Die Bybel se beskouing
Is God alomteenwoordig?
BAIE mense glo dat God alomteenwoordig is, wat beteken dat hy letterlik oral en in alles is. Die wyse koning Salomo het hierdie versoek in gebed tot Jehovah gerig: “Mag u . . . hoor vanuit die hemel, u vaste woonplek” (1 Konings 8:30, 39). Volgens die Bybel het Jehovah God dus ’n woonplek. Salomo het na hierdie plek verwys as “die hemel”. Maar wat beteken dit?
Die Bybel gebruik soms die woorde “hemel” en “hemele” om te verwys na die fisiese heelal wat die aarde omring (Genesis 2:1, 4; Psalm 19:1). Maar aangesien God alles geskep het, moes sy woonplek bestaan het voordat hy die fisiese heelal gevorm het. Gevolglik moet God in ’n ryk bestaan wat nie deur fisiese dinge ingeperk word nie. Wanneer die Bybel van die hemel as die woonplek van Jehovah God praat, verwys dit dus nie na ’n plek in die uitspansel of in die buitenste ruimte nie, maar na ’n geestelike ryk.
’n Ontsagwekkende visioen
Die Bybel gee ons ’n fassinerende kykie in Jehovah se woonplek deur ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is. In hierdie visioen het Johannes ’n oop deur in die hemel gesien en toe ’n stem vir hom hoor sê: “Kom op hierheen.”—Openbaring 4:1.
Johannes is daarna ’n ontsagwekkende visioen van Jehovah God self gegee. Dít is wat hy onder meer gesien het: “Daar het ’n troon in die hemel gestaan . . . Hy wat daarop sit, is in sy voorkoms soos ’n jaspissteen en ’n kosbare rooikleurige steen, en rondom die troon is daar ’n reënboog wat in sy voorkoms soos ’n smarag is. . . . Uit die troon gaan daar weerligstrale en stemme en donderslae uit . . . En voor die troon is daar as ’t ware ’n glasagtige see soos kristal.”—Openbaring 4:2-6.
Dit is ’n beeldende beskrywing van Jehovah se luisterryke prag en onvergelyklike heerlikheid. En let op waardeur Jehovah se troon omring word. Die reënboog stel kalmte en vrede voor. Die weerligstrale, stemme en donderslae beklemtoon God se krag. Die glasagtige see vestig die aandag op die rein posisie van almal wat in God se teenwoordigheid is.
Hoewel die beeldspraak wat hier gebruik word, simbolies is, vertel dit ons baie van God se woonplek. Jehovah handhaaf volmaakte orde in die hemel. Sy woonplek is nie in chaos nie.
Te alle tye op alle plekke?
Die feit dat Jehovah ’n woonplek het, dui aan dat hy nie te alle tye op alle plekke is nie. Hoe is hy dan bewus van wat gebeur? (2 Kronieke 6:39). Een manier is deur sy heilige gees, of werkende krag. Die psalmis het geskryf: “Waarheen kan ek gaan, weg van u gees af, en waarheen kan ek vlug, weg van u aangesig af? As ek na die hemel sou opklim, sou u daar wees; en as ek my slaapbank in Sjeool sou uitsprei, kyk! u sou daar wees.”—Psalm 139:7-10.
Om die deurdringende uitwerking van God se heilige gees te verstaan, kan ’n mens aan die son dink. Dit is op ’n spesifieke plek, maar versprei energie oor ’n ontsaglike deel van die aarde. Net so het Jehovah God ’n woonplek, maar hy kan sy wil op enige plek in die heelal laat geskied. Daarbenewens kan Jehovah sy heilige gees gebruik om waar te neem wat te eniger tyd op enige plek gebeur. Gevolglik sê 2 Kronieke 16:9: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is.”
God het ook ’n organisasie van geesskepsele, wat engele genoem word, onder sy beheer. Die Bybel toon dat daar moontlik honderdmiljoene van dié geesskepsele is—dalk miljarde of meer (Daniël 7:10).a Die Bybelverslag meld etlike gevalle waar engele as God se verteenwoordigers opgetree het en aarde toe gekom het, met mense gepraat het en aan God teruggerapporteer het. In die dae van Abraham het engele byvoorbeeld ’n klaaggeroep oor Sodom en Gomorra ondersoek. God het, klaarblyklik nadat hy die berig van hierdie engele ontvang het, besluit om daardie stede te vernietig.—Genesis 18:20, 21, 33; 19:1, 13.
Die Bybel toon dus dat dit nie vir Jehovah God nodig is om letterlik oral te wees nie. Deur die werking van sy heilige gees en deur sy engelemagte is hy in staat om ten volle bewus te wees van wat met betrekking tot sy skepping gebeur.
Die Bybel kan ons beslis help om ons Skepper beter te leer ken. Daarin leer ons dat God in ’n vaste plek woon, wat die hemel genoem word, ’n geestelike ryk buite die fisiese hemele. Saam met hom is daar miljoene magtige geesskepsele wat ook in die geesteryk woon. En sy woonplek word gekenmerk deur kalmte, krag en reinheid. Die Bybel verseker ons dat die mensdom op die bestemde tyd vreedsame toestande op aarde sal geniet soos dié wat in die hemel bestaan.—Matteus 6:10.
[Voetnoot]
a Openbaring 5:11 praat van “tienduisende van tienduisende” engele rondom God se troon. Tienduisend maal tienduisend is 100 miljoen. Maar hierdie teks gebruik “tienduisende van tienduisende”, wat dus die moontlikheid skep van baie miljarde geesskepsele.
HET JY AL GEWONDER?
● Is God oral?—1 Konings 8:30, 39.
● Hoe verreikend is God se gees?—Psalm 139:7-10.
[Lokteks op bladsy 29]
Die son is op ’n vaste plek, maar sy energie kan oor ’n ontsaglike gebied gevoel word. Net so het God ’n woonplek, maar sy heilige gees kan op enige plek in die heelal gevoel word