Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 18 bl. 144-151
  • Lojaliteit teenoor God se hedendaagse sigbare organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lojaliteit teenoor God se hedendaagse sigbare organisasie
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lojaliteit gedurende gevangenskap
  • God se organisasie hulle “hoogste vreugde”
  • Die geluk van sy wreker
  • Hou Jehovah se organisasie lojaal in gedagte
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • “Gaan uit haar uit, my volk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die onheil wat alle godsdiensbeoefenaars van die wêreld in die gesig staar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onveilige “Babilon” is tot vernietiging gedoem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 18 bl. 144-151

Hoofstuk 18

Lojaliteit teenoor God se hedendaagse sigbare organisasie

1, 2. Hoe moet die teks in Psalm 50:5 verstaan word?

IN PSALM 16:10 (NW) staan daar geskrywe: “U sal my siel in Sjeool nie verlaat nie. U sal nie toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is die kuil sien nie.” En in Psalm 50:5 (NW) staan daar geskrywe: “Versamel my lojale dienaars vir my, die wat my verbond oor die offer sluit.” Is diegene wat Jehovah se verbond sluit die persone wat die “offer” voorsien? Nee, hierdie lojale persone bring nie ’n individuele “offer” van hulself en lê nie hulle vleeslike liggame af om ’n verdrag met God te sluit nie.

2 Hoe word die verbond dan gesluit? Oor die “offer” van die ‘lojale’ persoon wie se siel nie in Sjeool gelaat is nie, maar wat uit die dode opgewek is. Die apostel Petrus het die woorde van Psalm 16:10 op Jesus Christus toegepas en toe gesê: “Omdat hy [Dawid] dit vooruit gesien het, [het hy] gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk [“Hades”, NW] verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek.”—Handelinge 2:25, 27, 31, 32.

3. Wie is diegene wat vergader word kragtens die bevel in Psalm 50:5, en waarom moet hulle beweeg word om lojaal teenoor God te bly?

3 Hierdie verrese Jesus is die Middelaar van die nuwe verbond, en dit is op grond van sy offer dat die nuwe verbond geldig verklaar word (Hebreërs 9:15, 17). Wie is dus diegene wat vergader moet word kragtens die bevel in Psalm 50:5? Dit is Jesus se dissipels wat in die nuwe verbond is op grond van sy offer. Uit dankbaarheid teenoor Jehovah vir hierdie onvergelyklike offer moet hulle beweeg word om lojaal teenoor hom te wees.

4, 5. (a) Hoeveel welslae het Satan die Duiwel gedurende die Eerste Wêreldoorlog behaal met sy pogings om Jehovah se sigbare organisasie te vernietig? (b) Waarheen is die Genootskap se hoofkwartier verskuif, en waarom? (c) Wat was die emosionele toestand of gemoedsgesteldheid van die lojale oorblyfsel toe hulle, in ’n hedendaagse parallel van Psalm 137:1, die verlamde toestand van God se organisasie aanskou het?

4 Toe Jehovah se Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig is, het die nasies hulle daadwerklik teen daardie Koninkryk verset deur aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem, en God het dit toegelaat (Psalm 2:1, 2). Satan die Duiwel het daardie wêreldbotsing probeer gebruik om die sigbare deel van Jehovah se organisasie te vernietig. Hy het daarin geslaag om die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, te laat opsluit. Sewe ander verteenwoordigers van die Genootskap is saam met hom opgesluit.

5 As gevolg van vervolging is die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, verskuif na ’n gehuurde gebou in Pittsburgh, Pennsilvanië. Dit is gedoen om voort te gaan met die publikasie van die tydskrif The Watch Tower. Daar is verwag dat die getroues kort daarna in die hemel verheerlik sou word. Maar die lede van die oorblyfsel het lus gevoel om te ween wanneer hulle die verdrukte, verlamde toestand van Jehovah se organisasie aanskou het.—Psalm 137:1.

Lojaliteit gedurende gevangenskap

6-8. Hoe het die Genootskap se president, J. F. Rutherford, gedurende sy gevangenskap lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie getoon?

6 Die president van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, se lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie gedurende sy gevangenskap blyk uit ’n spesiale brief wat hy op 25 Desember 1918 aan J. A. Bohnet, ’n vertroude mededienskneg van Jehovah, geskryf het. Dit was aan hom gerig per adres die Genootskap se kantoor in Pittsburgh. Rutherford het die volgende geskryf:

7 “Omdat ek geweier het om ’n kompromis met Babilon aan te gaan, maar getrou geprobeer het om my Here te dien, is ek in die tronk, en ek is dankbaar daaroor. . . . Ek wil veel eerder Sy goedkeuring en glimlag hê en in die tronk sit as om ’n kompromis met die Dier aan te gaan of daarvoor te swig en vry te wees en deur die hele wêreld toegejuig te word. Dit is ’n salige, soete ondervinding om te ly as gevolg van getroue diens aan die Here. In die Koninkryk sal ons die Vader se glimlag meer as alle ander dinge waardeer. Dit moet heel voor in die gedagte van elke kind van God wees. Ons smag na die vereniging wat ons daar Een sal maak. Ek is gelukkig, en tog verlang ek daarna om julle almal weer te sien. Die byeenkoms en jaarvergadering kom nader. Mag die gees van Christus die hart van elke aanwesige vervul . . .

8 “Daar is nog baie werk. Dit sal ’n groot voorreg wees om daaraan deel te neem. Net diegene wat Hom bo alles liefhet, is getrou en sal hierdie eer geniet. . . . Voor daardie heuglike dag moet ’n kragtige getuienis gelewer word. . . . Metodes en middele van die verlede sal nie aan die vereistes voldoen nie, maar die Here sal op Sy eie manier voorsien. . . . Ek is bly dat hierdie tronkervaring vir ons eerder as vir broer Russell bewaar is. Nog nooit tevore het ek ongeregtigheid so volkome gehaat en geregtigheid so liefgehad en so ’n begeerte gehad om ander te help nie . . . Sion se triomf is ophande.”

God se organisasie hulle “hoogste vreugde”

9. Watter gesindheid van die psalmis het die ingekerkerde verteenwoordigers van die Genootskap weerspieël?

9 Hoewel Jehovah se knegte in die wêreld as dislojaal, verraaiers en onpatrioties uitgeskel is, het hulle nie Jehovah se organisasie verloën nie. Hulle het geweier om onder daardie druk ’n kompromis aan te gaan. Hulle sou eerder die gebruik van hulle regterhand of hul stem verloor as om God se organisasie te vergeet sodat dit nie langer hulle “hoogste vreugde” was nie.—Psalm 137:5, 6.

10, 11. (a) Waarvoor het die lojale oorblyfsel gebid, en watter woorde van die psalmis in verband met Edom het hulle hulle eie gemaak? (b) Waarin het die vyande van Jehovah se sigbare organisasie geslaag, en wat het sulke vyande nooit verwag nie?

10 Jehovah se vyande het hulle kwaadwillig verheug oor die optrede teen die aardse verteenwoordigers van sy universele organisasie. Maar Jehovah se knegte het gebid dat sy dag van wraak moes aanbreek vanweë al hierdie beledigings wat sy organisasie moes verduur. Hulle het die woorde wat die psalmis in verband met eertydse Edom geuiter het hul eie gemaak: “HERE, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!” (Psalm 137:7; Galasiërs 4:26). Ja-nee, Jehovah het sy gemalin-organisasie te lief om te vergeet wat die lede van die Duiwel se organisasie die lojale lede van sy aardse organisasie toevoeg en aandoen.

11 Sulke politieke ondersteuners van Babilon die Grote het Jehovah se sigbare organisasie destyds oënskynlik “tot op die grond” afgebreek. Hulle het nooit verwag dat dit uit die stof sou verrys tot die wêreldwye organisasie wat dit vandag is nie.

Die geluk van sy wreker

12. (a) Wie was die bevryder van Jehovah se gevange volk in eertydse Babilon, en is dit van hom dat Psalm 137:8, 9 in die volste sin praat? (b) Wat het hierdie verse oor die wreker van God se aardse organisasie voorspel?

12 Jehovah het die Persiese heerser Kores gebruik om sy volk van die eertydse wêreldmoondheid Babilon te bevry. Maar in die volste sin was Kores nie die een van wie daar gepraat word in die slotwoorde van Psalm 137, wat op Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, sien nie: “o Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!”—Psalm 137:8, 9.

13, 14. Waarom kan die ‘gelukkige’ van Psalm 137:8, 9 nie betrekking hê op die politieke magte wat Babilon die Grote vernietig nie?

13 Wie sal daardie ‘gelukkige’ wees? Staan die ‘gelukkige’ vir die simboliese “tien horings” op die kop van die “dier”, waarop die ou hoeragtige godsdiensstelsel al so lank met soveel vertoon ry? Nee, want die politieke vernietigers van die wêreldryk van valse godsdiens vernietig haar nie om die weg vir die rein aanbidding van die ware God te baan nie. Hulle doen dit nie tot die eer van die God van die Bybel nie. Hoe kan sulkes dan werklik die ‘gelukkige’ wees waarvan die psalmis gepraat het?

14 Die politieke magte van hierdie wêreld verrig nie hierdie antigodsdienstige werk uit liefde vir Jehovah se aanbidders nie. Waarom nie? Omdat Jehovah se Getuies in die weg sal staan van hulle pogings om ’n uitsluitlik godlose wêreld te skep. Die politieke magte is gevolglik bloot die instrumente wat deur die God van die Getuies gebruik word om sy voorneme te volbring.—Openbaring 17:17.

15. Wie beweeg in werklikheid die politieke magte, en deur wie?

15 Hoewel hierdie politieke magte regstreeks gebruik word om die wêreldryk van valse godsdiens uit te wis, is dit in werklikheid Jehovah God wat hulle beweeg om dit te doen. Hoe? Hy gebruik sy gevolmagtigde koninklike Seun, die Grotere Kores, Jesus Christus. Jesus Christus in Koninkryksmag is dus die ‘gelukkige’ wat deur die psalmis voorspel is!

16. Hoe vernietig Jehovah Babilon se “kinders”?

16 Terwyl Jehovah sy lojale diensknegte gaan bewaar, sal hy in ’n figuurlike sin elk van die godsdienstige “kinders” van die hoeragtige stelsel van valse leer gryp en hulle verpletter teen dit wat soos ’n “rots” opdoem—die onversetlike Koninkryk van Jehovah God in die hande van Jesus Christus.

17. (a) Wat moes Jesus, volgens Jesaja 61:1, 2, uitroep nadat hy met God se gees gesalf is? (b) Hoe word hierdie boodskap vandag uitgeroep?

17 Toe Jesus op aarde was, is hy met die gees van sy goddelike Ondersteuner gesalf nie net om “’n jaar van die welbehae van die HERE” uit te roep nie, maar ook om die “dag van die wraak van onse God” uit te roep (Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-21). In ons dag, gedurende “die laaste dae” van hierdie stelsel, laat Jehovah sy getroue knegte die “dag van die wraak van onse God” in die hele bewoonde aarde verkondig as ’n waarskuwing aan al die nasies. ’n Groeiende “groot menigte” sagmoedige dissipels van Jesus Christus verkondig nou hierdie boodskap saam met die oorblyfsel, soos afgebeeld in die gesig in Openbaring 7:9-17.

18. In watter geluk sal Jehovah se lojale diensknegte deel?

18 Hulle almal, die oorblyfsel en die “groot menigte”, het ag geslaan op die engel se bevel in Openbaring 18:4. Hulle het uit Babilon die Grote uitgegaan. Waarom is sulke optrede dringend? Omdat hulle uit Babilon die Grote moet vlug voordat haar godsdienstige “kinders” net voor Armageddon deur die “dier” en sy “tien horings” verpletter en verlate gemaak word. Hierdie lojale persone sal deel in die geluk van die Grotere Kores, Jesus Christus. Hulle sal saam met die hemele sê: “Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het.”—Openbaring 19:1, 2; vergelyk Jeremia 51:8-11.

19. Watter geluk smaak die lojale oorblyfsel nou, en watter groter geluk wag op hulle?

19 Sedert 1919 het Jehovah “groot dinge” aan sy volk gedoen (Psalm 126:1-3). Die bevryde oorblyfsel is nog steeds innig bly oor hierdie verheerliking van sy bevrydingskrag wat toon dat hy “die getroue God” is (Deuteronomium 7:9). Hulle is sielsgelukkig, maar die groter geluk wag nog op hulle. Dit sal wees wanneer hulle kan deel in die geluk van die Grotere Kores, die heersende Monarg, Jesus Christus, wanneer hy al die “kinders” van daardie duiwelse organisasie verpletter.

20. Wie anders deel in die geluk van die gesalfde oorblyfsel, en waarom?

20 Miljoene voormalige “gevangenes” van Babilon die Grote is reeds gehelp om voor haar gewelddadige vernietiging uit daardie verdoemde godsdiensorganisasie te vlug. Die gevolg is die “groot menigte” “ander skape”. Daar is nou meer as 3 000 000 van hulle dwarsoor die aarde, met geen perk op die getal wat nog van die vernietiging van die wêreldryk van valse godsdiens gered moet word nie. Vanweë lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie deel hulle in die geluk van die oorblyfsel deur saam met hulle Jehovah se dag van wraak op godsdienstige Babilon die Grote uit te roep.

21. Wat moet ons gesindheid teenoor Babilon die Grote en haar gevangenes wees?

21 Laat daar dus geen kompromis met daardie wêreldryk van valse godsdiens aangegaan word nie. Laat niemand na haar terugkeer in hierdie dae van haar agteruitgang nie. Laat ons voortgaan om soveel gevangenes van Babilon die Grote moontlik te help om uit daardie gedoemde stelsel uit te gaan voordat die Grotere Kores sy verblydende oorwinning behaal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel