Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jehovah het “selfs die hare op julle kop” getel
    Die Wagtoring – 2005 | Augustus 1
    • “Sit tog my trane in u leersak”

      12. Hoe weet ons dat Jehovah ten volle bewus is van die teëspoed wat sy knegte ondervind?

      12 Jehovah ken nie net sy knegte as individue nie, maar hy is ook ten volle bewus van die teëspoed wat elkeen ondervind. Toe die Israeliete byvoorbeeld as slawe onderdruk is, het Jehovah vir Moses gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Dit is inderdaad vertroostend om te besef dat Jehovah sien wat gebeur wanneer ons ’n beproewing verduur en ons geroep hoor! Hy staan beslis nie onverskillig teenoor ons lyding nie.

      13. Wat toon dat Jehovah werklik medelye met sy knegte het?

      13 Jehovah se besorgdheid oor diegene wat ’n verhouding met hom aangeknoop het, kan verder gesien word in sy gevoelens teenoor die Israeliete. Al was hulle lyding dikwels die gevolg van hulle eie hardkoppigheid, het Jesaja aangaande Jehovah geskryf: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). As ’n getroue kneg van Jehovah kan jy dus seker wees dat Jehovah pyn ervaar wanneer jy bedroef is. Spoor dit jou nie aan om teëspoed vreesloos die hoof te bied en voort te gaan om jou bes te doen om hom te dien nie?—1 Petrus 5:6, 7.

      14. Onder watter omstandighede is Psalm 56 geskryf?

      14 Koning Dawid se oortuiging dat Jehovah besorg was oor hom en medelye met hom gehad het, kom duidelik na vore in Psalm 56, wat Dawid geskryf het terwyl hy vir die moorddadige koning Saul gevlug het. Dawid het na Gat ontsnap, maar toe die Filistyne hom herken het, was hy bang dat hy gevange geneem sou word. Hy het geskryf: “My vyande het die hele dag bly hap, want daar is baie wat hooghartig teen my oorlog voer.” Omdat hy hom in ’n gevaarlike situasie bevind het, het Dawid hom tot Jehovah gewend. “Die hele dag bly hulle my persoonlike sake benadeel”, het hy gesê. “Al hulle gedagtes is teen my om kwaad te doen.”—Psalm 56:2, 5.

      15. (a) Wat het Dawid bedoel toe hy Jehovah gevra het om sy trane in ’n leersak te sit of in ’n boek op te teken? (b) Waarvan kan ons seker wees wanneer ons ’n geloofbeproewende situasie verduur?

      15 Toe het Dawid, soos in Psalm 56:8 opgeteken is, hierdie interessante stellings gemaak: “Dat ek ’n vlugteling is, het u neergeskryf. Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” Wat ’n roerende beskrywing van Jehovah se tere besorgdheid! Wanneer ons onder druk is, kan ons met trane tot Jehovah uitroep. Selfs die volmaakte man Jesus het dit gedoen (Hebreërs 5:7). Dawid was daarvan oortuig dat Jehovah hom raakgesien het en sy lyding sou onthou, asof Hy sy trane in ’n leersak sou bewaar of hulle in ’n boek sou opteken.d Dalk voel dit vir jou of jou trane daardie leersak redelik vol sal maak of baie bladsye van so ’n boek sal vul. As dit die geval is, kan jy moed skep. Die Bybel verseker ons: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

  • Jehovah het “selfs die hare op julle kop” getel
    Die Wagtoring – 2005 | Augustus 1
    • d In die ou tyd is leersakke van die gelooide velle van skape, bokke en beeste gemaak. Sulke sakke is gebruik vir melk, botter, kaas of water. Sakke wat ’n deegliker looiproses ondergaan het, kon vir olie of wyn gebruik word.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel