Waardig geag om na fonteine van waters van die lewe gelei te word
“Die Lam . . . sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei.”—OP. 7:17.
1. Hoe identifiseer God se Woord gesalfde Christene, en watter verantwoordelikheid het Jesus hulle gegee?
GOD se Woord identifiseer gesalfde Christene wat na Christus se belange op die aarde omsien, as “die getroue en verstandige slaaf”. Toe Christus die “slaaf” in 1918 geïnspekteer het, het hy gevind dat die gesalfdes op aarde getrou geestelike “voedsel op die regte tyd” voorsien. Gevolglik het dit Jesus, die Heer, behaag om hulle daarna “oor al sy besittings” aan te stel. (Lees Matteus 24:45-47.) In hierdie hoedanigheid dien gesalfdes ander aanbidders van Jehovah hier op die aarde voordat hulle ’n hemelse erfenis ontvang.
2. Beskryf Jesus se besittings.
2 ’n Heer het gesag oor sy besittings en hy kan dit gebruik soos hy goeddink. Die besittings van Jesus Christus, Jehovah se gekroonde Koning, omvat alle Koninkryksbelange op die aarde. Dit sluit “’n groot menigte” in wat die apostel Johannes in ’n visioen gesien het. Johannes beskryf die groot menigte soos volg: “Kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere; en daar was palmtakke in hulle hande.”—Op. 7:9.
3, 4. In watter opsig is die groot menigte hoogs bevoorreg?
3 Lede van hierdie groot menigte is onder dié wat Jesus sy “ander skape” genoem het (Joh. 10:16). Hulle het die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Hulle het die volle vertroue dat Jesus ‘hulle na fonteine van waters van die lewe sal lei en dat God elke traan van hulle oë sal afvee’. As gevolg hiervan het hulle “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Op. 7:14, 17). Hulle beoefen geloof in Jesus se offerande, en gevolglik het hulle ‘wit klere’ in God se oë. Hulle word, soos Abraham, regverdig verklaar as vriende van God.
4 Wat meer is, omdat die toenemende groot menigte ander skape deur God as regverdig beskou word, het hulle die hoop om die vernietiging van hierdie stelsel van dinge tydens die groot verdrukking te oorleef (Jak. 2:23-26). Hulle kan nader aan Jehovah kom, en as ’n groep het hulle die wonderlike vooruitsig om Armageddon te oorleef (Jak. 4:8; Op. 7:15). Hulle is nie onafhanklik nie, maar is bereid om te dien onder leiding van die hemelse Koning en sy gesalfde broers op aarde.
5. Hoe ondersteun die groot menigte Christus se gesalfde broers?
5 Gesalfde Christene het hewige teenstand van Satan se wêreld ondervind en sal voortgaan om dit te ondervind. Hulle kan nietemin staatmaak op die ondersteuning van hulle metgeselle, die groot menigte. Hoewel daar nou min gesalfde Christene is, neem die groot menigte elke jaar met honderdduisende toe. Die gesalfdes kan nie persoonlik toesig hou oor elkeen van die ongeveer 100 000 Christengemeentes regoor die wêreld nie. Een aspek van die ondersteuning wat die gesalfdes van die ander skape ontvang, is dus dat bekwame manne van die groot menigte as gemeentelike ouer manne dien. Hulle help om na die miljoene Christene om te sien wat tans aan die sorg van “die getroue en verstandige slaaf” toevertrou is.
6. Hoe is daar voorspel dat gesalfde Christene deur hulle metgeselle, die ander skape, ondersteun sou word?
6 Die gewillige ondersteuning wat die gesalfde Christene van hulle metgeselle, die ander skape, ontvang, is deur die profeet Jesaja voorspel. Hy het geskryf: “Só het Jehovah gesê: ‘Die onbetaalde arbeiders van Egipte en die koopmanne van Etiopië en die Sabeërs, lang manne, sal na jou toe oorkom, en hulle sal joune word. Agter jou sal hulle loop’” (Jes. 45:14). In ’n simboliese sin loop Christene met ’n aardse hoop vandag agter die gesalfde slaafklas en sy Bestuursliggaam deur hulle leierskap te volg. As “onbetaalde arbeiders” gebruik die ander skape hulle krag en hulle middele gewillig en heelhartig om die wêreldwye predikingswerk te ondersteun wat Christus aan sy gesalfde volgelinge op die aarde toegewys het.—Hand. 1:8; Op. 12:17.
7. Waarvoor word die groot menigte opgelei?
7 Terwyl lede van die groot menigte hulle gesalfde broers ondersteun, word hulle opgelei as die grondslag van die nuwe mensegemeenskap wat ná Armageddon sal bestaan. Hierdie grondslag moet stewig en bestendig wees, en die lede daarvan moet bereid en in staat wees om die riglyne van die Heer te volg. Elke Christen word die geleentheid gegee om te toon dat hy deur die Koning, Christus Jesus, gebruik kan word. Deur nou geloof te beoefen en lojaliteit aan die dag te lê, toon hy dat hy goed sal reageer wanneer die Koning hom in die nuwe wêreld riglyne gee.
Die groot menigte lewer bewys van hulle geloof
8, 9. Hoe lewer lede van die groot menigte bewys van hulle geloof?
8 Die gemeente van gesalfde Christene se metgeselle, die ander skape, lewer op verskillende maniere bewys van hulle geloof. Eerstens, hulle ondersteun die gesalfdes in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk (Matt. 24:14; 28:19, 20). Tweedens, hulle onderwerp hulle gewillig aan die leiding wat deur die Bestuursliggaam voorsien word.—Heb. 13:17; lees Sagaria 8:23.
9 Derdens, lede van die groot menigte ondersteun hulle gesalfde broers deur in ooreenstemming met Jehovah se regverdige beginsels te lewe. Hulle streef daarna om “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” aan te kweek (Gal. 5:22, 23). Om hierdie eienskappe aan die dag te lê eerder as om “die werke van die vlees” voort te bring, is vandag moontlik nie iets algemeens nie. Lede van die groot menigte is nogtans vasbeslote om “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodediens, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en soortgelyke dinge” te vermy.—Gal. 5:19-21.
10. Wat is lede van die groot menigte vasbeslote om te doen?
10 Omdat ons onvolmaak is, kan dit ’n uitdaging wees om geestelike vrugte voort te bring, die werke van die vlees te vermy en die druk wat Satan se wêreld uitoefen, te weerstaan. Ons is nietemin vasbeslote om nie toe te laat dat ontmoediging weens persoonlike swakhede, tydelike mislukkings of fisiese beperkings ons geloof laat verswak of ons liefde vir Jehovah laat afneem nie. Ons weet dat Jehovah sal doen wat hy belowe het—om die groot menigte deur die groot verdrukking behoue te laat bly.
11. Van watter taktiek maak Satan gebruik in sy pogings om die geloof van Christene te verswak?
11 Ons bly egter op ons hoede, want ons weet dat die Duiwel ons eintlike vyand is, en hy gooi nie maklik tou op nie. (Lees 1 Petrus 5:8.) Hy het al afvalliges en ander gebruik om ons te probeer oortuig dat die leringe wat ons volg, vals is. Maar hierdie taktiek het gewoonlik misluk. Net so het vervolging, hoewel dit soms die predikingswerk vertraag het, dikwels die geloof van dié wat vervolg is, net versterk. Gevolglik maak Satan al hoe meer gebruik van ’n metode wat hy meen suksesvoller sal wees om ons geloof te verswak. Hy buit gevoelens van ontmoediging uit. Eerste-eeuse Christene is gewaarsku oor hierdie gevaar toe daar vir hulle gesê is: “Let noukeurig op die een [Christus] wat sulke teëspraak deur sondaars teen hulle eie belange verduur het.” Waarom? “Sodat julle nie moeg word en in julle siel beswyk nie.”—Heb. 12:3.
12. Hoe versterk die Bybel se raad diegene wat ontmoedig voel?
12 Het jy al ooit lus gevoel om tou op te gooi? Voel jy soms dat jy ’n mislukking is? In daardie geval moet jy nie toelaat dat Satan hierdie gevoelens gebruik om jou te verhinder om Jehovah te dien nie. Diepgaande Bybelstudie, vurige gebed sowel as gereelde vergaderingbywoning en omgang met medegelowiges sal jou versterk en keer dat jy ‘in jou siel beswyk’. Jehovah het belowe dat hy sy dienaars sal help om nuwe krag te kry, en sy belofte is betroubaar. (Lees Jesaja 40:30, 31.) Hou jou oog op Koninkryksdiens. Vermy tydrowende afleidings, en spits jou daarop toe om ander te help. Dan sal jy versterk word om te volhard ondanks ontmoediging.—Gal. 6:1, 2.
Uit die verdrukking tot in ’n nuwe wêreld
13. Watter taak wag op diegene wat Armageddon oorleef?
13 Ná Armageddon sal ’n mag der menigte onregverdige verresenes in Jehovah se weë onderrig moet word (Hand. 24:15). Hulle sal van Jesus se losprysoffer moet leer; ook sal hulle geleer moet word om geloof in daardie offerande te beoefen sodat hulle die voordele daarvan kan ontvang. Hulle sal valse godsdiensidees wat hulle vroeër gehad het, moet verwerp en hulle vorige lewenswyse moet laat vaar. Hulle moet leer om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee wat ware Christene identifiseer (Ef. 4:22-24; Kol. 3:9, 10). Die ander skape wat tot in daardie tyd behoue bly, sal baie werk hê. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om sulke diens aan Jehovah te verrig, vry van die druk en afleidings van die teenswoordige goddelose wêreld!
14, 15. Beskryf die uitruiling van inligting wat tussen oorlewendes van die groot verdrukking en verrese regverdiges sal plaasvind.
14 Getroue knegte van Jehovah wat voor Jesus se aardse bediening gesterf het, sal dan ook baie hê om te leer. Hulle sal leer wie die beloofde Messias was, op wie hulle gehoop het maar wat hulle nooit gesien het nie. In hulle vorige lewe het hulle reeds getoon dat hulle bereid is om deur Jehovah onderrig te word. Dink net watter vreugde en voorreg dit sal wees om hulle te help—byvoorbeeld om aan Daniël te verduidelik hoe die profesieë wat hy neergeskryf maar nie verstaan het nie, vervul is!—Dan. 12:8, 9.
15 Terwyl die verresenes baie by ons sal leer, sal ons natuurlik baie vrae hê om vir hulle te vra. Hulle sal ons meer kan vertel oor gebeure wat in die Bybel gemeld word maar nie breedvoerig beskryf word nie. Dink hoe opwindend dit sal wees om persoonlike besonderhede oor Jesus by sy neef Johannes die Doper te hoor! Die dinge wat ons by hierdie getroue getuies leer, sal ons ongetwyfeld selfs groter waardering vir God se Woord gee as wat ons tans het. Getroue knegte van Jehovah wat gesterf het—insluitende lede van die groot menigte wat gedurende die tyd van die einde sterf—sal “’n beter opstanding” ontvang. Hulle het hulle diens aan Jehovah begin in ’n wêreld wat deur Satan oorheers is. Wat ’n vreugde sal dit tog vir hulle wees om hulle diens in die baie gunstiger omstandighede van die nuwe wêreld voort te sit!—Heb. 11:35; 1 Joh. 5:19.
16. Hoe sal die Oordeelsdag volgens profesieë verloop?
16 Op die een of ander stadium gedurende die Oordeelsdag sal boekrolle oopgemaak word. Tesame met die Bybel sal dit dien as die grondslag om al die lewendes te oordeel—of hulle waardig is om die ewige lewe te ontvang of nie. (Lees Openbaring 20:12, 13.) Teen die einde van die Oordeelsdag sal elke persoon voldoende geleentheid gehad het om te toon waar hy staan ten opsigte van die geskil oor universele soewereiniteit. Sal hy die Koninkryksreëling ondersteun en toelaat dat die Lam hom na “fonteine van waters van die lewe” lei? Of sal hy hom verset en weier om hom aan God se Koninkryk te onderwerp? (Op. 7:17; Jes. 65:20). Teen daardie tyd sal almal op die aarde ’n geleentheid gehad het om ’n persoonlike besluit te neem, sonder die invloed van oorgeërfde sonde of ’n goddelose milieu. Niemand sal die regmatigheid van Jehovah se finale oordeel kan betwis nie. Net die goddeloses sal vir ewig vernietig word.—Op. 20:14, 15.
17, 18. Met watter vreugdevolle verwagting sien gesalfde Christene en die ander skape na die Oordeelsdag uit?
17 Hedendaagse gesalfde Christene, wat waardig geag is om ’n Koninkryk te ontvang, sien gretig daarna uit om gedurende die Oordeelsdag te regeer. Wat ’n wonderlike voorreg sal hulle tog hê! Die blote vooruitsig beweeg hulle om die raad te volg wat Petrus aan sy eerste-eeuse broers gegee het: “[Doen] julle uiterste bes . . . om julle roeping en verkiesing vir julle te verseker; want as julle aanhou om hierdie dinge te doen, sal julle beslis nooit faal nie. Trouens, so sal die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus ryklik aan julle verskaf word.”—2 Pet. 1:10, 11.
18 Die ander skape verheug hulle saam met hulle gesalfde broers. Hulle is vasbeslote om hulle te ondersteun. As hedendaagse vriende van God word hulle beweeg om hulle uiterste bes in God se diens te doen. Gedurende die Oordeelsdag sal dit hulle groot vreugde verskaf om God se reëlings heelhartig te ondersteun terwyl Jesus hulle na fonteine van waters van die lewe lei. Hulle sal dan—uiteindelik—waardig geag word om tot in alle ewigheid Jehovah se aardse knegte te wees!—Rom. 8:20, 21; Op. 21:1-7.
Onthou jy?
• Wat sluit Jesus se besittings in?
• Hoe ondersteun die groot menigte hulle gesalfde broers?
• Watter voorregte en vooruitsig het die groot menigte?
• Hoe beskou jy die Oordeelsdag?
[Prent op bladsy 25]
Die groot menigte het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam
[Prent op bladsy 27]
Wat hoop jy om by verrese getroues te leer?