Vrae van lesers
Toe die apostel Johannes geskryf het dat ‘volmaakte liefde vrees uitwerp’, wat het hy bedoel met “volmaakte liefde”, en watter “vrees” word daardeur uitgewerp?
“Daar is geen vrees in die liefde nie”, het die apostel Johannes geskryf, “maar volmaakte liefde werp vrees uit, want vrees veroorsaak ’n stremming. Ja, hy wat in vrees verkeer, is nie tot volmaaktheid gebring in die liefde nie.”—1 Johannes 4:18.
Die konteks toon dat Johannes oor vrymoedigheid van spraak gepraat het—in die besonder die verband tussen liefde vir God en vrymoedigheid van spraak teenoor Hom. Dit kan gesien word uit wat ons in vers 17 lees: “Dít is hoe die liefde by ons tot volmaaktheid gebring is, dat ons op die oordeelsdag vrymoedigheid van spraak kan hê.” Die mate waarin ’n Christen God liefhet en God se liefde vir hom aanvoel, het ’n regstreekse uitwerking op sy vrymoedigheid van spraak—of gebrek daaraan—wanneer hy God in gebed nader.
Die uitdrukking “volmaakte liefde” is betekenisvol. Soos dit in die Bybel gebruik word, beteken die woord “volmaak” nie altyd volmaaktheid in die absolute sin, dit wil sê in die hoogste mate nie, maar dikwels in relatiewe sin. In sy Bergpredikasie het Jesus byvoorbeeld gesê: “Julle moet dan volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is.” Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle liefde onvolkome, ontoereikend en gebrekkig sou wees as hulle net diegene liefhet wat vir hulle lief is. Hulle moet hulle liefde vervolmaak, of dit ten volle ontwikkel, sodat dit selfs hulle vyande sou insluit. Toe Johannes dus oor “volmaakte liefde” geskryf het, het hy eweneens gepraat van liefde vir God wat heelhartig is, ten volle ontwikkel het en alle aspekte van iemand se lewe omvat.—Matteus 5:46-48; 19:20, 21.
Wanneer ’n Christen God in gebed nader, is hy deeglik bewus van sy sondige en onvolmaakte toestand. Maar as sy liefde vir God en die wete dat God hom liefhet, ten volle ontwikkel is, word hy nie deur vrees vir veroordeling of verwerping verhinder nie. Inteendeel, hy geniet vrymoedigheid van spraak om sy hart uit te stort en om vergifnis te vra op grond van die losprysoffer, wat God liefdevol deur Jesus Christus voorsien het. Hy voel verseker dat God sy versoeke verhoor.
Hoe kan ’n mens ‘tot volmaaktheid gebring word in die liefde’ en sodoende vrees vir veroordeling of verwerping ‘uitwerp’? “Elkeen wat sy [God se] woord bewaar, waarlik, in hom is die liefde vir God tot volmaaktheid gebring”, het die apostel Johannes gesê (1 Johannes 2:5). Dink hieraan: As God ons liefgehad het terwyl ons nog sondaars was, sal hy ons dan nie nog meer liefhê as ons waarlik berouvol is en ywerig “sy woord bewaar” nie? (Romeine 5:8; 1 Johannes 4:10). Ja, solank ons getrou bly, kan ons dieselfde versekering as die apostel Paulus hê toe hy van God gesê het: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar hom vir ons almal oorgelewer het, waarom sal hy ons dan nie ook saam met hom alle ander dinge goedgunstig gee nie?”—Romeine 8:32.