“Die eerste opstanding”—Nou aan die gang!
“Dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan.”—1 TESSALONISENSE 4:16.
1, 2. (a) Watter hoop is daar vir dié wat gesterf het? (b) Op grond waarvan glo jy in die opstanding? (Sien voetnoot.)
“DIE lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf.” Dit is die geval vandat Adam gesondig het. Deur die hele geskiedenis heen het elkeen wat gebore is, geweet dat hy uiteindelik sal sterf, en baie het gewonder: ‘Wat gebeur daarná? Wat is die toestand van die dooies?’ Die Bybel antwoord: “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.”—Prediker 9:5.
2 Is daar dan enige hoop vir dié wat gesterf het? Ja. Trouens, daar móét wees as God se oorspronklike voorneme vir die mensdom vervul gaan word. Deur die eeue heen het lojale knegte van God geloof beoefen in Jehovah se belofte van ’n Saad wat Satan sal vernietig en die skade wat hy aangerig het, ongedaan sal maak (Genesis 3:15). Die meeste het al gesterf. Om die vervulling te sien van daardie belofte en van ander wat Jehovah gemaak het, moet hulle uit die dode opgewek word (Hebreërs 11:13). Is so iets moontlik? Ja, dit is. Die apostel Paulus het gesê: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Paulus het by een geleentheid ’n jong man met die naam Eutigus opgewek, wat uit ’n venster op die derde verdieping geval het en “dood opgetel” is. Dit is die laaste van nege opstandings wat in die Bybel opgeteken is.—Handelinge 20:7-12.a
3. Watter vertroosting het jý uit Jesus se woorde in Johannes 5:28, 29 geput, en waarom?
3 Hierdie nege opstandings voorsien ’n grondslag vir geloof in Paulus se verklaring. Dit versterk ons vertroue in Jesus se versekering: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Watter hartverblydende woorde! En hoe vertroostend is dit tog vir die miljoene wie se geliefdes gesterf het!
4, 5. Watter verskillende opstandings meld die Bybel, en watter een sal in hierdie artikel bespreek word?
4 Die meeste van dié wat opgewek word, sal terugkom na ’n aarde waarop vrede tot stand gebring is onder God se Koninkryk (Psalm 37:10, 11, 29; Jesaja 11:6-9; 35:5, 6; 65:21-23). Maar voordat dit gebeur, sou ander opstandings plaasvind. Eers moes Jesus Christus opgewek word om die waarde van sy offerande ten behoewe van ons vir God aan te bied. Jesus het gesterf en is in 33 G.J. opgewek.
5 Vervolgens moet gesalfde lede van “die Israel van God” by die Here Jesus Christus in hemelse heerlikheid aansluit, waar hulle “altyd by die Here [sal] wees” (Galasiërs 6:16; 1 Tessalonisense 4:17). Hierdie gebeurtenis word “die vroeër opstanding” of “die eerste opstanding” genoem (Filippense 3:10, 11; Openbaring 20:6). Wanneer hierdie opstanding voltooi is, sal die tyd op hande wees vir miljoene om op die aarde opgewek te word met die vooruitsig om ewige lewe in die Paradys te verkry. Of ons dan ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons het ’n lewendige belangstelling in “die eerste opstanding”. Watter soort opstanding is dit? Wanneer vind dit plaas?
“Met watter soort liggaam?”
6, 7. (a) Wat moet gebeur voordat gesalfde Christene hemel toe kan gaan? (b) Met watter soort liggaam sal hulle opgewek word?
6 In sy eerste brief aan die Korintiërs opper Paulus ’n vraag oor die eerste opstanding: “Hoe gaan die dooies opgewek word? Ja, met watter soort liggaam kom hulle?” Hy beantwoord dan die vraag: “Wat jy saai, word nie lewend gemaak tensy dit eers sterf nie . . . maar God gee dit ’n liggaam soos dit hom behaag het . . . Die heerlikheid van die hemelse liggame is een soort, en dié van die aardse liggame is ’n ander soort.”—1 Korintiërs 15:35-40.
7 Paulus se woorde toon dat Christene wat met heilige gees gesalf is, eers moet sterf voordat hulle hulle hemelse beloning kan ontvang. By hulle dood keer hulle aardse liggaam terug tot die stof (Genesis 3:19). Op God se vasgestelde tyd word hulle opgewek met die soort liggaam wat geskik is vir lewe in die hemel (1 Johannes 3:2). God gee hulle ook onsterflikheid. Dit is nie iets wat hulle van geboorte af het, asof ’n sogenaamd onsterflike siel in hulle geplaas is nie. “Hierdie sterflike moet hom met onsterflikheid beklee”, sê Paulus. Onsterflikheid is ’n gawe van God, waarmee dié wat deel het aan die eerste opstanding, hulle “beklee”.—1 Korintiërs 15:50, 53; Genesis 2:7; 2 Korintiërs 5:1, 2, 8.
8. Hoe weet ons dat God die 144 000 nie uit lede van verskillende godsdienste kies nie?
8 Net 144 000 het deel aan die eerste opstanding. Jehovah het hulle op Pinkster 33 G.J. begin kies, kort nadat hy Jesus opgewek het. Op hulle almal se ‘voorkoppe is [Jesus se] naam en die naam van sy Vader geskrywe’ (Openbaring 14:1, 3). Hulle word dus nie uit talle verskillende godsdienste gekies nie. Almal is Christene, en almal dra die naam van die Vader—Jehovah—met trots. Wanneer hulle opgewek word, ontvang hulle ’n werkstoewysing in die hemel. Om God op so ’n regstreekse manier te dien, is vir hulle ’n uiters opwindende vooruitsig.
Nou aan die gang?
9. Hoe help Openbaring 12:7 en 17:14 ons om vas te stel min of meer wanneer die eerste opstanding begin?
9 Wanneer vind die eerste opstanding plaas? Daar is sterk bewyse dat dit nou aan die gang is. Vergelyk byvoorbeeld twee hoofstukke van Openbaring. Kyk eerstens na Openbaring hoofstuk 12. Daar lees ons dat die pas gekroonde Jesus Christus, tesame met sy heilige engele, teen Satan en sy demone oorlog voer (Openbaring 12:7-9). Soos hierdie tydskrif al dikwels getoon het, het daardie oorlog in 1914 begin.b Let egter daarop dat nie een van Christus se gesalfde volgelinge volgens die verslag saam met Jesus in daardie hemelse oorlog is nie. Kyk nou na hoofstuk 17 van Openbaring. Ons lees daar dat die Lam ná die vernietiging van “Babilon die Grote” die nasies sal oorwin. Dan voeg dit by: “Ook sal die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is, oorwin” (Openbaring 17:5, 14). “Geroepenes en uitverkorenes en getroues” moet dan alreeds opgewek wees as hulle saam met Jesus moet wees vir die finale oorwinning oor Satan se wêreld. Dit is dus redelik om te aanvaar dat gesalfdes wat voor Armageddon sterf, die een of ander tyd tussen 1914 en Armageddon opgewek word.
10, 11. (a) Wie is die 24 ouderlinge, en wat openbaar een van hulle aan Johannes? (b) Wat kan ons hieruit aflei?
10 Kan ons met groter presiesheid sê wanneer die eerste opstanding begin? ’n Interessante leidraad word in Openbaring 7:9-15 gevind, waar die apostel Johannes sy visioen beskryf van “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie”. Die identiteit van hierdie groot menigte word deur een van die 24 ouderlinge aan Johannes geopenbaar, en hierdie ouderlinge stel die 144 000 mede-erfgename van Christus in hulle hemelse heerlikheid voor (Lukas 22:28-30; Openbaring 4:4).c Johannes het self ’n hemelse hoop gehad; maar aangesien hy nog ’n mens op die aarde was toe die ouderling met hom gepraat het, moet Johannes, in die visioen, gesalfdes op die aarde voorstel wat nog nie hulle hemelse beloning ontvang het nie.
11 Wat kan ons dan aflei uit die feit dat een van die 24 ouderlinge vir Johannes sê wie die groot menigte is? Dit wil voorkom of verrese lede van die groep van 24 ouderlinge vandag moontlik daarby betrokke is om goddelike waarhede oor te dra. Waarom is dit belangrik? Omdat die juiste identiteit van die groot menigte in 1935 aan God se gesalfde knegte op die aarde geopenbaar is. As een van die 24 ouderlinge gebruik is om hierdie belangrike waarheid oor te dra, moes hy op die laatste teen 1935 tot hemelse lewe opgewek gewees het. Dit sou aandui dat die eerste opstanding die een of ander tyd tussen 1914 en 1935 begin het. Kan ons presieser wees?
12. Verduidelik waarom die lente van 1918 beskou kan word as ’n moontlike tyd vir die begin van die eerste opstanding.
12 Op hierdie stadium sal dit moontlik nuttig wees om te kyk na wat as ’n Bybelse parallel beskou kan word. Jesus Christus is in die herfs van 29 G.J. as die toekomstige Koning van God se Koninkryk gesalf. Drie en ’n half jaar later, in die lente van 33 G.J., is hy as ’n magtige geespersoon opgewek. Kan daar dan geredeneer word dat, aangesien Jesus in die herfs van 1914 op die troon geplaas is, die opstanding van sy getroue gesalfde volgelinge drie en ’n half jaar later, in die lente van 1918, plaasgevind het? Dit is ’n interessante moontlikheid. Hoewel dit nie direk in die Bybel bevestig kan word nie, is dit in ooreenstemming met ander tekste wat toon dat die eerste opstanding kort ná die aanvang van Christus se teenwoordigheid begin het.
13. Hoe dui 1 Tessalonisense 4:15-17 daarop dat die eerste opstanding vroeg in Christus se teenwoordigheid begin het?
13 Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Ons, die lewendes wat tot die teenwoordigheid van die Here bly lewe [nie tot die einde van sy teenwoordigheid nie], [sal] die ontslapenes hoegenaamd nie . . . voorgaan nie; want die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem en met God se trompet, en dié wat dood is in eenheid met Christus, sal eerste opstaan. Daarna sal ons, die lewendes wat oorbly, saam met hulle in wolke weggeruk word om die Here in die lug te ontmoet; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Tessalonisense 4:15-17). Gesalfde Christene wat voor Christus se teenwoordigheid gesterf het, is dus tot hemelse lewe opgewek voor dié wat nog gedurende Christus se teenwoordigheid lewe. Dit beteken dat die eerste opstanding sekerlik vroeg in Christus se teenwoordigheid begin het, en dit duur “gedurende sy teenwoordigheid” voort (1 Korintiërs 15:23). Die eerste opstanding vind nie op een slag plaas nie, maar eerder oor ’n tydperk.
“’n Wit kleed is vir elkeen van hulle gegee”
14. (a) Wanneer word die visioene in Openbaring hoofstuk 6 vervul? (b) Wat word in Openbaring 6:9 uitgebeeld?
14 Kyk ook na die bewyse wat in Openbaring hoofstuk 6 gevind word. Dit beskryf Jesus se tog as ’n oorwinnende Koning (Openbaring 6:2). Die nasies is gewikkel in verskriklike oorlogvoering (Openbaring 6:4). Daar is wydverspreide hongersnood (Openbaring 6:5, 6). Dodelike plae teister die mensdom (Openbaring 6:8). Al hierdie voorspelde gebeure stem duidelik ooreen met wêreldtoestande sedert 1914. Maar iets anders gebeur. Ons aandag word op ’n offeraltaar gevestig. Aan die voet daarvan is “die siele . . . van dié wat doodgemaak is weens die woord van God en weens die getuieniswerk wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9). Aangesien “die siel [of, lewe] van die vlees . . . in die bloed” is, is dit in werklikheid die bloed van getroue knegte van Jesus wat weens hulle moedige en ywerige getuieniswerk doodgemaak is, wat hier aan die voet van die altaar voorgestel word.—Levitikus 17:11.
15, 16. Verduidelik waarom die woorde van Openbaring 6:10, 11 na die eerste opstanding verwys.
15 Soos die bloed van regverdige Abel roep die bloed van hierdie Christenmartelaars uit om geregtigheid (Genesis 4:10). “Hulle het met ’n harde stem uitgeroep en gesê: ‘Tot wanneer, Soewereine Heer, heilig en waaragtig, weerhou u u daarvan om te oordeel en ons bloed te wreek op dié wat op die aarde woon?’” Wat gebeur daarna? “’n Wit kleed is vir elkeen van hulle gegee; en vir hulle is gesê om nog ’n klein rukkie te rus, totdat ook hulle medeslawe en hulle broers wat weldra net soos hulle ook doodgemaak gaan word, voltallig is.”—Openbaring 6:10, 11.
16 Is hierdie wit klere vir poele bloed gegee wat aan die voet van ’n altaar lê? Natuurlik nie! Die klere is gegee vir die persone wie se bloed as ’t ware op die altaar vergiet is. Hulle het hulle lewe in Jesus se naam afgelê en is toe as geeste opgewek. Hoe weet ons dit? Vroeër in die boek Openbaring lees ons: “Hy wat oorwin, sal so geklee word in wit boklere; en ek sal sy naam hoegenaamd nie uit die boek van die lewe uitwis nie.” En onthou, die 24 ouderlinge was “geklee in wit boklere en met goue krone op hulle koppe” (Openbaring 3:5; 4:4). Nadat oorlog, hongersnood en pessiektes dus die aarde begin teister het, is lede van die 144 000 wat dood was, en deur die bloed aan die voet van die altaar voorgestel word, tot hemelse lewe opgewek en in simboliese wit klere geklee.
17. In watter sin moet dié wat wit klere ontvang, “rus”?
17 Hierdie pas verrese persone moet “rus”. Hulle moet geduldig wag op God se dag van wraak. Hulle “medeslawe”, gesalfde Christene wat nog op die aarde is, moet nog hulle onkreukbaarheid onder beproewing bewys. Wanneer die tyd vir goddelike oordeel aanbreek, sal die “rus” verby wees (Openbaring 7:3). Dan sal hierdie verresenes saam met die Here Jesus Christus vernietiging bring oor die goddeloses, met inbegrip van dié wat die bloed van onskuldige Christene vergiet het.—2 Tessalonisense 1:7-10.
Wat dit vir ons beteken
18, 19. (a) Om watter redes kan jy tot die slotsom kom dat die eerste opstanding nou aan die gang is? (b) Hoe laat jou begrip van die eerste opstanding jou voel?
18 God se Woord openbaar nie ’n presiese datum vir die eerste opstanding nie, maar dit maak wel bekend dat dit oor ’n tydperk plaasvind, gedurende Christus se teenwoordigheid. Die eerstes wat opgewek word, is gesalfde Christene wat voor die begin van Christus se teenwoordigheid gesterf het. Gedurende die verloop van Christus se teenwoordigheid word gesalfde Christene wat hulle aardse loopbaan getrou voltooi, “in ’n oogwink” in magtige geesskepsele verander (1 Korintiërs 15:52). Sal al die gesalfdes hulle hemelse beloning voor die oorlog van Armageddon ontvang? Ons weet nie. Maar ons weet wel dat al die lede van die 144 000 op God se bestemde tyd op die hemelse berg Sion sal staan.
19 Ons weet ook dat die meeste lede van die 144 000 reeds met Christus verenig is. Net ’n betreklike klein getal is nog op die aarde oor. Wat ’n kragtige aanduiding is dit tog dat die tyd vir die voltrekking van God se oordeel vinnig nader kom! Binnekort sal Satan se ganse wêreldstelsel vernietig word. Satan self sal in die afgrond gewerp word. Dan kan die algemene opstanding begin, en getroue mense kan, op grond van Jesus se losprysoffer, verhef word tot volmaaktheid wat soortgelyk is aan dié wat Adam verloor het. Jehovah se profesie in Genesis 3:15 word op ’n wonderlike wyse vervul. Wat ’n grootse voorreg is dit tog om in hierdie tye te lewe!
[Voetnote]
a Vir die ander agt, sien 1 Konings 17:21-23; 2 Konings 4:32-37; 13:21; Markus 5:35, 41-43; Lukas 7:11-17; 24:34; Johannes 11:43-45; Handelinge 9:36-42.
b Vir skriftuurlike bewyse dat Christus se teenwoordigheid in 1914 begin het, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? bladsye 215-18, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Vir inligting oor hoe ons weet dat die 24 ouderlinge gesalfde Christene in hulle hemelse posisie voorstel, sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande! bladsy 77, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Kan jy verduidelik?
Hoe help die volgende tekste ons om vas te stel wanneer “die eerste opstanding” plaasvind?
• 1 Korintiërs 15:23; 1 Tessalonisense 4:15-17
[Prente op bladsy 26]
Watter opstandings vind plaas voordat die mensdom in die algemeen uit die dode opgewek word?
[Prent op bladsy 29]
In watter sin word ’n wit kleed vir sekere dooies gegee?