrus hoofstuk 3. Blaai nou na Openbaring hoofstuk 21, waar hierdie uitdrukking nog ’n keer in die Bybel gebruik word. Dit sal ons weer eens help as ons die agtergrond verstaan. Twee hoofstukke vroeër, in Openbaring hoofstuk 19, word ’n oorlog in treffende simboliese taal beskryf—maar dit is nie ’n oorlog tussen vyandige nasies nie. Aan die een kant van hierdie oorlog is “Die Woord van God”. Jy herken dit waarskynlik as ’n titel van Jesus Christus (Johannes 1:1, 14). Hy is in die hemel, en hierdie visioen beeld hom saam met sy hemelse leërs uit. Teen wie veg hulle? Die hoofstuk noem “konings”, “militêre bevelvoerders” en mense van verskillende range, “klein en groot”. Hierdie oorlog hou verband met die komende dag van Jehovah, wanneer goddeloosheid vernietig gaan word (2 Tessalonisense 1:6-10). Die volgende hoofstuk, Openbaring 20, begin deur die verwydering van “die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is”, te beskryf. Met hierdie agtergrond in gedagte kan ons nou na Openbaring hoofstuk 21 kyk.
20. Watter merkwaardige verandering lê vir ons voor volgens Openbaring 21:1?
20 Die apostel Johannes begin met hierdie aangrypende woorde: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan, en die see is daar nie meer nie.” Met die oog op wat ons in Jesaja hoofstuk 65 en 2 Petrus hoofstuk 3 gesien het, kan ons seker wees dat dit nie beteken dat die letterlike hemel en ons planeet, met sy waterdieptes, vervang sal word nie. Soos die vorige hoofstukke getoon het, sal goddelose mense en hulle regerings, insluitende die onsigbare heerser Satan, verwyder word. Ja, dit is ’n belofte van ’n nuwe stelsel van dinge wat betrekking het op mense op aarde.
21, 22. Van watter seëninge verseker Johannes ons, en wat beteken dit dat trane afgevee sal word?
21 Ons word hiervan verseker wanneer ons verder na hierdie wonderlike profesie kyk. Aan die einde van vers 3 praat dit van die tyd wanneer God by die mense sal wees en sy goedgunstige aandag sal vestig op mense wat sy wil doen (Esegiël 43:7). Johannes gaan voort in verse 4 en 5: “Hy [Jehovah] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan. En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’” Wat ’n besielende profesie!
22 Dink ’n bietjie na oor wat die Bybel hier voorspel. ‘God sal elke traan van hulle oë afvee.’ Dit kan nie verwys na die gewone trane wat ons sensitiewe oë skoon was nie, en dit kan ook nie na trane van blydskap verwys nie. Nee, die trane wat God sal afvee, is trane wat deur lyding, droefheid, teleurstelling en pyn veroorsaak word. Hoe kan ons seker wees daarvan? Wel, hierdie merkwaardige belofte dat God trane sal afvee, word verbind met die feit dat ‘die dood, verdriet, geskreeu en pyn nie meer daar sal wees nie’.—Johannes 11:35.
23. Johannes se profesie waarborg die einde van watter toestande?
23 Bewys dit nie dat kanker, beroertes, hartaanvalle en selfs die dood uit die weg geruim sal word nie? Wie van ons het nie ’n geliefde verloor as gevolg van die een of ander siekte, ongeluk of ramp nie? God belowe hier dat die dood nie meer daar sal wees nie, wat te kenne gee dat kinders wat dan gebore word, nie net die vooruitsig sal hê om groot te word, dan oud te word en uiteindelik te sterf nie. Hierdie profesie beteken ook dat daar nie meer Alzheimer se siekte, osteoporose, veselgewasse, gloukoom of selfs katarakte—wat so algemeen is by bejaardes—sal wees nie.
24. Hoe sal die ‘nuwe hemel en nuwe aarde’ ’n seën wees, en wat gaan ons nog bespreek?
24 Jy sal ongetwyfeld saamstem dat verdriet en smart sal afneem as die dood, die ouderdom en siektes verwyder word. Maar wat van uitmergelende armoede, kindermishandeling en onderdrukkende diskriminasie weens agtergrond of velkleur? As hierdie dinge—wat vandag so algemeen is—sou voortduur, sou ons immers nie van verdriet en smart ontslae wees nie, of hoe? Die lewe onder “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” sal dus nie bederf word deur hierdie dinge wat nou smart veroorsaak nie. Wat ’n verandering tog! Ons het egter tot dusver nog net na drie van die vier plekke in die Bybel gekyk waar die frase “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” voorkom. Daar is nog een plek wat verband hou met wat ons ondersoek het en wat beklemtoon waarom ons rede het om uit te sien na die tyd wanneer asook die wyse waarop God sy belofte sal vervul om ‘alles nuut te maak’. Die volgende artikel bespreek daardie profesie en hoe dit tot ons geluk kan bydra.
[Voetnoot]
a Die nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel vertaal Psalm 96:1 soos volg: “Sing tot eer van die Here, almal op aarde!” The New English Bible sê: “Sing voor die HERE, al die mense op aarde.” Dit stem ooreen met die begrip dat Jesaja met “nuwe aarde” na God se volk in hulle land verwys het.
Wat onthou jy?
• Op watter drie plekke voorspel die Bybel “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”?
• Hoe was die eertydse Jode betrokke by ’n vervulling van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”?
• Hoe word die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarvan Petrus gepraat het, vervul?
• Hoe help Openbaring hoofstuk 21 ons om na ’n rooskleurige toekoms uit te sien?
[Prent op bladsy 10]
Net soos Jehovah voorspel het, het Kores dit vir die Jode moontlik gemaak om in 537 v.G.J. na hulle eie land terug te keer