-
Die grootste kindergeboorte op aarde is ’n voorspel tot wêreldwye veiligheidDie Wagtoring – 1987 | April 1
-
-
Die grootste kindergeboorte op aarde is ’n voorspel tot wêreldwye veiligheid
“’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem; Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.”—JESAJA 9:5.
1. Onder wie is wêreldwye veiligheid wis en seker, en hoe weet ons dit?
WÊRELDWYE veiligheid! Onder “die vors van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, is dit ’n vergeefse droom (Johannes 12:31, Katolieke Nuwe Testament). Maar wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, Jesus Christus, is wis en seker. Jehovah verseker ons hiervan in die profesie oor die geboorte en loopbaan van die “Vredevors”. In Jesaja 9:5, 6 lees ons: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”
2. (a) Onder watter omstandighede is die profesie in Jesaja 9:5, 6 gegee? (b) Hoe weet ons dat Jehovah onfeilbaar getrou gaan bly aan die verbond wat hy met Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk in sy geslag?
2 Wat ’n wonderlike profesie tog! Dit sal aangrypend wees om hierdie profesie oor die grootste kindergeboorte op aarde te ondersoek. Maar voordat ons dit ten volle kan waardeer, moet ons eers kyk na die omstandighede waaronder die profesie gegee is. Dit was ’n tyd van internasionale sameswerings in die dae van die koninkryk van Juda onder koning Agas. Hoewel daardie koning ontrou teenoor Jehovah was, is hy toegelaat om op Jehovah se troon te sit. Hierdie verdraagsaamheid teenoor hom is betoon vanweë die verbond wat Jehovah met Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk in sy geslag. Hoewel Dawid die voorreg ontsê is om ’n tempel vir Jehovah te bou, het God hom ’n alternatiewe seën gegee. Dit is uiteengesit in die woorde van die profeet Natan: “En die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou ’n huis sal stig. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:11, 16). Daardie goddelike belofte het koning Dawid so bevredig dat hy uitgesien het na die heerlike vervulling daarvan.
3. (a) Deur wie word daardie verbond met Dawid vervul, en in watter sin was daardie verbond uniek? (b) Wat het die Duiwel hom ten doel gestel wat die Koninkryksverbond betref?
3 Daardie verbond met Dawid word vervul deur die groot Seun van Dawid, Jesus Christus, die “Vredevors”. Geen ander dinastie op die ganse aarde het ooit so ’n verbond vir ’n koninkryk waar daar geen einde aan die oorvloed van heerskappy en geen einde aan die vrede sal wees, geniet nie. Maar daardie Koninkryksverbond het ’n uitdaging gebied aan al die koninkryke van die wêreld waarvan Satan die vors of die heerser is. Die Duiwel en sy demone het hulle dit dus ten doel gestel om die huis van Dawid te vernietig en sodoende die moontlikheid dat dit ’n permanente erfgenaam sal hê uit te skakel. Satan het gevind dat koning Resin van Sirië, koning Peka van die tienstammeryk van Israel en die koning van Assirië gewillige instrumente was.
Sameswering teen die Koninkryksverbond
4. Hoe het die Duiwel te werk gegaan om ’n einde te maak aan die ontplooiing van Jehovah se Koninkryksverbond wat met Dawid gesluit is?
4 Wat was die Duiwel se plan? Sy doel was om koning Agas van Juda te dwing om uit vrees ’n onbehoorlike verbond met die koning van Assirië te sluit. Hoe kon die Duiwel dit doen? Wel, hy het koning Peka van Israel en koning Resin van Sirië ’n sameswering teen die huis van Dawid laat smee. Hulle het saamgesweer om Agas van die troon van Juda af te sit om hulle eie man, die seun van Tabeal, as skynkoning op die troon te plaas. Wie was hierdie seun van Tabeal? Dit is betekenisvol dat hy nie ’n afstammeling van Dawid se huis was nie. Hy was gevolglik nie ’n man deur wie God se verbond vir die Koninkryk oorgedra kon word totdat die permanente Erfgenaam, naamlik die “Vredevors”, verskyn het nie. Hy sou hulle man, nie God se man nie, op die troon van Juda wees. Die Bybel stel dus Satan se poging aan die kaak om ’n einde te maak aan die ontplooiing van Jehovah se Koninkryksverbond wat met Dawid gesluit is.
5, 6. Hoe het koning Agas gereageer op die sameswering teen die huis van Dawid, en watter bemoedigende boodskap het Jehovah hom gegee?
5 Hoe het koning Agas op die bedreiging gereageer? Hy en sy volk het van vrees gebewe. Jehovah het dus bemoedigende inligting aan hom gegee om te voorkom dat hy ’n verbond om beskerming met die koning van die opkomende wêreldmoondheid, Assirië, sluit. Jehovah het sy profeet Jesaja gestuur om Agas tegemoet te gaan en hierdie boodskap in Jesaja 7:4-9 oor te dra:
6 “Wees nie bevrees . . . omdat Aram onheil teen jou besluit het [nie], Efraim [die vernaamste lid van die koninkryk van Israel] en die seun van Remalia [Peka], deur te sê: Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tabeal daaroor koning maak. So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie. . . . As julle nie glo nie—voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!”
’n Teken van die sameswering se mislukking
7. (a) Wat het gelei tot die merkwaardige profesie in Jesaja 7:14? (b) Waarvan was die geboorte van Immanuel ’n betroubare teken, en as wat sou Jesaja se seuns dien?
7 Jehovah het aldus die omverwerping van die samesweerders voorspel. Toe het die tyd aangebreek vir ’n goddelike profesie van kardinale belang, want dit het gewys op die koninklike Erfgenaam van die Koninkryksverbond met Dawid. Maar wat het tot daardie merkwaardige profesie aanleiding gegee? Wel, Jehovah het met koning Agas gepraat. Hy het vir Agas gesê om enige wonderdadige teken waaraan hy kon dink te vra, en dan sou Jehovah dit doen as ’n absolute waarborg dat God die sameswering teen die huis van Dawid sou verpletter. Maar Agas het nie so ’n teken gevra nie. Wat het toe gebeur? Jesaja 7:14 deel ons mee: “Daarom sal die HERE self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immanuel noem.” Daardie naam beteken “God met ons”. Aangesien Immanuel en Jesaja se twee ander seuns as tekens sou dien, het die profeet in Jesaja 8:18 gesê: “Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare.” Die geboorte van Immanuel was dus ’n betroubare teken dat al die samesweerders en hulle sameswerings teen God se Koninkryksverbond en die Erfgenaam daarvan verydel sou word!
8. (a) Wat het die profesie in Jesaja 7:15, 16 oor die seun Immanuel gesê, en wat was die uitslag? (b) Wat is moontlik die rede waarom die identiteit van Immanuel in die dae van Jesaja steeds onseker is?
8 Die Bybelverhaal sê nie wie die lewe geskenk het aan die seun genaamd Immanuel nie. Dit was moontlik ’n Joodse maagd wat die profeet Jesaja se tweede vrou geword het. In elk geval, die profesie het voorts gesê dat die twee konings wat teen die huis van Dawid saamgesweer het ’n rampspoedige einde sou hê voordat die seun oud genoeg sou wees om tussen goed en kwaad te onderskei (Jesaja 7:15, 16). Dit was die geval. Die rede waarom die identiteit van Immanuel in die dae van Jesaja onseker is, is dalk sodat latere geslagte se aandag nie van die Groter Immanuel afgelei word wanneer hy as ’n wonderdadige teken uit die hemel sou verskyn nie.
9. (a) Wat het die vervulling van die teken en die verydeling van die sameswering teen die Koninkryksverbond gewaarborg? (b) Wat is die grootste wêreldsameswering van alle tye?
9 In die dae van Agas was daar natuurlik slegs ’n kleinskaalse vervulling van die teken en van die verydeling van die wêreldse sameswering teen God se Koninkryksverbond. Maar daardie eerste vervulling het gewaarborg dat die teken en die verydeling van wêreldsameswering in ons kritieke tyd op groot skaal vervul sou word. Ons staan vandag voor die grootste wêreldsameswering van alle tye. In watter sin? In die sin dat die nasies Jehovah se reëling om blywende vrede te bring heeltemal ignoreer en selfs die verteenwoordigers van die “Vredevors” teenstaan. Die sameswering is in werklikheid teen die Erfgenaam van die Koninkryksverbond, die “Vredevors”. Maar wat nou van die volledige vervulling van die profesie? As ons die teken onderskei, sal ons besef dat die lot van hierdie wêreldsameswering ’n uitgemaakte saak is.
Die geboorte van die “Vredevors”
10. (a) Wie het die kind, in die volledige vervulling van Jesaja 7:14, as die teken en Erfgenaam van die Koninkryksverbond voortgebring? (b) Hoe verbind die geskiedskrywer Mattheüs die lmmanuel-teken met die huis van Dawid?
10 In die profesie se volledige vervulling was die maagd wat die kind voortgebring het as die teken en Erfgenaam van die Koninkryksverbond Maria, ’n Joodse maagd wat van koning Dawid afgestam het. Die engel Gabriël het haar meegedeel dat sy die lewe sou skenk aan ’n seun wat Jesus genoem sou word, dat Jehovah God “aan Hom die troon van sy vader Dawid [sou] gee” en dat daar “aan sy koninkryk . . . geen einde [sou] wees nie” (Lukas 1:26-33). Die geïnspireerde geskiedskrywer Mattheüs verbind die Immanuel-teken met die huis van Dawid. Ons lees in Mattheüs 1:20-23: “Maar terwyl hy [Josef] dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
11. Wanneer en waar het die voorspelde geboorte van Immanuel plaasgevind?
11 Wanneer en waar het hierdie voorspelde geboorte van Immanuel plaasgevind? Alle Joodse oë is op die regte plek gevestig deur die woorde van Miga 5:1, wat in Mattheüs 2:6 aangehaal word: “En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” Dit was in die jaar 2 v.G.J. in die stad Betlehem dat die “Vredevors” gebore is en die aangrypende profesie van Jesaja 9:5, 6 in vervulling begin gaan het.
12, 13. Wie is deur die geboorte van die “Vredevors” tot groot eer gestrek, en watter heerlike en skitterende aspekte het hierdie geboorte gehad?
12 Vir wie van ons sou dit nie ’n eer en ’n vreugde wees om die ouer te word van die een wat die titel “Vredevors” sou dra nie? Dit het gevolglik groot heerlikheid vir die koninklike Vader van hierdie Vors beteken. Trouens, nog nooit, nee nooit tevore, het ’n menslike geboorte soveel heerlike en skitterende aspekte gehad nie.
13 Jehovah se stralende engel het verskyn aan herders wat in die nag in die velde buitekant Betlehem oor hulle kuddes wag gehou het en “die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn”. Die engel het toe die geboorte ter vervulling van goddelike profesie aangekondig en gesê: “Dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” Asof dit nie heerlik genoeg was nie, het ’n mag der menigte engele wat die Vader van die pasgebore kind loof in die hemel bo hulle verskyn en asof met een stem gesê: “Glorie in die hoogste hemele aan God, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.” Hoe gepas was dit tog vir die engele om by die geboorte van die aangewese “Vredevors” aan te kondig dat daar goddelike vrede sou wees vir alle mense wat God se welwillendheid geniet!—Lukas 2:8-14, vgl. NW.
14, 15. (a) Oor watter gebeure het die hemelse seuns van God Jehovah geloof? (b) Waarom kon geen ander kindergeboorte in die ganse mensegeskiedenis met hierdie een vergelyk nie?
14 Lank voor die geboorte van die een wat die “Vredevors” sou wees, het die engele God by ’n spesiale geleentheid geloof. Dit was toe hy, tydens die skepping, die aarde gegrond het (Job 38:4). Het jy al foto’s van ons aarde gesien wat deur ruimtevaarders vanuit die buitenste ruimte geneem is? Dan het jy gesien wat slegs die engele tot onlangs gesien het. En hoe het die engele destyds gereageer? Job 38:7 deel ons mee dat “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het”.
15 Die grootste geboorte waarmee die aarde ooit vereer is, sou eweseer ’n gebeurtenis wees waaroor die seuns van God hulle melodiese stemme in ’n loflied sou verenig. Net soos ’n aardse vader by die geboorte van sy eersgebore seun gelukgewens word, verdien die hemelse Vader wat verantwoordelik is vir die grootste geboorte wat ooit op aarde plaasgevind het om in sang verheerlik te word deur lede van sy hemelse gesin. Hoe moes die goddelike Wese tog nie daardie asemrowend mooi konsert geniet het toe hy die eerste keer in heeltemal nuwe omstandighede vader geword het nie! Nog nooit tevore in die ganse geskiedenis van die heelal was daar ’n kindergeboorte wat kon vergelyk met dié van die aangewese “Vredevors” nie.
“’n Groot lig” skyn
16. Wanneer en hoe was daar ’n verdere vervulling van Jesaja hoofstuk 9?
16 Toe Jesus met sy openbare bediening begin het, was daar ’n verdere vervulling van Jesaja hoofstuk 9 NW. Dit het verband gehou met die eerste vers van daardie hoofstuk wat voorspel het dat “’n groot lig” sou skyn op mense “wat in duisternis wandel”. Die vervulling van Jesaja 8:23 en 9:1 word vir ons verklaar deur die geïnspireerde geskiedskrywer Mattheüs in hoofstuk 4, vers 13 tot 17: “En Hy [Jesus] het Nasaret verlaat en gaan woon in Kapernaüm aan die see, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sebulon en die land Naftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene—die volk wat in duisternis sit, het ’n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ’n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
17 Sebulon en Naftali het in die noordelikste deel van Israel gelê en die gebied van Galilea ingesluit. Die hele westelike kus van die See van Galilea het aan Naftali gegrens. Dit was dus deur die goeie nuus van God se Koninkryk in daardie gebiede te verkondig dat Jesus en sy dissipels lig laat skyn het vir die mense wat so lank in duisternis gesit het. Jesus het in Johannes 8:12 gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Deur middel van Jesus is “die wat sit in die land en skaduwee van die dood” in staat gestel om “die lig van die lewe” te hê omdat hy sy lewe “as ’n losprys vir baie” gegee het. Hy is die een wat deur Jehovah gebruik is om lig te werp op die manier waarop mense die lewe kan verkry.—Mattheüs 4:23; 20:28.
18 Hierdie “groot lig” wat verlossing van die dood en verdrukking beloof het, was nie tot die mense van Galilea beperk nie. Het Jesaja dan nie voorspel dat die regering se oorvloed geen einde sou hê nie? En het Jesaja nie voorspel dat die rol van die “Vredevors” ’n geweldige sou wees nie? Ja, want Jesaja 9:5, 6 sê: “Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.” In die volgende artikel sal ons Jesus Christus se rol as “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader” en “Vredevors” bespreek.
-
-
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”Die Wagtoring – 1987 | April 1
-
-
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
“Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—JESAJA 9:6.
1, 2. (a) Waarvoor sou die geboorte van God se Koninkryk ’n geleentheid wees, en wanneer het hierdie geboorte plaasgevind? (b) Wat dra die handves van die Verenigde Volke aan daardie organisasie op, maar wat het die Koninkryksverbond aan Jesus Christus opgedra? (c) Hoe weet ons dat Jehovah onfeilbaar aan die Koninkryksverbond getrou sal bly?
NET soos die geboorte van Jesus, die volmaakte manlike kind, ’n geleentheid van buitengewone vreugde was, sou die geboorte van sy langbeloofde Koninkryk ’n geleentheid van baie groot vreugde wees (Psalm 96:10-12). Volgens die feite van die eietydse geskiedenis is daardie regering in 1914 op die skouer van die verheerlikte Jesus geplaas. Die bestaan van die Verenigde Volke-organisasie vandag loënstraf nie daardie feit nie. Nie een van die heersers van die 159 lede van die VV behoort tot die huis van Dawid nie. Die handves van daardie wêreldsameswering dra die taak om wêreldwye vrede en veiligheid vir die mensdom te bewerkstellig nietemin aan hulle op.
2 Maar Jehovah se verbond vir die Koninkryk is nog nooit gekanselleer nie. In Jesaja 9:6 bevestig die uitdrukking “op die troon van Dawid” die verbond wat God met Dawid gesluit het vir ’n ewige koninkryk. Jehovah het daarbenewens gesweer dat dit met welslae deurgevoer sou word. Dat Jehovah aan hierdie verbond getrou gaan bly, is duidelik gestel in Psalm 89:4, 5, 36, 37: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene, met ’n eed aan Dawid, my kneg, belowe: Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.” Daardie verbond, asook die titel “Vredevors”, dra die taak om wêreldwye veiligheid te bring aan Jesus Christus op.
3. Waarom was die tyd toe die “Vredevors” moes begin heers nie ’n tyd van vrede vir die hemel of vir die aarde nie?
3 Maar die tyd wanneer Jehovah God die regering op die skouer van sy Kroonprins sou plaas, sou nie ’n jaar van vrede in die hemel daarbo of op die aarde hieronder wees nie. Volgens Openbaring hoofstuk 12 sou die geboorte van sy Koninkryk deur oorlog in die hemel gevolg word. Satan die Duiwel en sy demone het teen die pas opgerigte regering geveg, en die pas gekroonde Koning en sy heilige engele het teen daardie demonmagte geveg. Die gevolg was dat Satan en sy demone uit die hemele na die omgewing van ons aarde neergewerp is. Die uitroep het gevolglik weerklink: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Sedert die Duiwel verneder is, het ons aarde ongelukkig die toneel van ongeëwenaarde geweld en oorlog geword. Hoe het die mensdom tog nie die bewind van die “Vredevors” nodig nie, want dit sal wêreldwye veiligheid meebring!
4. Waarom moet die titel “Sterke God” nie met almagtige God verwar word nie?
4 Volgens Jesaja 9:5 sal ander titels benewens “Vredevors” by die heerlike naam van Jesus Christus gevoeg word. Een van hierdie titels sou “Sterke God” wees. Hy sou nie almagtige God genoem word asof hy ’n gelykwaardige lid van ’n drie-eenheid van gode is nie. Selfs op die dag van sy opstanding het hy dit bekend gemaak dat hy steeds ondergeskik aan Jehovah is. Hy het aan Maria Magdalena verskyn en haar gestuur om vir sy bekommerde dissipels te sê dat hy terugkeer na hulle Vader en sy Vader en na hulle God en sy God (Johannes 20:17). Reg tot vandag toe gaan hy die hele skepping voor in die aanbidding van die “God van die gode”, Jehovah (Daniël 11:36). Ja, Jesus Christus het ’n God, en daardie God is nie Jesus self nie, maar die hemelse Vader Jehovah. Op watter wonderlike wyse is die “Vredevors” tog die voorloper van blywende vrede en veiligheid vir die ganse heelal!
5. Waarom is Jesus Christus hoogs bekwaam om alle intelligente skepsele in die aanbidding van die ware en lewende God, Jehovah, te lei?
5 Tot in alle ewigheid sal die verheerlikte Seun van God voortgaan om alle intelligente skepsele in die aanbidding van hierdie een en ware, lewende Godheid, Jehovah, te lei. Die verhewe Seun van God is by uitstek bekwaam om dit te doen. Van alle skepsele in die hemel en op aarde is die verheerlikte Seun van God die een wat Jehovah die langste en ook die intiemste ken. In 1 Korinthiërs 2:11 sê die apostel Paulus: “Wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” So is dit ook in die geval van Jesus Christus. Hoewel hy tydens die skepping van die mens deur Jehovah God gebruik is, was dit vir hom iets anders om inderdaad self ’n mens te word, om deur al die aardse omstandighede omring te word en persoonlik die gevoelens van ’n mens te ervaar. Daarom staan daar geskrywe: “Al was Hy die Seun, het [Hy] gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” as ’n man hier op aarde (Hebreërs 5:8). Hy het voorwaar bewys dat “alle mag in die hemel en op aarde” met veiligheid aan hom toevertrou kon word en dat hy waardig is om die titel “Sterke God” te hê.—Mattheüs 28:18; vergelyk Filippense 2:5-11.
‘Wonderbare Raadsman’ en “Ewige Vader”
6. Hoe dien Jesus Christus as ‘wonderbare Raadsman’, en hoe vind die “groot menigte” by sy wonderbare raad baat?
6 Om al hierdie kragtige redes is God se hemelse Vors ten volle in staat om vir die mensdom ’n ‘wonderbare Raadsman’ te wees (Jesaja 9:5). Sy raad is altyd wys, volmaak en onfeilbaar. As die Middelaar tussen Jehovah God en diegene met wie die nuwe verbond gesluit is, was hy die afgelope 19 eeue inderdaad ’n wonderbare raadsman. Nou, sedert 1935, ontvang “’n groot menigte” van sy “ander skape” ook sy wonderbare raad en geniet hulle die beste onderrig en leiding (Openbaring 7:9-17; Johannes 10:16). As ’n instrument in hierdie raadgewingswerk het hy in hierdie “voleinding van die wêreld” die beloofde “getroue en verstandige dienskneg”-klas verwek en dit oor al sy aardse besittings of koninklike belange aangestel (Mattheüs 24:3, 45-47; Lukas 12:42-44). Die “groot menigte” ontvang nou geestelike raad wat inderdaad wonderbaar en betroubaar is omdat dit op die geopenbaarde Woord van God gebaseer is.
7. Waarom is Satan die Duiwel nie meer ’n sterke god vir Jehovah se volk nie?
7 Omdat ons daardie raad toepas, is Satan die Duiwel, “die god van hierdie wêreld”, nie meer ’n sterke god vir ons as Jehovah se volk nie (2 Korinthiërs 4:4). Ons het gehoorsaam uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gekom en het nie langer gemeenskap met haar bose sondes nie. Ons het ons standpunt onwrikbaar ingeneem aan die kant van die Een op wie se skouer Jehovah God Sy regering geplaas het.
8. (a) Waarom is die titel “Ewige Vader” veral vir die “groot menigte” aantreklik? (b) Wat gaan met diegene gebeur wat toelaat dat Satan die Duiwel hulle geestelike vader is?
8 “Ewige Vader” is ’n liefderyke titel. Die “groot menigte” “ander skape” waardeer hierdie term veral. Satan die Duiwel se vaderskap het hulle nie geval nie. Hulle sidder wanneer hulle dink aan die Joodse godsdiensleiers wat Jesus teengestaan het en vir wie hy gesê het: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Die “groot menigte” het uitgegaan onder daardie geestelike kinders van Satan die Duiwel, wie se vaderskap oor die sondige mensdom nie vir ewig sal duur nie. Diegene wat toelaat dat hy hulle geestelike vader is, sal saam met hom vergaan. Algehele vernietiging, wat afgebeeld word deur “die ewige vuur” van Mattheüs 25:41, wag op die Duiwel en alle mense wat nie onder sy vaderskap uitkom nie.—Mattheüs 25:41-46.
9. Hoe kry die “groot menigte” ’n voorsmaak van die vaderskap van die “Ewige Vader”?
9 Die “groot menigte” kry andersyds ’n voorsmaak van die vaderskap van die “Ewige Vader”.a Hoe? Deur na sy stem te luister en sy “ander skape” te word en deur om te gaan met die oorblyfsel van geestelike Israel. Hierdie hartlike gesinsverhouding getuig van vrede. Onder inspirasie het die apostel Paulus in Romeine 16:20 (NAV) van Jehovah gepraat as die “God wat vrede gee”. Hoe gepas dan dat sy eniggebore Seun die “Vredevors” genoem word! Deur die vrede in die ganse heelal te herstel, sal die “Vredevors” ongetwyfeld die betekenis van sy groot titel waardig wees.
Die koninklike regering van die “Vredevors”
10, 11. Wat het Jesaja gesê nadat hy die grootste kindergeboorte van alle tye voorspel het, en wat beteken sy woorde?
10 Nadat Jesaja die grootste geboorte van alle tye voorspel het—ja, dié van die Seun van God wat vereer sou word met die titel “Vredevors”—is die profeet deur Jehovah se gees gedrywe om te sê: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde . . . Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—Jesaja 9:6.
11 Met die woorde “tot vermeerdering van die heerskappy” toon die profesie dat die ryk van die “Vredevors” inderdaad die ganse aarde sal insluit. Daar sal geen grense op aarde wees wat sy domein beperk nie. Dit sal die hele aardbol oordek. Op die toekomstige paradysaarde sal daar daarbenewens geen einde aan vrede wees nie. Daar sal nêrens ooit weer oproere wees nie. Vrede sal oor die hele aarde strek en altyd oorvloedig wees (Psalm 72:7). In hierdie geval beteken vrede meer as die afwesigheid van geweld en oorlog. Dit sluit reg en geregtigheid in, want Jesaja het gesê dat die heerskappy onderskraag sou word “deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid”. Die mensdom sal ’n oorvloed seëninge geniet. En die onvermoeide ywer van Jehovah God sal dit in ons dag volbring.
12. Hoe word die regering op die skouer van die “Vredevors” dwarsoor die aarde verteenwoordig?
12 Hierdie regering op die skouer van die “Vredevors” word selfs nou dwarsoor die aarde verteenwoordig. Sy koninklike, hemelse regering word vinnig deur al hoe meer aanvaar. Die hele oorblyfsel van die geesverwekte dissipels van Jesus Christus is uit die nasies versamel. Daarbenewens word die “groot menigte” uit meer as 200 lande versamel. Daar is tans 3 229 022 getuies van Jehovah, en die vreugdevolle insamelingswerk is nog nie voltooi nie. Hierdie “groot menigte” juig die regering op die skouer van die “Vredevors” toe. Die lede daarvan is baie dankbaar dat hulle daardie regering oor hulle het en dat hulle die gesante daarvan oor die hele aarde kan wees, in samewerking met die “ambassadeurs . . . in die plek van Christus”, die gesalfde oorblyfsel.—2 Korinthiërs 5:20, NW.
Die hedendaagse sameswering sal verydel word
13. (a) Wat probeer die Koninkryksgesante onderling doen? (b) Hoe beskou God die Verenigde Volke?
13 Hierdie Koninkryksgesante bewaar ook die vrede onderling. Hulle ‘strewe ernstig om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede’ (Efesiërs 4:3). Hulle doen dit ondanks al die onrus wat vandag dwarsoor die aarde voorkom. Volksentiteite binne en buite die Verenigde Volke-organisasie is in werklikheid opgestel teen die regering van die “Vredevors”. In God se oë is die Verenigde Volke ’n kolossale wêreldsameswering. Waarom? Omdat dit verklaar dat dit sy oogmerk is om die doelwitte te bereik wat God bepaal het slegs sy “Vredevors” gaan bereik. En dit doen ’n beroep op die lede van alle nasies om hom te steun in sy strewe om wêreldwye veiligheid deur die mens se pogings te bewerkstellig. Dit het selfs 1986 as die “Internasionale Vredesjaar” uitgeroep. Dit blyk dus dat dit ’n sameswering teen die “Vredevors” en teen Jehovah se verbond met hom vir die ewige Koninkryk is.
14. Hoe het die profeet Jesaja almal wat teen Jehovah en sy Koninkryksverbond gekant is, gewaarsku?
14 Dit was om ’n soortgelyke rede dat die profeet Jesaja koning Agas en sy onderdane destyds gewaarsku het om nie vrede en veiligheid te soek deur ’n verbond met die Assiriëse Wêreldmoondheid te sluit nie. Ons tref die waarskuwing in Jesaja 8:9, 10 aan. In pragtige poëtiese taal waarsku die profeet almal wat teen Jehovah en sy Koninkryksverbond gekant is: “Maak geraas, o volke, en—stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en—stort inmekaar; gord julle en—stort inmekaar. Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!”
15. Wat gaan vandag met die sameswering teen die Koninkryksverbond gebeur, soos toegelig deur die sameswering in die dae van koning Agas?
15 Laat die nasies onder die vors van hierdie wêreld, Satan die Duiwel, maar saamsweer teen die Koninkryksverbond en sy vorstelike Erfgenaam en Heerser. Die sameswering sal verydel word, net soos die sameswering in die dae van koning Agas. Koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel het nie Jehovah van die leërskare gevrees nie, maar teen sy verbond vir die Koninkryk saamgesweer. Wel, hulle sameswering is verydel. Koning Agas van Juda het Jehovah eweneens nie gevrees nie maar hom in ’n sameswering met die wêreldmoondheid van Assirië begewe. Dit het Agas nie werklik gehelp nie en nie vir hom vrede en veiligheid gebring nie. Dit het benoudheid en gevangenskap meegebring. Maar die ergste van alles was dat Agas sodoende Jehovah se guns verbeur het.
16. Hoe het Jehovah die Assiriëse sameswering teen die Koninkryksverbond verbreek, en wat het dit vir ons dag afgeskadu?
16 Na Agas se dood en in die dae van sy seun Hiskia het Jehovah van die leërskare die Assiriëse sameswering teen die Koninkryksverbond verbreek. Die koning van Assirië is verplig om uit die land van Juda terug te trek nadat Jehovah se engel 185 000 van sy soldate uitgewis het. Die vyand het nie eens een pyl na die stad Jerusalem geskiet nie (Jesaja 37:33-36). ’n Soortgelyke verydeling van die hedendaagse wêreldsameswering teen Jehovah se Koninkryksverbond en “Vredevors” is wis en seker, want God is met sy vors Immanuel en met almal wat hom toejuig!
Staan Jehovah se universele soewereiniteit onverskrokke voor
17. (a) Wat gaan die politieke elemente binnekort met Babilon die Grote doen, en wat sal Jehovah se volk nodig hê en geniet? (b) Wat gaan die ateïstiese heersers doen nadat hulle van Babilon die Grote ontslae geraak het, en wat gaan dit Jehovah laat doen?
17 Die politieke elemente gaan binnekort nie net teen die valse Christendom optree nie, maar teen die ganse Babilon die Grote, die hele wêreldryk van valse godsdiens, om dit uit te wis. Op daardie kritieke tydstip sal Jehovah se volk buitengewone goddelike beskerming nodig hê. Aangespoor deur die bloedige oorwinning oor Babilon die Grote sal die ateïstiese heersers diegene aan die kant van God se regering in die hande van Jesus Christus wreed aanval. Dan sal Jehovah sy “Vredevors” gebruik om “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te voer (Openbaring 16:14). Jesus Christus sal ’n onoorwinbare Stryder wees wie se regering nooit afneem nie. Hy sal die “Sterke God” wees onder die seëvierende, almagtige God, Jehovah. Hierdie “Sterke God” sal sy briljante loopbaan bekroon met die oorwinning by Armageddon wat tot in alle ewigheid sal weerklink sonder om te verdof. Alle lof aan daardie ongeëwenaarde oorwinning!
18. Wat is Jehovah se Getuies vasbeslote om te doen ondanks die hedendaagse sameswering teen die Koninkryksverbond, en met watter uitslag?
18 Voorwaarts dus tot groter wêreldprominensie as ooit tevore, al julle getuies van Jehovah, met volkome vertroue op julle God en sy heersende Koning, die “Vredevors”! Toon volkome onverskrokkenheid ondanks die huidige wêreldsameswering. Dien almal as tekens en wonders tot eer van Jehovah deur die boodskap van die Koninkryk en sy komende oorwinning oor die wêreldsameswering by Armageddon oral te verkondig. Wanneer die Duiwel die wêreldheersers beweeg om ons aan te val, moet julle onthou dat diegene wat aan die Koninkryk van Immanuel, die “Vredevors”, getrou bly die oorwinning sal behaal, want “God [is] met ons”! (Mattheüs 1:23; vergelyk Jesaja 8:10.) En laat al die engele van die hemel en alle lede van die mensdom op aarde wat hulle onkreukbaarheid handhaaf “Amen” sê op die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit oor alle geskape dinge in die hemel en op aarde, met ’n nimmereindigende veiligheid!
-