666—Nie net ’n raaisel nie
“Niemand sal kan koop of verkoop nie, behalwe iemand wat die merk het, die naam van die wilde dier of die getal van sy naam. Hiér is dit ’n kwessie van wysheid: Laat die een wat intelligensie het, die getal van die wilde dier bereken, want dit is ’n mens se getal; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.”—Openbaring 13:17, 18.
DAAR is min Bybelonderwerpe wat soveel belangstelling en kommer gewek het soos die profesie oor die raaiselagtige merk, of naam, van “die wilde dier”—die getal 666. Op die televisie en die Internet, sowel as in rolprente, boeke en tydskrifte, was die merk van die dier al die onderwerp van eindelose bespiegeling.
Party glo dat 666 die merk van die Bybelse antichris is. Ander sê dat dit op die een of ander vorm van verpligte identifikasie dui, soos ’n tatoeëermerk of ’n ingeplante mikroskyfie met ’n digitale kode wat die persoon as ’n dienaar van die dier identifiseer. Nog ander is van mening dat 666 die merk van die Katolieke pousdom is. Deur die letters in een van die pous se amptelike titels, Vicarius Filii Dei (Stedehouer van die Seun van God), met Romeinse syfers te vervang en die getalle ’n bietjie aan te pas, kom hulle by 666 uit. Daar word ook beweer dat dieselfde getal bereken kan word uit die Latynse naam van die Romeinse keiser Diokletianus en uit die Hebreeuse vorm van die naam Nero Caesar.a
Hierdie verbeeldingryke en vergesogte verklarings verskil egter hemelsbreed van wat die Bybel self sê oor die merk van die dier, soos ons in die volgende artikel sal sien. Die Bybel openbaar wel dat God se gramskap oor diegene met die merk sal kom wanneer hy ’n einde aan die huidige stelsel van dinge maak (Openbaring 14:9-11; 19:20). Om te verstaan wat 666 beteken, behels dus veel meer as om net ’n interessante raaisel op te los. Gelukkig het Jehovah God, die verpersoonliking van liefde en die Bron van geestelike lig, nie sy knegte in die duister gehou oor hierdie belangrike saak nie.—2 Timoteus 3:16; 1 Johannes 1:5; 4:8.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 8 September 2002 vir ’n bespreking van numerologie.