Luister na wat die gees sê!
“Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê.”—OPENBARING 3:22.
1, 2. Watter raad word herhaal in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes wat in Openbaring genoem word?
JEHOVAH se knegte moet aandag skenk aan die geesgerigte woorde van Jesus Christus aan die sewe gemeentes wat in die Bybelboek Openbaring genoem word. Trouens, elkeen van die boodskappe bevat hierdie raad: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê.”—Openbaring 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22.
2 Ons het reeds gekyk na Jesus se boodskappe aan die engele, of opsieners, van Efese, Smirna en Pergamum. Hoe kan ons baat vind by wat hy deur middel van die heilige gees aan die ander vier gemeentes gesê het?
Aan die engel in Tiatira
3. Waar was Tiatira geleë, en waarvoor was dit veral bekend?
3 “Die Seun van God” gee lof sowel as teregwysing aan die gemeente in Tiatira. (Lees Openbaring 2:18-29.) Tiatira (nou Akhisar) was langs ’n sytak van die Gediz-rivier (eertydse Hermus) in westelike Klein-Asië gebou. Die stad was bekend vir sy talle ambagte. Die kleurstofmengers het die kleurstof wat hulle uit die krapwortel verkry het, gebruik vir hulle beroemde skarlaken, of purper. Lidia, wat gedurende Paulus se besoek aan Filippi in Griekeland ’n Christen geword het, was “’n purperverkoopster, van die stad Tiatira”.—Handelinge 16:12-15.
4. Waarvoor is die gemeente in Tiatira geprys?
4 Jesus prys die gemeente in Tiatira vir hulle goeie dade, liefde, geloof, volharding en werk in die bediening. Trouens, ‘hulle dade in die laaste tyd was meer as dié van vroeër’. Selfs as ons ’n goeie naam het, moet ons egter nooit onverskillig wees wat ons sedes betref nie.
5-7. (a) Wie was “daardie vrou Isebel”, en wat moes omtrent haar invloed gedoen word? (b) Christus se boodskap aan die gemeente in Tiatira help godvresende vroue om wat te doen?
5 Die gemeente in Tiatira het afgodediens, valse leringe en geslagsonsedelikheid geduld. In hulle midde was “daardie vrou Isebel”—moontlik ’n groep vroue met eienskappe soos dié van die goddelose koningin Isebel van die tienstammeryk van Israel. Party geleerdes voer aan dat die ‘profetesse’ van Tiatira Christene probeer verlok het om die gode en godinne van handelaars te aanbid en om aan feeste deel te neem waar daar voedsel was wat aan afgode geoffer is. Laat geen selfbenoemde profetes ander in die hedendaagse Christengemeente probeer beïnvloed nie!
6 Christus ‘het op die punt gestaan om die vrou Isebel op ’n siekbed te werp, en dié wat met haar egbreuk pleeg, in groot verdrukking, tensy hulle berou toon oor haar dade’. Opsieners moet nooit sulke goddelose leringe en invloede duld nie, en geen Christen hoef hom aan geestelike en fisiese hoerery skuldig te maak of aan afgodediens deel te neem om te besef dat die “diep dinge van Satan” deur en deur boos is nie. As ons op Jesus se waarskuwing ag slaan, ‘sal ons vashou aan wat ons het’, en sonde sal nie onder ons heers nie. Omdat verrese gesalfdes goddelose gebruike, welluste en strewes verwerp het, ontvang hulle “gesag oor die nasies” en sal hulle saam met Christus die nasies verbrysel. Hedendaagse gemeentes het simboliese sterre, en die gesalfdes sal “die helder môrester”, die Bruidegom, Jesus Christus, ontvang wanneer hulle tot hemelse lewe opgewek word.—Openbaring 22:16.
7 Die gemeente in Tiatira is gewaarsku om nie die goddelose invloed van afvallige vroue te duld nie. Christus se geesgeïnspireerde boodskap aan die gemeente help godvresende vroue van vandag om in hulle godgegewe plek te bly. Hulle probeer nie gesag oor manne uitoefen en verlok broers nie tot geestelike of fisiese hoerery nie (1 Timoteus 2:12). Hierdie vroue stel eerder ’n voorbeeld in goeie dade en diens tot eer van God (Psalm 68:11; 1 Petrus 3:1-6). As die gemeente bewaar wat hulle het—suiwer leerstellings, rein gedrag en kosbare Koninkryksdiens—sal Christus met wonderlike seëninge kom, nie met teregstelling nie.
Aan die engel in Sardis
8. (a) Waar was Sardis, en wat is bekend omtrent die stad? (b) Waarom het die gemeente in Sardis hulp nodig gehad?
8 Die gemeente in Sardis het dringend hulp nodig gehad omdat hulle geestelik dood was. (Lees Openbaring 3:1-6.) Sardis was ’n florerende stad, omtrent 50 kilometer suid van Tiatira. Handel, die vrugbaarheid van die gebied en die vervaardiging van wolstof en -matte het gehelp om dit ’n welvarende stad te maak wat eens ongeveer 50 000 inwoners gehad het. Volgens die geskiedskrywer Josefus het Sardis in die eerste eeu v.G.J. ’n groot Joodse gemeenskap gehad. Tussen die stad se ruïnes is daar ’n sinagoge en ’n tempel van die Efesiese godin Artemis.
9. Wat moet ons doen as ons bedrywighede in die bediening oppervlakkig is?
9 Christus het vir die engel van die gemeente in Sardis gesê: “Ek ken jou dade, dat jy die naam het dat jy lewend is, maar jy is dood.” Gestel ons het die reputasie dat ons geestelik wakker is, maar ons is in werklikheid aan die slaap wat Christelike voorregte betref en ons bedrywighede in die bediening is oppervlakkig en geestelik gesproke ‘op die punt om te sterf’, wat dan? Dan moet ons ‘onthou hoe ons die Koninkryksboodskap ontvang en gehoor het’, en ons moet ons pogings in heilige diens verskerp. Ons moet beslis heelhartig aan Christelike vergaderinge begin deelneem (Hebreërs 10:24, 25). Christus het die gemeente in Sardis gewaarsku: “Tensy jy wakker word, sal ek soos ’n dief kom, en jy sal glad nie weet in watter uur ek op jou sal afkom nie.” Wat van ons dag? Ons sal binnekort rekenskap moet gee.
10. Wat is moontlik waar van ’n paar Christene, selfs in ’n situasie soos die een in Sardis?
10 Selfs in ’n situasie soos die een in Sardis is daar moontlik ’n paar wat ‘nie hulle boklere verontreinig nie en wat in wittes saam met Christus kan wandel omdat hulle dit waardig is’. Hulle behou hulle Christelike identiteit en bly onbesmet, en op sedelike en godsdiensgebied is hulle sonder vlek van hierdie wêreld (Jakobus 1:27). Daarom sal Jesus ‘hulle name hoegenaamd nie uit die boek van die lewe uitwis nie, maar hy sal hulle voor sy Vader en die engele erken’. Sy bruidsklas van gesalfdes, wat waardig verklaar is om saam met Christus te wandel, sal geklee wees in blink, skoon, fyn linne wat die regverdige dade van God se heiliges afbeeld (Openbaring 19:8). Die wonderlike diensvoorregte wat in die hemel op hulle wag, spoor hulle aan om hierdie wêreld te oorwin. Seëninge wag ook op diegene wat uitsien na ewige lewe op aarde. Ook hulle name is in die boek van die lewe geskryf.
11. Wat moet ons doen as ons geestelik lomerig begin raak?
11 Nie een van ons wil in die betreurenswaardige geestelike toestand van die gemeente in Sardis beland nie. Maar sê nou ons merk op dat ons geestelik lomerig begin raak? Dan moet ons vir ons eie beswil vinnig optree. Gestel ons word aangetrek deur sondige weë of ons is nie meer so gereeld by vergaderinge of in die bediening nie. Laat ons ernstig tot Jehovah bid om ons te help (Filippense 4:6, 7, 13). Daaglikse Bybellees en ’n studie van die Skrif en die publikasies van “die getroue bestuurder” sal ons help om geestelik waaksaam te bly (Lukas 12:42-44). Dan sal ons soos diegene in Sardis wees wat Christus se goedkeuring geniet het, en ons sal ’n seën vir medegelowiges wees.
Aan die engel in Filadelfia
12. Hoe sou jy die godsdienssituasie in eertydse Filadelfia beskryf?
12 Jesus het die gemeente in Filadelfia geprys. (Lees Openbaring 3:7-13.) Filadelfia (nou Alasehir) was die welvarende sentrum van ’n wynproduserende gebied in westelike Klein-Asië. Trouens, die stad se hoofgod was Dionisus, die wyngod. Jode in Filadelfia het die Joodse Christene daar blykbaar tevergeefs probeer oorhaal om sekere gebruike van die Mosaïese Wet te bewaar of weer te begin onderhou.
13. Hoe het Christus “die sleutel van Dawid” gebruik?
13 Christus het “die sleutel van Dawid”, en daarom is alle Koninkryksbelange sowel as die bestuur van die huisgenote van die geloof aan hom toevertrou (Jesaja 22:22; Lukas 1:32). Jesus het daardie sleutel gebruik om Koninkryksgeleenthede en -voorregte te ontsluit vir Christene in eertydse Filadelfia en elders. Sedert 1919 het hy voor “die getroue bestuurder” “’n groot deur” oopgemaak wat tot Koninkrykspredikingswerk lei en wat geen teenstander kan sluit nie (1 Korintiërs 16:9; Kolossense 4:2-4). Die deur wat tot Koninkryksvoorregte lei, is natuurlik gesluit vir dié van “die sinagoge van Satan”, want hulle is nie geestelike Israeliete nie.
14. (a) Watter belofte het Jesus die gemeente in Filadelfia gegee? (b) Wat kan ons doen om nie gedurende “die uur van beproewing” te val nie?
14 Jesus het Christene in eertydse Filadelfia hierdie belofte gegee: “Omdat jy die woord oor my volharding bewaar het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom.” Die predikingswerk vereis die soort volharding wat Jesus aan die dag gelê het. Hy het nooit voor die vyand geswig nie, maar aangehou om sy Vader se wil te doen. Gevolglik is Christus tot onsterflike hemelse lewe opgewek. As ons bly by ons besluit om Jehovah te aanbid en die Koninkryk ondersteun deur die goeie nuus te verkondig, sal ons nie gedurende die huidige tydperk van toetsing, “die uur van beproewing”, val nie. Ons sal ‘vashou aan wat ons het’ van Christus en daardie Koninkryksbelange probeer vermeerder. Dit sal lei tot ’n kosbare hemelse kroon vir gesalfdes en ewige lewe op aarde vir hulle lojale metgeselle.
15. Wat word vereis van diegene wat ‘pilare in God se tempel’ sal wees?
15 Christus voeg by: “Die een wat oorwin—ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, . . . en ek sal op hom die naam van my God skryf en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel neerdaal, en my nuwe naam.” Gesalfde opsieners moet ware aanbidding hoog hou. Hulle moet altyd voldoen aan die vereistes vir lede van “die nuwe Jerusalem” deur God se Koninkryk te verkondig en geestelik rein te bly. Dit is noodsaaklik as hulle pilare in die verheerlikte hemelse tempel wil wees en as hulle die naam van God se stad wil dra as hemelse inwoners daarvan, asook die naam van Christus as sy bruid. En hulle moet natuurlik seker maak dat hulle ore “hoor wat die gees vir die gemeentes sê”.
Aan die engel in Laodisea
16. Wat is bekend oor Laodisea?
16 Christus het die oorgeruste gemeente in Laodisea tereggewys. (Lees Openbaring 3:14-22.) Laodisea, wat sowat 150 kilometer oos van Efese en by die kruising van vername handelsroetes in die vrugbare vallei van die Likosrivier geleë was, was ’n uiters welvarende nywerheidstad en finansiële sentrum. Klere wat van die swart wol van daardie streek gemaak is, was baie gesog. As die setel van ’n beroemde mediese skool is die oogsalf wat as Frigiese poeier bekend gestaan het, waarskynlik in Laodisea gemaak. Asklepios, ’n god van geneeskunde, was een van die stad se hoofgode. Laodisea het blykbaar ’n hele aantal Jode gehad, waarvan party moontlik redelik welgesteld was.
17. Waarom is die Laodisense tereggewys?
17 Jesus spreek die gemeente in Laodisea deur hulle “engel” aan en praat met gesag as “die getroue en waaragtige getuie, die begin van die skepping deur God” (Kolossense 1:13-16). Die Laodisense is tereggewys omdat hulle geestelik “nie koud of warm” was nie. Hulle was lou, en daarom sou Christus hulle uit sy mond uitbraak. Dit sou nie vir hulle moeilik gewees het om daardie punt te snap nie. Die nabygeleë Hiërapolis het warm bronne gehad en Kolosse koue water. Aangesien water oor ’n groot afstand na Laodisea afgevoer moes word, was dit heel waarskynlik louwarm wanneer dit die stad bereik het. Die water het ook oor ’n deel van die afstand deur ’n akwaduk gevloei. Nader aan Laodisea het dit deur deurboorde klipblokke gevloei wat aanmekaar gemessel is.
18, 19. Hoe kan hedendaagse Christene wat soos dié in Laodisea is, gehelp word?
18 Individue wat vandag soos die Laodisense is, is nie stimulerend warm of verfrissend koud nie. Soos louwarm water word hulle uitgespoeg! Jesus wil hulle nie hê as sy spreekbuis, as gesalfde “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree” nie (2 Korintiërs 5:20). Tensy hulle berou toon, sal hulle hulle voorreg as Koninkryksverkondigers verloor. Die Laodisense het aardse rykdom gesoek en ‘nie geweet dat hulle ellendig, bejammerenswaardig, arm, blind en naak is nie’. Om ontslae te raak van hulle geestelike armoede, blindheid en naaktheid, moet enigeen wat vandag soos hulle is, van Christus die ‘gelouterde goud’ van beproefde geloof koop, asook “wit boklere” van regverdigheid en “oogsalf” wat geestelike sig bevorder. Christenopsieners help hulle met graagte om bewus te wees van hulle geestelike behoefte sodat hulle “ryk in geloof” kan word (Jakobus 2:5; Matteus 5:3). Daarbenewens moet opsieners hulle help om geestelike “oogsalf” aan te smeer—om Jesus se leringe, raad, voorbeeld en geestesgesindheid te aanvaar en hulle daarna te skik. Dit is ’n geneesmiddel teen “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”.—1 Johannes 2:15-17.
19 Almal vir wie Jesus geneentheid het, wys hy tereg en dissiplineer hy. Opsieners onder hom moet dieselfde doen met teerheid (Handelinge 20:28, 29). Die Laodisense moes ‘ywerig wees en berou toon’, deur veranderinge in hulle denke en lewenswyse aan te bring. Wel, het party van ons gewoond geraak aan ’n lewenswyse waar ons heilige diens aan God ’n minder belangrike plek in ons lewe inneem? Laat ons dan ‘oogsalf van Jesus koop’ sodat ons kan sien hoe belangrik dit is om met ywer eers die Koninkryk te soek.—Matteus 6:33.
20, 21. Wie reageer vandag op die regte manier wanneer Jesus “klop”, en wat is hulle vooruitsigte?
20 “Kyk!” sê Christus, “Ek staan by die deur en klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek in sy huis inkom en die aandmaal saam met hom eet, en hy saam met my.” Jesus het dikwels tydens maaltye ander geestelik onderrig (Lukas 5:29-39; 7:36-50; 14:1-24). Hy klop nou aan die deur van ’n gemeente soos dié in Laodisea. Sal die lede daarvan vir hom oopmaak, hulle geneentheid vir hom weer aanwakker, hom in hulle midde verwelkom en toelaat dat hy hulle onderrig? Indien wel, sal Christus saam met hulle ’n feesmaal geniet waarby hulle geestelik baie baat sal vind.
21 Hedendaagse “ander skape” nooi Jesus figuurlik gesproke binne, en hierdie optrede laat hulle in aanmerking kom vir ewige lewe (Johannes 10:16; Matteus 25:34-40, 46). Aan elke gesalfde wat oorwin, sal Christus die voorreg gee om ‘saam met hom op sy troon te sit, net soos hy oorwin het en saam met sy Vader op Sy troon gaan sit het’. Ja, Jesus beloof aan die gesalfde oorwinnaars dat hulle die wonderlike beloning van ’n troon sal kry saam met hom aan sy Vader se regterhand in die hemel. En die ander skape wat oorwin, sien uit na ’n wonderlike plek op aarde onder Koninkryksheerskappy.
Lesse vir ons almal
22, 23. (a) Hoe kan alle Christene baat vind by Jesus se woorde aan die sewe gemeentes? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
22 Dit ly geen twyfel nie dat alle Christene grootliks kan baat vind by Jesus se woorde aan die sewe gemeentes in Klein-Asië. Wanneer liefdevolle Christen- ouer manne byvoorbeeld sien hoe Christus gepaste lof gegee het, beweeg dit hulle om individue en gemeentes te prys wat geestelik goed doen. Wanneer daar swakhede is, help die ouer manne medegelowiges om skriftuurlike geneesmiddels aan te wend. Ons almal kan steeds baat vind by verskillende fasette van die raad wat Christus aan die sewe gemeentes gegee het, solank ons dit biddend en sonder versuim toepas.a
23 Hierdie laaste dae is beslis nie ’n tyd vir oorgerustheid, materialisme of enigiets anders wat kan veroorsaak dat ons blote vormdiens aan God verrig nie. Laat al die gemeentes dus voortdurend helder skyn as lampstaanders wat deur Jesus in hulle plek gehou word. Mag ons, as getroue Christene, altyd vasbeslote wees om aandag te skenk aan wat Christus sê en luister na wat die gees sê. Dan sal ons blywende geluk geniet as ligdraers tot heerlikheid van Jehovah.
[Voetnoot]
a Openbaring 2:1–3:22 word ook bespreek in hoofstukke 7 tot 13 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Hoe sal jy antwoord?
• Wie was “daardie vrou Isebel”, en waarom volg godvresende vroue haar nie na nie?
• Watter toestand het in die gemeente in Sardis geheers, en hoe kan ons voorkom dat ons word soos baie van die Christene wat daar gelewe het?
• Watter beloftes het Jesus die gemeente in Filadelfia gegee, en hoe is dit vandag van toepassing?
• Waarom is die Laodisense tereggewys, maar watter vooruitsigte het ywerige Christene?
[Prent op bladsy 16]
Die goddelose weë van “daardie vrou Isebel” moet vermy word
[Prente op bladsy 18]
Jesus het voor sy volgelinge “’n groot deur” oopgemaak wat tot Koninkryksvoorregte lei
[Prent op bladsy 20]
Verwelkom jy Jesus en luister jy na hom?