-
’n Huwelik wat miljoene wat nou leef tot voordeel strekDie Wagtoring – 1989 | Julie 1
-
-
14. (a) Deur wie is Rebekka vergesel? (b) Watter soort reis het voor hulle gelê?
14 Rebekka het metgeselle op haar reis gehad. Soos die verslag verduidelik: “Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele weggery” (Genesis 24:61). So het dit gekom dat die karavaan kamele ’n gevaarlike reis van oor die 800 kilometer deur vreemde gebied aangepak het. “Die gemiddelde snelheid van ’n gelaaide kameel”, sê die boek The Living World of Animals, “is ongeveer [4 kilometer per uur].” As Abraham se kamele elke dag agt uur lank teen daardie snelheid geloop het, sou dit meer as 25 dae geduur het om hulle bestemming in die Negeb te bereik.
15. (a) Watter goeie voorbeeld sien ons in Eliëser, Rebekka en haar diensmeisies? (b) Wat word deur die verslag afgeskadu?
15 Eliëser, Rebekka en haar diensmeisies het hul volle vertroue in Jehovah se leiding gestel—’n goeie voorbeeld vir hedendaagse Christene! (Spreuke 3:5, 6). Die verslag is ook ’n geloofversterkende profetiese drama. Soos ons gesien het, dien Abraham as tipe van Jehovah God, wat sy geliefde Seun, die Grotere Isak, opgeoffer het sodat sondige mense die ewige lewe kan verkry (Johannes 3:16). Die voorbereiding vir Isak se huwelik het eers ’n ruk nadat hy die dood op die offeraltaar gespaar is, plaasgevind. Dit was profeties van die voorbereiding vir die hemelse huwelik, en hierdie voorbereiding het in erns na Jesus se opstanding begin.
-
-
’n Huwelik wat miljoene wat nou leef tot voordeel strekDie Wagtoring – 1989 | Julie 1
-
-
16. (a) Hoe beeld Abraham se dienskneg gepas God se heilige gees af? (b) Watter vraag kan met betrekking tot die gees en die bruid gevra word?
16 Eliëser se naam beteken “My God is Helper”. In naam en daad beeld hy gepas die heilige gees van die Grotere Abraham, Jehovah God, af, wat Hy na hierdie ver land, ons aarde, gestuur het om ’n geskikte bruid vir die Grotere Isak, Jesus Christus, te kies (Johannes 14:26, NW; 15:26, NW). Die bruidsklas is “die gemeente”, wat bestaan uit dissipels van Jesus wat deur heilige gees verwek is as geestelike seuns van God (Efesiërs 5:25-27; Romeine 8:15-17). Net soos Rebekka duur geskenke ontvang het, het die eerste lede van die Christengemeente op Pinksterdag van 33 G.J. wonderdadige gawes as bewys van hulle goddelike roeping ontvang (Handelinge 2:1-4). Soos Rebekka het hulle gewillig alle wêreldlike en vleeslike verhoudings prysgegee om uiteindelik met hulle hemelse Bruidegom verenig te wees. Individuele lede van die bruidsklas moet van die tyd dat hulle geroep word tot hulle dood toe hulle geestelike maagdelikheid bewaar terwyl hulle deur Satan se gevaarlike, verleidelike wêreld reis (Johannes 15:18, 19; 2 Korinthiërs 11:3, NAV; Jakobus 4:4). Die bruidsklas is gevul met heilige gees en nooi ander getrou om Jehovah se voorsienings vir redding aan te gryp (Openbaring 22:17). Volg jy haar voorbeeld deur ook die gees se leiding te volg?
17. (a) Wat beeld die tien kamele af? (b) Watter gesindheid behoort ons teenoor die Bybel en Bybelse publikasies te openbaar wat deur die bruidsklas saamgestel word? (Handelinge 17:11).
17 Die bruidsklas heg groot waarde aan wat deur die tien kamele afgebeeld word. In die Bybel word die getal tien gebruik om volmaaktheid of volledigheid met betrekking tot dinge op die aarde aan te dui. Die tien kamele kan vergelyk word met die volledige en volmaakte Woord van God, waardeur die bruidsklas geestelike voedsel en geestelike gawes ontvang (Johannes 17:17; Efesiërs 1:13, 14; 1 Johannes 2:5). Waar dit kommentaar gelewer het oor die feit dat Rebekka die kamele water gegee het, het Die Wagtoring van 1 Februarie 1949 die volgende toepassing op die bruidsklas gemaak: “Hulle oorweeg liefderyk die Woord van God wat baie van sy gees na hulle toe dra. Hulle stel belang in sy geskrewe Woord, dien dit, en verlewendig dit deur daarop ag te gee en ’n opregte besorgdheid vir die boodskap en doel daarvan te betoon, en [streef daarna] om dit te glo.” ’n Voorbeeld hiervan is die verkwikkende, moderne New World Translation of the Holy Scriptures wat die oorblyfsel van die bruidsklas liefdevol aan miljoene beskikbaar gestel het. Toon jy, hetsy hierdie puik vertaling in jou taal beskikbaar is of nie, waardering deur die Bybel gereeld tesame met studiehulpe wat deur die bruidsklas voorsien word te ondersoek?—2 Timotheüs 3:16.
Die Lam se huwelik kom nader
18. Waarom beeld Rebekka se diensmeisies gepas hedendaagse metgeselle van die bruid af?
18 In hierdie laaste dae van Satan se wêreld het “’n groot menigte”, wat met Rebekka se “diensmeisies” vergelyk kan word, hulle by die oorblyfsel van die bruidsklas geskaar. Soos in die geval van Rebekka is hulle baie meer as die voltallige bruidsklas van 144 000. Hulle is die “groot menigte” van Jesus Christus se “ander skape” (Openbaring 7:4, 9; Johannes 10:16). As lojale helpers van die bruid moet hulle hul ook nie deur Satan se goddelose wêreld laat besmet nie. Hulle moet ook die leiding van Jehovah se gees en sy Woord volg soos dit deur die bruidsklas aan hulle verduidelik word. Maar hulle beloning is anders. As hulle volhard om Christus se bruid lojaal te ondersteun, sal hulle die einde van Satan se wêreld oorleef en die wonderlike geleentheid hê om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe.—Openbaring 21:3, 4.
-