Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe van Johannes en van Judas
DIE drie briewe van die apostel Johannes, wat waarskynlik in 98 G.J. vanuit Efese geskryf is, is van die laaste boeke wat die geïnspireerde Skrif uitmaak. Die eerste twee briewe spoor Christene aan om in die lig te bly wandel en teen die indringing van afvalligheid te stry. In die derde brief sê Johannes nie net dat Christene in die waarheid moet wandel nie, maar spoor hy hulle ook aan om saam te werk.
In sy brief wat hy waarskynlik in 65 G.J. uit Palestina geskryf het, waarsku Jesus se halfbroer Judas mede-Christene oor goddeloses wat in die gemeente ingeglip het, en hy gee raad oor hoe om slegte invloede te weerstaan. As ons aandag skenk aan die boodskap in die drie briewe van Johannes en die brief van Judas, kan dit ons help om ondanks struikelblokke sterk in die geloof te bly.—Heb. 4:12.
HOU AAN OM IN DIE LIG EN IN LIEFDE EN DEUR GELOOF TE WANDEL
Johannes se eerste brief is geskryf vir die hele gemeenskap van dié wat in eenheid met Christus is en voorsien goeie raad om Christene te help om hulle standpunt teen afvalligheid in te neem en om vas te staan vir die waarheid en vir regverdigheid. Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om in die lig en in liefde en deur geloof te bly wandel.
“As ons in die lig wandel soos [God] in die lig is”, skryf Johannes, “dan het ons deelgenootskap met mekaar.” En aangesien God die Bron van liefde is, sê die apostel: “Laat ons aanhou om mekaar lief te hê.” Terwyl “die liefde vir God” ons beweeg om “sy gebooie [te] bewaar”, oorwin ons die wêreld deur “ons geloof” in Jehovah God, sy Woord en sy Seun.—1 Joh. 1:7; 4:7; 5:3, 4.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:2; 4:10—Hoe is Jesus “’n soenoffer”? Om te versoen, beteken om “tevrede te stel” of om “te paai”. Jesus het sy lewe as ’n soenoffer gegee in die sin dat hy sodoende die vereiste van volmaakte geregtigheid tevrede gestel het, oftewel daaraan voldoen het. Op grond van hierdie offerande kan God barmhartigheid bewys en die sondes vergewe van dié wat geloof in Jesus beoefen.—Joh. 3:16; Rom. 6:23.
2:7, 8—Wat is die “ou” sowel as die “nuwe” gebod waarvan Johannes praat? Johannes praat van die gebod oor selfopofferende broederliefde (Joh. 13:34). Hy verwys daarna as ’n “ou” gebod omdat Jesus dit gegee het meer as 60 jaar voordat Johannes sy eerste geïnspireerde brief geskryf het. Die gelowiges het dit dus “van die begin” van hulle lewe as Christene gehad. Dit is ook ’n “nuwe” gebod in die sin dat dit verder gaan as om net ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ en selfopofferende liefde vereis.—Lev. 19:18; Joh. 15:12, 13.
3:2—Wat is “nie openbaar gemaak” aan gesalfde Christene nie, en wie sal hulle sien “net soos hy is”? Wat nie aan hulle openbaar gemaak is nie, is wat hulle sal wees wanneer hulle met geesliggame tot hemelse lewe opgewek word (Fil. 3:20, 21). Maar wat hulle wel weet, is dat hulle “soos [God] sal wees wanneer hy openbaar gemaak word, want [hulle] sal hom sien net soos hy is”, dit wil sê “die Gees”.—2 Kor. 3:17, 18.
5:5-8—Hoe het water, bloed en gees getuig van die feit dat “Jesus die Seun van God is”? Water was ’n getuie, want toe Jesus in water gedoop is, het Jehovah self Sy goedkeuring van hom as Sy Seun uitgespreek (Matt. 3:17). Jesus se bloed, of lewe, wat as “’n ooreenstemmende losprys vir almal” gegee is, het ook getoon dat Jesus God se Seun is (1 Tim. 2:5, 6). En die heilige gees het getuig dat Jesus die Seun van God is toe dit by sy doop op hom neergedaal het en hom in staat gestel het om ‘deur die land te gaan en goed te doen en almal gesond te maak wat deur die Duiwel onderdruk is’.—Joh. 1:29-34; Hand. 10:38.
Lesse vir ons:
2:9-11; 3:15. As ’n Christen toelaat dat enigiets of enigiemand sy broederliefde vernietig, wandel hy in geestelike duisternis en weet hy nie waarheen hy gaan nie.
HOU AAN OM ‘IN DIE WAARHEID TE WANDEL’
Johannes begin sy tweede brief met die woorde: “Die ouer man aan die uitverkore dame en aan haar kinders.” Hy sê dat hy bly is om te vind dat “sommige van [haar] kinders . . . in die waarheid wandel”.—2 Joh. 1, 4.
Ná ’n aansporing om liefde aan te kweek, skryf Johannes: “Dít is wat die liefde beteken, dat ons voortgaan om volgens sy gebooie te wandel.” Johannes waarsku ook teen “die bedrieër en die antichris”.—2 Joh. 5-7.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1, 13—Wie is “die uitverkore dame”? Johannes het dalk verwys na ’n spesifieke vrou wat as Kuria aangespreek is, die Grieks vir “dame”. Of hy het beeldspraak gebruik om ’n sekere gemeente aan te spreek om vervolgers te verwar. As laasgenoemde die geval was, was haar kinders die lede van daardie gemeente en het “die kinders van [haar] suster” na die lede van ’n ander gemeente verwys.
7—Van watter ‘koms’ van Jesus praat Johannes hier, en hoe “bely” bedrieërs dit nie? Die ‘koms’ is nie Jesus se toekomstige, onsigbare koms nie. Dit is eerder sy koms in die vlees en sy salwing as die Christus (1 Joh. 4:2). Bedrieërs bely nie hierdie koms in die vlees nie. Moontlik ontken hulle dat Jesus ooit gelewe het of verwerp hulle die feit dat hy met heilige gees gesalf is.
Lesse vir ons:
2, 4. As ons gered wil word, is dit noodsaaklik dat ons “die waarheid”—die hele versameling Christelike leringe wat deel van die Bybel geword het—leer ken en daarby bly.—3 Joh. 3, 4.
8-11. As ons nie die “onverdiende goedhartigheid, barmhartigheid en vrede wat kom van God die Vader en van Jesus Christus”, wil verloor nie, en ook nie die liefdevolle omgang van ons medegelowiges nie, moet ons in geestelike sin op onsself ‘ag gee’ en dié verwerp wat “nie in die leer van die Christus bly nie”.—2 Joh. 3.
WORD “MEDEWERKERS IN DIE WAARHEID”
Johannes se derde brief is aan sy persoonlike vriend Gajus gerig. “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie”, skryf hy, “dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 Joh. 4.
Johannes prys Gajus vir sy “getroue werk” om besoekende broers te help. “Ons staan . . . onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang”, sê die apostel, “sodat ons medewerkers in die waarheid kan word.”—3 Joh. 5-8.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
11—Waarom maak party hulle skuldig aan slegte gedrag? Weens ’n gebrek aan geestelikheid sien party God nie met die oë van hulle verstand nie. Aangesien hulle hom nie met hulle letterlike oë kan sien nie, tree hulle op asof hy hulle nie sien nie.—Eseg. 9:9.
14—Na wie word hier verwys as “vriende”? Die woord “vriende” hier sluit nie net diegene in wat ’n hegte verhouding met mekaar geniet nie. Johannes gebruik dit om na medegelowiges oor die algemeen te verwys.
Lesse vir ons:
4. Geestelik volwasse persone in die gemeente smaak groot vreugde wanneer hulle sien dat jonger lede “voortgaan om in die waarheid te wandel”. En watter onvergelyklike vreugde smaak ouers wanneer hulle daarin slaag om hulle kinders te help om geestelikgesinde kinders te word!
5-8. Onder dié wat hard werk ten behoewe van hulle broers uit liefde vir hulle en vir Jehovah, is reisende opsieners, sendelinge, dié wat in Bethelhuise of takkantore dien, asook dié wat in die pionierdiens is. Hulle geloof is navolgenswaardig, en hulle verdien ons liefdevolle ondersteuning.
9-12. Ons moet die voorbeeld van getroue Demetrius navolg en nie dié van die kletsende Diotrefes, wat ’n lasteraar was nie.
‘HOU JULLE IN GOD SE LIEFDE’
Judas beskryf dié wat die gemeente binnesypel as “murmureerders, klaers oor hulle lewenslot, wat volgens hulle eie begeertes handel”. Hulle “spreek opgeblase dinge, terwyl hulle . . . persoonlikhede bewonder”.—Jud. 4, 16.
Hoe kan Christene slegte invloede weerstaan? “Geliefdes”, skryf Judas, “[julle] moet die woorde onthou wat vantevore deur die apostels van ons Here Jesus Christus gespreek is.” Hy voeg by: ‘Hou julle in God se liefde.’—Jud. 17-21.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3, 4—Waarom het Judas Christene aangespoor om “hard te stry vir die geloof”? Omdat ‘goddelose mense in die gemeente ingeglip het’. Hierdie mense het ‘die onverdiende goedhartigheid van God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander’.
20, 21—Hoe kan ons ons “in God se liefde hou”? Ons kan dit op drie maniere doen: (1) deur ons op te bou op ons “allerheiligste geloof” deur middel van ’n deeglike studie van God se Woord en deur ’n ywerige deelname aan die predikingswerk te hê; (2) deur “met heilige gees”, of in ooreenstemming met die invloed daarvan, te bid; en (3) deur geloof te beoefen in dit wat die ewige lewe moontlik maak—die losprysoffer van Jesus Christus.—Joh. 3:16, 36.
Lesse vir ons:
5-7. Kan die goddeloses Jehovah se oordeel vryspring? Volgens die drie waarskuwende voorbeelde wat Judas noem, is dit onmoontlik.
8-10. Ons moet die voorbeeld van Migael, die aartsengel, navolg en respek vir goddelik ingestelde gesag toon.
12. Afvalliges wat ’n skyn van liefde het, is net so gevaarlik vir ons geloof as wat rotse wat onder die water verborge is, vir skepe of swemmers is. Valse onderrigters lyk miskien vrygewig, maar hulle is soos waterlose wolke in die sin dat hulle geestelik leeg is. Sulke mense is so vrugloos soos dooie bome in die naherfs. Hulle staar vernietiging in die gesig, net soos ontwortelde bome. Ons is verstandig as ons afvalliges vermy.
22, 23. Ware Christene haat wat sleg is. In ’n poging om “party wat twyfel”, uit die vuur van ewige vernietiging te red, voorsien geestelik volwasse gemeentelede—veral aangestelde opsieners—hulle van geestelike hulp.
[Prente op bladsy 28]
Water, gees en bloed het getuig dat “Jesus die Seun van God is”