Waarom die mensdom ’n helper nodig het
‘EK WAS ’n onbeskaamde vervolger’, het ’n man erken wat voorheen trots en gewelddadig was. Hy was ’n lasteraar wat godvresende volgelinge van Jesus Christus meedoënloos vervolg en aangeval het. “Nietemin”, het hy dankbaar gesê, “is barmhartigheid aan my bewys.” Hoe ongelooflik dit ook al mag lyk, hierdie wrede vervolger het die getroue Christenapostel Paulus geword.—1 Timoteus 1:12-16; Handelinge 9:1-19.
Nie almal het die soort dinge gedoen wat Paulus gedoen het nie. Maar nie een van ons voldoen aan God se standaarde nie. Waarom nie? Want “almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Daarbenewens is dit baie maklik om in ’n moeras van moedeloosheid weg te sak en dalk te voel dat ons te sleg is om God se barmhartigheid te ontvang. Terwyl Paulus oor sy sondige neigings nagedink het, het hy self gesê: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” Hy het sy eie vraag beantwoord en geskryf: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!”—Romeine 7:24, 25.
Hoe kan ’n regverdige Skepper enigiets met sondaars te doen hê? (Psalm 5:5). Let daarop dat Paulus gesê het: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” Nog iemand wat God se barmhartigheid ontvang het, het verduidelik: “As iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenofferande vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”—1 Johannes 2:1, 2.
Waarom word Jesus Christus “’n helper by die Vader” genoem? En hoe is Jesus “’n soenofferande” vir sondes?
Waarom ’n helper nodig is
Jesus het na die aarde toe gekom “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). ’n Losprys is die prys wat betaal word om iemand of iets terug te koop of te bevry. Die werkwoordvorm van die Hebreeuse woord wat met “losprys” vertaal word, dra die gedagte oor van sondes bedek of versoen (Psalm 78:38). Die Griekse woord, soos die een wat in Matteus 20:28 gevind word, is veral gebruik om na die prys te verwys wat betaal is om krygsgevangenes los te koop of om slawe te bevry. Om aan die eise van geregtigheid te voldoen, moet een ding gegee word in ruil vir iets anders met ’n ooreenstemmende waarde.
Die mensdom het in slawerny gekom as gevolg van die eerste mens se opstand teen God. Soos daar in Genesis hoofstuk 3 getoon word, het daardie volmaakte man—Adam—gekies om ’n weg van ongehoorsaamheid aan Jehovah God in te slaan. Sodoende het hy homself en sy nageslag wat toe nog nie gebore was nie in slawerny aan sonde en die dood verkoop. Adam het dus die gawe van volmaakte menselewe vir homself en vir al sy nakomelinge verbeur.—Romeine 5:12, 18, 19; 7:14.
In eertydse Israel het God gereël dat diereofferandes gebring word om vir die sondes van die volk versoening te doen, of dit te bedek (Levitikus 1:4; 4:20, 35). Die lewe van die offerdier is as ’t ware in die plek van die lewe van die sondaar gegee (Levitikus 17:11). “Die versoendag” kan gevolglik ook die “losprysdag” genoem word.—Levitikus 23:26-28.
Maar aangesien diere ondergeskik aan mense is, was dit “nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik om sondes [heeltemal] weg te neem nie” (Hebreërs 10:1-4). Vir ’n offerande om genoeg waarde te hê om permanent vir sondes versoening te doen of dit te verwyder, moet dit ’n gelykstaande waarde hê aan wat Adam verbeur het. Die skaal van geregtigheid kon slegs gebalanseer word as ’n volmaakte mens (Jesus Christus) sou teruggee wat die ander volmaakte mens (Adam) verloor het. Net ’n volmaakte menselewe kon die losprys betaal om Adam se nageslag los te koop van die slawerny waarin hulle eerste vader hulle verkoop het. “Lewe vir lewe” sou aan die eise van ware geregtigheid voldoen.—Exodus 21:23-25.
Toe Adam gesondig het en tot die dood veroordeel is, was sy nageslag, wat toe nog nie gebore was nie, nog in sy lendene en het hulle derhalwe saam met hom gesterf. Die volmaakte mens Jesus, “die laaste Adam”, het gekies om nie ’n gesin voort te bring nie (1 Korintiërs 15:45). Hy het ’n ongebore nageslag in sy lendene gehad toe hy as ’n volmaakte menseofferande gesterf het. Daarom kan daar gesê word dat hierdie ongebore mensegeslag wat nog in sy lendene was saam met hom gesterf het. Jesus het Adam se sondige, sterwende gesin as sy eie geneem. Hy het afstand gedoen van die reg om sy eie gesin te hê. Deur sy volmaakte menselewe op te offer, het Jesus die hele mensdom wat van Adam afgestam het, teruggekoop sodat hulle Sy gesin kon word, en dit het Hom hulle “Ewige Vader” gemaak.—Jesaja 9:5, 6.
Jesus se losprysofferande het die weg gebaan vir gehoorsame mense om God se barmhartigheid te ontvang en die ewige lewe te verkry. Die apostel Paulus het gevolglik geskryf: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Ons kan nie anders nie as om Jehovah te loof vir die liefde en medelye wat hy bewys het deur die losprys te voorsien, wat groot opoffering van hom en van sy innig geliefde Seun geverg het (Johannes 3:16). En Jesus was beslis “’n helper by die Vader” toe hy tot hemelse lewe opgewek is en die waarde van sy losprysofferande vir God in die hemel aangebied het (Hebreërs 9:11, 12, 24; 1 Petrus 3:18).a Maar hoe is Jesus Christus nóú ons helper in die hemel?
[Voetnoot]
a Sien hoofstukke 4 en 7 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 4]
Jesus se volmaakte menselewe was die losprys waarmee Adam se nageslag vrygekoop is