Vrae van lesers
In watter deel van Jehovah se tempel het Johannes die “groot menigte” heilige diens sien verrig?—Openbaring 7:9-15.
Dit is redelik om te sê dat die groot menigte Jehovah in een van die aardse voorhowe van sy groot geestelike tempel aanbid, spesifiek die een wat met die buitenste voorhof van Salomo se tempel ooreenstem.
In die verlede is daar gesê dat die groot menigte in ’n voorhof is wat ’n geestelike teenbeeld, of ’n antitipe, is van die voorhof van die heidene wat in Jesus se dag bestaan het. Maar verdere navorsing het ten minste vyf redes aan die lig gebring waarom dit nie die geval is nie. Eerstens, nie al die kenmerke van Herodes se tempel het ’n antitipe in Jehovah se groot geestelike tempel nie. Herodes se tempel het byvoorbeeld ’n voorhof van die vroue en ’n voorhof van die Israeliete gehad. Mans sowel as vroue kon in die voorhof van die vroue ingaan, maar slegs mans is in die voorhof van die Israeliete toegelaat. In die aardse voorhowe van Jehovah se groot geestelike tempel word mans en vroue nie in hulle aanbidding geskei nie (Galasiërs 3:28, 29). Daar is derhalwe geen teenbeeld van die voorhof van die vroue en die voorhof van die Israeliete in die geestelike tempel nie.
Tweedens, daar was nie ’n voorhof van die heidene in die godgegewe bouplanne van Salomo se tempel of in Esegiël se tempelvisioen nie; daar was ook nie een in die tempel wat deur Serubbabel herbou is nie. Daar is dus geen aanduiding dat ’n voorhof van die heidene ’n rol in Jehovah se groot geestelike tempelreëling vir aanbidding moet speel nie, veral nie wanneer die volgende punt oorweeg word nie.
Derdens, die voorhof van die heidene is deur die Edomitiese koning Herodes gebou om homself te verheerlik en in Rome se guns te probeer kom. Herodes het moontlik in 18 of 17 v.G.J. met die opknapping van Serubbabel se tempel begin. The Anchor Bible Dictionary verduidelik: “Die klassieke smaak van die keiserlike ryk in die Weste [Rome] . . . het ’n groter tempel vereis as dié in soortgelyke oostelike stede.” Maar die afmetings van die eintlike tempel was reeds vasgestel. Bogenoemde bron verduidelik verder: “Hoewel die Tempel self dieselfde afmetings sou moes hê as die voriges [Salomo en Serubbabel s’n], was daar geen beperking op hoe groot die Tempelberg kon wees nie.” Herodes het derhalwe die tempelgebied vergroot deur die deel by te voeg wat in hedendaagse tye die voorhof van die heidene genoem word. Waarom sou ’n aanbouing met so ’n agtergrond ’n antitipe in Jehovah se geestelike tempelreëling hê?
Vierdens, bykans enigiemand—die blindes, die kreupeles en onbesnede heidene—kon in die voorhof van die heidene ingaan (Matteus 21:14, 15). Die voorhof het dit weliswaar vir baie onbesnede heidene wat offerandes aan God wou bring, moontlik gemaak om dit te doen. En Jesus het die skares soms daar toegespreek en die geldwisselaars en handelaars twee keer daar uitgedryf en gesê dat hulle oneer oor die huis van sy Vader bring (Matteus 21:12, 13; Johannes 2:14-16). Maar The Jewish Encyclopedia sê: “Hierdie buitenste voorhof was, streng gesproke, geen deel van die Tempel nie. Dit was nie op heilige grond nie, en enigiemand kon daar ingaan.”
Vyfdens, die Griekse woord (hi·e·ron’) wat met “tempel” vertaal word en met verwysing na die voorhof van die heidene gebruik word, “verwys na die hele kompleks en nie net na die Tempelgebou self nie”, sê A Handbook on the Gospel of Matthew, deur Barclay M. Newman en Philip C. Stine. In teenstelling hiermee is die Griekse woord (na·os’) wat met “tempel” vertaal word in Johannes se visioen van die groot menigte, meer spesifiek. In die konteks van die tempel in Jerusalem verwys dit gewoonlik na die Heilige der Heilige, die tempelgebou, of die tempelgebied. Dit word soms met “heiligdom” vertaal.—Matteus 27:5, 51; Lukas 1:9, 21; Johannes 2:20.
Lede van die groot menigte beoefen geloof in Jesus se losprysoffer. Hulle is geestelik rein, want “hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”. Hulle is derhalwe regverdig verklaar en het die vooruitsig om vriende van God te word en die groot verdrukking te oorleef (Jakobus 2:23, 25). Hulle is in baie opsigte soos die proseliete in Israel wat hulle aan die Wetsverbond onderwerp het en saam met die Israeliete aanbid het.
Hierdie proseliete het natuurlik nie in die binneste voorhof, waar die priesters hulle pligte uitgevoer het, gedien nie. En lede van die groot menigte is ook nie in die binneste voorhof van Jehovah se groot geestelike tempel nie. Hierdie voorhof stel die lede van Jehovah se “heilige priesterdom” se toestand as sy volmaakte, regverdige kinders voor terwyl hulle mense op aarde is (1 Petrus 2:5). Maar soos die hemelse ouderling vir Johannes gesê het, is die groot menigte in werklikheid in die tempel, nie buite die tempelgebied in ’n soort geestelike voorhof van die heidene nie. Wat ’n voorreg is dit tog! En hoe beklemtoon dit tog nie die belangrikheid daarvan dat elkeen sy geestelike en sedelike reinheid te alle tye moet handhaaf nie!
[Diagram/Prent op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Salomo se tempel
1. Tempelgebou
2. Binneste voorhof
3. Buitenste voorhof
4. Trap na die tempelvoorhof